Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘kerk’

Gees

Hierdie foto het op my facebook blad beland. My opmerking daar was in die trant van: Hierdie tipe van passie is die boetie van ekstremisme en ons weet wat die gevolge daarvan is as dit oorspoel na “dinge wat saak maak”. Dit sal dus beter wees as dit bly waar dit is aangesien dit daar relatief onskadelik is, behalwe vir dronk vuisgevegte by rugby wedstryde en vandalisme by sokker. Ons weet wat die soort van passie by Islam en die Christendom al veroorsaak het.

(Die foto se opskrif sê “Collective Evolution” maar dit lyk meer na “Collective Devolution” as jy van regs op die foto na links kyk tot waar die mens weer aap geword het!)

Een ander se komentaar was dat ‘dinge wat saak maak’ moet probeer om so opwindend te wees soos sport, dan sal mense dalk (weer) daarin belangstel.

Joh het geantwoord dat die ‘high road of Phaedrus” nooit vreeslik opwindend is nie. Self het ek besluit om die man liewer nie te probeer antwoord nie, want as `n man nog op die vlak van passievolle genot opereer is daar geen kans dat hy weet van Phaedrus en sy motorfiets, of Plato se dialoog nie. Hy moet maar regtig by sport en ander opwindende wêreldse goed bly.

Hoe moeilik dit is om die soort ding (dinge wat saak maak) in woorde te verduidelik word onderstreep deur hierdie stukkie wysheid uit Krishnamurti se gesprek: “So I see this: I see what thought has done, and also there is clear perception that insight exists only when there is absence of thought.”

Daarna is daar `n lang gesprek en dan kom hy terug met: “So: we are now inquiring into what it is to observe without the observer.” Om die probleem verder toe te lig sê hy: “Our life is based on thought, the whole machinery of thinking, the whole machinery of words, which we use, for example, to communicate through a novel. And without the word is there thought?” en dan vra hy: ” … can I, can the mind, observe me, the whole of me, without the word?”

Hy kom elke keer terug na dieselfde begrip wat hy probeer tuisbring. Die onwerklikheid van bestaan, basies dat dinge nie is soos wat voorkom nie, dat daar meer is as net dit wat ons kan sien, voel, ruik, hoor of proe. En daardie realiteit lê in die gaping tussen persepsie en deliberasie, of soos een gesegde dit het “God is in the gap”. Daar is `n splitsekonde tussen die oomblik dat jy iets waarneem, en jou brein vir jou begin sê wat dit is wat jy waarneem. Jy het daardie breukdeel van `n sekonde om die werklikheid te sien soos dit is, om ‘satori’ te beleef, voor “die woord” waarvan Krishnamurti praat, jou terugbring na hierdie liniêre, mundane bestaan op die fisiese vlak.

” Where there is nothing, not a thing put together by thought, there is the end of time and thought. That is when there is no experiencer at all. That is the real.” Inderdaad “the real gap” na dit-wat-is, dit wat Buddhiste noem “emptiness, but not the emptiness of nothingness.”

Om daardie gaping te kan sien en daar deur te gaan vat jare en jare se toegewyde meditasie, basies `n leeftyd van geestellike voorbereiding. (Die “gap” hier is duidelik nie dieselfde as die “gap” wat die senter deur die verdediging slaan om `n drie te gaan druk nie, alhoewel dit deel is van die enigste werklikheid wat vir meeste mense bestaan en saak maak.)

Is dit nou nie iets besonders opwindend om aan te dink en jou mee besig te hou nie? Ja goed, dis nie Bloubul opwindend nie, maar dit is tog iets WAT SAAK MAAK, is dit nie? Watter bydrae maak Saterdag se wedstryd tot jou geestelike lewe, selfs al het jou span gewen? (Kyk wat maak dit aan jou “siel” as jou span verloor het!)

Die oomblik dat jou kerk sy dienste vir jou net so opwindend as jou liefling sportsoort begin maak, dan moet jy weet daardie kerk is baie diep in die moeilikheid, en jy moet maar liewer jou brandewyn vat en vir die Bokke of die Sharks of die Proteas loop skreeu. En jy kan jou predikant en sy bottel ook saam vat, want nege uit die tien keer is daardie predikant een van die wat vir jou sê; “noem my sommer op my naam ou pel, ek is `n dood gewone mens net soos jy”.

Read Full Post »

Sondes

Sondes van die voorvaders (maar veral van die voormoeders) soos onthou deur die nageslag.

Die hele gedoente van onthou word aangeskakel deur ´n argument. Dit kon heel komies gewees het as dit nie tog duidelik ´n ellement van tragedie ingehou het nie.

Dit kom so; Ouma ruk haar op vir iemand wat van vêr af luid na haar roep. Dit tas op ´n manier haar waardigheid aan, maak haar nek stokstyf staan en die lippies dun trek van verontwaardiging. Niemand skreeu op haar nie, (nie eens in vriendelike groet nie). Ek skreeu op niemand nie, het dit nog nooit in my lewe gedoen nie. Dis barbaars.

Dit kan ook nie vergewe word net omdat die vrolike roeper so effens verstandelik gestremd is na ´n motorongeluk nie.

Die kleinkinders wat toevallig teenwoordig is, is uit die veld geslaan en lê versigtig ´n grepie uit hulle onthou van kuiers by Ouma toe hulle nog klein was, ter tafel. Baie versigtig. ‘Maar Ouma het dan destyds elke Sondag na ete by die watertenk gaan staan en ´n magtige skreeu geskreeu om ou Julia, wat ´n halfdag te perd verder aan gebly het, te roep om die skottelgoed te kom was! Elke Sondag, ons onthou dit soos gister. Dit was ´n priemende skreeu wat dooies kon opwek.’

En daar ruk Ouma haar opnuut en heftig ontkennend op. Dit sal die dag wees. Daar bestaan nie so iets nie. Ek doen nie sulke goed nie, het nog nooit en sal ook nooit. Sy is boos, onwaardig so.

En die voorval roep later ´n ander ewe komiese voorval op uit die tragiese lewe van die voorvaders. Toneel: Voorvader wat die pos oopmaak. (Destyds het pos nog gereeld soos klokslag by jou uitgekom. Niemand het gestaak of pos in die watersloot gegooi nie). Met ´n rekening omhoog in die hand bars hy woedend uit: ‘Ek gaan nog daardie klerewinkel aan die brand steek sodat my vrou en my vriend se vrou nooit weer daar kan koop nie. Waar moet ek die geld kry om hierdie rekening mee te betaal?’ roep hy ontsteld.

Dit was lank voor die tyd van kredietkaarte. Nou gryp ´n ontstelde man die skêr en sny sy vrou se oorlaaide kredietkaart in duisend stukke. Destyds was die afbrand van die winkel skynbaar die enigste oplossing vir rasend moedelose, fiskaal ontoereikende mans!

Die woedende dreigement het destyds ook nie gehelp nie, want ´n maand of wat later was dit nagmaal en die dogter se aannemingsdiens by die kerk. Toe Voorvader sien staan Voorvrou daar, gereed vir die okasie, van kop tot toon uitgevat in ´n nuwe uitrusting van rok, hoed, handsak en naaste aan die aarde maar nie die minste nie, spieëlblink skoene, gekoop by dieselfde winkel wat hy flus wou afbrand.

‘Maar magtag vrou,’ brul Voorvader weer. ‘Dis mos nie jy wat daar voor die preekstoel gaan staan nie. Jy sit in die bank. Dis jou kind wat daar voor gaan staan. Waarom gebruik jy nie die geld en koop vir haar ´n ordentlike rok nie! Maar die koeël was deur die kerk. Dogter is toebedeel met ´n afskuwelike blou rok met ´n moerse groot volstruisveer ver(vonk)fraai, en Voorvrou trippel pikant die kerk binne op haar blinknuwe hoë polvytjies.

In die ouderlingsbank sit die winkeleienaar saam met Voorvader en kyk met ´n glimlag na die gemeente des Gods se vrouens, almal uitgevat in nuwe uitrustings. Die rekeninge is reeds in die pos.

Read Full Post »

Vreemde wêreld, vreemde mensdom.

Nou eendag is daar ´n bespreking op RSG oor die noodsaak vir, en voordele van ´n positiewe ingesteldheid in jou lewe. Almal sing saam in die koor en vertel hoe goed die soort van ingesteldheid vir die liggaam en siel is … tot daar ´n klomp tantes begin inbel om beswaar aan te teken. En erg beswaard is hulle, want, sê hulle, as jy ´n ware Christen is sal jy net op God vertrou. Positief is On-Christelik.

Nou wonder mens; is dit dan nie vir die Christen iets positiefs om op God te vertrou nie? Of is geloof gegrond in ´n negatiewe ingesteldheid? Geen wonder hulle is beswaard nie. Jy mag dalk net vrolik wees as jy positief is, en dit klink na sonde? Soos dans op `n tyd sonde was (steeds is?) vir die Doppers? Genade tog.

En nou is die nuutste ding om oor beswaard te wees die afgelope Halloween fees (ook genoem “All Saints’ eve”). Dit word deur ernstig (Christelik) gelowige mense bestempel as van die duiwel. Een baie ou dame het selfs beweer dat daar diere, kinders en soms mense aan die duiwel geoffer word op hierdie fees (kinders is nie mense nie?). Daar word nou per eed gesweer dat “ek en my familie sal die Here dien. Ons sal nooit op enige wyse deel in hierdie Satans’ verheerlikende fees nie”.

Dit is tog redelik eenvoudig. Gaan lees op oor die geskiedenis van Halloween en vergewis jou van waaroor dit werklik gaan voor jy ´n gat van jouself maak. Gaan “Google” dit, dis so maklik as dit. As jy tegnologies gestremd is, vra jou kinders of kleinkinders om dit vir jou te doen. Ouderdom en onnoselheid is nie ‘n verskoning waarom jy jou kerk en jou geloof belaglik mag maak nie.

Min of meer dieselfde klomp mense plus nog miljoene ander wat hulle self Christen noem, insluitend sommige ongelowiges en selfs ateïste, is net so ontsteld oor die huidige wrede aanslag van Islam op die mensdom. En tereg ook. In hierdie moderne tye is iets so koelbloedig, wreed en barbaars total onverskoonbaar. En dit nog in die naam van ´n god!

Maar net voor ons te opgewonde raak, ´n paar syfers uit ons Christen geskiedenis:

Gedurende die eerste kruistog wat onderneem was om Jerusalem te gaan suiwer van goddelose barbare, (met ander woorde Mohammadane en Jode) het die kruisvaarders besluit dat die Jode wat hulle op hulle tog deur Europa teengekom het ook nie Christene was nie. Die gevolg was dat honderde duisende Joodse mans, vrouens en kinders sommer so terloops vermoor is.

In die tydperk 1450 tot 1800 is so veel as 4 miljoen vrouens na die brandstapel gestuur omdat die kerk dit so beveel het. Dit was hoofsaaklik Christen vrouens wat deur die kerk as “afvallig” of as hekse gebrandmerk is.

In Spanje is 2,000 mense op die brandstapel verbrand.

In 1572 is 4,000 Hugenote in Parys vermoor.

Hierdie is net mense wat in Europa self deur die kerk vermoor is. Hoeveel Islamiete daar gedurende die ongeveer 10 kruistogte vermoor is, is nie seker nie. Dit kan sekerlik nog meer wees as die 4 miljoen wederstrewiges waarvan die kerk in Europa ontslae geraak het net omdat hulle die Pous se gesag bevraagteken/bedreig het, en natuurlik om die Katolieke kerk se koffers te vul.

Meegaande ‘verslag’ is moontlik ´n aanduiding van hoe bloediglik geweldadig en barbaars die Christendom die ‘ongelowige’ Islamiete aangeval het.

“Wonderful sights were to be seen. Some of our men (and this was more merciful) cut off the heads of their enemies; others shot them with arrows, so that they fell from the towers; others tortured them longer by casting them into the flames. Piles of heads, hands and feet were to be seen in the streets of the city. It was necessary to pick one’s way over the bodies of men and horses. But these were small matters compared to what happened at the Temple of Solomon, a place where religious services are normally chanted … in the temple and the porch of Solomon, men rode in blood up to their knees and bridle reins. Indeed it was a just and splendid judgement of God that this place should be filled with the blood of unbelievers since it had suffered so long from their blasphemies.”

Volgens ene Raymond D’Aguilers.

Laat mens nogal dink, nie waar nie?

En net voor die gewone juigkomando begin skreeu Godsdiens is die euwel. Godsdiens is `n onding. Weg met Godsdiens ens. ens. ens.

Dit is nie Godsdiens wat die probleem is nie, dit is nie eens fundamentalisme wat die probleem is nie.

Fundamentalisme: Streng handhawing van wat as fundamenteel beskou word.

Fundamenteel: Wat as grondslag (kan) dien; basis wat tot die kern van die saak gaan; van die grootste belang; essensieël.

Die grondslag van enige oortuiging kan nie tot geweld ly nie. Dit is fanatisisme gekoppel aan ekstremisme wat die probleem is. Maak nie saak of dit Polities, Godsdienstig, nasionalisties, sport, of wetenskap gedrewe fanatisisme of ateïsme is wat dit aanvuur nie. `n Blinde, onnadenkende, oordadige ywer vir enige saak is gedoem om een of ander tyd die bloed te laat vloei.

En sodanige dwase sal ons altyd op alle lewensterreine met ons hê. Van kindertjies wat albaster speel op die skoolgronde, die wetenskaplike wat “alles” weet, tot die Hitlers en Malemas in die politiek en die “besielde” priester iewers op die platteland. Dit is teen hierdie mense wat ons moet waak. Dit is ook gewoonlik hulle wat ons wil vertel dat hulle reg is en al die ander mense verkeerd is en verkieslik uitgemoor moet word.

Die ou mensdom het nog `n baie lang pad om te loop voor hy werklik beskaafd sal wees. Die dier lê nog vlak in die gene.

Read Full Post »

Armoede

Hoop Tracy gee nie om dat ek die stukkie hier plaas nie. Het nogal gedink dit is treffend.

 

Uit: Die NG Kerk Natal se Eposduif vir Desember 2012

Ek sal 1946 se Kersfees nie vergeet nie.

Ek was 14, Ansie 12 en Dalene 16.

Ons drie het saam met Mamma gebly en het geweet wat dit beteken om sonder baie dinge klaar te kom. My pa is vyf jaar tevore dood en het my ma met sewe kinders, sonder enige geld, agtergelaat. Teen 1946 was die oudste vier kinders reeds uit die huis.

‘n Maand voor Kersfees het die dominee aangekondig dat daar op Kersfees ‘n spesiale kollekte opgeneem sou word om ‘n arm gesin te help. Hy het almal gevra om geld te spaar, werklik ‘n offer te bring en ruim by te dra.

Terug by die huis het ons dadelik gesels oor wat ons kan doen. Ons het besluit om 50 pond (ongeveer 23kg) aartappels te koop en vir die hele maand daarop te lewe. Op die manier kon ons R20 op ons kruideniersbegroting spaar om by te dra. Ons het ook besluit om so min as moonlik elektrisiteit te gebruik om nog meer te spaar. Ons het mense se huise en agterplase skoongemaak en elke geleentheid om kinders op te pas, aangegryp. Met elke 15 sent wat ons gekry het, het ons genoeg wol gekoop om drie vatlappe te brei wat ons dan weer vir R1 verkoop het. Op die manier het ons nóg R20 bymekaar gemaak.

Dié maand was een van die bestes in ons lewe. Ons het elke dag die geld getel om te sien hoeveel ons al gespaar het. Saans het ons in die donker gesit en gesels oor hoe die arm gesin die geld wat die kerk aan hulle gaan gee, sal geniet. Aangesien daar ongeveer 80 mense in die kerk was, het ons uitgewerk dat die gemeente ten minste 20 keer meer kan gee as wat ons eie bydrae is. Na alles het die dominee die gemeente elke Sondag aan die spesiale bydrae herinner.

Die dag voor Kersfees het ek en my sussie na die kruidenierswinkel gegaan en al ons kleingeld omgeruil vir drie nuwe R20-note en een R10 noot. Ons het huis toe gehardloop om vir Mamma en Darlene te gaan wys. Ons het nog nooit voorheen soveel geld gehad nie. Daardie nag kon ons byna nie slaap nie, so opgewonde was ons. Dit het ons nie gehinder dat ons nie nuwe klere vir Kersfees kon kry nie, want ons het R70 vir die spesiale offergawe gehad.

Ons kon nie wag om kerk toe te gaan nie.

Daar die Kersdag het die behoorlik gereën. Ons het nie ‘n sambreel besit nie, maar het ook nie omgegee hoe nat ons word nie. Selfs Dalene se voete het papnat geword omdat haar skoene al stukkend was. Ons het trots in die kerk gesit. Ek het gehoor dat van die ander tieners iets fluister oor die Smith-dogters wat weer hul ou rokke aan het. Ek het na hulle in hulle nuwe rokke gekyk en baie ryk gevoel.

Toe die kollekte opgeneem word, het Mamma die R10-noot ingegooi en ons kinders elkeen R20. Op pad huis toe het ons gesing. Middagete het Mamma ons verras. Sy het ‘n bietjie vleis gekoop en ons kon dit saam met ons aartappels eet.

Laat daardie middag het die dominee voor ons huis gestop. Mamma het die deur oopgemaak, ‘n oomblik met hom gepraat en toe teruggekom met ‘n koevert in haar hand. Ons het gevra wat dit was, maar sy het niks gesê nie. Sy het die koevert oopgemaak. Toe val daar ‘n klomp geld uit… drie nuwe R20-note, een R10 en sewentien R1’e. Mamma het die geld teruggesit in die koevert en niemand het ‘n woord gesê nie. Ons het almal net na die vloer gesit en staar. Waar ons ‘n oomblik gelede nog soos miljoeners gevoel het, het ons nou arm en waardeloos gevoel.

Ons was dan so gelukkig…

Ons het so ‘n gelukkige lewe gehad dat ons almal jammer gekry het wat nie ons pa en ma gehad het nie, of ‘n huis vol boeties, sussies en vriende wat gedurig kom kuier het nie. Ons het gedink dit is pret om eetgerei te deel en altyd te wonder wat jy vanaand gaan kry: die vurk of die lepel? Ons het twee messe gehad wat ons rondgestuur het vir wie dit ook al nodig gehad het. Ons het geweet dat ons baie van dit wat ander mense het, nie het nie, maar ons het nooit gedink ons is arm nie.

Maar daardie Kersfees het ons uitgevind dat ons arm is.

Die dominee het immers die geld wat vir die arm gesin ingesamel is, vir ons gebring. So, ons moet dan arm wees! Ek het niks daarvan gehou om arm te wees nie. Ek het na my rok en verslete skoene gekyk en was so skaam dat ek nie weer kerk toe wou gaan nie. Almal het blykbaar lankal geweet dat ons arm is. Ek het besluit om skool te los, aangesien ek reeds graad 8 geslaag het en dit was al wat die wet destyds vereis het.

Ons het lank in stilte gesit. Later het ons gaan slaap. Gedurende die week het ons min gepraat. Saterdag het Mamma die stilte verbreek en gevra wat ons met die geld wil doen. Ons het gewonder. Wat doen arm mense met geld?

Ons het nie geweet nie, want ons het nie geweet dat ons arm is nie. Ons wou nie Sondag teruggaan kerk toe nie, maar Mamma het gesê ons moet.

Ons moet …

Al was dit ‘n lekker sonskyndag, het niemand op pad kerk toe gepraat nie.

Mamma het ‘n lied begin sing, maar niemand het saamgesing nie.

By die kerk het ‘n sendeling gepraat. Hy het vertel hoe mense in Afrika kerke bou met songedroogde kleistene, maar dat hulle geld nodig het om die dakke op te sit. Hy het gesê dat R100 genoeg is vir een kerk se dak. Die dominee het gevra: Kan ons nie almal ‘n offer bring om die arm mense te help nie?

Ons het na mekaar gekyk en vir die eerste keer daardie week geglimlag.

Mamma het haar hand in haar handsak gesteek en die koevert uitgehaal. Ons het dit aangestuur na Ansie en sy het dit in die kollektebordjie gegooi.

Nadat die geld getel is, het die dominee aangekondig dat die bydrae net oor die R100 was. Die sendeling was baie opgewonde. Hy het nie so ‘n ruim bydrae van ons klein gemeentetjie verwag nie. Hy het gesê: Julle moet beslis ryk mense in julle gemeente hê.

Toe tref dit ons…

Ons het R87 van die net meer as R100 gegee! So, ons is die ryk familie in die gemeente. Het die sendeling nie self so gesê nie?

Van daardie dag af was ek nooit weer arm nie. En ek onthou altyd hoe ryk ek is – omdat ek Jesus het!

(Ingestuur deur Tracey Moolman – Vryheid)

 

Read Full Post »

Daardie tyd

 

Dit is daardie tyd van die jaar. As julle see toe jaag, probeer tog maar om lewendig terug te kom.

As julle kerk toe gaan, probeer tog ook maar om “lewendig” daar uit te kom en die vrede en die liefde wat julle Meester van julle vra uit te leef en so van die wêreld `n beter plek te maak.

Want shit, so kan dit regtig nie aangaan nie.

 

 

Read Full Post »

Los(van)lyf

Ek sien dat die nuwe redakteur van die sekstydskrif ‘Loslyf’ `n dame is. (party mense noem haar nou baie ander name wat niks met dame te doen het nie.) Na berig word maak sy aanspraak daarop dat sy `n toegewyde Christen is wat haar geloofslewe baie ernstig opvat. Sy beoog glo om die ou Loslyf op te gradeer met gehalte artikels sodat die intellektueel begaafdes (in teenstelling met die testosteroon begaafdes?) ook die tydskrif sal wil lees. Meen dit nou sy gaan skryf oor mense se ekstatiese geestelike ervarings gedurende orgasme?

As daar nou al ooit `n geleentheid was vir `n simbiotiese saambestaan (as’t ware `n kruisbestuiwing) van die vlees en die gees, dan is dit hier in die nuwe, verbeterde Loslyf. Dink net, die nuwe redaktrise gee elke maand (of kom die tydskrif elke week uit?) aan `n predikant die geleentheid om `n artikel, `n preek of `n lewenslessie in Loslyf te publiseer. Sondag kondig Dominee van die kansel af aan dat sy skrywe in hierdie maand/week se uitgawe gepubliseer gaan word. Hy kondig ook aan dat die tydskrif volgende Sondag gratis aan alle lidmate uitgedeel gaan word, suiwer net sodat hulle sy boodskap kan lees natuurlik. By die kerk se een uitgang sal `n silwer kollekte gehou word waar die kinders en die wat nie `n Loslyf (by wyse van spreke) wil hê nie, die kerk na die diens kan verlaat. By die ander uitgang, waar net papiergeld as donasie aanvaar sal word, sal die tydskrif gratis uitgedeel word.

Dink net hoe vol gaan die kerk die volgende Sondag wees. Om seker te wees van `n sitplek sal jy maar vroeg moet opdaag. En dink net hoe `n hupstoot die kerk se weduwee en wese fonds gaan kry met al die donasies. Dis `n wen-wen situasie. Loslyf se sirkulasie skiet die hoogte in, en die kerk vul deesdae se al leër wordende banke en dus ook sy geldkoffers tot barstens toe.

Die kerk se aanddienste, wat lank reeds afgeskaf is weens min belangstelling, kan weer herleef deur die gemeente aan te moedig om die tydskrif (nou met sy opbouende, gehalte inhoud) deur die dag te lees in plaas van die dekadente Sondagkoerant met al sy geweld, misdaad en skinderstories. Die aand moet die gemeente dan hulle Loslywe kerk toe bring waar `n bespreking van Dominee se artikel sal plaasvind.

Die nuwe, Christelike Loslyf kan ook loshand die beste manier wees om aan die jong mense gehalte seksvoorligting te gee gedurende die aanddiens. Ek is seker die nuwe redaktrise sal met graagte gehalte Loslyf video’s as hulpmiddel en ter demonstrasie, aan die Dominee voorsien (te koop na die diens met 10% van die opbrengs as kommissie aan die kerk natuurlik.)

Ek hou van hierdie meisie. Dis `n dame met ambisie, met visie. Ek dink ek moet my as konsultant by haar gaan aanmeld. Ek het nog `n paar idees wat ek met haar wil deel, streng Christelik natuurlik. Dink byvoorbeeld aan die eeue oue tradisie van tempelprostitusie. Dit sal die manne (en hulle geld) weer in hulle duisende terug kry in die kerk. Dink swepe en sambokke en boeie, natuurlik suiwer as instrumente van boetedoening vir sondes, en om te ly vir jou geloof. (nog 10% van verkope aan die kerk)

Ernstig nou. Die vraag is, kan jy, as godsdiens jou erns is, die redakteur van `n eksplisiete sekstydskrif wees? Ek vra, want ek is biekie dom met die een.

Read Full Post »

Dankie Vriend

‘n Goeie vriend (van ‘n vriend?) verwys my vriendelik na die volgende Web Werf: www.religiousconsultation.org/loy
Dankie aan die vriend. Inderdaad is dit ‘n interessante storie. Ek dink Karel Marx se tone krul van lekkerkry daar waar hy is. Ek kan hom al hoor sê; “Ek het julle mos gesê, ek het julle mos gesê!”
En dit is so. Hy het lank gelede al vertel van die uitbuiting van die proletariaat deur die besitters van produksiemiddele. Hy het verkeerdelik geglo dat die gepeupel (of dan “human rubble” soos hy hulle later in sy ontnugtering self genoem het), die besitters van hulle besittings sou kon ontneem en so hemel op aarde bewerkstellig. Maar Kareltjie het nie rekening gehou met die mag van magtige advertensiebedryf en die dryfveer van die inherente brandende begeerte van die mens nie.
Hy het ook gewaarsku van Godsdiens as die opium van die volk sonder dat hy kon raai dat die kerk uiteindelik so totaal sou uitverkoop aan die idee van kapitalisme en die drang om die mooi goeters wat die mark bied te wil/moet hê nie. (meer…)

Read Full Post »

Priesters van Swaap

Kort voor lank in die vorentoegelde was daar ‘n wêreld wat so nêfens ons harte kom wou lê. Swapoeria kon dit is, oorheers deur medelywe van die Priesters van Swaap.

Een Swaap verklaar homself Priester van Hoofgeestes. Gesêg sou hy dat ‘n Groot Sonde voor hom beduie wou is: gemeensprek deurstond tot vergane siele. Sohandige kom sit sal breedelik erkenning vind in opheffing tot die laagste vlak van verval.

Tweede Swaap verklaar homself Priester van Verwyntheit. Gesêg sou hy dat ‘n Groot Deug voor hom beduie wou is: Saamdrinklikheid oorstort wederwys hiergeestigheid nagtesaam vergane siele. Sodrinkend slingerdyk skeefkyk wals hiergeeste en daargeeste ‘n gemeenskap van apartheid en angswagting.

Die gemeenskaplike eienskappe tussen die twee swape is:

1. ‘n geloof in hulle eie idees wat groter is as hulle geloof in die god wat hulle as bemarkingsfoefie gebruik.
2. ‘n vaardigheid met woorde (en klei gebaartjies) waardeur hulle ander mense om die bos lei.
3. die ongelooflike klomp snert wat hulle in die proses kwytraak.

Read Full Post »

Nagmaal met Gees

Het nou Sondag ‘n heel interessante ding beleef, sommer so half terloops en per ongeluk.
Gaan besoek ‘n vriendin van Ma wat ‘n erge operasie ondergaan het. Siek en seer in die kooi. Kon nie Kerk toe gaan nie.
Ons het pas daar aangekom toe ‘n man van hulle kerk en sy gesin ook daar aankom. ‘n Aspirant prediker lyk dit my. ‘n Een of ander Apostel noem hy homself.
Kuier nog heel gemoedelik toe hy homself staanmaak langes die bed, sy prediker gesig opsit en begin vertel waaroor die regte prediker van die gemeente se preek die oggend gehandel het, net sodat die vriendin op hoogte kan wees en, lyk dit my, om sommer so bietjie oefening te kry.
En ‘n vreemde preek was dit. Die diens is spesiaal gehou sodat die afgestorwe siele van die gemeente saam met hulle, die lewendes, nagmaal kan hou. Dit word glo 3 maal per jaar gedoen en telkens is die Kerk tot boordens toe vol van die lewendes. Niemand weet hoeveel en of die dooies hulle opwagting maak nie.
Het vir Ma ges^e volgende keer gaan ons kyk. Sy kan ten minste s^e of daar ‘n geestigheid om die nagmaaltafel te bespeur is. Mens moet tog weet of al jou moeite nie tevergeefs is nie.
Vreemd, heel vreemd maar nog is’t het einde niet.
Die Profeet vertel van hoe dit aan die anderkant daar uitsien. Daar heers glo streng apartheid. Al die siele van een aard gaan na een plek toe maar nie soos in Hemel of Hel nie. Dis ‘n plek van afwagting vir die groot opstanding. ‘n Kind wat sonder liefde grootword en vermoor word gaan bv. na ‘n plek waar daar geen liefde is nie. ‘n Alkoholis se siel word opge-eis deur die gees van dranksug en so elke ander verlawing of vergryp. Jou siel was in diens van en bly nou steeds in diens van daardie gees tot die dag van afrekening.
Geen oorloop of selfs kommunikasie word toegelaat tussen die afdelings nie. ‘n Groot slag vir ons Parlementslede wat gewoond is om te swerf waar dit vir hulle die voordeligste is.
Nou het ek ‘n hengse probleem en ek hoop iemand kan lig werp op die storie.
Verduidelik vir my hoe werk dit.
Vir eers mag ons nie met die mense aan die anderkant praat nie want dit is ‘n sonde, maar jy mag saam met hulle nagmaal gebruik. Ons is self terstond nagmaal bedien daar om die siekbed.
Ek sukkel met hierdie interpretasie en belewing van Godsdiens. Iets maak nie vir my sin nie.
Kan iemand verduidelik?

Read Full Post »

Jesus Today

Jesus Today ( a spirituality of radical freedom) deur Ds/Vader/Pastoor Albert Nolan gelees.
‘n tipiese ou predikant wat so ingenome is met sy Sondag prekies dat hy terstond besluit het dit moet vir die nageslag bewaar word.
Die selfde ou storie: Wees dankbaar, selfs al kak ‘n vliegende koei op jou kop. Op jou knie’e al die dae van jou lewe al skiet ‘n rower jou in die maag en verkrag jou vrou voor jou. Soek en vind die lewens les in die ou klein ontberingkie en wees dan eers dankbaar vir ‘n lessie geleer. Shit.
En dan het hy ook gehoor dat die ego ‘n bose ding is om te h^e. Raak onmiddelik ontslae daarvan ter wille van jou siel. Dit is die ego wat die Westerse siel hel toe sleep. Well ja, dan is dit seker nie een van die baie goed wat God vir ons gegee het nie. Nog iets waaroor hy geen beheer het nie.
En rykdom. Die rykes moet terstond al hulle geld vir die armes gee dan sal die w^ereld ‘n beter plek wees, eintlik ‘n paradys. Geen insig dat ‘n kultuur van materialisme eers afgeleer moet word nie. Geen insig dat, as ons almal arm is, dit nie die lewe beter gaan maak nie. Dit hamer net daarop dat dit die rykes se skuld is dat die armes so swaar kry.
Afrila het vir ons bewys dat tegnologie nie juis gedy waar armoede die norm is nie. Tegnologie kan ons sekerlik nie in die hemel kry nie maar dit kan ons op Mars kry. Vooruitgang, dis wat dit meebring en sonder geld kan dit nie.
En is vooruitgang op materiele gebied noodsaaklik vir die siel?
Dit bring nuwe ondervinding, nuwe belewenisse, nuwe uitdagings. As God dit nie wou nie sou hy by die dinosaurusse gebly het, dit was soveel makliker, maar soooo f…..kn vervelig. Vreet, seks en doodmaak. Dit verskil nie veel van wat nou aan die gang is nie, maar dit gee ons gewete hel en voorsien dominees van ‘n beskeie huisie by die see en ‘n Merc in die garage. En ek dink dit gee God eindelose plesier.
In deel 3 van die boek kry mens amper hoop vir die arme man. Dit lyk of hy ‘n paar new age boeke te lese gekry het. Nou is alles een en God is nie meer ‘n ou man met ‘n baard wat iewers sit en vir ons almal koekeloer nie. God is nou die onnoembare, die onkenbare ens.
Maar dan kom hy weer met die Liefde. God is Liefde, hy is onse Vader in die Hemel, hy is op laas weer ‘n persoon met voorkeure en afkeure, hy haat en het lief, hy vergeld en veroordeel.
Ek dink hy verstaan sy new age boeke nie so mooi nie, en dan help dit natuurlik met die verkope van sy boek as hy Apartheid ook kan bysleep in sy betoog. Dit maak tog ‘n paar sente vir die dominee?
Ek vind dat die “Odd Thomas” boeke meer pitkos vir die siel het as die dominee wat so egotisties besield is met sy eie preke.

Read Full Post »