Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Vakansie’

Eerste stop; Colesberg.

Ons ry Sondag 22 Oktober hier weg uit Sodom om `n paar dae te gaan ontspan by die see. Ons ry vroeg want die pad is lank en oumense kan nie meer so vêr ry op een dag nie (aldus die kinders!), dus mik ons vir Colesberg wat min of meer halfpad na Mosselbaai is, om daar te oornag.

Dit is Oktobermaand, veronderstel om die mooiste, mooiste maand te wees, maar die Vrystaat is nog getooi in sy winter gewaad. Dit is droog, die veld is wintergeel dood. Teen twaalf uur is daar beloftes van reën, maar dit bly net dit, beloftes aan n droë landskap.

Die roetebeplanner het hom misgis met die afstand en ons kom te vroeg in Colesberg aan. Die oumense kon inderdaad nog meer as twee uur se ry ingesit het sonder om iets oor te kom. Teen 12 uur mag jy nog nie in jou kamer intrek nie, jy moet wag tot na 2, dus ry ons eers n draai deur die dorp om te kyk hoe die plek lyk. As ons effe mistroostig was toe ons die dorpie inry met n sterk riool reuk wat ons tref met die intrapslag, bevestig die besigtigingstoer die vermoede dat die dorpie sy beste dae gesien het. (meer…)

Advertisements

Read Full Post »

Namib se lyf

Die harde skoonheid van klip en sand in die Namib deur Hannelie se lens

Namibian Holiday 2017

Klip, soos n oopgebreekte lyf wat wegsyfer in die sand

Namibian Holiday 2017

Blinklyf onder die genadelose son

Namibian Holiday 2017

Duin en boom en berg, en die belofte van water in n droë pan

Namibian Holiday 2017

“To live life with integrity is the thing. And the purpose of art is to support that endeavour.” Enrique Martinez Celaya

Namibian Holiday 2017

 

Namibian Holiday 2017

Namibian Holiday 2017

It is dire poverty indeed when a man is so malnourished and fatigued that he won’t stoop to pick up a penny. But if you cultivate a healthy poverty and simplicity, so that finding a penny will literally make your day, then, since the world is in fact planted in pennies, you have with your poverty bought a lifetime of days. It is that simple.” Annie Dillard

Namibian Holiday 2017

“The sacred relationship with this moment flowers when we are not asking it to be other than it is. Then the beauty blossoms” Adyashanti

Namibian Holiday 2017

Namibian Holiday 2017

“I wish to speak a word for Nature, for absolute freedom and wildness, as contrasted with a freedom and culture merely civil – to regardman as an inhabitant, or part and parcel of Nature, rather than a member of society.” Henry David Thoreau: ‘Walking’

Van tyd tot tyd moet mens n klip kry om op te sit, of n bos of n woestyn om in te gaan loop, weg van die stad se geraas, sodat jy weer mens kan word.

Read Full Post »

Kolmanskop

Die tentbewoners trek verder deur die woestyn. Hulle kla dat die paaie onbegaanbaar is en hulle 4×4 voertuie uitmekaar skud. Die Jeep Rubicon kry veral swaar.

Deur Ais-Ais, Riemvasmaak, Sesriem (Wonder waarom was die voorgeslag so gepla met rieme?), mik hulle vir Luderitz en natuurlik die beroemde Kolmanskop/ Kolmannskuppe/Coleman’s Hill.

Namibian Holiday 2017

Eens n vooruitstrewende myndorp met eie kragstasie, kegelbaan, operahuis, hospitaal en swembad ... maar geen vars drinkwater nie. Nou n vervalle monument bewoon deur spoke en sand.

Namibian Holiday 2017

Onder Duitse bestuur was bykans alles gratis vir die mynwerkers, van gratis ys tot gratis huise, elektrisiteit, gratis mediese behandeling in n moderne hospitaal tot vervoer met n tein van hulle huise af tot by die winkel.

Namibian Holiday 2017

Mens kan jou skaars voorstel dat mense hier gebly het, kinders hier skool gegaan het, Paasfees en Kersfees groot gevier is en daar soms deurnag gedans en ge-“party” is, ten spyte van al die sand.

Namibian Holiday 2017

Teen hierdie trappe het kinders gespeel en ellegante dames met lang rokke op en af geloop, skaars sestig jaar gelede vir die laaste maal. Nou is dit net die sand en wind en n spook of twee wat nog daar speel.

Read Full Post »

Hannelie en vriende kamp saam deur die Namib

Namibian Holiday 2017

Hulle begin Suid  en verken Ais-Ais, Riemvasmaak, Sesriem en Luderitz. Land van klip en sand, en helder skoon water.

Namibian Holiday 2017

Langs die pad loop hulle hierdie verliefde paartjie Trolle raak, karakters so reg uit Pratchett se Discworld uit.

Namibian Holiday 2017

Terwyl die son sak oor die Namib

Namibian Holiday 2017

Die klipharde en wonderskone Namib

Namibian Holiday 2017

Read Full Post »

005

Toe gaan maak ons n vinnige draai in Clarens ... in die goeie ou Vrystaat, nie Switserland nie. Daar was wolke in die lug bo die dorp met die aantog om elf minute oor twaalf, Woensdagoggend 1 Februarie 2017.016

Die dorpie het, soos meeste klein dorpies, n heel interessante geskiedenis. Die dorp is gestig in 1912, die selfde jaar wat die Titanic hom teen n ysberg vasloop en sink. Iemand bekyk n berg aan die rand van die dorp en besluit dit lyk vir hom baie na die sinkende skip en die berg word terstond “Die Titanic” gedoop. En so word die skilderagtige dorpie onwetend permanent verbind aan verganklikheid, want die naam Clarens is gekies weens die verbintenis van die omgewing met oud president Paul Kruger wat in ballingskap in Clarens in Switserland tot sy einde gekom het nadat sy Republiek hom ook teen n Ysberg vasgeloop en gesink het.

Teen 14.34 die middag dreig die wolke steeds op die horison van die Maluti berg se kant af.

021

Dit was moontlik op so n dag in hierdie omgewing dat die moord op vyf ZA burgers gepleeg is en wat Paul Kruger destyds genoop het om oorlog teen die Basoetos te verklaar. Kruger en sy burgers gaan vermoor op hulle beurt n klomp Basoetos en wen die oorlog. n Monument ter ere van die 5 vermoorde burgers staan op die dorpsplein. Daar is geen monument vir die vermoorde Basoetos nie. (meer…)

Read Full Post »

Kuier ons toe weer langs ons geliefde Weskus af. Vlieg tot in George en boek in by die oer-oue King George die hoeveelste se Hotel. Blits van daar af tot tussen die volstruise met ons gehuurde Sparky, en van daar af al met die kus langs tot in Montagu om by ons goeie vriende uit kaalvoet kinderdae in die goeie ou Wes Transvaal, te gaan kuier. Die Boerklonge het tussen die wynlande kom aftree. `n Baie slim plan, sou ek dink … as die man nou net `n wyndrinker was, maar nou is hulle nie nie een wyndrinkers van formaat nie. Dan wonder mens wat maak die twee Vaalpense tussen die wingerde?

106Foto: Uitsig na die westekant vanaf Hennie en Magdaleen se voordeur waar die stompe van pas vermoorde bloekombome nog sigbaar is. Daar gaan `n nuwe huis gebou word, sê die Engelse moordenaar van bome vir ons.

So gepraat van Engelsman; die dorp self is venoem na John Montagu, Sekretaris van die Kaapse Kolonie vanaf 1843. Hy was skynbaar `n baie intense man wat sy pligte, wat dit ook al mog wees, baie ernstig opgeneem het. As beroepsoldaat veg hy “for King and Country” by Waterloo. Later in sy loopbaan sit hy gevegte voort in Tasmania waar hy as sekretaris aangestel was. Hy veg met sy baas en word uit sy pos ontslaan. Later word hy Kaap toe gestuur, vind uit dat belastings erg agterstallig is en begin dit onverbiddelik in te vorder, ook van die armstes onder die armes, wat hom natuurlik nie die gewildste man in die Kaap gemaak het nie.

In 1851 kry die dorp “Agter Kogman’s Kloof” amptelike status en word herdoop tot Montagu. Dit was maar `n klein, agterlike ou dorpie op die plaas Uitvlugt (dit is steeds klein, maar nie meer agterlik nie), en Sekretaris Montagu was moontlik `n meer ambisieuse soort van man wat van meer as klein dorpies en bergpasse wat sy naam dra gedroom het, mens weet nie.

Ons eie kaalkop Nataniël sê huil is een van sy stokperdjies. Dis die ding wat keer dat hy nie die kluts kwytraak nie. Mens vermoed dat Sekretaris Montagu nie van die huilerige soort mans was nie, inteendeel. Dit is dan dalk ook die rede waarom hy wel die kluts kwyt geraak het, `n senu ineenstorting beleef het, en terug is Engeland toe. Hy het nooit herstel het van sy siekte nie, en in 1853 is hy as brandarm man oorlede. (As hy nou Prez Montagu was sou hy sekerlik van daardie belasting geld wat hy so ywerig ingesamel het, iewers in `n Switserse of Arabiese bankrekening gaan versteek het!)

Maar ons dwaal nou af, ons vriende wag vir ons met groot bekers koffie by hulle nuwe huis. Jare se gesels lê en wag om gesels te word daar tussen die berge. (meer…)

Read Full Post »

Nou dat vriend en vyand sy tasse gepak het vir die vakansie by die see of waar ook al (en die meeste weer lewendig terug is by die huis), dink ek aan die kere dat ons opgewonde meegedoen het aan die malle gejaag af see toe om te gaan ontspan.

Maar by hierdie huis is daar nooit holderstebolder goed in tasse gegooi, tasse in die kar gegooi en met spoed die pad gevat nie, nee, die ding is altyd deeglik beplan. Sien, die man werk met lysies. Daar is ´n lysie vir dit wat moét saamgaan (klere, onderklere, medisyne, padkos, beursies, kredietkaarte, swemklere, pa se drinkgoed ens.). Daar is ´n lysie vir dit wat kán saamgaan (juweliersware , strandsambrele, strandstoele, opblaasbare swemgoed, strand speelgoed en Pa se drinkgoed) en daar is ´n lysie vir-dit-wat-lekker-sal-wees-om-saam-te-vat-as-daar-nog-plek-oor-is na Ma haar klerekas, negosiekas, badkamerkas en spieëltafel se inhoud alles ingepak het. Die streep is gewoonlik getrek by die wasmasjien, tuimeldroër en vrieskas wat sy opsluit ook wou saam vat, (daar is mos nog plek in die Ventertjie!)

Dan is daar ´n lysie van dinge wat gedoen moet word deur ons voor ons die huis verlaat na ons die kar gepak het (maak deure toe en sluit, maak blaas leeg, haal proppe uit wasbakke en baddens, sit stoof, geyser en ketel af, maak blaas leeg, maak vensters toe, sit kos en water uit vir diere, maak blaas leeg, aktiveer die alarm, ens.) en ´n lysie van dinge om te doen vir die persoon wat die huis en diere gaan versorg na ons die huis verlaat het.

Vooraf word die buurman wat na die huis en diere gaan omsien goed gedril in die uitvoer van sy pligte. Hy moet leer hoe om die alarm te de-aktiveer as hy die huis binne gaan, en te aktiveer as hy die huis verlaat. Hy moet die wagwoord ken vir ingeval die alarm per ongeluk afgaan en die sekuriteitsfirma bel om te hoor wat aangaan sodat hulle hom nie misgis vir ´n inbreker en hom doodskiet nie. Hy moet die sleutelnommers vir voordeur, agterdeur, veiligheidshek by die voordeur, agterdeur en voorhek ken en weet waar die diere se kos is en hoeveel elkeen moet kry.

En dan vertrek ons dou voor dag. Almal wat nie bestuur nie probeer slaap … vir so tien minute, dan sê Ma: ‘Ek ek dink ek het my tas met grimering by die huis vergeet.’

‘Nee wat Ma,” sê ek opgewek, “ek is seker dit is ingepak, en as dit nie is nie koop ons vir jou nuwe war paint by die see. Moet nie worry nie.” Ons is in vakansie stemming, niks gaan die vreugde demp nie, en toe mis ek die afdraai na die snelweg. Dis nog donker, daar is min verkeer op die pad. Die eerste omdraai geleentheid is ´n hele paar kilometer verder, en net daar draai ek teen die eenrigting verkeer om terug snelweg toe.

Ma en die kinders gil beangs en die karre wat van voor af kom flikker hulle ligte en blaas die toeters. In die donker sien ek ´n paar obsene vingertekens en gebalde vuiste by vensters uitpeul. Gelukkig is die afdraai net sowat ´n honderd meter ver en voor my vrou my ´n tweede klap teen die kop kan gee is ons weer op koers see toe.

Na omtrent vyf minute van doodse stilte sê my vrou versigtig: ‘Ek wonder of ek die stoof afgesit het. Het jy dit afgesit?’ Ek ignoreer die een, maar diep plooie maak nou hulle verskyning op my voorkop en die temperatuur binne die kar begin erg styg, kompleet asof iemand die linker voorste plaat van ´n stoof aan vergeet het. Ek staar stip na die teerpad voor my. Ek mik gedetermineerd Suid, see toe.

Die kritieke oomblik breek aan as sy vra: ‘Het jy die agterdeur gesluit na die honde hulle laaste draai geloop het?’

Nee ek het nie!’ sê ek ongeduldig. ‘Dit is jou werk.’

‘Nee dit is jou werk, die lysie sê so,’ kap sy terug, en ons draai terug huis toe by die eerste afrit, nie weer stroom op soos flus nie. Ek het my les geleer. My ore sing nog van daardie klap teen die kop.

Skielik daal die temperatuur in die kar tot net duskant zero. Ons ry in ysige stilte en met ´n gekners van tande terug huis toe. Ook maar goed, want by die huis heers daar chaos. Buurman het gaan kyk of alles reg is soos ons hom gevra het om te doen, behalwe dat ons hom gevra het om laat middag te gaan kyk. Ons vind hom onder beleg van gewapende sekuriteits mense, die buurtwag, ´n drone wat oor die gevegstoneel hang en ´n verdwaalde polisieman. Buurman is onder verdenking dat hy ´n inbreker is. Hy staan binne ons huis en loer deur die venster terwyl hy obseniteite vir die aansienlike skare in die straat skreeu. Die alarm skreeu oorverdowend. Net om die wanorde mooi kakofoniese af te rond daag daar ´n ambulans met loeiende sirene ook by die toneel op.

Die skare groei onrusbarend aan en raak oproerig. Die polisieman praat met Buurman oor sy megafoon en raai hom aan om hom oor te gee. Buurman gee hom die middelvinger. Ma beur verwoed deur die skare om met Poliesman te gaan praat en word terstond in hegtenis geneem vir dwarsboming van die gereg.

Na ons almal gekalmeer het, wapens neergelê is en die honde wat histeries blaf en buurman sowel as die wagte knaend aan die skeen byt tot bedaring gebring is, verneem ons dat Buurman die huis oop gesluit het maar die kode vir die alarm vergeet het. Hy het ook die papier met instruksies, wagwoorde en kodes by die huis vergeet. Buurman is erg die moer in oor die kabaal wat opgeskop word net omdat hy sy werk doen.

Koffie word bedien en beskuit uitgedeel om vrede te herstel. Die skare gaan teleurgesteld uitmekaar. Hulle wou bloed sien vloei. Buurman word weer geduldig stap vir stap deur die roetine van oopsluit en toesluit geneem, die buurtwag en sekuriteitsmense gerus gestel dat alles nou onder beheer is en gaan bly, en toe vertrek ons weer na ons bestemming by die see.

Van daar af het alles min of meer goed afgeloop, dis nou behalwe dat Buurman elke dag die alarm laat afgaan het en die wagte ons elke keer gebel het om uit te vind wat aan die gang is. Daar was egter nie weer ´n gewapende konfrontasie nie inteendeel, toe ons weer by die huis kom was ons koffie en beskuit op, my drankkabinet was omtrent leeg en al die skaaptjops was weg. Buurman en die buurtwag het dit duidelik hulle plig geag om baie goed na ons huis om te sien. In die oggend is koffie gedrink op die voorstoep, en laatmiddag is daar vleis gebraai langs die swembad. Die veiligheid van huis en haard was gewaarborg.

By die see het dinge klopdisselboom gegaan. Klein dingetjies soos bloublasies om die kinders se arms en bene, die voedselvergiftiging wat Ma opgedoen het van vrot samoesas en die duik wat iemand in my kar gestamp en toe weggery het, het nie ons pret bederf nie. Ons het heerlik ontspan.

Die enigste groot probleem wat opgeduik het was toe ons op pad terug was huis toe na die vakansie. Ons was al naby aan die huis met nog sowat een uur se ry voor toe Ma haar asempie skerp intrek, na haar hart gryp en doodsbleek word. Ek dog sy skiet ´n koronêr, maar sy stel my gou gerus met ´n bewende stemmetjie; “Ek het my pistool onder die kopkussing vergeet … by die huis by die see.”

Ek dink dit is daar waar ek my hartprobleem opgedoen het, want dit was net ´n paar maande later dat ek my by die hospitaal onder die teaterligte bevind het met die kardioloog wat met ´n mes langs my bed staan en daarop aandring om my, ten spyte van al my protestasies, te slag soos ´n bees om my lewe te red.

Ja die pistool is herwin sonder skade, maar die ouman was nooit weer dieselfde nie. Hy mompel aanhoudend oor lysies wat moet bygewerk word, en hy weier volstrek om weer met vakansie te gaan al sê die Psigiater dat dit hom die wêreld se goed sal doen.

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: