Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘storietyd’

Die Ontmoeting

‘Ja ek het,’ antwoord die Dominee. ‘Al wat hy gesê het was dat hy nie in hoere belangstel nie, hy het ´n meisie dankie. Die volgende kwartaal was Sally nie meer sekretaresse by die skool nie en ek het besluit ek wil ´n monnik word, maar omdat ons kerk nie ´n klooster tradisie het nie en ek nie sommer skielik ´n Katoliek kan word nie, het ek die tweede beste opsie gekies; ek sal ´n predikant word, ek is klaar met vroumense. Ek wil nooit weer iets met hulle te doen hê nie.’

‘En soos julle weet het ek toe ´n predikant geword. Ek het laat in my lewe getrou, hoofsaaklik omdat die gemeente daarop aangedring het. ´n Pastorie moet ´n pastoriemoeder hê, het hulle gesê. Toe trou ek met ´n meisie tien jaar jonger as ek. Ek was vyf en dertig en sy vyf en twintig, ´n lieflike, klein fyn blondiene, skaam en stil soos ´n muis, en ´n uitstekende pastoriemoeder. Die gemeente was lief vir haar en sy vir hulle. Ek is steeds lief vir haar. Sy was nog al die jare goed vir my al het sy ´n erge obsessie met …, ’ sê hy en bly vir ´n lang ruk stil, so asof hy mooi dink oor wat hy amper gesê het.

‘´n Obsessie met wat?’ vra ek nuuskierig. ´n Pastoriemoeder met sielkundige afwykings is altyd interessant.

‘Vergeet van die obsessie,’ sê Buurman ongeduldig. ‘Vertel vir ons van die ontmoeting!’ Predikante kan tog so onbedagsaam wees. Hier sit ons die hele aand al en offer ons tyd op om na sy storie te luister en hy kom nie daarby uit nie. Ons is sy vriende, nie sy gemeente wat hy Sondae kan martel met sy ellelange, niksseggende preke nie!

‘Soos ek gesê het, ek het onlangs een naweek vir my ou vriend Le Roux in die Kaap gaan kuier. Die man het goed gedoen vir homself. Bly in ´n spogbuurt, ry ´n blink kar en is nog net so ´n goeie mens as wat hy destyds op skool was. Altyd hulpvaardig, het altyd tyd om na ander te luister en raad te gee. Hy moes eintlik ´n predikant geword het.

‘Saterdag oggend tydens ontbyt het hy vir die vrouens gesê hulle moet solank stad toe gaan, ons sal later by hulle aansluit vir koek en tee mits hulle die koek sal betaal, het hy geskerts. Hy moes eers iets by die ouetehuis, of dan aftree-oord gaan aflewer en ek moet saam gaan.

‘Op pad het hy gesinspeel daarop dat die besoek eintlik ´n soort van verrassing is wat hy vir my beplan het, maar hy wou nie uitwei oor die saak nie. Wat vir my vreemd was, was dat hy langs die pad ´n bos blomme by ´n straatverkoper gekoop het. Hy het niks gesê oor die blomme nie, en ek het nie gevra nie. Ek het maar gedink hy het dit vir sy vrou gekoop.

‘By die aftree-oord moes ek eers in die voorportaal wag met die blomme wat hy my in die hand gestop het terwyl die gang af verdwyn het. Na ´n rukkie het hy weer tevoorskyn gekom en my nader gewink. Ek het hom gevolg tot in ´n ruim eenslaapkamer woonstel waar ´n maer, gryskop vrou in ´n rolstoel vir ons sit en wag het. Le Roux het eenkant gestaan en vol afwagting na my gekyk, so al soos ´n pa wat ´n geskenk vir sy kind gekoop het en nou wag dat die kind die geskenk moet oopmaak en begin dans en kraai van plesier oor die verrassing.

‘Ek het onseker bly staan en gewag dat hy my moet voorstel aan die vrou. Toe hy niks sê nie het ek nader gestaan en my hand na die haar uitgesteek en gesê ek is Lucas ….

‘Toe sê Le Roux; “Lucas, onthou jy dan nie meer ons ou skoolvriendin Lu-Ann nie? Gee vir haar die blomme wat jy gekoop het en groet haar ordentlik.”

‘Jy kon my met ´n veertjie omslaan. Ek was geskok, verbaas en opgewonde op dieselfde oomblik. Bid jou aan; Lu-Ann wat oud geword het, iets waaraan ek nooit gedink het nie, wat ons as lede van die “Dogter van Zeus Bewonderaarsklub” destyds nooit sou geglo het as iemand so ´n ondenkbare moontlikheid sou noem nie. Die Dogter van Zeus sou in ons oë nooit oud word nie. Sy sou die slanke, wondermooie meisiekind bly soos sy was. En hier sit sy voor my in ´n rolstoel met kortgesnyde blou-grys hare, daar is geen teken van die lang raafswart hare van destyds nie. Sy lyk glad nie soos Lu-Ann nie. Ek ken die mens nie. Sy is ´n totale vreemdeling vir my. (meer…)

Advertisements

Read Full Post »

Dogter van Zeus

Jy moet Sondag oorkom, ons braai weer vleis, laat weet Buurman. Ek laat weet dis goed so, ek bring my eie vleis en drank soos gewoonlik. Sy idee van goeie wyn is goedkoop bokswyn, en sy vleis is altyd taai. Ek sweer dis donkievleis.

Toe braai ons, en hy stel my voor aan sy vriend Lucas die pas afgetrede predikant. Soos dit nou maar is kom ek en predikers nie baie goed oor die weg nie. Ter wille van Buurman besluit ek om my te gedra en as’t ware die hand van vriendskap na die dominee uit te steek en daarom bied ek hom dadelik van my duur, rooi landgoedwyn aan.

Die die hand van vriendskap word gretig aanvaar, maar die wyn word diplomaties vaderlik van die hand gewys en ek dog so by myself; dit gaan ´n lang dag word om hierdie braaivleis vuur.

Die gesels vroetel toe ook maar met rukke en stote so bolangs. Ons voel mekaar se diepte en die rigting van die ander se dink soos iemand wat in die donker op soek is na ´n ligskakelaar. Tot die dominee diep asem skep en ons meedeel dat hy ´n week of twee gelde in die Kaap by ´n ou skoolvriend van hom gaan kuier het. Was toevallig daar met sake en besluit toe om die vriend op te soek.

‘En wat ´n interessante besoek word dit toe nie!’ sê die dominee so half opgewonde. Nie so opgewonde soos dominees gewoonlik op die preekstoel raak as hulle vuur en swael op hulle gemeente loslaat nie, net so half bedees opgewonde. Deur die besoek, hoor ons, vloei daar toe ´n heuglike herontmoetting met ´n ander ou skoolvriendin van hom. ‘Dit was ´n soort van bestiering, want toe kon ek op my oudag ´n groot las van my skouers af kry, ek kon om verskoning vra vir ´n groot onreg, ek kon boete doen,’ sug hy soos ´n tevrede martelaar.

Ek en Buurman kyk vir mekaar en ons vermoed altwee hier kom ´n lang preek oor reg en onreg en vergifnis, en nie een van ons sien daarvoor kans sonder alkohol nie, maar ons sien ook ´n storie aan die kom en ons is altwee ewe lief vir stories, veral van die soort waar predikante aan die kortste end trek, en daarom sê ons gelyk; ‘nou vertel vir ons van die ontmoeting Lucas’ terwyl ons probeer om nie oorgretig te klink nie, en daarmee hoop ons om die preek so kort as moontlik te hou.

Ek pak die vuur aan vir die braai terwyl die dominee homself gemaklik maak en sy storie begin vertel.

‘Om by die ontmoeting uit te kom sal ek by die begin moet begin sodat julle dit in perspektief kan sien, en kan verstaan, en my nie te hard oordeel nie, alhoewel julle alle reg daartoe het om my te oordeel. As mens jonk is doen mens mos die domste dinge denkbaar, en dan ry jou gewete jou tot in lengte van dae,’ sug die dominee in sy gewigtige kanselstem weer beswaard en staar na die vuur.

Ek en Buurman kyk grootoog vir mekaar. Ons vermoed ons gaan duur betaal vir hierdie storie. Predikante loop lang draaie voor hulle tot ´n punt kom. Gewoonlik ´n uur lank terwyl jy gedwonge op ´n harde houtbank moet sit en luister. Maar vandag is ons stoele gemaklik en sag, en ons het tyd. Soos een man verseker ons dominee Lucas dus dat ons nie van die veroordelende soort mens is nie. Net laasweek het Buurman nog sy vrou vergewe omdat sy vergeet het om vir hom ´n boks wyn te koop, en iewers langs die pad het ek self al ´n vergifnis of twee oor ´n medemens uitgespreek oor onregte aangedoen en so, die dominee kan dus maar rustig voortgaan met sy storie, sê ons eendragtig.

En so ontvou ´n eenvoudige, maar hartroerende storie voor ons oor die volgende uur langs ons braaivleis vuur. So meegevoer is ons dat ons skoon vergeet om die vleis op die kole te gooi. Toe ons weer sien was dit skemer donker, die vuur dood en die vleis onaangeraak in die bak met marinade. (meer…)

Read Full Post »

Storietyd

Blink Stefaans

“Wat’s dit met hom, Jansen?” vra sy vrou toe die buurman, kersregop-kordaat wegstap. “Dis nie Blink Stefaans se gewoonte om met sy arm bure te kom praatjies maak nie?” Sy kyk die klein mannetjie met die hoed so skeef op die kop skepties agterna.

“Politiek,” sê Jansen en kyk sy buurman ewe skepties agterna. “Hy wil dat ek by sy party aansluit. Dink selfs ek kan op die bestuur kom as ek met hom saamwerk. My goeie invloed onder die gemeenskap kan glo vir “ons” baie beteken, sê hy met `n skewe glimlag.

“Wie is sy ons, en hoekom vra hy jou en nie vir my ook nie? Of is vrouens nie welkom in sy party nie? Moet ons nog kaalvoet en verwagtend in die kombuis staan wat hom aangaan? Ek het lankal gewonder wat onder sy blinkgeit broei. Daar skuil dalk `n Nehanderdaler onder sy snyerspak!” (meer…)

Read Full Post »

Storietyd

Oorlog

(Você dança?)

Sondag. Die troepemag lê al twee dae op die grens  en wag vir kos- en amunusievoorrade om afgelewer te word voor hulle die grens oorsteek. `n Laaste kerkdiens voor die inval van die buurland is vir die troepe gereël. Die diens sal om tien uur begin. Al die troepe sal teenwoordig wees.

Om agt uur klim weerman Nell teen die koppie agter die kamp uit om in stilte te gaan sit en mediteer, weg van die oorlogpraatjies van sy makkers af. Hulle naïwe bravade irriteer hom. Dit is duidelik dat dit nog nie by hulle ingesink het dat oorlog oor bloed en doodgaan gaan nie, hulle eie bloed en eie dood. Dit is nie net die vyand wat geskiet gaan word nie. Die vyand skiet gewoonlik terug in sulke konfrontasies. En ook hulle skiet om dood te skiet.

`n Uur later begin hy terug loop kamp toe maar besef gou dat hy hopeloos in die bosse verdwaal het. Hy is oortuig daarvan dat die kamp reg Noord van die koppie af moet wees, maar na meer as dertig minute se stap is daar steeds geen teken van die kamp nie. Hy besluit om terug te loop op sy spoor na die plek waar hy op `n groot rots gesit het,  om weer die rigting te probeer bepaal waar die kamp moet wees. Oor groot rotsplate verloor hy egter weer die spoor en dwaal onwetend nog verder weg van die kamp af.

Terwyl hy in die skadu van `n boom sit en rus, hoor hy mense in sy rigting aangestap kom. Hy wou net opstaan en hulle tegemoed loop toe hy hoor dat hulle in `n vreemde taal met mekaar praat. Hy gaan skuil vinnig tussen digte struike. Met `n jagmes as enigste wapen en sy hart wat in sy keel klop en sy hande nat gesweet van angs, sien hy hoe drie swaar gewapende vyandelike soldate dig by hom verby loop. Die twee wat voor loop praat en lag vir die derde man wat `n ent agter hulle loop. Die agterste man sit sy geweer teen `n groot rots neer en loop tot reg voor die struik waar Nell skuil, maak sy broek los en gaan sit terwyl die ander twee laggend aanstap.

Toe die soldaat sy kop na links draai, kyk hy reg in Nell se oë. Hy verstar vir `n oomblik, probeer opspring om by sy geweer uit te kom maar word gepootjie deur die broek wat om sy knië sit. Die oomblik van aarseling gee Nell tyd om uit sy skuiling uit te storm en toe die man weer orent styer, steek hy sy mes met geweld diep in sy borskas in. Die man val voorentoe en Nell gryp hom en laat sak hom grond toe sodat hy geruisloos op die grond val. Koorsagtig knip hy vinnig `n handgranaat van die man se belt af, gryp sy AK47 en gaan skuil tussen groot rotse `n paar treë van die dooie man af.

Oomblikke later hoor hy hoe die ander soldate terug geloop kom en na die man roep. Hulle steek `n paar meter van hulle kammeraad af vas en storm dan op hom af. Hulle buk oor hom en toe hulle die bloed sien spring hulle op met hulle gewere gereed om te skiet. Nell se eerste skoot tref die man naaste aan hom in die bors en hy slaan neer. Die ander man swaai sy geweer in Nell se rigting en begin wild skiet, maar hy is te laat en Nell se skoot fel hom langs sy kammerade neer. Hy beur nog weer stadig orent en lig sy geweer om te skiet toe die handgranaat langs hom val en hom aan flarde ruk.

Sonder om terug te kyk hardloop Nell in `n Oostelike rigting waar hy weet die pad wat na die kamp toe loop moet wees. Beangs vlug hy weg van die dooie soldate. Daar mag dalk nog ander van hulle makkers op pad wees en hy wil so ver as moontlik wegkom.

Na wat soos `n ewigheid voel kom hy uitasem by die pad uit. Hy is nie seker of hy nou Noord of Suid van die kamp is nie. Hy begin Suidwaarts loop, maar draai na `n paar treë om en loop Noord. Dit is nou al na tien en die kerkdiens behoort al verby te wees, dink hy. As iemand hom gemis het is hy diep in die moeilikheid want hy het sonder verlof die kamp verlaat. Reeds ver van die kamp af hoor hy hoe bevele geskreeu word en sien hy die troepe rondhardloop. Uit die bos uit storm twee manne met gewere gereed op hom af en beveel hom om stil te staan. Gelukkig herken hulle hom dadelik en sê hy moet sy gat in rat kry en by sy troep aansluit, daar is groot moeilikheid en waar de hel was jy?

Toe Nell die kamp in hardloop, hardloop hy hom vas in die Kommandant. Vervaard spring hy terug, kom op aandag en salueer, maar dan onthou hy van die geweer in sy hand en hy onthou ook dat, as jy `n geweer by jou het moet jy op die geweer salueer en nie teen jou pet nie.  Hy gooi die geweer oor sy skouer soos hulle op skool met die ou .303’s gemaak het, maar dan besef hy dat dit ook nie die regte ding is om te doen nie en bring dit teen sy sy af grond toe.  In sy verboureerdheid  gly die geweer uit sy hande uit en die kolf tref die grond met so`n harde slag dat `n skoot afgaan. In `n oogwink is hy en die Kommandant omsingel deur soldate met gewere wat dreigend na hom toe wys.

Die Kommandant kyk die troep geammuseerd aan en vra dan so half sarkasties; “is jy nou klaar met jou mannewales troep?” Aan twee van die manskappe sê hy, “vat die geweer by hom weg voor hy iemand doodskiet, en bring hom en die geweer na my tent toe, nou. En ontlaai die geweer voor iemand seerkry,” bulder hy kwaad.

Met `n geweer in sy rug word Nell die tent in gestoot waar die Kommandant en `n Kaptein agter `n opvoutafel plaasneem. Hulle kyk hom stilswyend aan. Die AK lê voor hulle op die tafel.

“Wat is jou naam?” vra die Kommandant omgekrap.

“Nell, Kommandant. Bart Nell,” antwoord Nell terwyl hy op aandag staan en stip na `n vlieg `n halwe meter bo die kommandant se kop kyk.

“En waar kry jy hierdie AK?” vra die Kommandant en kyk hom vraend aan.

En skielik kan hy nie onthou waar die geweer vandaan kom nie. Hy kan vaagweg onthou van `n geweer wat op die grond lê, en van bloed en geweerskote, maar niks wat sin maak nie.

“Dit het in die gras langs die pad gelê Kommandant. Ek het dit opgetel en wou dit vir die Luitenant gaan gee.”

“Waar langs die pad?” blaf die Kaptein.

“Kan nie presies onthou nie Kaptein. So omtrent honderd of twee honderd meters uit die kamp uit, ” antwoord Nell senuweeagtig.

“Wat soek jy op `n Sondag oggend so ver uit die kamp uit. Was jy besig om te AWAL troep?”  vra die Kaptein en gaan staan dreigend langs Nell.

Voor Nell kan antwoord sê die Kommandant, “Jy is vol bloed, hoekom is jy so vol bloed?”

Nell kyk af en vir die eerste keer sien hy dat daar bloed op sy klere en sy hande is.

“Is seker soos die takke en dorings my gekrap het toe ek deur die bosse gehardloop het Kommandant,” antwoord Nell stamelend. Hy onthou van die hardloop, van die angs.

“Ek dog jy sê jy het in die pad geloop,” blaf die Kaptein langs hom.

“Ek het Kaptein,” antwoord Nell. “Maar ek was eers op die koppie hier agter die kamp, toe hoor ek skote klap en iets wat ontplof, toe hardloop ek deur die bos terug kamp toe.”

“`n Lafaard wat weghardloop as hy skote hoor, en jy noem jouself `n soldaat!” bulder die Kaptein in sy oor.

“`n Ongewapende soldaat, Kaptein,” antwoord Nell effens meer selfversekerd.

Die kaptein word rooi in die gesig van woede en gryp Nell aan die arm. Die Kommandant kug waarskuwend en die kaptein laat los Nell se arm en gaan sit weer agter die tafel.

“Wat het jy op die koppie gaan soek?” vra die Kommandant rustig.

“Stilte,” antwoord Nell kalm.

“Stilte,” herhaal die kommandant en kyk aandagtig na die soldaat voor hom.

“Ons soldaat is `n denker, dalk `n filosoof,” sê die kaptein smalend.

Voor die tent is daar skielik `n geraas en `n majoor storm by die ingang in. Hy salueer en buk dan oor die tafel terwyl hy gedemp met die kommandant praat.

Nell kan net die woorde drie en vyand hoor.

Die kommandant knik sy kop terwyl hy aandagtig luister. “Goed,” sê hy dan. “Hou die manne op `n gereedheidsgrondslag. Pos wagte om die kamp en stuur nog troepe uit om seker te maak daar is nie nog van hulle in die omgewing nie. Ons wil nie verras word gedurende die nag nie.”

Hy kyk Nell aandagtig aan. “En jy het niks gesien nie?” vra hy met `n frons tussen sy oë.

“Nee Kommandant, niks, net die skote, toe hardloop ek.”

“Goed, gaan rapporteer aan jou luitenant en sê vir hom ek wil hom sien, nou. Nou dadelik, verstaan jy?”

Toe hy flink salueer speel daar `n effense glimlag op die kommandant se lippe. Net voor Nell by die tent uitgaan sê die kommandant, “en Nell, as jy klaar die luitenant gaan roep het, gaan na die medic’s toe laat hulle na jou wonde kyk. En ek sien daar is baie bloed aan daardie groot mes van jou se hef en skede, maak seker jy was dit ook goed skoon as jy  jou klere was.”

Daardie nag, terwyl hy wag staan, begin sy hele lyf te bewe. Sy spiere ruk onbeheersd in spasmas en hy begin opgooi. Sodra hy dink hy kan nie meer opgooi nie, dan ruk sy ingewande weer saam en kots hy van voor af. Dit hou aan tot hy later van uitputting op die grond gaan lê en aan die slaap raak.

Vroeg die volgende oggend steek hulle die grens oor. Die voorste linies van die aanvalsmag het reeds tot naby die vyand se hoofstad gevorder. Die doel van die mag waarin Nell hom bevind is bloot om te verhoed dat die vyand agter die hoofmag inbeweeg en hulle so in `n knyptang beweging vaskeer.

Laat die middag ry hulle `n klein dorpie binne. Daar het min van die dorp oorgebly nadat eers die vryheidsvegters en toe die hoof aanvalsmag daar deur is. Huise is afgebrand en die wat nog staan is vol gate geskiet. In `n banale magsvertoon ry hulle eers op en af deur die verlate stofstrate van die dorp en gaan slaan dan kamp op buite die dorpsgebied.

In die dae wat volg word noodsaaklike dienste soos water- en elektrisiteitstoevoer na die dorp herstel. Die enigste bron van skoon water is `n ou put waaruit water gepomp word. Die dorpenaars kla egter dat die pomp nie werk nie en dat die water wat hulle met emmers uit die put skep so stink dat hulle dit nie kan drink nie. By nadere ondersoek word die lyk van `n wit man onder in die put gevind. Die lyk is blou-groen van kleur en so grotesk en buite proporsie opgeblaas dat daar bykans geen verband tussen die lyk en `n mens getref kan word nie. Die man is duidelik van baie naby af agter in die kop geskiet met `n swaar kaliber geweer. Niks van sy gesig het oorgebly nie, sy een hand is afgekap en die ander arm is met geweld by die skouer van die lyf af geskeur.

Voor die voordeur van een verwoeste huis is `n wit vrou met lang donker hare se kop op `n skerp stok in die grond geplant. Maaiers peul by haar oop mond en neusgate uit. Haar oë is uitgesteek en maaiers kreoel in die oogholtes. Op die muur langs die voordeur is `n groot rooi kruis geverf met `n dokter se naam en spreekure daarby. Binne in die huis is alles verwoes. Bottels medisyne, lêers en papiere lê oor die vloere gestrooi. Meubels is verwoes en bloedspatsels sit teen die mure.

Nell volg `n bloedstreep teen die gangmuur af tot waar dit in die in die badkamer eindig. Dis duidelik dat iemand desperaat voor sy aanvallers probeer wegvlug het. Die badkamer se mure is vol koëlgate en bloed sit tot teen die plafon. In die bad lê die half ontbinde lyk van `n man, sy kop is afgekap en lê langs die bad. Albei die arms is afgekap en die lyk is oortrek van diep kapmerke gemaak deur `n byl of panga.

Voor die agterdeur kry Nell `n maer, uitgeteerde hond wat stadig opstaan en slingerend tussen bosse in draf toe hy Nell gewaar. Dit is `n wit hond met `n donker bruin vlek oor sy regter oor en oog. Nell roep na die hond, maar die hond steur hom nie daaraan nie. Hy gaan sit op die stoeptrappie terwyl trane oor sy wange loop. Hoe absurd, hoe sinNelloos kan die lewe wees, dink hy. Hier het iemand goed probeer doen, en wat het dit hom in die sak gebring? Hy en baie ander is vermoor, en in die naam van wat? Gewaande vryheid? Beloftes van rykdom en oorvloed?

Die eerste waarvan hy weer bewus word is `n hand wat hom aan die nek gryp en hom van die trappe af gooi en dan dring die stem van die kaptein wat op hom skreeu tot hom deur. “Sit hier op die trappe en tjank soos `n fokken vroumens terwyl ander hulle lewe waag om die dorp skoon te maak van die skuim van die aarde, jou lafhartige bliksem. Voor hierdie oorlog verby is gaan ek jou voor `n vuurpelleton sit en jou misrabel lewe vir jou kortknip. Loop en gaan doen wat jy veronderstel is om te doen voor ek jou self vrek skiet!”

Elke dag gaan Nell terug na die huis toe om `n deel van sy kos vir die hond by die agterdeur te los. Elke dag kry hy die hond waar hy lê en wag vir sy baas, en elke dag slinger hy weg sodra hy Nell gewaar. ‘Die kos word aanvaar, maar nie die gewer daarvan nie,’ dink Nell met `n wrang glimlag. ‘Dit maak nie saak nie, net solank jy eet en bly lewe.’

Laatmiddag, op die sesde dag lê die hond vir hom en wag. Hy sit die kos neer en word selfs toegelaat om die hond se kop te streel terwyl hy eet.

“Wat is jou naam, wat het jou mense jou genoem?” Bly dat hy uiteindelik aan haar te mag vat, gesels hy met die hond. “Dit sou nie sou nie Guerra wees nie, want dit beteken oorlog. Miskien Chica? Of dalk Lia? Lia is vry, vry wees.”

Die hond steur haar nie aan Nell se gepraat nie, sy vreet net driftig aan die bak kos. Dit is eers toe hy die naam Branca noem dat sy haar ore spits, angstig na hom kyk en klein tjankgeluidjies maak.

“So, dis Branca, is dit?” sê Nell opgewonde en vryf opgewonde oor die hond se kop. “Dit beteken wit, en jy is wit. Fantasties” sê hy en gryp haar om die nek en druk haar styf teen hom vas. Trane loop oor sy wange en die hond lek hom aan sy nek en op sy wang.

“Nou is jy my Branca. Jy hoef nie meer bang te wees nie, ek sal vir jou sorg, jou beskerm teen die bliksems daar buite wat roof en moor en plunder.”

Toe die hond klaar geëet het gaan lê hy langs Nell met haar kop op sy skoot. Vir `n lang tyd sit die twee daar by die huis se agterdeur, toe staan die hond op en loop die bosse in.

Die volgende oggend vroeg word die kamp ogebreek en trek die mag dieper die land in. In die vroë skemerte beweeg die konfooi stadig by die vermoorde dokter se huis verby. Donker donderwolke pak saam en weerlig blits in die verte. Aan `n boomtak voor die huis hang `n hond met `n stuk tou om sy nek. Nell kan dofweg die donker vlek oor die hond se regter oor en oog in die skemer sien. Teen die muur van die huis staan daar met bloed geskryf: ‘Matar os cĀes broncos.’ Kill the white dogs.

“Bliksem, bliksem, bliksem,” prewel Nell deur die trane. “Julle sal boet julle vuilgoed. Vou matar todos vocês, seus bastardos.”

In die heel agterste voertuig sit Kaptein Maritz met `n skewe glimlag en kyk na die hond wat aan sy nek hang.

Read Full Post »

Totsiens my Kaptein

Ek sit in die koelte van `n groot ou Bloekomboom, rug teen die stam en bene voor my uitgestrek. In die verte loop `n trop skaap teen `n lowergroen heuwel. Dit is `n snikhete dag in die Vrystaat en elke nou en dan dommel ek weg, net om weer dadelik wakker te skrik as `n skaap blêr of `n duif tussen die boom se takke fladder.

In die verte sien ek Magdel aangestap kom. Sy is een van die redes waarom ek die opdrag aanvaar het en nou hier onder die boom sit en skape oppas . `n Pragtige jong vrou, blond, seksie, vriendelik, intelligent en spontaan. Die ander rede was haar man.

Sy en Darius, haar man, het my so `n maand gelede kom sien. Volgens hulle inligting was ek die beste gekwalifiseerd om hulle met hulle probleem te help. Ek kon nie met hulle stry nie want ek is moontlik die beste speurder in die land, alhoewel hulle probleem nie iets is wat ek normaalweg ondersoek nie. Maar soos ek gesê het, Magdel is pragtig.

Hulle probleem; iemand steel hulle skape, tot soveel as een honderd op `n slag. Soms elke week. Hulle sê hulle het `n vermoede wie dit is, maar hulle gaan my nie sê wie hulle verdink nie. Hulle wil nie my ondersoek beïnvloed nie.

Sy het `n lang rok van dun, sagte materiaal. aan wat, met die son reg agter haar, heeltemal deurskynend is. Ek verlustig my aan die mooi kindvrou.

Sy glimlag en kom sit langs my met `n mandjie eetgoed en koffie vir twee.

“Darius is dorp toe, toe dog ek ek kom eet sommer saam met jou hier in die veld. Dis so rustig hier,” sê sy. “Het ons groot speurder al iets gesien vandag?” vra sy en lag vir my met daardie groot blink oë van haar. Groen soos die see hier tussen die lang gras, blou soos die lug as sy ernstig is.

“Natuurlik,” sê ek ernstig. “Hier is baie om te sien. Vroeg oggend het hier twee jakkalse verby gedraf. Ek dink hulle was dik gevreet aan jou hoenders, want hulle het hulle nie aan die skaap gesteur nie.

Sy lag en begin die mandjie uitpak. Sy skink vir ons elkeen `n glas wyn waaraan ons dadelik begin drink voor ons eet.

“Wat nog?” vra sy.

“Wat?” vra ek verbaas en dan verstaan ek. “Ooo natuurlik, wat nog! `n Ystervark, wat eintlik vreemd is want hulle is mos nagdiere. `n Paar blesbokke. En soos die ram nou daar met die ooi, is die ou blesbokram ook besig om aan volgende seisoen se oes te werk,” sê ek.

Sy bloos en gooi vir ons nog wyn in.

“Ek bedoel eintlik, het jy al die diewe gewaar?” vra sy en leun teen die boomstam met haar skouer teen my skouer.

“Dis moontlik,” sê ek speels en soen haar liggies op die wang. “Wat en wie jy sien is nie altyd wat jy dink jy sien nie.”

Sy sit haar hand op my uitgestrekte been. “Dan dink jy jy ken die dief?” vra sy onskuldig.

In die verte sien ek `n witkop seun aangedraf kom deur die lang gras. Hy spring op en af en waai vrolik in ons rigting. Magdel skuif weg van my af en begin die mandjie weer inpak. Sy pak nie die bottel wyn in nie.

“Ek moet huis toe gaan, Darius is seker al op pad terug,” sê sy en staan op.

“Haai Ma,” sê Hanri toe hy by ons kom. “Ek het vir die oom koekies gebring.”

“Dis goed,” sê sy. “Kom jy saam met my huis toe of bly jy eers hier by die oom?”

Toe hy sy kop skud soen sy hom op die wang en stap weg.

 Hy kom sit langs my met sy rug teen die boom presies waar sy ma flus gesit het en bied my `n tuisgebakte koekie aan.

“Het oom al baie diewe dood geskiet? Vra hy opgewonde. “Ek gaan ook eendag `n speurder word, en dan gaan ek hulle vrek skiet, boem boem,” sê hy ernstig en maak met sy vinger asof hy skiet.. “Waar’s jou rollie, wys my.” Hy praat aanhoudend sonder om te wag vir `n antwoord op enige van sy menige vrae.

“Hoe oud is jy?” vra ek toe sy mond vir een oomblik vol koek is.

“Agtien,” mompel hy met sy mond vol koek. “Is jy `n moffie, my pa sê jy is `n moffie want mans met lang hare is moffies en kinders moet versigtig wees vir moffies, sê my pa.” Hy kyk my vraend aan.

“Wat doen moffies?” vra ek ongeërg.

“Ek weet nie. Pa sê hulle wys hulle goeters vir kinders en dan molesteer hulle die kinders. Gaan jy my jou goeters wys en my molesteer?”

Ek lag. “Jy moet huis toe gaan, ek het werk om te doen. En baie dankie vir die koekies. Sê groete vir jou pa,” sê ek en staan op.

“Dis `n mooi keps wat jy op het, is dit `n polisie keps?” vra hy.

“Wil jy dit hê?” vra ek.

“Jis Oom, ja Oom, seblief Oom,” sê hy opgewonde.

Ek sit die keps op sy kop en salueer hom speels.

“Jislaaik oom, dankie oom. Nou is ek ok `n kaptein, `n regte poliesman,” babbel hy opgewonde en omhels my uitgelate. Hy laat los my net so vinnig as wat hy my omhels het en staan weg van my af.

“Ooh koek, ooh koek” sê hy. “Nou is ek in die moeilikheid. Pa het gesê ek mag nie aan Oom raak nie. Hy gaan my dood maak, ooe vrek. Wat nou?” Hy kyk verbouereerd rond asof sy pa enige oomblik agter `n boom sal uitspring.

“Toemaar jong,” sê ek gerusstellend. “Niemand anders het gesien jy het aan my geraak nie. Jou pa sal nie weet nie. Buitendien, jy het net dankie gesê vir die hoed en dis anders, dis OK. Ons Kapteins is mos pelle en moet dankie sê vir persente. Salueer my nou mooi en dan gaan jy huis toe.”

Hy staan trots op aandag en salueer ernstig en spring dan opgewonde om en hardloop terug huis toe. “Totsiens Kaptein,” sê ek met `n glimlag aan die kind wat reeds buite hoorafstand deur die lang gras huppel.

Die plaas het `n lang geskiedenis. Op die oomblik boer Darius en sy ouer broer Jaap saam op dieselfde grond. Toe Darius nog op skool was en voor hy kom boer het, het Jaap saam met hulle pa geboer. Die pa het later vir hom en sy vrou `n groot nuwe huis laat bou en Jaap en sy jong vrou het in die ou plaashuis, wat oorspronklik nog deur sy oupa gebou is, gaan bly. Darius is na skool universiteit toe en na hy graad gekry het is hy terug plaas toe om saam met sy broer en sy pa te gaan boer. Omdat hy ongetroud was het hy weer by sy pa en ma in die huis gaan bly. Jaap self is nooit universiteit toe soos hy graag wou nie. Hy het direk na skool gaan boer omdat hulle pa sieklik begin word het en nie meer alleen die boerdery kon behartig nie.

Dit het ek alles by die bure in die omgewing gehoor. Gasvrye en vriendelike mense die Boerenasie. Met besoeke aan die naaste dorpie se kroeg het ek ook by blink gedrinkte vriende van die familie gehoor van wroegings en onderstrominge en onvrede tussen die broers en hulle vrouens.

`n Paar jaar na Darius se terugkeer plaas toe is hulle pa oorlede. Darius het met die jong, pragtige Magdel getrou, sy ma in `n ouetehuis gaan aflaai en homself in die groot huis tuisgemaak. Jaap was woedend want hy het geglo as oudste moet hy en sy vrou in die nuwe huis bly en Darius en sy vrou moet in die ou huis intrek.

Ek moes weer ingesluimer het, want toe ek sien hou Darius met sy groot nuwe dubbelkajuit 4×4 bakkie in stofwolk langs my stil. Hy klim uit en kom staan rooi in die gesig van boosaardigheid reg voor my. Ek merk dat hy `n nege mil magnum pistool aan sy sy dra.

“Ek betaal jou `n moerse klomp geld om die diewe te vang en jy sit en slaap hier onder die boom!” skel hy sonder om te groet. “Dink jy hy sal helder oor dag, terwyl jy hier oop en bloot by die trop skaap sit, kom steel? Hy steel die goed in die nag en op die ander plaas, nie hier nie en ook nie in die dag nie!”

Ek bly sit en gooi my glas weer vol wyn.

“Hy het een doodgemaak, baie vroeg vanoggend,” sê ek en beduie met die glas wyn in die rigting waar ek gesien het hoe `n skaap gevang en geslag is. “Daar by die jakkalse se blyplek”

“Nou waar is hy, hoekom het jy hom nie gevang nie?” vra hy boos. “Jy lieg man. Vir al wat ek weet het jy self die skaap geslag. Waar is die vel en die bloed. Wys dit vir my,” blaf hy.

“Die dooie skaap lê daar by die jakkalse se blyplek teen die rand. Gaan kyk maar,” sê ek.

Hy klim in sy bakkie en ry die veld in na waar die jakkalse se gate is.

Ek ry terug werf toe en kry Jaap waar hy op die stoep sit en koffie drink. Langs hom lê `n verkyker.

“Ek sien jy is besig om die mense, sal ek maar sê, beter te leer ken?” sê hy met `n vonkel in die oog toe ek by hom gaan sit.

“Hoeveel treë is dit van jou boom af tot by die jakkalse se blyplek?” vra hy en kyk my met so `n skewe glimlag aan.

“Twee honderd vyf en tagtig en `n halwe,” sê ek.”

“Ja, dis belangrik om dit te weet,” sê hy droogweg. “En `n halwe?” vra hy met `n frons tussen die oë.

“Mens moet presies wees,” sê ek. “Agtergrond inligting. Dis soos `n rolprent. Die agtergrond musiek is belangrik.”

Ons sit in stilte en kyk na die trop skaap wat in die verte wei.

Jaap staan op en stap die huis in. By die deur draai hy om en sê “Los net die kind uit. Hy doen niemand kwaad nie, die jakkalse het kleintjies,” sê hy en kyk na my asof ek iets moet verstaan.

“Darius het al slimmer ouens as jy betaal om die dief te vang, maar niemand kon dit nog regkry nie. Wat gee jou die idee jy kan dit doen?” vra hy en verdwyn in die donkerte van huis in sonder om op `n antwoord te wag.

Ek bly sit op die stoep tot dit sterk skemer is voor ek terugkeer na my uitkyk pos onder die boom waar ek getrou aantekeninge maak van die naglewe om my tot ek teen middernag aan die slaap raak.

Vroeg die volgende oggend sien ek Jaap ry met sy afgeleefde ou bakkie op pad na die plaasdam toe. Die dam is groot en beslaan, volgens my GPS presies 5.52 hektaar. Dit is 585 meter Suid-Suidoos van my uitkykpos af en is omring deur groot wilgerbome.

Deur my verkyker sien ek hoe Jaap homself inrig vir `n rustige dag langs die viswaters. `n Opvou tafel en twee seilstoele, piekniekmandjie met warmfles, blikbeker, toebroodjies, wors, tjops en `n bottel Klipdrif word uitgepak en staangemaak onder `n groot boom. Aas word aan die hoeke van twee visstokke gesit en die lyne diep die water in gegooi en dan begin hy om `n vuurtjie te pak en aan die gang te kry vir ontbyt.

Toe die vuur mooi brand gaan sit hy op sy voustoel en gooi vir hom `n dop brandewyn met Coke en ys in sy blikbeker, steek sy pyp op en sit rustig terug. `n Pragtige, vreedsame toneeltjie met watervoëls wat op spieëlgladde water verby die visserman swem, vinke wat nesmaak in die riete en blesbokke wat verder af staan en water drink.

Teen half tien kom `n vreemde motor stadig aangery na waar Jaap sit en visvang. Hy hou naby Jaap stil en Jaap stap hom tegemoet. Die twee skud hand en stap terug na die tafel en stoele toe. Die man word `n blikbeker met brandewyn aangebied maar hy wys dit van die hand. Hulle gesels `n rukkie en dan haal die man `n klein houtboksie uit sy baadjie se binnesak en gooi die inhoud daarvan in Jaap se hand uit. Jaap kyk aandagtig na dit wat in sy hand is en gooi dit dan terug in die houer.

Op die afstand kan ek nie uitmaak wat dit is wat Jaap in sy hand hou nie, maar ek het `n sterk vermoede wat daar langs die dam aan die gang is. Die man laat val per ongeluk die houer onder die tafel in. Toe hy buk om dit op te tel sien ek hoe hy vinnig `n ander houer uit sy baadjie se sak uithaal en omruil met die oorspronklike houer sonder dat Jaap iets agterkom.

Hy gee die houer aan Jaap in ruil vir `n dik bruin koevert wat hy uit die piekniekmandjie gehaal het. Hulle groet hartlik en die man ry weg terwyl Jaap vinnig die houertjie se inhoud in die warmfles gooi.

Ek klim in my bakkie en ry na die hek by die grootpad waar ek weet die man die plaas binnegekom het en dit weer sal verlaat. Hy het verder om te ry as ek, ek het dus tyd om my bakkie reg in die hek te trek, my oliebesmeerde oorjas aan te trek, die enjinkap oop te maak en te wag.

Die vreemdeling kom versigtig aangery en hou agter my stil. Ek stap nader, leun by die venster in en druk die loop van die pistool wat ek onder my jas versteek het, in sy regter oor met my linker hand. Woordeloos hou ek my regter hand na hom uit en glimlag vriendelik vir hom. Ek sien hy dra `n rewolwer onder sy baadjie en ek wys vir hom om dit vir my te gee.

“Versigtig nou,” vermaan ek hom steeds vriendelik. Ek gooi die wapen oor my skouer die veld in en hou weer my hand uit na hom toe.

Wat?’ vra hy nors maar gee dadelik die dik bruin koevert vir my. Ek skud my kop en wys hy moet dit op die sitplek langs hom sit.

“Die klein houtboksie in jou sak,” sê ek en glimlag steeds.

“Ek weet nie waarvan …. ,” begin hy, maar toe ek die pistool met my duim oorhaal kom die boksie vinnig te voorskyn. Ek vat dit en sit dit in my jas se sak, maak die deur oop en wys hy moet uit die motor klim, versigtig. Ek laat hom wydsbeen teen die kar staan met sy rug na my toe en soek hom vinnig deur. Aan sy enkel kry ek nog `n vuurwapen vas gegespe. Ek vat dit, ontlaai dit en slaan hom `n harde hou daarmee teen sy slaap. Toe hy val, tel ek hom op en gooi hom sonder seremonie terug in sy kar.

Van die bewustelose vreemdeling af ry ek na waar Jaap steeds rustig sit en visvang, onbewus van my en die vreemdeling se ontmoeting. Ons gesels hengelstories, marlyn in Mosambiek, tiervis in Zimbabwe en baber in die Vaal. Ons drink koffie en braai wors, en toe Jaap `n draai loop gooi ek die koffie in die warmfles vinnig deur my sakdoek uit. Ek vind, soos ek vermoed het, waardelose blink klippies in die fles. In die houer wat ek by die vreemdeling afgevat het is daar regte ongeslypte diamante. Ek soek eers die twee van die grootste diamante vir myself uit voor ek die res terug in die fles gooi. Die waardelose klippies gooi ek in die dam. Ek stap dam toe en skep die fles vol water, sit die prop op en bêre dit weer in die mandjie

Ons braai wors en tjops en drink brandewyn en nie een noem iets van skaapdiefstal nie. Later ry ek terug na my uitkykpos toe en sien van daar dat die vreemdeling se kar nie meer by die hek staan nie. Ek sien ook hoe Sara met haar afgeleefde tjor dam toe ry, met Jaap staan en gesels en toe die piekniekmandjie in haar kar laai en weer huis toe ry.

Die skaapdief is nog op vrye voet. Ons ontmoeting lê iewers in die nabye toekoms. Ek is `n baie geduldige soort mens, ek wag vir hom, hy sal na my toe kom, dit weet ek.

Die volgende middag laat sien ek Magdel in die dorp se rigting ry met haar groot 4×4 BMW X5. Op die ingewing van die oomblik volg ek haar op `n veilige afstand in my agt jaar oue Toyota Hilux bakkie. Sy ry deur die dorp sonder om stil te hou en volg die hoofpad stad toe. Later ry sy by die parkeergarage van `n vyfster hotel in.

In my notaboek teken ek aan dat sy gaan uit eet saam met `n getroude, skatryk en welbekende argitek. Ek teken ook aan dat hy eers die volgende oggend net na agt haar kamer verlaat en met `n huurmotor na die lughawe ry van waar hy na Johannesburg sal vlieg. Van OR Tambo af vlieg hy en sy privaatsekretaresse dan na Berlyn, Duitsland.

Ek teken ook aan dat Magdel ontbyt in die kamer nuttig, dat die kamer bespreek is in die naam van Dr. en mevrou Herman Hesse van Keulen, Duitsland en dat `n welgeklede man in sy laat  vyftigs om tien uur aan haar deur klop en ingelaat word. Na presies een uur verlaat hy weer die kamer met sy bloedrooi das wat effens skeef sit. Ek volg hom en skryf die registrasienommer van die Jaguar waarmee hy wegry af en vind so deur my skootrekenaar uit dat die man `n skatryk plastiese chirurg is. Hy is getroud en het twee kinders, `n seun en `n dogter, albei studente by die Universiteit in die stad.

Teen twaalf uur klop daar `n flambojante jong man, geklee in al die duurste handelsmerk klere aan haar deur en word diskreet ingelaat. Hy bly net meer as `n uur in die kamer en kom baie vrolik en met nat hare en `n hemp wat by sy broek uithang, weer te voorskyn.

Net na sy vertrek met sy skel oranje Porché Carera, (registrasienommer neergeskryf in my notaboek. Word deur polisie verdink van dwelmhandel. En skokkend genoeg, seun van dieselfde bekende plastiese chirurg van flus) kom Magdel by die kamer uit. Sy ontmoet `n vriendin in die voorportaal. Ek stap by hulle verby en groet vriendelik om seker te maak dat sy my sien voor ek terug ry plaas toe, ek het `n skaapdief om te gaan vang. Die afwisseling van emosies van verbasing tot skok tot angs wat op haar baie bleek gesig te sien was het my die heel pad tot op die plaas groot plesier verskaf.

My eerste stop is die plek op die plaas waar die skaap gewoonlik gesteel word. Ek ondersoek die omgewing en verwyder die nagsig videokameras wat ek elke nag daar stel, dan ry ek terug na my uitkykpos onder die boom waar ek eers `n vuurtjie aan die gang kry om koffie te maak. Terwyl ek wag vir die water om te kook kyk ek geskok na wat die kameras deur die nag opgeneem het.

Ek het skaars gaan sit om my koffie te drink toe Darius in `n stofwolk langs my stilhou.

“Jy!” bulder hy terwyl hy op my afstorm. “Wat maak jy hier? Waar de hel was jy laasnag! Ek dog jy…..” stamel hy half onseker asof hy my nie hier onder die boom verwag het nie.

“Hulle het weer van ons skaap gesteel, honderd en veertig!” bulder hy. “En jy kom nou eers hier aan, sit  onder jou donnerse boom en weet van niks!” Hy skop my koffieketel van die vuur af. “Jy is nie `n speurder se gat nie! Jy moet van my plaas af, nou, nie later nie, nou, of ek gaan jou so dik bliksem dat jou ma jou nie sal herken nie!” sê hy en staan dreigend nader.

“Daar is skote geskiet gisteraand,” sê ek sonder om na hom te kyk.

“Ek weet niks van `n geskietery af nie, niks nie. Waar kom jy aan die storie, jy was nie eers daar nie. En waar is daardie walglike, vuil keps wat jy altyd op jou kop het?” snou hy my woedend toe en kom weer dreigend nader.

 “ Ek het die keps vir Hanri gegee. Waar is hy?” vra ek en kyk hom vraend aan en sien hoe hy wasbleek word.

“Hoekom, hoekom het jy jou keps vir hom gegee?” vra hy onseker. “Hy is by die huis, natuurlik is hy by die huis, waar sal hy anders wees? Hy lê en slaap seker nog, of dwaal iewers op die plaas rond. Hoekom wil jy weet? Wat wil jy van hom hê? Jy los hom uit, verstaan jy. Hy weet niks!” kners hy uit terwyl hy sy vinger dreigend in my rigting wys. `n Aar klop wild teen sy slaap. Hy storm na sy bakkie toe en jaag in `n stofwolk terug huis toe. Hy drafstap die huis in maar na `n kort rukkie sien ek hom weer jaag in die rigting van die plek waar die skape gesteel is.

Ek merk dat die jakkalse en hulle kleintjies onrustig by hulle blyplek rond snuffel. Dit is helder oordag en dus baie vreemd dat hulle buite hulle skuiling is. Ek stap af  na hulle toe om te gaan ondersoek instel.

Ek kry `n bloedspoor en sleepmerke soos iemand wat oor die grond gekruip het. Waar die bloedspoor eindig lê die kind opgekrul in die opening van een van die jakkalse se gate. Daar is baie bloed aan sy hande en sy gesig en op die keps wat hy teen sy bors vasdruk. Op sy maag is daar `n groot kol droë bloed. Agter op sy rug is daar nog meer bloed en `n groot gat in sy hemp soos wat `n nege mil koeël maak waar dit uitkom. Die koeël wat sekerlik vir my bedoel was.

Ek sit verslae en staar na die kind terwyl die jakkalse in sirkels om ons draf en klein tjank geluidjies maak.

Ek raak eers bewus van Darius se teenwoordigheid toe hy kermend verby my storm na die kind toe.

“Nee, nee, nee,” skreeu hy snikkend en val op sy knieë by die kind neer. Hy is buite homself en bly aanhoudend nee, nee, nee kerm terwyl rou snikke sy lyf ruk.

Drie dae later staan ek onder my boom en kyk hoe die polisie Darius in die familiekerkhof  by die oop graf van sy kind arresteer vir skaapdiefstal en die moord op sy kind.

Ek ruim my uitkyk pos op. My werk is afgehandel hier maar ek talm. “Ons Kapteins is tawwe ouens my ou maat, ons huil nie,” sê ek terwyl die trane teen my wange afloop. Ek salueer in die rigting van die graf en sê sag: “Totsiens my Kaptein.” Ek ry verslae terug kantoor toe. Daar is `n dwelmsmous wat Darius gevra het ek moet gaan vang.

Read Full Post »

Storietyd

Verlore Vriende.

Sit ek nou eendag saam met my buurman en gesels met `n goeie bottel rooiwyn. Goeie geselskap die bottel rooi. Hy praat op jou tong en met jou neus en later ook met jou gees.

`n Groot en sterk man, die buurman van my. En gemoedelik, altyd die vriendelikheid vanself.

Hy vertel my dat hy en sy vrou nou eendag koers gevat het daar na die plattelandse dorp waar hy grootgeword en skool gegaan het. `n Ou skoolvriend het hom en sy vrou uit die bloute genooi om die naweek by hulle op die plaas te kom kuier. Hulle het mekaar jare laas gesien,  en eers van hulle mekaar per toeval op facebook raakgeloop het, het hulle weer op die internet met mekaar begin gesels.

Op die plaaspaaie raak hulle toe op pad so `n bietjie verdwaal, vertel hy my. Gelukkig sien hy toe `n boer se blink nuwe ryding langs die mielielande staan. Dis so `n pikswart, modder besmeerde Hummer V8 met chroom aanhegsels en bykomstighede net waar jy kyk, en ekstra breed beband met die blinkste blink “mags.” `n Arm boer kan jy sien. Een van die wat van droogte na droogte voortsukkel.

Hy hou stil en stap na die boer toe om te vra of die man nie dalk vir hom kan beduie hoe om by sy vriend uit te kom nie. Die boer self is groot en rond, vetgemes kan jy maar sê, sê my buurman.

Hy groet die boer toe op sy normale bedeesde, vriendelike manier, vertel buurman, sonder om te verwys na die lekker warm dag of hoe mooi lowergroen die mielies lyk. Dit, sê buurman, moet jy nooit doen nie. Oor die weer praat jy nie met `n boer nie want, sê hy, as jy sê dis so lekker warm dan sê hy ja dis so droog sy mielies gaan nog vrek van die warm son. Sê jy die mielies lyk so groen en gesond dan vertel die boer jou van die bloukop-boorderwurm wat sy mielies in die stronk gepik het en dat hy al reeds 80 persent van sy oes verloor het. Sê jy dit lyk of dit gaan reën, dan voorspel hy `n verwoestende haelstorm wat alles voor die voet gaan wegslaan.

Dus, sê buurman, is dit `n vriendelike maar saaklike “goeie-middag-meneer-ek-wonder-of-jy-my-kan-help, ek is op soek na die plaas van Jan van Aswegen.”

“O, ou Jan,” sê die boer toe en trek sy neus so half afkeurend op, aldus buurman. “Jy is heel van koers af ou. Die armgat verskoning van `n boer bly so dertig kilometers Wes van hier.” En hy beduie toe hoe buurman moet ry om daar uit te kom.

Buurman sê vriendelik dankie, groet en net voor hy wegstap, vertel buurman, vra die boer toe so half beskuldigend; “Jy is nie dalk Henk Potgieter nie?”

Buurman sê hy was half uit die veld geslaan dat die man hom by die naam ken, maar hy kon nie ontken dat sy naam Henk Potgieter is nie. Hy sê toe maar ja, is so en hoe weet jy dit en wie is jy?

“Ek sien jy onthou my nie. Ek is Josef Bekker en ek het nog altyd gesê,” sê die boer toe glo vir buurman terwyl hy dreigend nader staan, “dat, as ek jou ooit weer raakloop, ek jou die snot klap gaan gee wat ek jou destyds op skool al moes gegee het.”

Buurman bly so `n oomblik stil en skud sy kop. “Toe onthou ek, sê hy na `n ruk, en toe sê ek vir hom, ek sê vir hom ‘en toe word jy groot en so `n bietjie volwasse en jy sien dat dit `n onnosel ding is om te wil loop staan en doen?’

“En hoekom wil jy dit in elk geval doen?” vra buurman toe nog steeds nie onvriendelik nie.

Toe sê die boer glo vir buurman; “want jy is `n doos.” Net so, sonder skaamte en nogals uitdagend ook daarby sê buurman.

“En toe vra ek hom,” sê buurman, “ek vra hom wat het ek aan hom gedoen dat hy na my verwys as `n anatomiese onderdeel van `n vrou en of hy `n bepaalde vrou in gedagte het as hy so na my verwys.

Toe sê die boer glo ‘sien, daar doen jy presies dit wat ek nog altyd so verpes van jou. Altyd so slim, so meerderwaardig, kyk altyd so uit die hoogte teen jou neus af op ander mense neer, dink altyd jy is beter as ander mense.’

“En hy is driftig,” sê buurman. “Heel driftig.”

“Nou ken jy die man toe?” vra ek vir buurman terwyl ek nog wyn vir ons altwee skink.

“Jaaa,” sê buurman half omgekrap, “naam van Josef Bekker, kind van skatryk boere. Ons was saam op skool, saam in dieselfde klas, dieselfde atletiekspan. Grootbek, ongeskikte bliksem gewees.”

“En wat sê jy toe vir hom? Vra ek.

“Nee, ek sê toe vir hom hy is verkeerd, ek het nog nooit gedink ek is beter as hy of enige iemand anders nie, inteendeel,” sê ek toe vir hom. “Dit ten spyte daarvan dat ek beter was as jy in die 100 meter en 200 honderd meter en selfs met hoogspring en verspring en dat ek selfs elke keer beter punte as jy gekry het vir my Afrikaanse en Engelse opstelle.”

Met die, sê buurman, hoor hy `n onbedaarlike geproes uit die Humvee se rigting. Toe sien hy vir die eerste keer die bloedjong blondine wat daar sit, dik van die lag.

“Toe sê ek vir hom dat ek in my 65 jaar van lewe nog nooit in `n boksgeveg of straatgeveg betrokke was nie en dat ek ook nie van plan was om nou hier in die mielielande soos `n barbaar in `n geveg betrokke te raak nie en dat hy moet huis toe gaan en gaan grootword en vir eens en vir altyd moet gaan probeer uitvind wie hy is en waaroor die lewe regtig gaan.”

Toe lag die blonde vrou glo onbedaarlik van die Hummer se kant af en sy sê vir Josef, sy sê; “JB my ou loser, jy is dalk nie die beste atleet of skrywer in die wêreld nie, maar jy is darem nie te sleg tussen die lakens nie. Kom ons ry, ek is nie lus om na `n bekgeveg tussen twee intellektuele reuse tussen die mielielande te sit en luister nie, die kos is op die stoof en dit gaan brand.

“Sy was half sarkasties, dink ek. Verbeel jou, intellektuele reuse!” sê Buurman verontwaardig.

Buurman bly weer stil en staar diep in sy wynglas in. “Hy wou altyd so graag wen. Ek dink dit was om sy pa te beïndruk. Sy pa het nie veel van hom gedink nie, Sussie was alles in sy oë want sy was `n wenner. Akademie, sport, kuns, jy noem dit en sy het die beker of die medalje daarvoor. En vrek mooi daarby.”

“En toe?” vra ek vir buurman. “Wat gebeur toe?”

“Ek loop toe kar toe en ry weg. My vrou wil toe weet wat gaan aan, wat het die man gesê en wat het ek vir die man gesê dat hy so kwaad was.

“Ek sê toe vir haar wat die man het vir my gesê het, net so, sonder om doekies om te draai. Na `n geskokte stilte bars sy uit van die lag, sy lag histeries. Trane loop soos sy lag. Ek vra haar wat`s so snaaks, ek dink nie dis snaaks nie.”

“Ha-ha-ha lag sy. Elke keer as sy na my kyk bars sy weer van voor af uit van die lag. Tot by die plaas hou dit so aan.

“Daar was toe `n hele paar ander ou skoolvriende ook op die plaas,” vertel buurman. “Die aand toe almal aan tafel sit vir aandete sê my vrou vir my vriend hy moet haar meer vertel van my toe ons op skool was, sy vermoed daar is dinge in my lewe waarvan sy nie weet nie.

“Hy wil toe weet ‘dinge soos wat?’ sê buurman. Sy vertel hom van die petalje met Josef. ‘Was Henk regtig `n doos op skool?’ vra sy grootoog en Jan bars uit van die lag, hy vou so dubbel oor die tafel soos hy lag en slaan op die tafel met sy groot hand dat die borde rondspring, en al die ander ouens lag uitbundig saam.”

Buurman is skoon verontwaardig.

“En weet jy wat sê Jan? Weet jy wat sê hy? Hy sê ja natuurlik was hy. Hy vertel vir haar ek was so `n deurmekaar, verstrooide bleeksiel op skool. Hy vertel vir haar hulle het almal aan die begin gedink ek dink ek is beter as hulle want ek het soms so teen my neus af op hulle neer gekyk. Toe vind hulle uit ek doen dit omdat ek verstrooid is. As een van hulle skielik op my afkom, sê hy, dan is ek so verstrooid dat ek vir `n oomblik nie weet wie dit is wat voor my staan nie, hy sê hulle weet ek vermoed ek ken die persoon, maar kan om die dood nie `n naam aan die gesig sit nie. Dis dan, sê hy, dat ek so langs my neus af op mense neerkyk. En my vrou sê ja, sy ken daai kyk, ek doen dit nog steeds.

“Verbeel jou,” sê buurman. “Ek kyk g`n langs my neus af op mense nie!

“Maar wat ek doen, of wil doen is om mense te laat dink. Natuurlik weet ek wie voor my staan, maar ek wil weet of daai persoon weet wie dit is wat voor my staan. Ek vra nie, ek kyk en ek wag vir `n antwoord. As ek sou vra kry ek die gewone oppervlakkige ‘ek is Piet van Poggenpoel, ek is jou klasmaat, ek bly in Blesbokstraat …..’

“Dis morbied, dis dom. Ek wil weet of hy of sy weet wie hy of sy in essensie is, in sy diepste wese. Daardie blonde tert by Josef het geweet, of vermoed wat ek wou weet,” sê my buurman en hy kyk so langs sy neus af vir my waar ons daar sit, en ek sê vir hom ek weet wie ek is, natuurlik weet ek, sê ek driftig. “Ek is Charles, jou buurman en ek bly in Blesbokstraat ….. !” en hy kyk na my met so `n skewe glimlag en hy sê natuurlik weet ek jy is my goeie vriend en buurman Charles, maar hy bly vir my kyk asof hy `n antwoord van my verwag.

Ek vererg my bloediglik vir die man en sê ek gaan nou huis toe, maar hy sê niks, kyk net so langs sy neus af op my.

By die huis vra my vrou vir my waarom ek so ontsteld is. Jy lyk skoon bleek, sê sy.

Ek gooi vir my `n stywe dop Whisky. Ek mors want my hande bewe van ontsteltenis. Ek gaan sit voor die TV maar kan nie konsentreer op wat gewys word nie.

“Natuurlik weet ek wie de donner ek is,” sê ek hardop.

“Wat?” vra my vrou geskok.

Ek antwoord haar nie. Ek drink my glas leeg en dink; ‘Wie de fok dink hy is hy om vir my so `n vraag te vra? Dink hy hy is beter as ek? Ek het ook goeie opstelle geskryf op my dag, en ek was `n goeie langafstand atleet. Ek het ook medaljes om te wys, dis geraam en hang in my studeerkamer! Daai Josef kêrel was reg, my buurman dink hy is beter as ander mense. Ek voel sommer lus en loop na hom toe en gaan gee hom `n snot klap, die doos!

Read Full Post »

Hunters Retreat

Vier blinknuwe 4×4 voertuie en een afgeleefde Toyota Landcruiser hou in `n stofwolk voor `n indrukwekkende plaashek in die bosveld stil. In die voorste Mercedes ML 4×4 druk Herman, die eienaar van die plaas die remote en die swaar hek rol met `n gerammel opsy. Hy en Ellie, sy jong vrou ry deur en word gevolg deur spesiaal geselekteerde vriende en kennisse wat genooi is om die naweek saam te kom jag.

Hunters Retreat, die naam van menige “gentleman’s klub,” strip klub, bordeel en hoëklas hoerhuis, maar vir Herman die stilte weg van die geraas en gejaag van sy baie suksesvolle ingenieursfirma in die stad. Sy Hunters Retreat waar hy kan wegbreek, losbreek en doen wat hy wil saam met uitgesoekte vriende. Die wegbreek en losbreek bedoel eintlik maar vir hom om `n bok of twee te skiet, vleis te braai, te gesels en te drink, veral om te drink en te vergeet.

In die Hummer agter Herman is Dolf die aandelemakelaar, en Carla. Hulle word gevolg deur Markus, `n jong suksesvolle jappie besigheidsman in sy Toyota Prado, getroud en met twee jong kinders. Ma en kinders is by die huis, dit is sy af naweek saam met die manne in die jagveld. In sy wêreld is ware mans jagters, manne wat rof lewe, hulle Whiskey skoon drink en rou lewers eet. Hy word gevolg deur Charles en sy meisie Sunette. Charles is besig met sy meestersgraad in dierkunde. Sy tesis handel oor die bosveld bobbejaan.

Heel agter in die tou is Johan, semi afgetrede argitek in sy afgeleefde, geliefde Landcruiser. Johan is `n stil middeljarige alleenloper wat aangebied het om die naweek kok te speel terwyl die ander manne bokke jag. Twee opgeleide swart kokke wag reeds by die kamp om hom by te staan in sy taak. Eintlik is hy oorbodig, maar Herman glo iemand moet toesig hou oor die onbevoegde swartes.

Toe hulle by die kamp aankom staan die kokke reeds gereed om middag ete aan die baas en sy gaste te bedien.

“Julle moet vinnig eet,” sê Herman aan sy gaste terwyl hy vir homself `n glas Whiskey ingooi. “Ons moet `n draai ry en kyk of ons wild te sien kry. Ons skiet nie vandag nie, ons kyk net.”

“Oom Herman,” vra Sunette giggelend soos `n bakvissie. “Is hier Tiers op die plaas?”

“Ek’s nie jou oom nie,” sê Herman gemaak kwaad. “Noem my Herman. Ja hier is Luiperds. Hulle vang gereeld onder my kalwers. Olifante kom ook soms van die Kruger Park af deur, wees maar versigtig.”

“Toe julle klomp lui donners,” sê hy aan die ander plaaswerkers wat daar rond staan. “Moet nie net daar staan nie. Laai die goed van die karre af, miesies Ellie sal vir julle sê waar wie slaap. En Johannes jou ou lui bliksem,” sê hy aan sy voorman, “jy ry saam met ons. Jy weet mos waar die wild loop, of is veronderstel om te weet as jy nie heeldag lê en slaap as ek nie hier is nie!”

Twintig minute later ry hulle uit die kamp uit met Herman se spesiaal geboude tien sitplek safari voertuig. Heel agter is daar `n soort uitkyk toring ingerig waar Johannes nou staan en soek vir wild soos sy baas hom beveel het.

Johan bestuur terwyl Herman met sy bottel Whiskey langs hom sit en kommentaar lewer oor die wild se spore en mis wat in die pad te sien is.

“Daar voor links staan `n knoppiesdoring boom, ” sê hy.

“Acacia nigrescens,” sê Charles en kry `n giggel en `n soen van Sunette wat tussen hom en Markus sit.

“Jy’s tog so slim,” kwispel sy grootoog.

“Harde hout, nie geskik vir meubels nie maar maak `n goeie kool vir braaivleis. Is `n derduiwel om op `n draaibank te bewerk. As Johannes nie te veel gesuip en by ander mans se vrouens geslaap het nie, en sy werk gedoen het soos hy veronderstel is om te doen as die baas nie hier is nie, behoort daar genoeg daarvan by die kamp te wees vir die braaivleis vure vanaand,” sê Herman.

Johannes kyk anderpad en maak of hy niks hoor nie.

“Dis `n groot boom. Word hulle baie oud?” vra Ellie.

“Het nie `n idee nie,” sê Herman. “Vra vir Markus en Charles, dit klink of hulle iets van bome weet.”

Ellie kyk die twee vraend aan maar hulle trek net hulle skouers op.

“Links van die pad is `n Apiesdoring, Acacia …”

“Burkeï,” sê Markus vinnig.

“Acacia caffra,” sê Markus en wys na `n ander boom.

“Die gewone ou Haakdoring,” sê Charles selfvoldaan.

“Kan mens die sade eet oom Herman …. skuus, Herman?” vra Sunette.

“Nee, ek dink nie so nie. Die beeste en bokke eet die blare en peule, jy moet maar hou by wortels en slaaiblare vir daardie seksie lyf van jou,” sê Herman en vat weer `n sluk uit sy Whiskey bottel.

“Daar’s die rooibokke nou,” sê Johannes saggies en wys na `n trop wat in die laagte loop en wei.

” Aepyceros melampus,” fluister Charles net effens te driftig om nie aggressief te wees nie.

“Equus quagga burchellii” sê Markus ewe uitdagend en wys na `n paar sebras wat saam met die rooibokke loop.

“Hulle baklei vir die meisie,” sê Johannes rustig aan Karla wat langs hom sit. “Hier kom `n ding die naweek. Die bulle se koppe het klaar gesak.” Hy lag saggies onderlangs en knik sy kop.

“Giraffa camelopardalis, kameelperde. Ons noem hulle thutlwa,” sê Johannes met `n glimlag vir Karla en wys na twee wat verder af in die laagte aan bome peusel.

“Haai kyk daai kamele,” roep Sunette opgewonde. “Wat is hulle Griekse name hê Charles?”

“Giraffa camelopardalis,” sê Markus blitsig en kyk uitdagend na Charles.

“Is nie Griekse name nie Sun my skat, is Latyns,” sê Charles en sit sy arm om haar skouers. “Bobbejane is Papio ursinus, en die Kaapse bobbejaan is Papio ursinus ursinus” sê hy half vermakerig en kyk Markus reguit in die oë. Die meisie is myne, hou jou pote van haar af, sê sy lyftaal en Sunette voel `n warmte op onnoembare plekke van lekkerkry oor die onverklaarde oorlog wat so stilweg oor haar geveg word.

Terug by die kamp gaan sit die jagters om die knoppiesdoringhout vuur wat hemelhoog brand. Die vlamme weerkaats in hulle Whiskey gevulde kristalglase. Herman lê weg aan sy Whiskey terwyl hy die jag planne vir die volgende oggend uitlê. Carla hou vir Johan geselskap terwyl hy besig is om vleis te braai. Johannes staan ook om die braaivuur en help om die kole vir Johan te bewerk. Eenkant, weg van die gaste af het die plaaswerkers en hulle gesinne hulle eie vuur aangesteek waar hulle sing en dans.

`n Swart seun van omtrent twaalf jaar oud kom verby geloop met `n mankolieke draadkar. Voor op die kar is `n plaat waarop daar met die hand geskryf staan: Made by Jesus.

“Is my laaitie daai,” sê Johannes trots. “Hy’t die kar self gemaak.”

“Johannes, ek sien jy ken die veld, maar lyk my jy hou jou opsetlik so `n bietjie dom?” sê vra Carla aan Johannes. “Ken jy die bome ook so goed soos die wild?”

Johannes glimlag. “Daardie een is `n Snotappel,” sê hy en wys na `n struik. “Azansa garckeana, of soos ons hom noem uxhakhuxhaku. Jy kan die vrug eet, dis baie lekker al lyk dit soos snot,” sê hy en lag vir Carla wat haar gesig op `n plooi trek oor die snot ding.

“Daardie een is die haakdoring, Acacia caffra,”

“Ek onthou Herman het vandag daarvan gepraat,” sê Carla

“Ja hy het,” sê Johannes. “Maar die beeste en bokke eet nie sommer sy blare nie, dis biekjie giftig. Ons mense maak tee van die bas en drink dit om die bloed skoon te maak, en ons gee die blare vir die kinders om te kou as hulle maagpyn het.”

“Sien,” sê Johan met `n glimlag. “As jy `n ding se naam ken en jy dink jy weet dan iets van die ding af, is jy bloot `n opgeblase dwaas vol eiewaan, miskien `n geleerde dwaas, maar steeds `n dwaas.”

“En waar leer jy al die groot name Johannes,” vra Johan.

‘Ek het die morena wat die looppaadjies kom maak het gehelp. Ons het naamplaatjies aan die bome gesit vir die stappers om te kan sien, en ok die internet, ek surf so biekie op die net. Iemand het eendag `n laptop hier gevergeet,” sê hy en trek sy skouers op. “Nou leer ek solat ek vir die mense van die universiteit wat hier kom loop kan vertel van die goete.”

Om die kampvuur lag die jagters uitgelate. Herman is besig om onkapabel dronk te word. Hy sing vir sy gaste een of ander rap liedjie met baie P en F woorde terwyl hy sy onderlyf in nabootsing van wilde seks heen en weer beweeg. Ellie sit verleë en staar na die vuur.

Markus staan ongemerk op en gaan na sy kamer toe. Terwyl Herman steeds sing en kru grappe vertel, verdwyn Ellie die nag in. Sy loop met `n ompad en glip ongesiens by Markus se donker kamer in.

Herman slinger dronk na Johan waar hy die vleis braai.

“Waar is my goeie vriend Markus?” vra hy terwyl hy heen en weer wieg op sy onvaste voete. “Ek wil nog ernstig met hom gesels,” sê hy en vat nog `n sluk Whiskey uit die bottel.

Op daardie oomblik is Ellie besig om haar klere stadig tergend voor Markus uit te trek.

“Kyk nou net na daardie klomp barbare,” sê Herman en wys met die bottel in sy hand na die werkers wat om die vuur dans. “Kyk hoe hang hulle tiete uit. Die goed het geen fokken skaamte nie, niks.”

In sy donker kamer streel Markus sag oor Ellie se kaal borste.

“Nou vra ek jou, hoe moet ons beskaafde mense saam met hulle leef, hierdie primitiewe goed wat geen morele waardes het nie? Sê jy dit nou vir my,” sê Herman met `n sleeptong.

In die donker kamer kreun Ellie sag van genoegdoening as Markus haar stadig binnedring.

“Hulle steek enige ding wat beweeg,” sê Herman sonder drif. “Maak nie saak of dit `n ander man se vrou of sy dogter of `n bok of hoender is nie. `n Wellustige spul vol onkeerbare drifte.”

In die donker kamer het Markus op sy rug gedraai sodat Ellie nou bo op hom sit en ritmies op en af beweeg.

“Hulle gaan nog almal vrek van Aids, sê ek jou, die hele onsedelike donderse lot van hulle,” sê Herman en slinger in die rigting van sy kamer terwyl Ellie en Markus hulle liefdes krete onderdruk as hulle saam orgasme bereik.

In die kombuis druk Herman sy een hand onder die wit gestyfde rok van `n baie jong kok in en betas haar terwyl hy nog Whiskey uit sy bottel drink. Toe sy hom wegstoot strompel hy na sy kamer waar hy in `n beskonke beswyming op die bed gaan lê.

Toe Carla en Dolf by Herman se kamer verby loop op pad na hulle slaapkamer, staan sy deur oop en in die verbygaan sien hulle dat Johannes besig is om sy baas se skoene en kouse vir hom uit te trek om hom in die bed te sit.

“Dumela Johannes, le kae?” vra Dolf en kyk by die deur in.

“Ke teng morena,” antwoord Johannes terug.

“Ke itsometsi,” sê Dolf en beduie na Herman wat op die bed lê. “Ek sien jou weer more, robala sentle.”

“Borako morena,” groet Johannes terug.

“Wat was dit? vra Carla met `n frons.

“Ek het maar net gesê dankie dat hy na die oukêrel kyk, en gesê hy moet lekker slaap.”

“Dink jy hy drink omdat sy vrou rondslaap?” vra Carla.

“Of slaap sy rond omdat hy drink?” antwoord Dolf.

Vroeg die volgende oggend is die jagters veld toe. Herman het hand om die lyf met Ellie by die vuur staan en wag vir sy gaste. Hy was opgewek en het finale instruksies aan die jagters gegee voor hy hulle in die veld gaan aflaai het.

Teen twaalf uur het die jagters te voet by die ruskamp opgedaag. Markus en Charles was in `n verwoede woordewisseling betrokke.

“Ek sê jou dit was my fokken Rooibok wat jy geskiet het!” het Charles vir Markus geskreeu.

“Maar jy het die donderse ding mis geskiet en toe het ek hom geskiet voor hy kon wegkom!” het Markus terug geskreeu. “Op sestig meter kan jy nie eers `n lewens groot bok raakskiet nie. Wat se jagter is jy dan?” vra Markus snedig.

“My geweer is vir twee honderd meter ingestel sodat ek Koedoes kan skiet, en toe ons `n Koedoe kry toe steel jy weer my bliksemse bok,” skreeu Charles buite beheer.

“Maar jy kon die ding nie eers sien nie! Ek en Johannes en Sunette het vir jou gewys waar die fokken bok staan maar jy kon hom nie sien nie, toe skiet ek hom. Wat wou jy hê moes ek doen, jou aan jou hand lei tot teen die bok sodat jy kon voel waar dit is!”

“Is so Charles,” sê Sunette. “Ons het jou gewys waar die koei staan.”

“Koeie het nie horings nie,” snou Charles haar toe. “Dis omdat jy sulke obsene geel klere dra dat die bokke weghardloop. Niemand by sy volle verstand gaan jagveld toe met sulke vulgêre geel en pienk uitrustings wat niks vir die verbeelding oorlaat nie. Kyk hoe lyk jy!” sê hy disgusted en wys na haar baie kort rompie en halternek toppie waaronder sy duidelik geen bra dra nie. Dat dieselfde uitrusting vroeg oggend sy wellus konstant in die rooi vasgepen het, is nou vergete.

“Dis algemene praktyk dat jagters geel klere dra sodat hulle mekaar nie per ongeluk doodskiet nie. In Amerika is dit wet, jy mag nie daarsonder gaan jag nie,” skerm Markus. Hy weet nie of dit so is nie maar, jakkals wat hy is gryp hy dadelik die geleentheid aan wat hom dalk later in die meisiekind se panties kan laat beland.

“Ag so nè,” sê Charles smalend. “Jy moet nie dink ek het nie gesien hoe jy haar die hele oggend met jou oë kaal uittrek nie jou ou vark! En `n getroude vark daarby. Vat haar dan en, en doen met die teef net wat jy wil. Ek is klaar met julle!” bulder hy woedend en storm weg. Vyf minute later het hy al sy goed agter op sy bakkie gegooi en in `n stof wolk van die plaas af gejaag.

Sunette het haar skouers opgetrek, haar sak met klere gaan haal en in Markus se kamer gaan gooi. Sy het al haar klere dood luiters uitgetrek en gaan stort en toe op die bed gaan lê en Markus gevra om haar bloed rooi gebrande lyf met olie te smeer. Sy het nie teëgestribbel toe hy sy klere ook uitgetrek het nadat hy elke deeltjie van haar lyf met olie gesmeer het nie. Sy het saggies gegiggel toe hy bo op haar gaan lê, haar bene om sy lyf gevou en hom in haar ingetrek.

Johannes en die ander werkers het die dooie bokke gaan haal en begin bewerk. Na middagete het al die gaste gereed gemaak om huis toe te gaan.

“Slag nou die goed ordentlik Johannes, julle weet hoe. Pak die vleis in die yskas, en hang die biltong om droog te word,” het Herman kortaf beveel. “En moet nie weer die donnerse biltong steel soos altyd nie. Los die goed uit. Julle het genoeg vleis om te vreet. En Johannes,” voeg hy by, “los die drank en die ander mans se vroumense uit, jy het nou genoeg snotkop kinders wat die hele kontrei vol loop. Jy gaan vrek van Aids as jy so aanhou.”

“Is reg morena,” sê Johannes. “Tsamya sentle, en mies Ellie, jy moet ok mooi loop,” sê hy met so `n skewe glimlag en stap weg.

“Dink jy hy weet van Ellie en Markus se dinge laasnag?” vra Dolf vir Carla toe hulle wegry van Hunters Retreat af.

“Johannes sien alles wat op daardie plaas aangaan,” sê sy. “Ek dink hy weet ook van Ellie en Johan, al was hy in die jagveld saam met julle.”

“Wat van Ellie en Johan,” vra Dolf verbaas.

“Toe julle weg is het hulle `n kombers gevat en af gestap dam toe, glo om voëls te gaan kyk,” lag sy. “En ek was stupid genoeg om dit te glo, toe stap ek later agterna en kry hulle daar langs die uitkyk skerm aan die woel. Moet sê, vir `n ou pensionaris het hy nog baie woema! Het gelyk of hy die Kama Sutra uit sy kop ken, en hy is bedeeld jong!” grinnik sy plesierig.

“Wil jy my sê jy het hulle skaamteloos staan en dophou?” vra Dolf verbaas.

“Daar was niks op TV nie,” sê sy ongeërg.

Dolf gooi amper die kar om soos hy lag. “Aaah, ek sien,” sê hy. “Daar is vanaand ook niks op TV nie, sal ons `n kombers langs die swembad gooi en gaan voëls kyk?” vra hy laggend.

“Ek dink nie jou vrou sal daarvan hou nie,” sê sy en streel oor sy binnebeen. “Jy weet sy is baie jaloers.”

“Moet jou nie bekommer nie, sy is saam met haar lover iewers heen die naweek,” skerts hy. “Ons kan die hele nag lank voëls kyk.”

Maar hulle het toe nie gaan voëls kyk nie, Dolf se vrou se kar het voor die deur gestaan toe hulle daar aankom.

“Hoe was jou bosberaad saam met jou personeel?” vra sy hom toe hy instap.

“Aag so-so. `n Skermutseling of twee tussen die ouens soos gewoonlik. Verder heel rustig,” sê hy afgetrokke.

“En jou konferensie, het dit goed gegaan?” vra hy.

“Ja, dit was goed, net uitputtend,” sê sy sonder om na hom te kyk.

“Was jou sekretaresse Carla saam met julle? vra sy.

“Nee, sy en haar man het ander reëlings gehad,” antwoord Dolf rustig terwyl hy met sy rug na haar toe vir homself Cognac skink. Hy weet sy hou hom stip dop.

“Ek is moeg, ek gaan slaap,” sê sy en gee hom `n halfhartige soen op die wang.

Toe sy halfpad met die trappe op na haar kamer toe is vra Dolf; “Maria, het jy al ooit in jou lewe jouself bevredig?”

Sy steek vas en gluur hom woedend aan. “Wat bedoel jy?” vra sy bitsig.

“Masturbeer, selfbevredig, speel met jouself, jy weet?”

“Jy is pervers, jy is `n siek mens,” snou sy hom toe en storm weg kamer toe.

Hy het nie kans gesien vir die eensame enkelbed in sy eie kamer nie en het hom gemaklik gemaak op die rusbank voor die TV, waar hy aan die slaap geraak het.

Daardie nag droom hy eers van allerhande soorte vreemde voëls, en toe van `n naakte Johannes op `n branderplank in die see, met `n horde gehawende snotneus kinders en `n kameelperd met een groot boggel op sy rug wat op die strand na hom staan en kyk.

Dolf skrik vervaard wakker. ‘Shit,’ dink hy, ‘Dit kan nie wees nie. Is dit een of ander Freudiaanse boodskap diep uit my onderbewuste?’ Om die kameelperd met die boggel op sy rug se nek het `n bordjie gehang met die naam Giraffa dromedarius daarop.

‘Sunette? Nee hel, sy is nie my tipe nie. Te terterig,’ dink hy en raak weer aan die slaap. Toe droom hy weer van die kaal Johannes op sy surfboard en die snotneus kinders en die kameelperd op die strand. Die keer het die kameelperd geen boggel op sy rug nie. Net toe hy dink die droom is veilig, sien hy die bordjie om die dier se nek en dit lees Camelus camelopardalis, en toe merk hy dat die kameelperd die kop van `n kameel het. Dolf skrik natgesweet wakker. “Shit, shit, shit,” sê hy hardop en gaan sit op die rand van die bed. ‘Sy is blond, sy is dom maar sy het die lyf van `n godin,’ dink hy omgekrap.

Teen agtuur die oggend het hy sy selfoon al tien keer uit sy sak gehaal en weer terug gesit. Teen half nege bel hy.

“Hallo Sunette, dis Dolf hier, hoe gaan dit?” sê hy. “Ek moet volgende naweek Durban toe vir besigheid, is jy lus om saam te gaan? Ons vlieg sommer met my eie Gulfstream straler,” rammel hy alles in een asemteug af. Sunette giggel opgewonde aan die anderkant.

“Ek vat net my tandeborsel en swemklere?” vra sy gemaak onskuldig.

‘Wat de hel doen ek,’ dink hy. ‘Sy is so jonk sy kon my dogter gewees het.’

Dolf gooi vir hom `n glas Cognac in en probeer vergeefs om die galsterigheid wat in sy mond en in sy gemoed kom sit het te verdryf. Mens moet net nie te veel dink nie, besluit hy. Eintlik moet mens gladnie dink nie.

Sy oog vang die draadkar met die “Made by Jesus” nommerplaat wat Carla op die ingewing van die oomblik by die swart seun vir hom gekoop het. Vir die eerste maal sien hy die fynskrif onder aan die plaat: “only child of maruti Johannes Ratlamala.”

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: