Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘China’

Aliens

Berigte van `n UFO landing het bekend geword. Die moederskip is besig om tentakels uit te stoot om die Aarde oor te neem.

China trein 2

In werklikheid `n treinstasie in China

China trein 1

As iemand nog glo die toekoms is swart en nie geel nie, moet hulle weer dink. Hierdie ouens is nie dom nie, inteendeel.

China trein 3

Moontlik die vinnigste trein op aarde, en dit is nie in Afrika gebore nie.

Afrika 2PC

Advertisements

Read Full Post »

Uit China berig sus Cobie vir laas oor groot nood in die land van die geel mense:

China 1

Dit gaan sleg onder die Suid-Afrikaners hier in China. Niemand waag dit om te poep nie. Ons hardloop hierdie siekte soos ‘n wereldklas aflosspan. Dan is die medisyne in die een se huis, volgende dag weer in die volgende huis. Ons voltooi die sirkel binne een week twee keer.

 

Moedeloos sien ons Duitse vriendin sy gaan nie binne die volgende week kan gaan shopping doen nie, en so begin sy ook medisyne aandra. Van homopatiese hogere druppels tot vars gemmer in kookwater. Ons volg selfs die Chinese se raad, eet gaar rys met suurlemoensap. Maar waag dit nog steeds nie om te poep nie.

China 3

 Dit eet lekker in China!

Vrydagaand is dit weer my beurt. Teen hierdie tyd is daar ‘n redelike duik in ons “proviant” Ons badkamer is so ‘n langerige een. Nog voor ek by die wasbak kan kom om hande te was, moet ek weer omdraai en maak vir die ketel. Ek loop met my nagrok, sonder panty, nie vir die plesiertjie nie, pure gerief.

 

Saterdagoggend besluit manlief om sy kar te gaan was. Moontlik, en hopenlik, die laaste keer om Carrefour te besoek (ons trek mos Duitsland toe). Ek eet rys en roereirs, hoop vir die beste en piekel saam. Skaars 15 minute in die winkel en ek voel, hier kom skande met ‘n groot spoed. Ek knyp, staan stokstyf, doodstil, met doodse sweet oor my hele liggaam. Skip sê hardloop, en ek vra; is jy nou bedonnerd, dit gaan teen my bene afloop. Ek maak dit tot by die toilet, een vloer af met die roltrappe. Klou een pak tissues en wet wipes in die hand.

Chinaland Wall Mart

 

Teen hierdie tyd verstaan julle seker al die operasie van die toilette. Gat in die grond en korrel (geen ordentlike troon soos in `n beskaafde land nie). So in die proses van afsak op die hurke, trek jy jou broekspype op vir die spat, en buk. En daar kom die skande. Nog voor ek op my hurke kon sak, klap die skoot! Spraypaint die hele blerrie muur agter my. ‘n Vreemde vroutjie kom klop naderhand teen die muur, dog ek is besig om my binnegoed te was. Daar is nie eens ‘n emmertjie met water om die muur te was nie. Voel so skuldig. Ek doen die beste wat ek kan met die pakkie wet wipes, en maak die deur saggies toe. Was my hande en gaan soek my man.

 

Skip doen geduldig die bietjie inkopies, maar voor ons nog klaar is, is dit nommer twee. Gelukkig is die toilet hierdie keer nader. Ek gaan maar weer by dieselfde toilet in, meen te sê, my merk sit mos daar. Toe ek buite kom, staan my man daar, trollie se neus in die rigting van die uitgang. Hy lyk kompleet of hy die groot wegspring vir ‘n 100 meter saam met Bolt gaan aanpak. Kom kom, sê hy, die huis is 20 minute se ry in erge verkeer ver. Hy jaag deur elke gaping, ek dog dis 100 meter resies, maar dis eerder Vetel wat rubber brand in die Chinese Grand Prix, behalwe natuurlik vir die toeter en taal om die ander manne uit die pad te kry. Ons haal die hotel in ‘n rekord tyd, en ek die toilet in drie lang treë met nie ‘n merkie op my panty nie!

Die geel skytkoors hou my gevange in die huis vir drie dae lank. Op die vierde de dag sê ek fok dit, ek is honger en ons vaar die strate in. Ons gaan drink bier en eet Chinese kos. `n Boer laat hom nie deur hierdie geel mannetjies en hulle goggas onder kry nie!

023

Read Full Post »

Hierdie storie het sy geskryf kort na hulle aankoms in China. Als was nuut en opwindend, en vreemd, baie vreemd.

KREATIEWE DENKE IN CHINA

 Dit is Sondagmore. Ek hoes myself wakker. Die trein het sowaar laasnag twee keer oor hierdie geknakte liggaam van my gery, so voel dit my. Ek begin die mense om my te irriteer met hierdie hoes, insluitende myself. Ontbyt bestaan uit toast en wat de hel jy ook al daarop wil plak. Ek hoes. Manlief besluit dit is tyd vir vars lug. Ons gaan Carrefoure toe om Muesli vir hom te soek.

Hy ry by die eerste Carrefour verby, neuk oor die brug na die verste een. Ek hoes, en hou my bek. Been there, done that, no flippen muesli in daai winkel nie. Ek hoes. Ons hou stil, en Johan oelala oor die mooi nuwe winkels. Elke keer as ek hoes, ruk al wat ‘n kop in die omtrek van 50 meter is omhoog.

Niks stuut hierdie dierbare man van my vandag nie. Vandag kry ek vars lug. So het hy besluit en basta.

Kinners in Sjinese drag

Hy sleep my letterlik in `n nuwe winkel in, oortuig my met die woorde : Kyk

my Bokkie, hier is mooi tops vir jou. Ha! Tops in my grootte hier in hierdie winkel? Drie dames staan nader. Om die een of der rede is hierdie Chinese meisies mal oor my man. Of dit nou sy kaalkop, sy ysblou oë of net sy smile is, weet ek nie. Moet sê, selfs my knieë raak nog lam as hy daardie sagte smile saam met sy blou oë uitpak.

Ek dwaal van die storie af.

Skip wys na ‘n top aan ‘n winkelpop. As daardie chinese handjies eers so wyd uitemekaar gehou word, dan weet ek “tada” (“too big”- dis nou ek) is aan die kom. Ja fok, ek weet ek is wyd en breed. Kan ons nou maar gaan? Die dame haal ‘n top van die rak af. Nogal mooier as die een wat Skip van hou. Ek hou van die goud/mosterd en net daar moet ek gaan pas. Ek sit eers vir 2 minute plat op die vloer in die aantrekkamer om asem te skep na `n lang hoesbui. Toe ek uitstap, skud al drie die koppies gelyk “Nooo”. Ek dog, my moer wat nou nog? Nee, se hulle, dis te groot, ek moet die kleiner een probeer. My hart juig, ek hoes. Te groot? Kan dit waar wees? Diplomaties vertel my man ek moet die swarte probeer. Ons stap uit met ‘n top in ‘n boks en my man se hart op sy skouer. Hy het dit boonop reg gekry om die prys van RMB420 af te stry na RMB240. Ek dink steeds dit is sy smile wat die ding doen.

Volgende stop Carrefour. Ons stap die winkel binne. Ek hoes, al die koppe ruk gelyk op. Ons stap ry op, en ry af. Geen muesli. Ons koop klerehangers, suiwer lemoensap teen RMB5 vir 2 liter. Hy laai 5 bottels in die waentjie. Geen muesli. Ek hoes. ‘n Stemmetjie hier binne sê, ek het jou mos gesê. Ek hou my bek en hoes. Met die pakkie in my hand is my gemoed teen hierdie tyd darem al bietjie ligter. Net voor ons betaal, onthou ons gelyk van die „koeksisters”. Dit is reuse koeksisters, so ongeveer 30cm lank, maar sonder die stroop. Die deeg is amper soos vetkoek deeg, net baie soeter, en jy koop dit so lekker warm. Dit is heerlik. Al die mammas koop dit vir die kleingoed as hulle inkopies doen. Die ding is so groot, teen die tyd wat sy klaar inkopies gedoen het, is hy eers klaar geëet. Dit hou die kindertjies til-stil besig. Johan sien sulke plat ronde deegerige goed. Soos ‘n plaatkoekie, net baie groter. Lyk ook soos vetkoekdeeg. Bo-op is ‘n geklitste eier, dik gesmeer, en bo-op die eier, die heerlikste gerasperde groente. Daarvan koop ons ook twee, dit is ook warm en ruik sommer yummy.

Heellaas, ons is oppad huis toe. Ek soek hoesgoed, ek soek my bed. Nog is dit het einde niet! Skip draai links, nie huis toe nie! Wat nou? Vra ek met ongeduld en ‘n hoes. Skip gee my een van daai smiles. Ek kan nie baklei teen daai smile nie.

Nee, hy wil my iets gaan wys. Hy was die hele week op ‘n werksessie en die laaste dag, Saterdag, was ‘n spesiale dag. Die tema vir die dag was: Om die Bestuurder se Kreatiewe Denke te prikkel. My fok, het hulle die pad byster geraak? Weet hulle nie, al wat my man prikkel, is ‚n blond met groot boobs nie! Hulle het die hele dag buite die stad op ‘n Retreat spandeer.

Daar het `n beroemde, 91 jare Chinese skilder, Xing Yu Zhong, hulle die fynere kunsies van ink- en waterverfskilder geleer. Was ek groen van jaloesie! Soos my goeie vriend Eric sou sê, ek was so groen, as ek by `n skaapkraal verby sou loop, het hulle my pens en pootjies opgevreet.

Die dag was vir my man ‘n belewenis.

Nou was ons oppad daarheen. Skip was nie seker of hy die pad sou vind nie, maar ons gaan probeer. Buite die stad draai ons af op `n nou teerpad. Dit is

net fietse en motorfietse waar jy kyk. Van die potholes is so groot, as jy daarin sou val, moet hulle ‘n soekgeselskap stuur om jou weer te vind. Die pad word beter, nie breër nie. Weereens verstom ek my aan hierdie land. 5km buite die stad, en die hele omgewing verander. Elke boompie, groot en klein, word in perfekte bolletjies gesnoei. Dit is amazing. Daar is hedges, elkeen vierkantig soos `n boks, nie `n blaartjie uit sy plek nie. Die werkers loop rustig langs die pad, snoei, maak skoon, vee die pad met besems skoon. Ja, hier word elke pad nog elke liewe dag met besems skoon gevee. Tot op die platteland.

Pagoda in Park

Twee vriendine, seker so in hulle 60’s, sit onder `n koelte boom, plat op hulle alies en kuier. So tussen niks en nêrens. Die fietse staan kiertsregop teen die boom. Hulle het kappies op. Hulle  ligaamshouding vertel jou hierdie is ‘n vriendskap van jare en jare. Rustig sit hulle en lag en gesels.

Ons ry deur ongeveer 3 dorpies. Daar is geen bordjies wat aandui of die dorpies ooit ‘n naam het nie. Die huisies sit knus teen die pad. Oral op die grond sit roente en vrugte verkopers. Die manne sit op die stoepe en speel speletjies. Sommige huisies is beslis oor 100 jaar oud. Ons sien tot huisies van klei gemaak. Elke huis, tot dig teen die pad, het sy eie groentetuintjie. Waar die water vandaan kom, wonder ‚n mens. Hier is dan geen windpompe nie. Die varke se stalle is in `n baie beter toestand as die boer se huis. Op `n oop stuk grond is `n kampie van so 100m x 50m. Binne staan ganse, lyf teen lyf. Daar is geen koelte of spasie om te beweeg nie.

Hulle lyk vet, en reg om geslag te word.

Ons ry tot waar die pad `n vurk maak en besluit om om te draai. Johan is nie seker van die pad verder nie. Ek is in my element. Hoes of nie hoes nie, dit is die moeite werd. Ons trek van die pad af en smul eers aan ons koeksisters en plat koeke. Ons ry terug teen `n slakke pas.

Busse, karre, fietse, motorfietse, almal toet en ry verby.

By die derde dorpie vra ek Skip om te stop, ek wil groente koop. Hy lag hom dood toe ek eers gou bietjie lipstiffie aansit. Die mense ken nie van make-up nie, vertel hy my. Juis, ek moet goed lyk, kan nie sommer net so kaalgat uit die kar klim nie, sê ek en hoes. Die mense staar ons aan. Die kindertjies giggel en kruip agter hulle mammas weg.  Op `n oop stuk grond staan `n trampolien waarop kinders baljaar. Ek neem `n foto. Die mense staar my aan, hulle kyk op in die lug en verwonder hulle oor wat ek nou eintlik afneem. Hulle sien niks wat snaaks is nie. Ek buk by die tannie met die aartappels op die grond. Ek glo dit nie, die aartappels is skoon en nie vol modder soos die in Carrefour nie. Ek soek versigtig uit, die tannie gooi sommer die hele sak uit op die grond. `n Ander tanniekie staan nader, ywerig help sy ook uitsoek. Ek stap met ‘n sak vol aartappels weg, RMB3. Die patats lyk ook goed. Nou is die hele dorp se tannies besig om die goeies te help soek.

Hulle praat en praat en ek “budong, budong” (verstaan nie, verstaan nie), maar dit sit hulle nie af nie. Hulle praat nog steeds, glimlag breed, patat in die hand, geen tand in die mond nie! Ons stap lag-lag kar toe. Die kindertjies waai, en sing, huppel op en af van opgewondenheid. Ek dink baie van hulle het nog nooit `n Westerling gesien nie. Ons sien nou eers, reg voor die kar, in die son, sit `n meisietjie met een groot ketel op kole, en in `n glaskas, bruin gebraaide eende. My mond water.

Op pad terug sit die twee tannies nog steeds en kuier onder die boom. Dit is waarom hierdie mense so oud word. Niks jaag hulle nie, hulle is met so min tevrede. Al wat werklik saak maak, is kos, klere, ‘n dak oor jou kop en vriende wat die lewe die moeite werd maak. Is dit nie maar wat ons almal begeer nie?

100_8424

Read Full Post »

Yurt’s

Op soek na Yurt’s in Mongolië

30.09.2012 – 02.10.2012

Sus Cobie se China storie

Die pad is besig, vreeslik besig. Ek haal my hoed af vir die Chinese Regering. Gedurende die Golden Week, ook bekend as Moon Festival, is alle treine en tolpaaie gratis. Die gevolg, 82 miljoen voertuie op die paaie. Ons is oppad na Inner Mongolia, op soek na Yurt’s.

You say what? I guess 1km to exit, in Mandarin & Mongolian

Na ongeveer 800 km is daar skielik geen Engels op die verwysingsborde nie, net Chinees en ’n baie vreemde taal in snaakse regop skrif. Duidelik is ons nou in Inner Mongolia. Teen skemer bereik ons die dorpie Hexigten. Nêrens sien ons iets wat na ’n hotel lyk nie. By ’n verkeerslig stop ’n man in ’n Pajero langs ons en maak sy tande skoon met hoenderpootjies. Vinnig gebruik ek die vertaler op my iPhone en wys hom ons soek ’n hotel vir die nag. Tot ons verbasing sê die man in Engels, “Follow me”. (Later sou ons uitvind dit was die enigste Engels wat hy kon praat.) En daar trek die man weg, oor die rooi lig en maak ’n draai links teen die verkeer in. Hier maak ons soos die manne maak en volg hom met ’n spoed. ’n Paar blokke af met die straat, stop ons voor ’n gebou wat glad nie soos ’n hotel lyk nie. Geen ster in sig nie, nie eens ’n een ster nie! Dankie, dankie en ons gaan binne.

Ons hotel sonder sterre

Dit lyk nie onaardig nie, maar ons vra of ons eers die kamers kan besigtig. Die mat in die hysbak is netjies en skoon, ’n goeie begin. Die kamer is ook netjies, twee enkelbeddens, ’n TV en ’n badkamer. Langs die toilet is die stort – geen glas nie, net die pyp wat uit die muur kom. Alles baie skoon, tot tandeborsels in ’n boksie en slippertjies in ’n sakkie voor die bed. Toe ons afgaan om te betaal, staan die man van die Pajero in die portaal, nog steeds met die hoenderpoot in die hand, besig om te onderhandel om sy pond op te eis. Hy maak vinnig spore toe hy ons sien.

Vinnig neem ons die tasse kamer toe, ons is dood van die honger. Die dametjie by ontvangs beduie in die straat moet ons net links draai en daar iewers sal ons ’n eetplek kry. Oral is klein eetplekkies, glad nie kosher nie. Nee kyk, ons slaap in ’n hotel sonder een enkele ster, eet wil ek vannaand in ’n ordentlike plek. Ons loop en loop, en na ongeveer 3 blokke kom ons op die oulikste negosie winkeltjie af.

Die dametjie smile want ons koop sakke vol pragtige aandenkings. Vergete is die hongerpyne vir eers. Weer straat af. Net toe ons wil moed opgee, sien Skip aan die anderkant van die straat baie karre voor ’n gebou geparkeer. Ondervinding het geleer, waar daar baie karre is, daar is die kos goed.

Hier het ek lekker ge-shop!!!!

En daar stap ons in ’n HotPot Restaurant in. Die geraas en die reuke is baie bekend. Vannaand eet ons soos konings. Ons bestel twee borde met verskillende vleise, papierdun gesny, ’n bord vol groente, en verskillende sampioene en chillie sop om als in gaar te maak. Ons eet letterlik dat die sop so spat. Lekker, lekker.

Trommel dik val ons op die beddens. Grote Griet, het ons ’n rotsbank getref? Ons slaap op klipharde planke en die kussings is vol boontjies, nie vere nie, boontjies! Dit gaan ’n laaang nag van pyn en lyding wees.

Herfs landskap

Ons is weer oppad, sonder ontbyt. Die natuurskoon is ongelooflik. Geel herfsboompies in elke kloof, langs die pad en in die valleie. Dit is onbeskryflik mooi. Na die laaste berg lê die Vrystaat se vlaktes oop en koud.

Voor in die pad is daar ’n donker kol, so breed soos die pad. Eers weet ons nie mooi wat dit is nie, maar sowaar, dis ’n trekkertjie met gesnyde gras bo-op ’n waentjie. Dis ongelooflik! Gelukkig trek die man af vir ’n vinnige tjoepswaai langs die pad en kry ek die geleentheid om hierdie affere af te neem, die gras natuurlik.

Graswa

Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie. Om in China te leef, bring jou elke dag op jou kniee om dankie te sê. Langs die pad stop die mense, met kameras en lense meters lank, net om die beeste, perde en skape af te neem. (Die meerderheid het nog nooit ’n lewendige dier gesien nie, behalwe vir honde, katte en hoenders. En natuurlik rotte, vir die wat gelukkig is om een te vang vir aandete.) Hulle “pose” so 50 meter weg van die diere, skrikkerig om nader te staan. Almal is uitgelate soos kinders: om diere in die natuur te sien, is vir hulle ’n ongelooflike ondervinding.

Boeremeisie by Sjinese beeste

Vir middagete stop ons in Keshiketeng. Eers die toilette besoek. Sommer ’n dubbel “mik en druk” met geen deure of muurtjies tussen die twee gate nie. Jy kyk nie links of regs nie, hurk, doen jou ding, vee af, staan op en loop was jou hande onder die buite kraan.

Dubbel “Mik & Druk”

Die kos is so-so. Die kerrievleis en aartappel-gereg is regtig al wat soort van eetbaar is. Die vis is net grate, gestoom, met baie sous, maar smaakloos. Die dametjies sien ons proe-proe net en bring vir elkeen ’n bakkie rys. Nou eet ons kerrie en rys!

Uiteindelik kry ons waarna ons kom soek het : YURT’s. Sommer so op die oop vlaktes. Maar wat ’n teleurstelling, meeste van die hekke is gesluit en baie Yurt’s is reeds afgebreek. Al wat oorgebly het is die hooftent en die ronde sirkels van sement waar die Yurt’s moet staan. Soos Skip sê, net die beddens het oorgebly. Die tent is ’n sirkel, met ¾ van die sirkel so 3 bakstene hoër, en dit vorm die basis van die bed. Ons moed sak in ons skoene. Het ons sowaar 1000 km gery net om niks te kry nie? Behalwe vir die honderde windmeulens wat krag opwek, daarvan is daar meer as genoeg.

Yurt kamp

Verder met die pad kry ons so ’n klein kampie, ongeveer 10 Yurt’s, en hulle is oop vir besigheid. Geen perde, geen quads en geen kamele nie. Sover as wat ons ry, is daar tekens van Yurt’s, maar geen lewe nie. Teen 3 uur draai ons terug. Nou is daar nog karre geparkeer op die terrein, en voel ons meer gemaklik. Die vriendelike eienaar heet ons welkom, dink ons, en sê dit kos RMB 200 vir die nag, geen ete of ontbyt ingesluit nie. Die tentjie is seker so 6-8m in deursnee, ’n sement bed, met 4 wit duvets, 4 pienkes, 8 kussings, ’n riempie stoel, 1 emmer (vir die nag?) en ’n skottel. Dadelik sien ek die spinnekop op die kussings sit. “Sorry” sê die man, vang die lywige spinnekop in sy hand en los hom net voor die deur. Amper is daar ’n bruinstreep in my broek. Brrrr hoeveel ander kruip nog hier weg, wonder ek. Die eienaar  maak gou die stofie aan die brand. Die stofie is in die middel van die vertrek, met ’n skoorsteen wat by die dak uit gaan. Die stofie stann direk teen die bed, met geen muurtjie aan die bed se kant nie en maak sodoende die bed lekker warm. ’n Baie praktiese idee. Hier kan ’n mens lekker kuier

Die Yurt waarin ons oornag het

Die Yurt se kante is “lattice” van boomtakke en die dak is ook van takke in die vorm van ’n wawiel. Agter die “lattice” is ’n dik laag “batting” soos vir ’n duvet maar met sy oorgetrek aan die binnekant en seil aan die buitekant. Die sy is groen en die wawiel se latte is rooi geverf. ’n Uitstekend kombinasie van kleur.

Die Yurt se dak

Ons verken die omgewing en 3 vriendelike knape kom staan by ons en gesels, in perfekte Engels. Hulle is locals, sê hulle, maar woon in Hong Kong. Dis nou waar die Engels vandaan kom. Nee, hulle gaan nie oorslaap nie, dit word te koud in die nag. Hulle soek net perde om te ry, het nog nooit perd gery nie. Ek sê hulle gaan blikners kry, nee lag hulle, hulle gaan vinnig ry, hulle dink nie hulle sal dit die volgende dag voel nie! Surprise, surprise vir hulle.

Ons maak gou die bed op en besluit om al die duvets op die “bed” te sit. Ek sit met my glasie Amaretto en Skip met sy rooiwyn.

Kyk ons lekker GROOT bed

Die vrou van die restaurant kom met die spyskaart, sit by ons op die bed, en neem ons bestelling vir aandete. Die gebraaide beesvleis lyk lekker, nee hulle het nie. Die hoendersosaties lyk ook goed, nee hulle het nie. Nou wat het julle? Net skaapsosaties. Jik, daai vet, maar ons is honger. Die res is weer net rou groente met ’n souterige dip en vrugte en jogurt. Genoeg vir een ete. Voor sy loop sê sy ons bed is verkeerd opgemaak. Jy slaap op die pienkes, en onder die wittes. Ons s’n is sommer deurmekaar. Maak gou weer die bed van vooraf op. Die luggie raak nou koel.

Ons besoek die storte, so 100m van die Yurt’s af. Lyk nie sleg nie, skoon, maar ver om in die koue te loop. Die luggie is nou so 5-6 grade, en dis donker. Nie een van ons sien kans vir die stort nie. Nee wat, hier ruik almal dieselfde, so ’n dag sonder water gaan ons nie skade aan doen nie. Nou vir die toilette, dit staan daar diékant, ver weg van als. Dit gee ons al ’n aanduiding wat om te verwag. Skip hou die flitsie en ons giggel so dat ek amper mis. Drie lae muurtjies en 4 slote, geen deur nie. Soos Skip sê, Slip & Slide het ’n nuwe betekenis gekry. Die slootjies loop teen 45 grade na agter. In die hoek staan ’n drom met water, en ’n beker met ’n lang steel. Jy mik en druk, en in plaas van die ketting trek, maak jy die beker vol en spoel af. Miskien twee keer, hang af ….. Ek wonder of hier ook spinnekoppe is?
Gedurende die nag word ons wakker van vreemde geluide. Wie sal nou so snork en snuif hier by ons tent? Kan jy glo, dis beeste wat in die nag in ons kampie wei. Iewers hoor Skip ook eende of ganse, maar ek is te doof om vêr geluide te hoor. Ons het geen diere in die kamp gedurende die dag gesien nie. In die oggendure oorweeg ek dit om die emmer te gebruik, maar besluit om die koue aan te durf en die spinnekoppe in die toilet wakker te gaan maak. Oppad terug loop ek by die kombuis verby en my pad kruis met die van die eienaar, met ’n groot mandjie in die hand, vol perdedrolle om die vuurtjie vir die dag te begin. Hier word alles benut, niks gaan verlore nie.  Dit verklaar ook die draad kampies vol beesmis, langs die huisies in die klein dorpies.

Boeretroos in die oggend – kyk die pragtrige voordeur

Die wereld is wit van die ryp, ook ons yurt se dakkie. Ons het heerlik geslaap, sommer met ons klere van die vorige dag aan…. Sonder om koud te kry. Hierdie bed was sowaar baie beter as die een in die hotel. Ons soek koffie, maar voor die restaurant se deur staan ’n stoel, wat beteken, restaurant closed! Ek weet daar is lewe in die kombuis, so ek neem ons fles en stap nader. Deur die venster vra ek vir warm water. Op die stoof staan ’n groot pot met water wat kook dat die stoom so staan. Die ou man se nee, maar die jongetjie maak my fles vol. ’n Boer kan mos nie sonder sy koffie in die oggend nie. Ons borsel tande sommer so in die veld, en vat vroeg-vroeg die pad.

In die volgende dorpie loop ’n groot swart vark oor die pad. Stop! Stop! Hierdie foto moet ek vir Mary, my Ayi wys (huishulp). Sy het mos nog nooit ’n vark gesien nie. Aan die linkerkant kry ons vir  Genghis Khan, die man waarvan Joh ons vertel het, op sy ysterperd, voor die hotel.

Genghis Khan op sy perd

As jy in China in enige winkel inloop, kry jy ’n Buddha in die deur. Hier kry jy vir Kahn en foto’s van hom in sy prille jeug. Die voorkant van die hotel is soos ’n helmet. Dis te pragtig, en baie besonders. In die winkeltjie sien ons die mooiste houer, van been gemaak, met twee chopsticks en ’n mes. Dis nou iets waarvoor ek my voortande sal gee. En die prys? Net ’n skamele RMB 5,000. Ons wil uitvind aan wie het dit behoort, maar verstaan nie haar taal nie. Sy beduie wel dat dit oor die 100 jaar oud is. Miskien aan Genghis Khan? Ek wonder of hy familie van haar kan wees, sy is duidelik baie trots op die man. Sy wys vir ons die hotel en oral is klere, eetgery en juwele in glaskaste. Dit dateer beslis uit die jaar toet. Hierdie is ’n historiese monument.  Ek sal nogal graag hier wil oornag en meer van die geskiedenis wil hoor, maar al die beddens is weer net planke om op te slaap.

Tipiese Mongolian juwele

Ons is op soek na die Stone Forrest. Die dametjie beduie ons moet net reguit aanhou, dan sal ons dit vind. Wat sy vergeet om te sê, is dat dit nog 200 km verder is. Ons is storm honger en verslind die laaste koekies. Daar is nie eens droe wors of ’n broodjie nie, net sweeties. Glad nie goed vir my diabetiese toestand nie. Later sal ek die vrugte hiervan pluk!

Die landskap is nog steeds verlate met ’n Yurt hier en daar. Van die boere het selfs hulle eie wind kragopwekkers. Troppe en troppe skape wei langs die pad. Bo-op ’n koppie, ver van die pad, staan ’n 4×4 met ’n klein eenman tentjie. Daai man moes koud gekry het, hoop nie hy het alleen geslaap nie. Wat ’n jammerte, die boere ry nie meer met perde nie, inteendeel, hulle het ysterperde aangeskaf. Die jassies is styf om die middle vas gebind en net die oë steek uit onder die pelsmusse. Hulle ry oral in die veld, jaag die vee aan, lyk na ’n gesellige klompie manne.

Hierdie dame soek ons geld, wil he ons moet oorslaap die aand

Net voor ons die Stone Forest bereik is daar weer baie Yurt’s. ’n Dametjie in tradisionele drag wink ons nader. Elke Yurt het sy eie groentetuin, klein maar voldoende. Hier lyk dit baie geselliger as waar ons geslaap het. Perde en quads staan langs die pad. Vrolike musiek word hard gespeel. Miskien bly ons nog ’n nag.

Ingang na die Stone Forest is baie duur, RMB 100 per person om na klippe te gaan kyk? Daar is busse en busse vol mense, praat nie eens van al die voertuie nie. Die luggie is koel, en my bloedsuiker is in sy kanon in. Ons loop ’n hele entjie na die naaste klipformasie. Nogal heel indrukwekkend. ’n Dametjie met die pragtigste pelshoed vra of ons saam met haar sal staan vir ’n foto. Ek beduie sy het die mooiste hoedjie op en dadelik haal sy hom af om vir my te gee. Ek weet wat is die prys van daai pelshoedjies, wou al self een koop, maar die pryse is belaglik. Dankie, maar nee dankie, ek’s half ordentlik.

Hierdie dametjie wou haar pelshoedjie vir my gee, net omdat ek daarvan gehou het

Intussen begin my visie die gees gee, als is geblur en ek kan nie sien nie. Daardie koekies vir ontbyt eis nou hulle tol. Boonop het ons die water in die kar vergeet. Vandag pass ek uit. Ek maak dit tot by die naaste muurtjie, gee die kamera vir Skip en sê laat jy gaan. Skip gryp die kamera, en begin so vinnig as wat hy kan tussen die mense deur beweeg. Na wat voel soos ’n ewigheid, is Skip terug.

Massiewe rotse

Hy het selfs die eerste sneeu op die berg gesien. Ons loop stop stop terug kar toe. Nou soek ek my eie bed. RMB 100 betaal om op ’n muurtjie te sit, met oë toe en ’n vreeslike dors – ek voel soos ’n luis.

Die pad huis toe is lank, en geen eetplek in sig nie. Teen halfdrie kry ons die eerste petrol stop met ’n winkeltjie. Daar verkoop hulle gelukkig altyd one minute noodles en warm water is vrylik beskikbaar. Ons gaan sit by ’n skoon tafeltjie. Die buurman langs ons bied ons plat brode, dunglai, aan, tuisgebak. Dit is heerlik sout en ons druk dit sommer so in die noodles se sous. Dit is sekerlik die vrygewigste nasie wat daar is. Sal hulle laaste krummeltjie kos met jou deel.

Mongolië – of Oos Vrystaat?

Terwyl ek salig in my eie bed lê, beplan ek die volgende uitstappie. Verseker sal daar hope kaas, komkommers, seldery, neute en baie meer droë wors en biltong ingepak word. Tot volgende keer.

Read Full Post »

Vlug CX 749 Vervolg

Goed, hulle het gaan slaap, kaalgat. Ontbyt sou 6 uur die volgende oggend bedien word.

Sesuur ontbyt? Nope, twintig minute oor 6 is die kos eers gereed.  Die dag begin skeef. Chinese is ongeduldig en ongeskik, druk in in die rye, aijaijai, hier kom ‘n ding. Ons sit langs Suid-Afrikaners aan tafel. Hulle storie klink rowwer as ons sin. Die man is ‘n landdros en hulle kom van Port Elizabeth. Hulle het besluit om met ‘n taxi na PE se lughawe te gaan. Klim in die taxi, en so na een km kyk die drywer om en sê: Is jy nie meneer Vorster nie? Hy kyk die man in die oë, en sy maag gee ‘n draai. Dit is die man wat hy ‘n paar maande gelede tronk toe gestuur het vir minagting van die hof. Die taxidrywer lag en sê hulle moet blad skud, “let by gones be by gones.” Die landros sug `n sug van verligting, maar groter probleme lê vir hulle voor, hulle weet dit nog net nie.

Die vorige aand het hulle, anders as ons, besluit om die Spur uitnodiging vir ete te aanvaar. Op pad na die restaurant sit hulle in die hysbak vas. Na ‘n halfuur bel ‘n vrou haar man in die Kaap van haar selfoon af en vra hom om die hotel te laat weet hulle sit vas in die hysbak. ‘n Halfuur later is hulle vry. Ete was verby en hulle is terug kamer toe, die keer met die trappe op.

Na ete gryp ons die tasse en maak vir Cathy Pacific se toonbank. Ons is tweede in die ry. Die dametjie wat ons help is ‘n leerling. Ai, alles moet sy 3 keer doen voor dit reg is. Sy doen ons bespreking van Hong Kong na Beijing ook. Ons vra ons wil asseblief met elke vlug saam sit. Geen probleem, sy maak so. Na 40 minute kry ons die kaartjies. Weer gaan wag ons in die lounge. Hierdie keer lees ons koerant en drink sap. ‘n Halfuur voor die vlug gaan ons hek toe. Dit is aan die gatkant van die lughawe, en ons moet bus ry tot by die vliegtuig. Ons wag. 10:30 kom en gaan. Geen bus in sig nie. Die Chinese begin weer moerig raak. Elfuur, jammer hulle kon nie die vliegtuig reg maak nie. Nou skree ‘n Chinese dame haar longe leeg. Ek voel om saam te skreeu. Twee bestuurders is aan diens, een Engelsman en een Chinees. Die tannie gee die Chinees gas. 11:30 ons gaan binne 10 minute vertrek, genadiglik met `n vliegtuig wat die oggend vanaf Hong Kong geland het en nie die krok van gister nie. 11:45 hulle vul die brandstof op en maak die vliegtuig skoon. Intussen het ‘n man die Chinese tannie gejoin. Altwee skree ewe hard op die bestuurders. 11:50 twee dames in rolstoele moet eerste op die vliegtuig gelaai word. Hulle word met ‘n hyskraan affere in ‘n trokkie gelaai en vliegtuig toe geneem. Ons wag, die tannie en die man skree. 12:00 die busse arriveer. Ons maak vir ‘n sitplek, die rue wil nie meer nie. Op die vliegtuig skree die tannie nog steeds. Nou raak ons gatvol. Nie net omdat ons een dag later vertrek nie, ook vir die tannie wat skree. ‘n Lang man met strepe op die skouer maak sy opwagting by die dame. Hy vra haar paspoort. Sy skrik haar gat af en raak stil, sommer al die passasiers ook. Die enjins begin brul, ons hou duim vas. Die kaptein kondig aan, ons wag nog 5 minute, sodat die tannie heeltemal kan bedaar, anders haal hy haar van die vliegtuig af. Nou is dit tjoepstil. En daar gaan ons – 28 uur laat!

Ek slaap so 10 minute en is dan weer 20 minute wakker. Skip slaap glad nie. Ons kyk movies, ek kry nie my sit nie, ek kry nie my lê nie. Die hele vlug is een nagmerrie. Ek is ongelooflik moeg, maar kan nie slaap nie. Ek het my handsak in my handbagasie gesit, en die slaappilletjies is in my handsak (Beplanning!). Ons moet maar deurdruk tot in Hong Kong. Ek slaap die laaste 2 ure. Skip slaap net een uur.

Op Hong Kong het ons net een uur voor ons volgende vlug na Beijing. Ons moet weer deur sekuriteit, die hele toetie. Ons hardloop uit die vliegtuig. En hier steek `n heel ander probleem sy kop uit en doem die woord “Beplanning” of dan, gebrek aan beplanning weer op. My broek is 2 nommers te groot vir my en ek het geen belt aan nie, het vergeet om een in te pak. Van die sittery en 2 dae se dra, het die broek beslis gerek. Met die een hand hou ek my broek vas, en in die ander hand my tas. Maar die broek sak al laer en laer, voel vir my hy sit net bo die waterlyn, kloof ontbloot! Ek los my tas so elke 15 treë om my broek op te trek. Skip raak heel goed. So in die harloop los ek net die tas, hy vang hom voor die handvatsel die grond slaan, ek trek my broek op, knyp hom weer vas en gryp my tas. By sekuriteit soek ek tou, draad, staaldraad as dit moet want hier kom skande en skade met die broek vandag. Geen tou of draad in sig nie, ook nie haakspelde nie. Vandag staan hierdie vrou kaalgat op die aanloopbaan. Ons is deur sekuriteit en hardloop weer, broek in die hand, soms onder die heupe, dan weer bo, maar gelukkig nooit tot op die knieë nie, net so `n klein bietjie bokant die grens van lelik op straat.

Van die hardloop is die klanke besig om deur te kom. Ek dink ek ruik myself, Skip sê nee ek ruik hom. Hy dink hy ruik homself, ek dink hy ruik my. Die botteltjie parfuum nog steeds in die tas. Geen kans om te stop nie, as ek nou moet buk, sit my broek op my enkels. Ek stink eerder as sonder ‘n broek in die openbaar.

Ons haal die hek betyds, broek nog steeds drygend, word net losser en losser. Ek bekyk ons kaartjies, ongelooflik! Ek sit in ry 50 en Skip in ry 30! Wat verstaan die mense nie, saam sit beteken twee sitplekke direk langs mekaar. Ek neem aan ek het heel uit voeling geraak met Afrika. Check elke ding twee keer voor jy glo wat vir jou gesê word. Ek praat met die lugwaardin, Skip met ‘n ander een. Die man langs hom wil nie ruil nie. Gelukkig besluit die seun langs my om kop te gee. Nog voor ons opstyg het ek my man langs my. Ons altwee slaap die slaap van geluksaliges die hele vlug. 

Op Beijing hardloop ons nie meer nie, nog nie. Kry ons tasse en stap rustig na Air China se toonbank om die volgende vlug te bespreek. Ag fok, skokkende nuus, geen vlugte vir die hele dag beskikbaar nie, als is vol. Ons moet of op die lughawe wag tot die volgende dag, of op eie koste in ‘n hotel gaan bly. Ons gaan na Dragon Air se toonbank en vra vir hulp. Skip verduidelik die situasie. Ons raak benoud, daar is absoluut geen sitplekke beskikbaar nie. Na ‘n halfuur kom die bestuurder terug met net ‘n kaartjie vir my. Skip is op die waglys en moet 12:45 in die tou gaan staan. Die vlug is 12:55. Die seun by die toonbank is baie hulpvaardig en stel voor ek boek altwee tasse in, dit gaan help vir ‘n sitplek vir Skip glo hy. Ek begin bid soos nog nooit tevore nie. Ek gaan nie alleen vlieg nie.

Die gewag by toonbank L4 begin. Ons het presies 10 minute. Die mense word meer en meer en almal druk en stoot. En hulle raas al weer. Skip druk terug en staan heel voor. 12:50 kry hy sy kaartjie, bloot omdat hy nie bagasie het nie. Een gelukkie vir die dag, een Chinees wat sy breins gebruik het, dankie tog dis nie Afrika nie.

Nou hardloop ons, moet nog deur sekuriteit en die hek is aan die einde van die terminal. Die toue is lank, ek roep ‘n dametjie nader, wys haar ons vlug is 12:55 en dit is alreeds 12:55. Sy jaag almal opsy, druk ons deur en daar gaat my broek al weer, nog voor ek begin hardloop. Nou help Skip die broek vas hou. ‘n Man sien ons sukkel. Hy kyk kwaai na ons, ek dink hy kan nie besluit of Skip my broek probeer aftrek of op hou nie en of hy ons moet arresteer of help nie. Hy besluit genadiglik om te help. Hy kyk na ons kaartjies en roep ‘n karretjie nader. Die blerrie ding wil nie vinnig loop nie! Daar is niemand meer by die hek nie, maar die vliegtuig se deure is nog oop. Knyp-knyp, broek in die hand, kloof vir die hele wêreld om te sien, hardloop ons oor die aanloopbaan vliegtuig toe. Ons maak dit net. Ons kyk na die kaartjies, nou vra ek jou, hoe gebeur dit? Eers was daar nie plek op die vliegtuig nie, toe net een kaartjie vir my, en skielik sit ons langs mekaar op die vliegtuig. Wonderwerke gebeur nog!

Op pad huis toe besluit ons daar is geen manier wat ons die aand gaan kos maak nie. Ons stop by McDonalds.

Ons is ongelooflik moeg en vuil. Ons was bykans 52 ure op lughawens en in vliegtuie. Teen hierdie tyd waag ons dit nie om ons arms hoër as skouerhoogte op te lig  nie.

Terwyl ons weg was, het die werkers begin om reparasies aan die huis te doen. Die stort staan boude en blaaie. Noodgedwonge moet ons bad. Terwyl ek my pilletjies soek, draai Skip die krane oop. Die straaltjie water wat uitkom, laat my moed sak. Dit gaan ure neem om die bad half vol te kry. Hy bel Facilities, dring aan op sterker water. Die moegheid doen hom nie goed nie, hy verloor dit heeltemal. Dreig om die hele boksemdice te laat fire, ens. Ek paai en praat mooi. Na ‘n uur is die bad half. Nou wie gaan bad en wie gaan kyk? Dit is ‘n wedloop die  trappe op om eerste in die bad te wees. Halfpad pluk ek my broek uit. Genoeg is genoeg van hierdie donnerse broek. Toe ons saam die badkamer instorm is ons altwee reeds poedel kaal. Ons spring gelyk in die bad in. Het julle al gesien hoe lê mens lepel in ‘n bad? Vir die eerste maal in baie jare bad ons weer saam. Dis vrek beknop, maar ek kan dit aanbeveel, dis moerse pret!

Salig, ons is tuis, ongeskonde.

Read Full Post »

SATERDAG 16 APRIL 2011

 Sus Cobie keer terug na Chinaland. Sy vertel:

Beplanning : Skielik het die woord nuwe betekenis gekry. Nie beplanning soos in die lekker van klerekas of koskas nie, maar beplanning soos in om twee tasse te pak met ‘n bed vol kruideniersware, pille, pille, pille vir 6 maande, 3 paar skoene, ‘n klein bietjie klere, Afrika prente en mooi goeters vir die huis vir die lang tog terug huis toe, China toe.

Soos gewoonlik los ons die pakkery tot op nommer 99.  Ons stel die drama van wat om te vat en wat om te los so lank moontlik uit. Dertig minute voor ons die laaste  rustelose slapie aanpak, word die tasse met geweld gepak. Die kamer is een groot chaos. Sakke lê op die vloer, op die bed, af met die gang. Tussen die klere lê Mica grootoog op die bed. Praat geen woord nie, die afskeid maak haar stom.

Gewoonlik word elke boksie met pille behoorlik ondersoek, herverpak en plat gedruk om soveel spasie moontlik te spaar. Nie hierdie keer nie. Holderstebolder word alles ingeprop. Binne 20 minute is die takie afgehandel, altwee tasse maak toe sonder dat iemand daarop hoef te sit of op en af te spring.

Vroeg die volgende oggend, 5 uur, lui die wekker. Slaap was min, die knop op my maag wou nie tot ruste kom nie. Soos dit is het ek ‘n klein kindjie se vrees vir vlieg, dan nog die seer van totsiens, die houvas en laaste drukkies. Selfs na 3 jaar word dit nog nie beter nie. Die laaste paar uur gebeur alles met ‘n spoed. Vinnig eiers in ‘n pan, honde groet, mense groet.

Ons is vroeg by die lughawe. Die vliegtuig is stamp vol, dit gaan ‘n lang vlug wees. Ons sit in die lounge, drink vir ‘n verandering vonkelwyn, eet kaasbeskuitjies en wag dat die tyd verby moet gaan. ‘n Uur voor die tyd begin ons na die hek beweeg. Ons kyk vir die mense, die mense kyk vir ons. ‘n Bejaarde paar daag op, probeer iets vra, maar ek verstaan geen woord nie. Hulle bly net “Frankfurt” sê en verder verstaan ek niks. Johan probeer Duits, geen sukses. Die personeel verstaan ook geen woord nie. Later vra hulle of iemand Russies kan praat. Geen beweging nie. Skielik onthou Johan, hy het mos ‘n “translator” op sy iPhone. Dit doen die ding! Hy vertel hulle hul vlug is vertraag tot 11 uur die aand, maar hulle kan ‘n gratis ete by ‘n restaurant gaan geniet. My slim man.

Ons sit in die vliegtuig en wag. 30 Minute na ons moes opstyg, wag ons nog steeds. Die kaptein kondig aan: tegniese probleme, ons is bietjie vertraag. ‘n Uur later weer ‘n aankondiging, die Nr. 4 engine wil nie werk nie, hulle leen gou parte by SAL, moenie worry nie, als is onder beheer.

Moenie worry nie? Hoe de donder kry jy dit reg! Weet hy hoe ver is China van hier af, veral as een engin nie werk nie? Water en sappies word bedien. Nog ‘n uur later, jammer dames en here. Nou moet die hele engine vervang word. Neem asseblief al julle bagasie en gaan wag weer by Terminaal 21 tot verdere kennisgewing. Oh, en ‘n gratis ete sal bedien word in die restaurant. 200 Mense in een restaurant? Hier kom groot k…, ek bedoel moeilikhied. Dit is nou 15:30 – oorspronklik sou ons om 12:30 vertrek het.

Soos die mense verby kom met hulle skinkborde lyk die kos goed. Dit lyk na ‘n keuse van hoender of soort van goulash met rys, slaaie en groente. Die pampoen lyk vrek lekker! Net toe ons die toonbak bereik, word aangekondig, jammer, daar is nie meer gaar kos nie, ons moet 30-45 minute wag. Hierdie gaan ‘n moeilike vlug wees! Daar is geen slaai meer nie, net rys, pampoen en — afval??  Die Chinese proe so versigtig, trek hulle neuse op en loop. Eenkant lê so ‘n gedroogde stuk vleis. Skaapboud sê die dame! Manna uit die hemel vir my. Sny sussie, sny, hierdie boervrou ken van skaapboud. Ek vra vir sous van die goulash op my rys, en twee heerlike groot stukke skaap land op my bord. Johan score, hy kry twee lekker stukkies aartappels saam met sy rys. Elkeen mag een vrugtesap of water ook neem. Johan rebelleer en kry sy sin. Bier in die hand gaan sit ons by ‘n tafel. Ons eet soos konings.

Nou begin die groot wag weer. Die mense raak moerig, veral die Chinese is nie gelukkig nie. Hulle praat al hoe harder en harder. Half agt word ons meegedeel ons bagasie wag onder. Daar gaan nie vandag gevlieg word nie. Nou praat die Chinese nie meer nie, hulle brul! Wanneer jy jou bagasie het, moet jy jou boarding pass aan ‘n dame wys, dan word jou naam op ‘n lys geskryf en so word ons in verskillende hotelle ingedeel. Busse word gereël om ons te vervoer. Hier is vannaand ‘n Babelse gemors. Die eerste bussie is vol, ons staan op die sypadjie, sien die hotel reg voor ons, maar weet nie hoe om daar te kom nie. Tussen ons en die hotel is ‘n pad wat ons blokkeer, die hotel is 70 meter van ons af. ‘n Sekuriteits dametjie, van kop tot toon geklee in pers, hoor dat ek en Johan wil loop. Sy sluit haar kantoortjie, klap haar pers stewels, en daar stap ons. Niemand volg ons nie. Op met die trappe tot in die parkeer area, deur klein stegies, op met die hysbak en daar staan ons in die voorportaal van die hotel. Ons en die busse kom gelyk daar aan. Paspoorte asseblief. Die Chinese bondel saam. Sorry, your name is not on the list. Ag tog, hulle verstaan nie Engels nie en het op die verkeerde bus beland. Ek en Johan is gelukkig, ons name is op die lys. Ons gryp ons tasse, en weg is ons na kamer 1257. Ontbyt word om 6 uur die oggend bedien en 7 uur maak Cathy Pasific se toonbanke oop en 10:30 vertrek die vlug. Die hele proses weer van voor af.

Wat ‘n lieflike hotel. Groot balle vir ligte hang uit die dak, ongeveer 1,5m in deursnee, gemaak van staal en kweperlatte, geweef soos mandjies. Dit is stunning mooi. Johan skakel die TV aan en begin die dag se rugby opvang. Ek kyk die badkamer deur, en realiteit skop in. Beplanning het weer in die hek geduik! Ons het geen tandeborsels nie. Bel ontvangs, ja, tandeborsels word verkoop, teen R10 elk (nie sleg nie) maar jammer, hulle het geen voorraad nie. Beplanning – poer in sy moer!

Ons bagasie is “gewrap”, daar is geen manier wat ons vannaand daai tasse gaan oop maak nie. Buitendien, ons gee ons laaste Rande gewoonlik vir die kinders, het R20 in die beursie, maar baie RMB, wat ons niks gaan help nie. Volgende ontnugtering, geen ekstra klere in die handbagasie nie (Beplanning!!) Ek pak ALTYD een stel klere in die handbagasie tas. Niks, soos in geen. Ons gaan nie die enigste wees wat more weer dieselfde gaan lyk nie. Ek weet sommer. In die geharwar het ek geen medikasie vir die volgende dag uitgehou nie. My diabetes apparaatjie lê en loer vir my. Die eerste dag is nog OK, maar teen Maandag is my suiker in sy kanon. Daar is groter probleme oppad. Ek is op nuwe medikasie en teen Maandag, sonder pille, gaan hierdie hormone van my hande klap. Ek voel sommer al die hoofpyn. Daar is darem een ligstraaltjie – vannaand slaap ons kaalgat! Sonder die gewone deodorant natuurlik. Gelukkig het ek my botteltjie Dune in die handsak, dink nie Skip sal dit oorweeg om dit te gebruik nie. Ons stel maar weer die ou wekkertjie vir 5 uur. Half nege ‘n klop aan die deur. Ons harte juig, tandeborsels is hier. Nee, jammer, nog geen tandeborsels nie, maar ons kry ‘n voucher om by Spur aandete te geniet. Ribbetjies en geen tandeborsels nie? Nee shit, dit gaan nie werk nie. Ons gee dit `n mis en kruip tussen die lakens in, kaalgat.

Die wekker skreeu. Ek skreeu in Johan se oor ons is laat, ons moet nog inpak en die kinders en die honde groet. Ja reg, sê hy, ek sal sommer die kamerbediende  soen as sy verby kom. Die hotel, natuurlik is ons in die hotel, onthou ek.

Vinnig stort en aantrek. Kyk, as ek nie eens my tande kan borstel nie, dan moet ek ten minste een ander plek higienies wees. Trek dieselfde klere as die vorige dag aan, minus ‘n panty. Dis mos heel ongesond om 2 dae in ‘n ry dieselfde panty te dra. Wie gaan in elk geval weet? (Ha, as ek maar geweet het!) Spuit myself van kop tot tone met Dune. Mmmm sê Skip, jy ruik ten minste varser as ek. Ek bied die botteltjie vir hom aan, een kyk en ek kry die boodskap; is jy nou simpel, dis vroumens goed!

 Word vervolg:

Read Full Post »

Sus Cobie in China

 

  Cobie en haar man Johan en een of ander monster (Johan is die een aan haar regterkant!!!)

`n Greep uit `n vorige lewe toe hulle soldate was in die Qin tydperk.

In hulle tuisdorp vind hulle ook van hierdie beroemde kleibeelde wat destyds begrawe is. Ek het gevra dat hulle vir my enetjie vir my tuin moet saambring as hulle kom kuier.

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: