Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Nuwe jaar’

In die Ooste werk die kalender volgens die Maan se siklusse om die Aarde, en nie soos by ons waar die Aarde se omwentelinge om die Son die jaartelling bepaal nie. Die nuwe jaar begin ook nie soos by ons elke jaar op dieselfde datum nie. By ons is 1 Januarie altyd nuwejaarsdag. In Viëtnam was nuwejaar in 2018 op 16 Februarie en hierdie jaar was dit 5 Februarie. In 2020 sal dit op 25 Januarie nuwejaarsdag wees.

Vir ons as Euro-Afrikane is omtrent alles vreemd hier in die Ooste, van kos tot kleredrag en basies alles omtrent hulle kultuur. Gelukkig was die aanpassing die keer nie so erg vir ons nie omdat ons vir baie jare in China gebly het.

  

Ek en Johan by hierdie vreemde, vriendelike mense.

Maar terug by nuwe jaar, by hulle bekend as Tét Nguyen Dan wat beteken ‘fees van die heel eerste more’ of dan ook lentefees, want die nuwe jaar begin met die aanvang van die lente. Simbole wat dan ook sterk op die voorgrond tree is die van vrugbaarheid en voorspoed, en daarom is die gee van geskenke van vrugtebome soos Kumkwat, lemoen, perskeblom en pomelos baie gewild.

Kulturele gebruike rondom die nuwe jaar is in misterie gehul en mitologies geïnspireer. Rooi en geel kleure is prominent omdat dit geluk sou bring en daarom word rooi en geel klere gedra en baie rooi en geel vlae en versierings (soos ons kersversierings) is oral te sien.

Dit is ook die tyd dat die mense hulle kulturele drag dra soos die kinders hier bo. Hulle kleredrag is tipies Oosters met die mooiste tabberts in helder kleure. Ook mans dra tabberts byna net soos die van vrouens, en somtyds selfs mooier as die van die vrouens. Soos gewoonlik is die ryk mense se klere baie mooier as die van die werkersklas met baie meer juwele en ander versiersels.

  

Die tuine word pragtig versier met ruikers wat soos kunswerke lyk.

  

          

Nog n vreemde ding vir ons Westerlinge (maar tog ook nie heeltemal vreemd vir ons uit Afrika nie) is die gebruik om offers te bring aan die voorvaders en die gode. Papier beelde en ander papier voorwerpe word op straat verbrand deur oud en jonk om te verseker dat die nuwe jaar op goeie voet met die onsigbares ingegaan word.

 

Daar word geglo dat die kombuisgode op 23 Desember hemel toe gaan om aan die Jade Emperor verslag te gaan doen oor elke gesin se doen en late deur die loop van die afgelope jaar, en daarom word die kombuis altar oorlaai met eet en drinkgoed vir die gode se reis na bowe. n Goed gevoerde boodskapper verseker dalk n goeie verslag daar bo!

Daar is baie voorskrifte vir wat jy moet en nie moet doen om te verseker dat die nuwe jaar voorspoedig sal wees. Op nuwejaarsdag moet jy byvoorbeeld heel eerste die belangrikste mense wat jy ken nooi om by jou te kom kuier. Op die tweede dag moet die gesin bymekaar wees en op die derde dag ander familie. As iemand in jou gesin onlangs oorlede is mag jy by niemand gaan kuier in hierdie tyd nie want jy sal vir ander mense groot teenspoed bring.

Op die dag van Tét word klappers geskiet, toeters geblaas en fees gevier. Dit is omtrent die enigste tyd dat die mense ernstig alkohol drink, vir ons buitelanders wat nie aan hulle drank gewoond is nie, is dit baie slegte drank. Goeie ingevoerde wyn is te koop, maar teen n stywe prys.

Die tradisionele en die moderne. Almal ewe seksie met hulle skoolmeisie lyfies.

Dit was n heerlike, nat dag. Vir ons van buite af baie vreemd maar opwindend. Ons geniet elke dag, en leer elke dag nuwe dinge hier in die vreemde.

Volgende keer meer oor vervoer, kos en die mense se gebruike en leefstyl.

En dan is daar natuurlik altyd Afrika en sy vreemde gebruike wat ons nooit sal vergeet nie. Sy is in ons bloed en in ons gene.

Advertisements

Read Full Post »

Na die reën/After the rain

Gister se fotos na die reën

En vanoggend is dit heelik nat en koel. n Goeie manier om die ou jaar, (wat baie snoep was met sy reën) mee uit te gaan en te hoop die nuwe een gaan hom beter gedra in alle opsigte, maar veral in die departement van waterwerke.

Voorspoed vir almal wat hier lees. Mag dit met julle goed gaan in 2018.

Read Full Post »

Aarde 1

Die nuwe jaar storm reeds voort op sy dolle vaart. In Duitsland, soos op alle ander plekke in die wêreld is fees gevier op oujaarsaand. Daar is gekuier, gedrink, gefuif, gefornikeer, vuis geslaan dat die bloed spat. En veral gehoop dat die nuwe jaar beter sou wees.

In Irak en Afganistan het selfmoordbommers honderde mense saam met hulle hel toe geblaas, en op Mooinooi sit mense met hulle gewere en pistole oorgehaal langs hulle en wag op die nuwe jaar, en hoop dat dit op `n manier beter sal wees, terwyl ‘n jong man teen n boom vas ry en deur woedende bye doodgesteek word.

Trebbe Johnson skryf oor `n naweek se wegbreek die woude in. Hulle het beplan vir `n rustige naweek in die natuur … toe vind hulle dat houtkappers voor hulle in die bos was en alle bome voor die voet gestroop het. Sy skryf dat, so ver as die oog kan sien: “Rounds of massive trunks supply the only focal point for the eyes, while a tangle of ripped branches and limbs fills every conceivable space between them. All the way to the horizons the land has faded to gray. The place is not only dead, but mutilated.”

Die oujaar het ons afgelê en feestelik uitgesien na die nuwejaar, en soos Johnson ontdek ons, na ons ons roes afgeslaap het, dat die nuwe jaar reeds soos die ou jaar agter ons, grys en dood voor ons lê, vermink, bebloed.

Ons reaksie op die TV beelde van opstand en geweld, van moord en verkragting is dieselfde as wat Johnson beskryf toe die beelde van BP se Golf van Mexico olieboor tragedie die nuusberigte begin oorstroom. Wat ons sien is; “a brown pelican struggling to raise heavy wings drenched in oil; a pod of dolphins plowing through viscous pink and blue ribbons of petroleum, expelling oil through their blowholes; a gull peering out through a thick chocolaty confection, the eye within obviously belonging to a creature who was barely alive and not likely to endure much longer.”

“Our immediate reaction was to make the whole situation go away: turn the channel, turn the page, click to a different page of the internet. In the weeks following the spill, however, I began to wonder whether relief might lie not in looking away, but in deliberately turning our attention to those suffering creatures.”

Maar ons bly kyk, ons moet kyk, en net soms kan ons soos Johson diep en lank genoeg kyk om verby die afgryslike, walglike werkliheid te kom waar deernis en meelewendheid van ons besit neem. Daar waar ons nie oordeel nie, nie soek na `n sondebok nie, nie planne beraam om wraak te neem of te “fix” wat gebreek is nie. Ons aanvaar en; “by committing to the gaze, became both part of the predicament and part of life’s tenacious drive to hold on as long and fiercely as possible.”

Ons wens dat die nuwe jaar beter sal wees. Maar as dit nie is nie, beur ons voort. “You don’t abandon a friend when he gets sick. You go to his bedside, hold his hand, and accept what has befallen him,”. Die nuwe jaar sal nie wees wat ons wil hê dit moet wees nie. Hier te lande sal ons steeds met gelaaide wapens aan ons sy slaap. In die Midde Ooste sal mense by die duisende vermoor word. In Duitsland sal manne mekaar steeds bloedbek donder. Natuurrampe sal onder ons maai, maar ons kan nie ons rug op hom draai nie en uiteindelik sal ons deur al die elende sien; “They infuse us with amazement for a world bigger and more mysterious than the human, and they remind us that we, too, are part of that mystery.”

En aan die einde van hierdie jaar van onse Liewe Heer 2014, hou ons weer fees, drink ons, fornikeer ons, bid ons en donder ons die bloue hel uit mekaar uit, want dit is soos dit is, soos die lewe is en was van alle tye af.

Voorspoedige nuwe jaar aan almal daar buite hier uit Kempton Park uit.

Read Full Post »

Kalahari dot com

Die jaar begin heel prettig. Moet die 13 van die 2013 wees wat dit veroorsaak.

Bestel toe mos vir my `n e-reader van Kalahari af. Dit was op die 1ste Desember 2012 al. Op 15 Desember laat weet hulle dit gaan afgelewer word op die eerste werkdag na hierdie kennisgewing. Dit sou dus Dinsdag wees, aangesien die Maandag `n vakansiedag was. Dinsdag heel dag sit ons opgewonde en wag vir die koerier. Laatmiddag bel ons Kaap toe en vra waar is die pakkie, gaan julle dit nog vandag aflewer?

Hulle belowe dit sal afgelewer word al is dit laatnag, dit kom.

Ons wag, maar niks gebeur nie. Bel Woensdag weer, word belowe dit kom. Ons sê los, ons gaan eers vakansie hou. Sal bel as ons terug is dan probeer julle weer.

Kom terug van vakansie af. Bel Kaap toe en moet hoor hulle weet nie waarvan ons praat nie. Later laat weet hulle sorry, die pakkie is weg. Net so, weg!! Ma skel hulle tot in die Dooie See, sê sy gaan koerante toe. Ek skryf vir Hellopeter en vertel die storie. Toe bel Kalahari en sê hulle het ons geld terug betaal, dis in die rekening inbetaal, jammer vir die ongerief. Hulle reageer op HelloPeter en sê jammer.

En nou Maandag bel hulle sowaar en sê hulle het die pakkie opgespoor, hulle sal dit nog dieselfde dag aflewer ons moet net goou weer die geld in hulle rekening inbetaal! Intussen is dit nou al drie dae na hulle die geld in ons rekening inbetaal het en daar wys nog niks op ons bankstaat nie.

Nodeloos om te sê, maar die aflewering het ook nie gister gebeur soos belowe nie.

Kalahari is `n tragies onbevoegde lot. Op HelloPeter is daar meer as 500 klagtes teen hulle. Gaan kyk en word wys, en dink mooi voor jy iets van hulle af bestel.

Maar die 13 woeker ook op ander fronte.

Met die tuiskoms van die see af beland Ma by die by die dokter met wat lyk na `n hartaanval. Bloedtoetse wys toe nie hartprobleme nie maar moontlike diep aar trombose. X-straal en flikkergram van die longe wys niks. Nou is sy beter, maar ons weet steeds nie wat sy makeer nie.

Toe Hannelie 12 uur die nag by haar woonstel kom, bars `n geyser bo die spaarkamer se dak en oorstroom die woonstel.

2013, die jaar van die Groot Slang, gaan `n bliksem wees, so lyk dit. Die moontlikheid is natuurlik dat dit sleg begin en dan net al beter word? Nie met my geluk nie.

 

 

Read Full Post »

Eerste Dag. Laaste Jaar.

En nou is dit, of was dit die eerste dag van die laaste jaar vir altyd en ewig, amen.

Hierdie eerste dag het ons by die Lion King en sy maters gaan deurbring. lees die boek van Kobie Kruger “All things wild and wonderful” oor hulle wedervaringe met die grootmaak van `n klein leeutjie, en dit inspireer ons om die katte te gaan opsoek en nader kennis te maak.

 

Die ou Koning homself

Boetie kou die huis se mure van verveling.

Jy mag aan hulle vat, maar nie aan die kop of stert nie want dan byt hulle. Ek dink nie regtig so nie. Ek dink hulle sal met jou speel soos `n kat of hond met jou sal speel, net baie rowwer en dit kan wonde veroorsaak en tot eise teen die park lei.

Een van die wit maanhaar hier bo se wyfies.

Daar is wilde honde ook

en `n luiperd sonder kop

     

en toe het ons gaan eet by Garden World, en toe het hy gaan slaap want die nuwe jaar het hom uitgeput.

Read Full Post »

Krismistyd

So is dit ook nou verby. Seker een van die minder aangename Kersdae in ons ganse lewens. Genadiglik lê die volgende een twee jaar in die toekoms in. Twee jaar is `n lang tyd en baie kan van hier tot dan gebeur. Ek meen, ek kan dalk net volwasse raak van nou tot dan, of ook draai en als as negatief en lelik en sleg sien.

Hoe en hoekom sal mens van `n ander mens wat jy van g’n kant af ken sê hy/sy is so lelik soos `n voëlverskrikker, of iemand op TV driftig aanpraat as lelik/vet/dom/armgat of wat ook al?

`n Ligpuntjie was die kinders se teenwoordigheid, vlugtig maar soos gewoonlik genotvol en rustig. Eet en drink en gesels. Op die oppervlak die keer, nie weer soos gewoonlik diep filosofies- bepeinsend, korswillend vooruitskouend en terugkykend nie. En bewustelik nie naby aan godsdiens en die dinge van die gees nie.

Op Kersdag??

Ma het les opgesê, meer as gewoonlik. Iemand het op ons krismis gepis. Nou herstel ons, lek ons wonde en beur die nuwe jaar tegemoet. As die Mayas reg was, dan was die een in elke geval ons laaste een. Mens sou wou dat dit `n goeie een was.

Kan mens “mooi” ou word? Mooi soos in om van binne goedheid, sagtheid, liefde uit te straal. Mooi soos in bedagsaam, medemenslik, verdraagsaam en rustig besielend te wees.

Of is dit maar ons lot om verbitterd, selfsugtig, hardvogtig en eisend te word soos die jare aanloop?

Byvoorbeel. Iemand wat ons ken is besig om dood te gaan weens kanker. Dis Desember, dis vakansie. Nie sy Pa of broers wil kom afskeid neem nie. Bel so nou en dan om te hoor of hy nog leef. Die man droom van weer opstaan en gaan werk. Wil loop om die uitgeteerde lyf weer op te bou. Ons veg en ontken tot die bitter einde toe.

Sou dit help om “Tuesdays with Morry” vir hulle te gee om telees?

En dan is daar die (erge Christen volgens eie getuienis) wat teen die neus af praat omdat jy probeer help waar jy kan. Stuur hulle weg, sê jy kan hulle nie help nie, hulle moet hulle self help. (WWJD?????) Fok!!

Nou wroeg Ma erg, maar sal nie ophou help waar sy kan nie, ongeag stand, ongeag geloof, ongeag kleur, ouderdom of wat ook al. Selfs al is die wat moet gehelp word hardkoppig, of dom of te slim vir hulle eie gesondheid.

Nuwe jaar lê twee dae weg. Ons sal dit rustig en alleen vier. Ons sal wat verby is agter ons sit, dalk met behulp van Prozac of `n paar glase Rooi en dalk die jaar ernstig aan die siel begin werk. Mens mag nie toelaat dat jy sõ oud word nie, nee magtig man! Jy moet die kinders en die honde se gevoelens ook mos in ag neem.

 

 

Read Full Post »

Nuwe Djaar!!

     

So wat het verander?

    

Read Full Post »

%d bloggers like this: