Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Storie’

Vrede

Johan op sy driewiel

Die laaste inskrywing op hierdie blog deur Johann. Sondag sal ons sy as gaan strooi op `n koppie by Mooinooi.

Rus in vrede broer, vriend, geesgenoot. Ons mis jou.

Hy was inderdaad `n man van vrede.

 

Vrede

Die ou man leun so trug teen die kleimuur, en die riempies van sy stoel buig kwalik onner sy tenger gewig. Ons koffiebekers is lankal koud maar sy skraalte drink nog die hitte vannie muur.

Normaalweg sou ek nou al half ongemaklik begin raak het met ‘n stilte wat so draal. Die peperboom se bessies ritsel in ‘n vae bries en ‘n torrie se koer uit die bloekombos, so ‘n enkie daar agter sy hut, vee die trae lug in lustelose kringe.

Die plooie op sy gesig lyk so gemaklik – assof dit enige oomblik kan vervorm in ‘n glimlag, of verdriet. Skuins strale van die laat middag son ets sy gelaat ‘n rooier bruin en streel die grys halo van sy kort geskeerde hare. Nooit sou ek kon dink dat daar so ‘n vrede in hierdie lewe kon wees nie.

My gedagtes dwaal trug na vroeër, toe ons gesels nog gevloei het. Soos die gekibbel van ‘n bedeesde waterstroompie, wat sy weg kronkel deur die Wes- Transvaal se vlaktes, het ons woorde strominge in mekaar se gedagtes laat blyk. My gemoed waarskynlik meer van ‘n modderkolk . . . en syne . . .? Die vrede was tóé al tasbaar: die rugstring van sy wese.

Die ding van ‘n kleimuur is dat dit hitte opsuig, en later as die lug afgekoel het, weer uitstraal. Dik kleimure, met klein vensterkies soos dié van sy tweevertrek hut, hou ‘n huis se binnekant koel innie somer, en warm innie winter. Buk deur die deur en staan vir ‘n minuut of so eers baie stil. Tot dat jou oë die donkerte gewoont raak . . . tot dat jou siel die koelte vind.

My oë gly oor die groen mielielande, draai trug na sy gesig toe, en ontmoet syne. ‘n Vae glimlag speel om sy mond en die antwoord lê rein in sy kyk.

Het ek ooit ‘n vraag gehad?

Read Full Post »

Milan Kundera: The joke

`n Beskeie resensie van `n uitstekende storie deur `n groot skrywer.

Die boek is reeds in 1967 in Tsjeggies geskryf en gepubliseer. Die eerste Engelse weergawe is in 1982 gepubliseer maar Kundera was nie tevrede met die vertaling nie. Na vele pogings is hierdie 5de (en finale) Engelse vertaling in 1992 gepubliseer. Kundera het besluit daar sal nooit weer `n ander Engelse weergawe gepubliseer word nie.

David Lodge van die Sunday Times het van die boek gesê: “A wonderfully sharp, sardonic study in deception and self-deception. The Joke is a funny, sad, gripping, wise, marvellous book.”

Ek moet met David saamstem; die storie is skerp, sardonies en wys met briljante insig in die menslike psige se vermoë tot misleiding en selfmisleiding. Ek wil van hom verskil in sy opmerking dat die boek “funny” is. Dit is “sad”, dit is “gripping”, dit is wys en “marvelous”, maar dit is nooit “funny” nie.

Die agtergrond van die storie is die Kommunistiese rewolusie in Oos Europa, maar spesifiek Morawië waar Ludvik saam met sy Universiteits vriende opgewonde deelneem aan die transformasie van die kapitalistiese, onderdrukkende samelewing, na `n regverdige, menslike bestel van die mense, vir die mense, deur die mense. `n Rewolusie wat hulle glo baie gou na die res van die wêreld sal oorspoel.

Maar Ludvik is nie `n baie taktvolle mens nie. Hy is geneig tot sarkasme en maak soms ondeurdagte opmerkings wat sy vriende en die Partyleiers bedenkinge gee oor sy toewyding aan, en steun vir die rewolusie. Dit is uiteindelik sy onbeholpenheid in verhoudings met meisies wat tot sy ondergang ly.

Sy vriendin Marketa, `n baie entoesiastiese en blindweg lojale ondersteuner van die rewolusie, word deur die Kommunistiese Party op `n kursus oor rewolusionêre strategie en taktiek gestuur juis om haar naïewe entoesiasme te temper met praktiese kennis en vaardighede.

Ludvik self beskryf haar as: “a girl of trusting simplicity; she was unable to look behind anything; she could see only the thing itself; she had a remarkable mind for botany, but would often fail to understand a joke told by a fellow student; she let herself be carried away by the enthusiasm of the times, but when confronted with a political deed based on the principle that the end justifies the means, she would be as bewildered as she was by a joke;”

Die feit dat sy opgewonde is oor die kursus en nie die vakansie saam met hom wil deurbring nie, en die feit dat sy die kursus geniet en vir hom skryf hoe optimisties sy is oor die rewolusie en oor die gesonde atmosfeer wat daar heers by die kursus, krap hom tot so `n mate om dat hy vir haar `n poskaart stuur met die kriptiese boodskap dat: “Optimism is the opium of the people! A healthy atmosphere stinks of stupidity! Long live Trotsky!”

Natuurlik bedoel hy dit as `n grap. Natuurlik probeer hy haar skok, en die eenvoudige grap vernietig sy lewe. Marketa is geskok en wys die poskaart vir haar leiers. Leiers van rewolusies is nooit `n humoristiese lot nie. Ludvik word voor `n tugkomitee van die Party gedaag waar sy eie vriende teen hom draai en hy uit die universiteit en die Party geskop word, en omdat hy geen berou toon oor wat hy geskryf het nie, word hy as vyand van die rewolusie na `n straf kamp gestuur waar hy gedwing word om in `n myn te werk saam met ander “vyande” van die staat. Dit is hier waar hy die enigmatiese, lieflike Lucie ontmoet, die Lucie wat hom sy lewe lank sou bybly as lewegewende legende, en met tyd as mite wat vir hom “the very foundation of my life” word.

Van hier af wissel die verhaal briljant tussen Ludvik se haat jeens sy vriende wat hom verraai het, die planne wat hy smee om die kwaad wat hom aangedoen is te vergeld, en Lucie, die groot liefde in sy lewe. (meer…)

Read Full Post »

Hierdie boek is nou ook beskikbaar by Barnes & Noble, Kobo en iTunes.
Vir die van julle wat nie `n Kindle besit nie en dus nie van Amazon kan aflaai nie, is dit nou beskikbaar in ePub format by al bogenoemde boekwinkels.
Die gedrukte weergawe sal eersdaags beskikbaar wees.
Hierdie storie is `n speurverhaal wat nie regtig `n speurverhaal is nie. As jy daarvan hou om speurverhale vir ontspanning te lees moet jy liewer by Deon Meyer hou, die man skryf uitstekende speurverhale, van die beste wat in Afrikaans beskikbaar is.
Water in Wyn in Bloed is eerder vir die denkende mens wat vrae vra oor die lewe, oor moraliteit, oor kerk, oor wat ons as ‘normaal’ beskou in ons abnormale samelewing.
Dit mag dalk skok, en jy sal moontlik met meer vrae as antwoorde sit na jy die boek gelees het. Die hoop is dat dit jou sal help om buite die boks te dink en ongebaande weë te begin ondersoek.
Lees en geniet.

Kliek die skakels hieronner om die boek te koop.

smashwordslogo

Amazon.com Logo

Barnes_Noble Logo

 

Read Full Post »

Goeie nuus. Die boek sal vir die volgende 7 dae by Amazon teen die afslagprys van $3.99 beskikbaar wees.

Read Full Post »

Besoeker uit die Toekoms

Van hier af moet ek, Klaas van die onderdorp, die storie verder vertel.

Toe ek hoor van die vreemde man wat met Schalk wil praat, het ek dadelik onraad vermoed. Daar was geen rede vir my nerves om op loop te gaan nie, dit was net ´n gut feeling. In my wêreld leer jy gou om jou gut te vertrou, anders is jy ´n dooie man. Toe ek die man sien het ek geweet ek het hier met ´n ‘pro’ te doen. Hierdie ouens probeer mos om onsigbaar deur die lewe te gaan, daarom dra hulle swart pakke klere en Guci skoene (om te wys hulle is professioneel), en kruip dan agter ‘label’ shades weg om onsigbaar te wees.

Nou moet ek confess dat ek lankal Schalk se kamer gaan ‘rig’ het. Kyk, die man is vir my goud werd, hy weet waar my geld is en eendag sal ek en hy dit gaan haal en daarom het ek ´n spy cam en afluister apparaat in sy kamer gaan versteek. Ek moet weet met wie hy praat en wat hy doen. Ek moet hom protect, hom aan die lewe hou tot die dag dat ek en my manne alles in plek het (vervalste paspoorte, visas, vliegkaartjies en “geleende” voertuie) om hom te ontvoer en Switserland toe te vat. En hierdie swartgeklede swart kuiergas het vir my gevaarligte laat flikker, maar ek het nie ´n idee gehad waar hy in die prentjie inpas nie. Hy kom beslis nie uit “Vuurvoël” nie. (meer…)

Read Full Post »

Die Heks

Ek was nog nooit in my lewe in ´n tronk nie. Ek is ´n eerlike, gekultiveerde man wat lief is vir konsertsale waar simfonie orkeste Bach en Beethoven en ander komponiste se klasieke musiek opvoer. Ek besoek teaters en kunsuitstallings, en woon deftige onthale by, en ek geniet skemerkelkies saam met vriende. Tronke is vir diewe, moordenaars en verkragters, en hier sit ek op my oudag (en om alles te kroon in my nagklere), in die tronk.

Ek sit myself nog so en bejammer, toe staan Sarie voor my sel se deur met ´n groot pak grondbone in haar hand. “Ek kon my f*kn ore nie glo toe hulle vir my sê jy is in die f*kn tronk nie,” babbel sy in haar gewone stortvloed van woorde wat sonder dat sy dink, by haar mond uit borrel. “Ek hoor altyd hulle sê jy moet vir iemand wat in die tronk is peanuts bring, toe dog ek ek sal gou kom hallo sê en vir jou peanuts bring dé hier is vir jou ´n f*kn sak vol mens weet nie hoe lank jy nog hier gaan bly nie en nou dat jy hier sit en f*kol doen kan jy sommer aan daardie boek van jou begin skryf jy moet my storie oor my geel panty heel voor in die boek sit hier is vir jou ´n pen en papier sodat jy sommer dadelik kan begin skryf….” toe raak haar asem op en die bewaarder sê haar tyd is om, sy moet nou gaan. Ek dog ek soen die man van dankbaarheid en neem my voor om hom te vra om my asseblief in eensame opsluiting toe te sluit sodat daardie vrou nie weer naby my kan kom nie.

So met die wegstap skreeu sy oor haar skouer vir my dat sy my nog ´n ander storie ook wil vertel vir my boek, ´n storie oor ‘n Priester, ´n paaldanser en ´n plot. Natuurlik spring die skrywer in my dadelik penorent en die idee van eensame opsluiting verdwyn soos mis voor die son.

“Kom more weer en vertel vir my die storie,” skreeu ek opgewonde agter haar aan.

Sarie was skaars weg, toe kom die bewaarder en sluit my seldeur oop. “Jy is vry, jy mag maar gaan,” sê hy saaklik en loop weg.

“Wag nou, haai jy sersant of generaal of wat ook al,” roep ek terwyl ek agter hom aan draf. “Hoekom laat jy my los, ek meen, ek wil nie hier bly nie, maar ek wil darem weet waarom ek losgelaat word.” Hy steur hom egter nie aan my nie en loop weg. ´n Ander klein, maer mannetjie met ´n swart rok gedoente aan kyk op toe ek by hom verby draf agter die bewaarder aan.

“Iemand het jou borg kom betaal,” sê hy saaklik.

“Wie?” vra ek verbaas.

“´n Ou tannie, ek weet nie wie sy was nie,” sê hy.

“Een wat vreeslik baie vloek?” vra ek

“Nee,” sê hy saaklik.

“Het sy ´n Voortrekker rok aangehad, met gehawende bruin skoene en ´n kappie op haar kop, en dalk ´n voorlaaier in die hand?” vra ek en wens dadelik dat ek dit liewer nie gevra het nie, want ek wil dit nie regtig weet nie.

“Nee,” sê hy met ´n erge frons tussen sy oë. “Nee, nie ´n geweer nie, maar ´n besem. Een van daardie met takke vir vee, nie gras nie. Sy het ´n lang swart rok gedra en swart skoene met skerp punte, boots eintlik, maar nie ´n kappie nie, eintlik ´n swart hoed met ´n baie skerp punt en ´n woeste bos swart hare, en ek dink daar was ´n groot moesie op haar ken. Vreemd, baie vreemd,” mompel hy en stap weg. Maar hy steek weer vas en sê; “Die saak teen jou is terug getrek, daar was genoeg getuies wat gesê het dat dit nie jy was wat geskiet het nie, almal half seniel as jy my vra. Ons soek nog die skuldige.” (meer…)

Read Full Post »

`n Nuwe ou sprokie

Eshe

Lank, lank gelede, in die land van Lamram was daar ´n magtige, wellustige koning. Die koning het nie minder nie as twintig vrouens gehad, een so mooi soos die ander, maar een mooier as al die ander. Omdat die koning die Koning was, het hy elke aand besluit watter een van die twintig vrouens by hom moes slaap. En omdat hy die koning was, mag die uitverkore vrou nooit weier om die beentjies oop te maak as die koning daar wou in nie.

En daarom was dit vir die Koning so ´n groot skok toe die mooiste van sy mooiste vroutjies een aand, toe hy sy goue staf vir haar wys, vir hom gesê het om met homself te loop speel, sy het nie lus vir sy drifte nie. Nodeloos om te sê, omdat die koning die Koning was en die groot koning nie nee van niemand vat nie, veral nie van ´n vrou nie, het haar fraaie koppie gewaai. Onthoofding was destyds al ´n vrolike tydverdryf van manne met min verstand en baie mag.

Gekrenk in sy eer en belustig deur bloed laat soek die Koning ´n waardige plaasvervanger vir sy oorlede mooiste onder die mooiste, nou koplose vroutjie. ´n Moeilike taak is dit gewis. Die meisie moet mooier as mooi wees, en sy moet ´n maagd wees natuurlik. Die koning stel nie belang in gebruikte artikels nie. En waar kry jy in daardie tyd ´n meisie wat nog ´n maagd is op sewentien jarige ouderdom? Miskien nog op vyftien, maar twaalf is moontlik die beter roep.

Tienermeisies word by die honderde aangery of soos vee aangedryf na die paleis toe, sommige meld vanself hoopvol aan, ander word teen hulle sin gedwing om te gaan. By die paleis word die stof en die beesmis van hulle af gewas en geskrop en hulle word ontvlooi en ontluis, en toe gekeur. Die mooistes word weer gewas en weer geskrop en met welriekende olies gesmeer. Die bos en die plaas en die agterstraat word uit hulle geboender en hulle word geleer om soos beskaafde mense met die hand te eet en seksie te loop en te praat en aan te trek voor hulle soos perde voor die wellustige hings van ´n koning geparadeer word sodat hy vir hom die mooiste kind as objek vir sy drifte kan kies.

Op die parade van vlees vang een besonder mooi, jong meisie die koning se oog. Uitlokkend geklee, met die regte goed wat op die regte plekke uitsteek en uithang, staan sy listig daar, Eshe, wat beteken ‘lewe’ maar ook ‘onsterflik’ in haar taal. Die mooiste, mooiste kind. Die Koning dink hy is die jagter, sy weet hy is die prooi.

By die aanskoue van soveel skoonheid, slaan die koning se koerasie vas in die rooi, sy tong hang uit van die lus en met sy goue staf orent sê hy; dis die een. Daardie nag leer die kind wat dit werklik beteken as die koning herhaaldelik sy strome van seën spasmodies oor jou uitstort.

En toe vergeet die koning van haar en gaan aan met sy taak om te regeer oor sy onderdane, hulle te onthoof en te fusileer en te gesel waar nodig, en om sy ander negentien vroue aan sy drifte te onderwerp. Eendag op straat gebeur dit dat een van die koning se menigte onderdane sy ballans verloor en hy per ongeluk teen die Koning stamp. Die koning vererg hom bloediglik en skreeu onmiddelik “die vuurpeloton vir jou, jou imbesiel!” Die wagte storm nader en slaan die man met geweerkolwe teen die kop, en hulle skop hom ongenadiglik toe hy bly lê. Maar die Koning bedink homself weer dadelik toe sy wagte die man wegsleep om hom te gaan vermoor.

“Wie is daardie man?” wil hy woedend weet. “Wat is sy naam?” Toe sy wagte hom meedeel dat die man se naam Xordai is, en dat hy die leier van die Xerbo volk is wat die koning self as slawe aangekeer het, was sy oordeel onverbiddelik. “Maak hom dood, hom en sy nageslag en sy voorgeslag en almal wat deel van sy volk is. Versamel hulle op pleine in stede en in dorpe. Versamel hulle van landerye waar hulle werk en agter veetroppe. Op die laaste dag van hiedie maand moet julle dit doen, en dan moet julle hulle dood maak, man, vrou en kind. Wis hulle uit met masjiengeweer en swaard. Dit sal hulle leer om aan my, die Koning, te durf raak.

Toevallig was Xordai die pa van Eshe. Die mense laat weet toe vir Eshe van die koning se bevel, en sy laat weet hulle om nie bekommerd te wees nie, sy sal die ou bronstige kapater ´n les leer. Maar dit is makliker gesê as gedaan, want geen een van die koning se vrouens mag na hom toe gaan as hy hulle nie beveel het om na hom toe te kom nie. Nie eens die mooiste een nie. Indien sy dit sou waag, en dit geval die ou hings nie, is die kanse goed dat hy nie sy goue staf vir haar sal lig nie, en dan sal haar kop, sonder uitsondering, afgekap word. Maar Eshe is ´n listige, onweerstaanbare jong meisie. Sy smeer haar lyf met welriekende olie. Sy trek ´n deurskynende tabbert aan en laat haar hare uitlokkend oor haar kaal skouers val. So wag sy die koning op pad na sy kamer daardie aand in. Uitlokkend, wulps, polsend van sensualiteit.

Soos sy verwag het, kan die Koning nie sy wellus beteul nie. Hy wys sy goue staf onmiddelik vir haar en sy nooi hom na haar kamer toe. Daar bestorm hy haar en skeur die sysagte tabbert van haar lyf af, maar sy dans speels van hom af weg en skink vir hom ´n glas wyn. Hy slaan dit gulsig weg en gryp na haar, maar sy ontwyk hom weer.

“Jy kan alles kry wat jy wil hê,” sê sy en vlei haar uitlokkend teen hom aan, “maar eers moet jy my iets belowe”.

“Enige iets,” sê hy bewend van opwinding, “die helfte van my koningkryk vir jou heuningpot, vra net en jy kry dit.”

“Ek hoor jy het ´n dekreet uitgevaardig waarvolgens jy my wil laat dood maak” sê sy saaklik en gaan lê uitlokkend op die bed.

Hy gaan sit by haar en streel sag oor haar borste. “Waar kom jy aan die nonsens?” vra hy geskok. “Ek sal jou nooit laat doodmaak nie! En as daar so ´n dekreet bestaan, dan is dit nou gekanseleer.”

“Dis gaaf van jou,” sê sy en trek hom nader en soen hom op die wang. “Teken net gou hierdie dokument om jou belofte te bevestig.” Sy bring ´n papier tevoorskyn waarop daar iets geskryf staan en hy teken dit dadelik sonder om dit te lees.

Sy glimlag liefies vir hom en help hom uit sy klere uit. Teen hierdie tyd is die koning al rasend van drif. Sy gaan lê weer uitlokkend op die bed en hy bespring haar soos ´n wilde dier.

“Ons moet net nog een klein probleempie uit die weg ruim,” sê sy skalks en slaan haar bene om sy lyf. “Jy het ook ´n dekreet uitgevaardig om my pa en al sy mense uit te wis. Jy moet daardie bevel ook kanseleer en hulle die reg gee om hulleself vir een dag lank te verdedig teen enige iemand wat hulle wil dood maak, dan gee ek jou die beste tyd wat jy al ooit in jou lewe beleef het,” sê sy en woel haar onderlyf driftig teen hom aan.

Die arme man kry amper die stuipe. “Dis gekanseleer,” hyg hy. “Daar bestaan nie meer so ´n bevel nie, hulle kan maak net wat hulle wil!” En daarmee teken hy koorsagtig die stuk papier wat sy weer voor hom hou, en toe brul hy van plesier tot laat in die nag.

En toe hy uitgeput opstaan om na sy eie kamer toe te gaan, fluister sy met haar warm asem sag in sy oor “kom more aand weer en ek belowe jou nog meer plesier as wat jy nou gekry het.”

Die volgende dag stuur Eshe die getekende dokumente aan die koerante en die bevelvoerder van haar pa se weerstands beweging. Hulle mobiliseer onmiddelik, bevry Xordai en vermoor 700 van die koning se soldate.

Daardie aand gaan die Koning weer na Eshe se kamer, want soveel genot in die kooi het hy in sy lewe nog nie ervaar nie. Hy vind Eshe in al haar verlydelike skoonheid gereed vir ´n nag van passie, maar eers rig sy weer ´n versoek tot die Koning terwyl sy uitlokkend van haar klere ontslae raak.

“Daar is nog van jou mense wat my mense probeer dood maak,” pruil sy terwyl sy sonder ´n draad klere tergend om hom dans. “Gee my mense die reg om hulleself vir nog een dag te verdedig teen die wrede aanslae teen hulle en hulle vrouens en kinders, en ek is jou slaaf vir die res van die nag.” Sy dans met haar warm lyf in sy omhelsing in en soen hom vurig terwyl haar tong listig deur sy lippe woel tot diep in die donker grot van sy mond.

Die koning voel lighoofdig van opwinding. Sy lende pyn van wellus en daarom teken hy die dokument wat sy vir hom gee koorsagtig, en toe gooi hy haar met geweld op die bed neer.

Die volgende dag word vyf en sewentig duisend van die koning se soldate uitgewis, en voor die koning dit besef was Eshe en haar pa en sy mense in beheer van sy land. Nou was dit hulle beurt om koppe, hande en voete af te kap en die vyande van die Volk met panga en masjiengeweer uit te moor.

My koningkryk vir jou heuningpotjie, was die Koning se wellustige versugting. Hy het sy koningkryk verloor in ruil vir twee nagte van plesier, en vreemd genoeg was ook die heuningpotjie skielik nie meer tot sy beskikking nie.

Eshe is dansend om die kampvure vereer as die heldin van die volk en is vir geslagte daarna as rolmodel vir alle vroue en dogters voorgehou. Dit word elke moeder se versugting dat haar dogter ‘n Eshe sal wees, die onskuldige meisie wat onmenslike lyding sal trotseer ter wille van haar mense.

 

Read Full Post »

Die Blinde Sambok

Hierdie storie kry ek by Sus Cobie uit Duitsland. Dit is nie haar storie nie, maar een wat sy by `n vriendin uit Amerika gekry het. Die vreemde kinkel is dat die vriendin ook nie outeurskap van die storie wil aanvaar nie. Het glo te doen met crimin injura en mense wat links en regs prosedeer in die groot US of A. Ek gaan ook nie pa staan vir wat hier volg nie. Is effe rof, maar tog `n egte Boere storie. Lees en oordeel self.

DIE BLINDE SAMBOK

Ons Afrikaners het ‘n oulike manier om ‘n ding te beskryf. Die term “Blinde Sambok” verwys na ‘n situasie waartydens jy ‘n strik vir iemand stel, en dan self daarin val. Dit is baie prettig as iemand anders in jou strik beland, maar dit is geensins oulik as jy self daardeur gaan nie. In die vroeë negentigs het ek ‘n tuinwerker met die naam James gehad. Hy het die besonderse vermoë gehad om my daagliks teen die mure uit te dryf. Hy sou die Dalai Lama en Ghandi in psigopate kon verander binne twee minute. Sy ergste wandaad was egter om drank te steel, nie enige drank nie, maar my Red Heart. Nou vir die van julle wat my ken, sal weet dat ek redelik emosioneel kan raak oor Red Heart. Dit is die edelste vog wat nog uitgevinne is. Ek sal die persoon wat dit uitgevind het prys tot drie dae na sy dood (of my dood). Ek weet nie hoe die James dit reggekry het nie, maar my Red Heart het verdwyn, en elke keer wat dit gebeur het, was die kêrel gesuip. En dis hier waar Oom Jan Diamantjies , ‘n goeie vriend, in die prentjie kom. Terloops, sy naam verwys nie na sy sukses as Diamantsmokkelaar nie, maar aan sy gewoonte om die Elfde Gebod gereeld te verontagsaam. Die Elfde Gebod, vir die van julle wat nie weet nie, lui,  “jy sal nie gevang word nie.” Hy en die manne van die SAP se Goud- en Diamanttak, was al amper op eerstenaam terme, en meer vriende as opponente. Oom Jannie het, in sy wysgeid, besef dat, indien die drankstelery nie gaan eindig nie, ek in die tronk gaan beland weens die moord op James, wat al in ‘n gevorderde stadium van beplanning was. Hy het op ‘n Maandagoggend by my aangekom met ‘n klein bruin botteltjie, waarop die naam, “Croton Oil” geskrywe was. Hy het my in kennis gestel dat die inhoud van die bottel daadwerklik sou bydra tot James se absolute rehabilitasie. Twee of drie druppels in ‘n halwe bottel Red Heart sou James genees van sy gewoonte om drank te steel. So veel so, dat indien hy die gevolge van die “Croton Oil” sou oorleef, hy moontlik homself sou kon bekeer.   “Croton Oil”, het oom Jannie aan my verduidelik, was ‘n vreesaanjaende purgasiemiddel. Sou jy dit inkry, gaan jou maag verskriklik aan die werk en jy gooi blykbaar vreeslik op ook. Ek het toe maar besluit om ‘n halwe bottel Red Heart op te offer om ‘n einde te maak aan die gestelery. Ek het nie twee of drie druppels, soos oom Jannie aan my gesê het, in die bottel ingegooi nie, maar twee of drie teelepels van die bruin vloeistof. Ek het die bottel onder gemerk deur ‘n wit kruis met Tippex op te sit net om seker te maak ek word nie slagoffer van my eie strik nie. Soos verwag, het die bottle rum weer eendag erg gesak. Jy kon sien daar is diep geteug aan die nektar. En toe het James verdwyn. (meer…)

Read Full Post »

Josef en die Duif

Hy sit soos gewoonlik eenkant en alleen, weg van die bykans kinderlike opgewektheid van sy mede verkoopman kollegas wat mekaar ´n jaar laas gesien het. Professionele smouse, Reps wat hulle jaarlikse verkoopskonferensie in ´n deftige vyfster hotel op ´n eksklusiewe landgoed bywoon.

Hy sit en teug aan ‘n groot glas donker bier, dog ek. Dit is toe nie, dit is herbale tee, donker, bitter tee, vind ek uit. Ek stap oor en steek my hand na hom toe uit en sê “Josef”. Hy kyk op, bly sit, vat my hand en sê “Mouton”. Ek knik my kop in die rigting van die leë stoel oorkant hom. Hy knik sy kop instemmned sonder om ´n woord te sê.

“Bier?” vra ek en wys na sy drinkgoed. “Tee,” sê hy saaklik. Ek gaan sit en bestel vir my ´n glas bier, donker moutbierwat amper lyk soos sy tee, sodat ons op gelyke voet in gesprek kan tree. Hy is gesteld op besonderhede. Wat vreemd is, is dat hy gewoonlik ook Milk Stout bier drink. Ek wonder oor die tee, maar vra nie.

Hy is ´n fyn besnaarde mens, wat my altyd laat wonder hoe hy in die smous bedryf beland het. Wat nog meer wonderbaarlik is, is dat hy dit so lank in die ongenaakbare wêreld van verkoopsyfer druk en winsbejag kon uithou.

Hy het voorheen my raad kom vra oor ´n vreemde kompulsie wat hy het. As hy ´n boks vuurhoutjies in die hande kry, het hy vertel, trek hy die vuurhoutjies een vir een aan die brand en hy hou nie op voor die boks leeg is nie. Net dit, onkeerbaar; trek die vuurhoutjie dat dit brand, kyk asof gehipnotiseerd na die vlam tot dit amper sy vinger brand, laat dit val en steek die volgende een aan. Obsessief-kompusief een vir een tot die boks leeg is. Wat, wou hy weet, is verkeerd met my kop?

Nou sit ons hier en drink in stilte. “Hulle roep ons daar oorkant,” sê hy. “Seker vir die verwelkoming by die sirkus.” Ons staan op en loop na waar die ander verkoopsmanne voor ´n deur saamdrom.

“Ek wil jou vertel van ´n duif langs die pad,” sê hy terwyl ons aanstap. “Ek sal vannaand na ons verdaag het vir jou wag, daar oorkant op die stoep voor die restaurant, beduie hy. “´n Tortelduif,” voeg hy by voor ons aansluit by die uitbundige lot mans, die verkopers van uitmuntende produkte aan grootliks onkundige, verwarde kopers. (meer…)

Read Full Post »