Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘reis’

Lodging

013

Of dan: Die absolute vreugde daarvan om laataand lêplek te soek in die vreemde.

Omdat jy nie weet waar jy jou gaan bevind as die son begin sak nie, kan jy nie vooraf slaapplek bespreek by ´n gastehuis of hotel of herberg nie. Dus voeter jy die vlaktes in en hoop vir die beste.

En tog; man moet altyd probeer vooruit beplan. Man kan mos nie als aan die noodlot oorlaat nie. Man moet mos in beheer wees, altyd. Vroegdag op pad. Naby sy eindbestemming gewaar hy ´n bordjie wat beduie van Mountain Lodge. Hy is reeds laat vir sy afspraak, maar eerste dinge kom eerste. Man moet ´n bed hê om op te slap as die son sak.

Volg die tweespoor paadjie die bosse in agter die bed aan. Na omtrent elf kilometres van onheilige slegte grondpad is daar nog geen teken van ´n “Mountain” nie, en ook nie van lodge nie. ´n Verdwaalde bordjie wys uiteindelik Taxidermis/Lodge 3.5 km. En net daar draai hy om en ry weg. Nee hel man, as man wil slaap wil hy nie halfpad Kaap toe ry op ´n tweespoor pad nie.

Kom laat by die Afpsraak. Verduidelik. Drink koffie. Daar word gelamenteer oor die droogte, oor die politiek, oor die goeie ou dae en weer oor die droogte, of so neem hy aan want hy kan geen word hoor wat die man mompel nie. Nou en dan sê hy ja, dan sê die man nee en kyk hom verbaas aan. Toe dit klink of die politiek en die droogte weer as besprekingspunt aan die beurt kom sê hy hy is eintlik haastig, hy het nog ´n afspraak om na te kom, en dankie vir die koffie.

Dit moes weer ´n geval van swak tydsberekening gewees het waar die man se droewige betoog in die middel van sy sin brutaal kortgeknip is, want hy lyk weer erg verbaas oor die skielike aankondiging van afskeid en vertrek. Hande word geskud. Dank word betuig vir koffie en beskuit, en die man bly verbaas op sy stoep staan en kyk hoe sy besoeker, vrolik wuiwend in ´n stofwolk die plaas verlaat. (meer…)

Read Full Post »

Salzburg Oostenryk.

Vader Duitsland 2014

Deur die goeie guns van ons gasheer en gasvrou word ons op ´n uitstappie na Salzburg in Oostenryk getrakteer. Oostenryk, die land van kontraste. Geboorteland van Adolf Hitler die aspirant kunstenaar, maar uiteindelik diktator en “Fürhrer und Reichskanzler” van Nazi Duitsland, gebore in die dorpie Braunau. Die man met tien miljoen Joode op sy kerfstok. Aan die ander kant is Oostenryk ook geboorteland van Wolfgang Amadeus Mozart, geniale en flambojante musiekant/komponis. Sover ons weet het hy nie een mens se dood veroorsaak nie, maar ons weet hy het miljoene mense groot plesier verskaf met sy musiek. Gebore in Salzburg waarheen ons nou op pad is om onder anderre ook na die huis te gaan kyk waar hy gebore is.Vader Duitsland 2014

Vreemde land, want dit is ook die land waar twintig melkkoeie met kalwers nou onlangs ´n stapper (hiker) vrou en haar hond bestorm het en die vrou vermoor het. Die berig sê nie of die hond dit oorleef het nie. Moordenaar koeie. Verstommend!

´n Pragtige land. Grasgroen en bergagtig. Beskaafd (die mense, duidelik nie die koeie nie) tot in haar diepste valleie en hoogste bergtop. Volgens statistiek die land met die 12de hoogste per kapita inkomste ter wêreld, met ´n bevolking van net meer as agt miljoen mense wat, soos ´n bedorwe tiener nog steeds sukkel om ´n eie identiteit weg van Grootboet Duitsland te vind.

Saltzburg. Dorp van sout of Kasteel van sout of so iets. Nie omdat die dorp van sout baie sout het nie, maar omdat skepe wat sout op die Salzagrivier vervoer het tolgeld by Saltzburg moes betaal. En julle dog Sanral is erg!

Vader Duitsland 2014Eerste indrukke: Die voordorp waardeur jy ry om by die oudorp uit te kom is grafstil. Dit lyk soos ´n spookdorp met geen voetganger in sig nie. Vreemd. Nog ´n vreemde ding. Die parkeerplek waar ons parkeer vir die dag is diep binne in die berg se maag. Dis soos ´n spelonk uitgekap uit graniet. En jy ry met ´n hysbak af straat toe waar jy duisende ander toeriste wat so half koersloos drentel, raakloop.

Ons gidse ken die plek en ons geite. Eerste stop is ´n baie ou, baie mooi kerk, nog steeds in gebruik. Ons neem die verpligte toeriste fotos. Daar is ook ´n baie ou begrafplaas. Ons neem fotos. En nog ´n kerk. Ons neem fotos. Daar is inderwaarheis 35 kerke in Satzburg. Ons laat die ander 33 met rus. Hongerte dryf ons na ´n deftige restaurant by ´n klooster. Die lees van die spyskaart doen wondere vir ´n mens se hongerpyne … dit verdwyn soos mis voor die son. Die pryse laat jou spoeg terstond opdroog en daarom bestel ons bier, groot glase bier om die keel weer nat te kry. Toe loop ons weer straat af op soek na Salzburg.

Vir die interessantheid. Die aanwas onder mense (statistiek vir moordenaar koeie is nie beskikbaar nie) is 1,42 kind per vrou. In 2012 was 41,5% vroue wat geboorte geskenk het, nie getroud nie. Oudominee kry ´n hartaanval as ek hom dit vertel. Losbandige Sondaars, sal hy sê! (meer…)

Read Full Post »

Toer sus Cobie en Johan ooswaarts na die ou Oosblok lande toe. Besoek Praag, vir ons Suid-Afrikaners `n heel vreemde plek. Vir my roep dit beelde van sneeu, bevrore, barre aarde en ys op.017

Vind hulle toe die plek heel interessant met vele besienswaardighede, vaal kos, en die mense nie oorvriendelik van aard nie. Maar swear Johan loop wel hierdie seksie meisie raak.

036

En Cobie snuffel hierdie klein winkeltjie iewers in `n systraatjie op.

054

En koop sy terstond van hulle ware. Ek kry glo een vir Kersfees!

067

Sal Praag beslis in my volgende wêreldtoer moet inpas. Die plek lyk baie gaaf.

 

Read Full Post »

Kerkbesoek

Duitsland 2014

Dinsdag, ´n vars nuwe dag in Munich. Ons eet ´n heelike ontbyt, komplimente van ons gasvrou. Komplimente ook aan ons gasvrou. Dit was heerlik. Net weereens te veel. Sy voer ons vet!

Kerke, dit is wat ons vandag gaan besoek sonder suit en tie, en Marienplatz, en Viktualienmarkt, en ´n Biergarten natuurlik. Ons ry die eerste keer trem. Dit is fantasties. Jy loop basies uit jou huis uit, oor die straat en jy is by die tremstasie. Hier koop jy by ´n masjien jou kaartjie. Elke 10 minute kom daar ´n trem verby. Jy klim op, druk jou kaartjie in ´n masjien wat dit pons en dan sit of staan jy. Niemand kom kyk of jy ´n kaartjie het of nie het nie, en of dit gepons is of nie gepons is nie. Maar almal doen dit. Niemand klim sonder kaartjie op, of laat na om dit te pons nie. Ongelooflik, is dit nie? Vir ons wat so gewoond is aan wetteloosheid is dit verbasend en verblydend om te sien.

Duitsland 2014 Duitsland 2014

En as jy nie met die trem wil ry nie is daar busse wat op en af ry. Of jy kan met ´n moltrein op die U-Bahn ry, of as jy verder en vinniger wil ry kan jy met ´n sneltrein op die S-Bahn weg blits. Of jy kan dit waag en met ´n gewone Taxi met ´n vrou agter die stuur ry, of jy kan met ´n trapfiets taxi die middestad besigtig. Vir die wat braaf en fiks genoeg is, is daar fietse om te huur. Duisende Duitsers ry fiets in die stad. Maar tegnologies gevorderd is die Germane, stiptelik en uiters bevoeg. Alles werk soos dit moet, en hulle beur vooruit teen ´n helse pas die toekoms in. Dit is bewonderenswaardig. Waar gaan hulle oor twintig jaar wees? Waar gaan ons in ou Afrika oor twintig jaar wees, wonder jy. (meer…)

Read Full Post »

Dinsdag 22 April 2014 dou voor dag op pad deur die land se steenkoolgedrewe “Powerhouse”. Op die horizon, tussen bome spartel die son vergeefs om deur die digte rookmis sy gesig te wys.

Sky 1 (2)

Oggendlied

Môre son en wolke ver agter senuwees

agter visioene van silwer bloed –

hoe gaan dit anderkant die wêreld?

jy ook al op, pitpyn?

                                                                Breyten Breytenbach

`n Paar minute later slaag Sol daarin om rooi-oog deur die mensgemors te loer

Sky 2 (2)

En die oggend

toe die son met ranke stralend oor die ringmuur klim

het die bloeisel soos `n bruin pêrel

geruisloos

van die boom geval

                                Antjie Krog (Winterbloeisel)

In my geval het die bloeisel soos `n rooi pêrel, geruisloos op my bakkie se neus geval.

Annie Dillard sê: “Beauty and grace are performed whether or not we will or sense them. The least we can do is try to be there.”

Sky 4 (2)

Asof om te vergoed vir die mens se besoedelde lug, begin die son die wolke verf in laatherfs kleure.

Sky 5 (2)

Sky 7 (2)

In haar boek “For the time being” skryf Annie onder die opskrif “Dated Clouds” van John Constable wat op 12 Junie 1824 “painted squally clouds over Brighton beach. They swirled from a central black snarl.”

In 1828, terwyl sy vrou op sterwe lê, skilder hy weer die wolke oor Brighton beach. Die skilderye is nog met ons. Maria is nie meer nie.

En nou is die oggend wolke oor Mpumalanga ook gedateer. Ook die die laat middag wolke op my pad terug is vasgelê. Steeds donker en half dreigend van koud of reën.

Sky 10

En gister, op 24 April 2014, volg hierdie helder wit, eensame stil wolkie my regs van die pad vir goed die helfte van my tog suidwaarts. Toe ek weswaarts koers verander, het die son en wind hom begin uitrafel tot slierte wit teen die helderblou herfslug.

049

Dated clouds by a dated man.

Read Full Post »

Mongolia

Sus Cobie en haar Johann wat in China woon en werk, is vir `n paar dae na Mongool land om te gaan kyk hoe lyk die mense en die plek.

Daar is `n vermoede dat hulle iewers langs die pad skaappeertjies vir ontbyt, en skaapkop (met die oog as delikatessen) voorgesit gaan word.

Die huis waarin hulle bly.

Die eetplek waar egte kulturele kos voorgesit word.

Ons wag in spanning dat hulle huiswaarts keer om vir ons foto’s te stuur en die volle storie te vertel. Die foto’s bo het sy met haar iPad aangestuur.

Dit kan net interessant wees om van die land en sy mense, en hulle gewoontes en gebruike te leer.

Op die oog af lyk die plek baie na die goeie ou Vrystaat op `n Winters dag (dis nou behalwe die toilette wat heel ongewoon lyk! Sal volgende keer foto’s wys van die kontrepsies.)

Read Full Post »

Vêr Paaie 2

Dinsdag Buhrmansdrif in Noord-Wes, Donderdag Paul Pietersburg noord Natal. Genade, man se lyf en siel kom nie meer bymekaar vir `n koppie tee nie.

Twaalf uur die middag vertrek ons. Ontmoet ons reisgenote en drink koffie by die Ultra City na die tolhekke naby Middelburg. Van daar swaai ons weg na Hendrina op pad na Ermelo. Die pad is goed maar nou en bevolk deur kreunende vragmotors wat teen `n slakkepas die bulte op en af stoom. Verbysteek is `n nagmerie.

Die Oos-Transvaal is die plek waar Pa en Ma gebore is en waar hulle opgegroei, geskool en getrou het. Die ou familieplaas (nou in die hande van steenkool grawende mynmagnate) lê naby Bethal. Oupa en Ouma (van beide kante) het later op Trichard gebly en is daar begrawe.

Hendrina, vernoem na die vrou van Gert Beukes op wie se plaas die dorp ontstaan het iewers rondom 1914 (1920?), was die saamkom plek vir nagmaal van boere uit die omgewing. Die eerste winkels is glo deur Libanese bedryf. Dit is ietwat vreemd aangesien meeste winkels in omliggende dorpe destyds deur Jode besit was.

Kleintyd het ons gewoonlik gedurende die winter hier by familie gekuier. Een woekerende oom van ons het `n klein plasie hier net buite die dorp besit. Die legende loop dat die oom besighede en huurhuise (let wel, huur en nie hoerhuise nie!) in die dorp besit het en dat sy vrou eers na sy dood bewus geword het van 2 slaghuise en ander eiendom wat syne was. Dit terwyl hulle op die plaas in relatiewe armoede en erge onvrede in `n bouvallige ou huisie gebly het.

Die omgewing is `n mengelmoes van mielielande, weiveld en verwoeste, omgedolwe aarde waar oopgroef steenkoolmyne soos stink swere  op `n malaatse mens se lyf die wêreld besoedel.

Ons bereik Ermelo ongeskonde (maar net deur Genade!). Indrukke na vorige vlugtige deurtogte was dat die plek heel skaflik beskaafd is met `n ongelooflike hoeveelheid baie goeie gastehuise. Hierdie keer ry ons deur `n meer ongure deel van die dorp wat jou laat onthou van berigte oor Nigeriese dwelmbase wat hier in samewerking met die Polisie bordele en dwelmfabrieke bedryf het. Strate is in `n swak toestand en winkels word swak onderhou. Nie regtig `n plek waar ek uit eie keuse sal wil dood nie.

Die dorp is in 1870 aangelê deur Dominee Frans Lion Cachet. Hy vernoem dit na  die dorp Ermelo in Nederland waar `n goeie vriend en leermeester van hom gebly het en waar hy self begeesterd/ bekeer geraak het. Dertig jaar later word die dorp gedurende die Groot (dom?) Oorlog deur die Engelse tot `n rommelhoop verwoes. Net een huis het glo staande gebly.

Die huidige aanslag van Afrikanisering teen die dorp, en alle ander plattelandse dorpe dreig om dit weer te reduseer tot rommelhoop met min of geen hoop dat dit weer soos `n Phoenix sal opstaan uit die as nie.

Ons sukkel voort na Piet Retief. Skuif bevange verby vragmotors belaai met steenkool en ander vrag. Dis snikkend warm en die aircon zoem heelpad soos `n swerm bye om ons te beskerm teen verswelging, of dalk versmelting.

Van Piet Retief weet ons almal (Dingaan en al daai tragiese stories). Van sy dobbel gewoontes en bangkrotskappe in die Kaap as rede vir sy trek die woeste binneland in, weg van skuldeisers, weet ons minder. Dat die hoofstraat in die dorp nou so vervalle is dat `n trekker met waterkar ingespan word om die stof in bedwang te hou, (komplimente van van swak ANC regering) is `n ontstellende nuwe ontdekking.

Wonder ek nou of Ungungungluvu nie dalk Dingaan se dobbelhuis was en of hy en onse Piet nie dalk vinnig `n potjie poker gaan speel het en die Piet daar met `n kaart of twee in sy mou op betrap is en daarom vermoor is nie?

Die dorp is in 1882 aangelê en iewers gedurende die Groot Oorlog in puin gelê. Dit is weer opgebou tot model “tuindorp” en verval nou weer vinnig tot model blikkiesdorp.

Te midde van `n stofwolk in die hoostraat gooi ons petrol in en koop koffie vir die dors.

Van oom Piet se plek af kronkel die pad deur plantasies tot by Paulpietersburg. Hierdie is seker die dorp met die grootste identiteitskrisis in die land, indien nie in die wêreld nie. In 1888 word die dorp as Paulpietersrust aangelê, vernoem na Paul Kruger en generaal Piet Joubert, die man wat die Engelse in 1881 by Majuba op hulle rooi baadjies gegee het. `n Paar jaar na stigting word die naam verander na Paulpietersdorp. Iewers jeuk iemand se dinges toe weer en hulle verander die naam na Paulpietersburg soos dit vandag nog bekend staan. Maar in Zulu staan die dorp bekend as Dumbe, so genoem as gevolg van die voorkoms van `n eetbare aartappelagtige knol wat in die omgewing gevind word.

Maar dit is nie die enigste van die dorp se beproewings nie. Vir een of ander rede is die dorp wat eintlik in Natal lê, by die ou Transvaal ingelyf. Toe word dit weer deel van Zoeloeland, en toe, skynbaar na Uniwording, is dit weer by Natal ingelyf soos dit vandag nog is.

Duitsers en Skotte het laat in 1800 in die dorp en omgewing ingetrek en boer en woeker steeds daar rond. Praat steeds Duits, maar ook Engels, Afrikaans en Zulu, drink bier en speel ook nog steeds umpa musiek by saamtrekke. `n Pragtige Lutherse kerkie staan trots tussen die dennebome by Luneburg.

Ons staan oor op `n jagplaas by erg gasvrye Duisers wat vlot Afrikaans praat. Lieflike gastehuis met `n asemrowende uitsig oor die berge. Aandete, bekook en voorgesit deur `n jong Zulu man is uit die boonste rakke. Het nog nooit in my lewe soetpatats gemaak met marsh mellows ge-eet nie. Uitstekend. Drink witblits uit `n bottel met heel rooi rissies in. Dit brand die bloue hel uit jou uit en jy durf nie naby `n oop vlam asem uitblaas of poep nie, dit kan jou duur te staan kom.

Dag 2 bring ons tussen die Drakensberger koeie deur op `n ander Duitser se plaas. Is al die vierde generasie van die familie wat die plaas besit en beboer. Reg rondom die plaas lê lamlendige Zulu huisies en lappies heuphoog verlepte, vergeelde, verpiepte mielielande en hulle kyk met gretige oë na die groot ou opstal en landerye wat beplant staan met mielies wat lyk soos jong dennelote. Fantasties geil en groen en gesond. En ja, sê die boer gelate, daar is grondeise teen die plaas.

Laat mens dink aan Paul Theroux se ondervinding op sy reis deur Afrika. Verslae en geskok oor die verval en agteruitgang van alles wat hy teenkom dertig jaar na sy vorige verblyf in Malawi en Uganda, vra hy aan die mense, regeringsamptenare en lektors aan Universiteite wat hy persoonlik ken; waarom lyk dit so, waarom die verval, waarom staan voorheen winsgewende Indiër winkels leeg, wat het van die groot produktiewe plase geword, hoekom is skole en universiteite vervalle? Dan antwoord hulle een en almal; “The problem you see, the problem is, we have no money and you see, the UN and America won’t give us any.”

Skuins na 11 die oggend is die werk met die koeie afgehandel en ons ry terug na Sodom en haar suster se ontugtige, wellustige vleispotte. Ses uur later is ons weer by die huis. Met die intrap word ons oorweldig deur die vreugdevolle groet van ons  stertswaaiende swart kinders. Dit verskaf mens tog altyd oneindige plesier om so verwelkom te word in jou eie huis. Uitgelate en uitbundig bly is hulle, so asof jy `n leeftyd lank weg was.

    

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: