Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘geskiedenis’

Eerste stop; Colesberg.

Ons ry Sondag 22 Oktober hier weg uit Sodom om `n paar dae te gaan ontspan by die see. Ons ry vroeg want die pad is lank en oumense kan nie meer so vêr ry op een dag nie (aldus die kinders!), dus mik ons vir Colesberg wat min of meer halfpad na Mosselbaai is, om daar te oornag.

Dit is Oktobermaand, veronderstel om die mooiste, mooiste maand te wees, maar die Vrystaat is nog getooi in sy winter gewaad. Dit is droog, die veld is wintergeel dood. Teen twaalf uur is daar beloftes van reën, maar dit bly net dit, beloftes aan n droë landskap.

Die roetebeplanner het hom misgis met die afstand en ons kom te vroeg in Colesberg aan. Die oumense kon inderdaad nog meer as twee uur se ry ingesit het sonder om iets oor te kom. Teen 12 uur mag jy nog nie in jou kamer intrek nie, jy moet wag tot na 2, dus ry ons eers n draai deur die dorp om te kyk hoe die plek lyk. As ons effe mistroostig was toe ons die dorpie inry met n sterk riool reuk wat ons tref met die intrapslag, bevestig die besigtigingstoer die vermoede dat die dorpie sy beste dae gesien het. (meer…)

Advertisements

Read Full Post »

`n Wyse ou man

Hy het sy lewe lank getrou gewerk. Op sestig was hy moeg en het afgetree. Hy wou vry wees, die land en sy mense sien.

Vir sy vrou het hy gesê; ek gaan nooit weer terug na daardie werk toe nie, al moet ek pap eet vir die res van my lewe. Na `n tyd besef hy sy eet nie pap nie, sy wil poeding hê, en daar is nie genoeg geld vir sy pap en haar poeding nie. Toe gee hy sy pap op.

Sy het onbeskaamd haar poeding geëet tot die dag van haar dood. Sy het deuren-tyd galamenteer dat dit nie goed genoeg was nie. Om een of ander rede was sy geregtig op beter en meer.

Rus sy wyse siel.

Edward Munch Springtime

Skildery deur E Munch

Read Full Post »

Die Residensie van Konings.

Duitsland 2014

Dit is Woensdag die 11de Junie 2014. Vandag gaan ons kyk hoe die ou Konings hier in Munich geleef het. Dis vroeg opstaan in ons gasheer en gasvrou se gehuurde Residensie, in vergelyking met die konings se Münchner Residenz met sy 130 vertrekke en net soveel of nog meer lakeie, natuurlik erg beskeie, maar vir ons nog beter as die huis van ´n koning. Ons eet ´n koningklike ontbyt en spring op die trem middestad toe. Die Koning sou natuurlik erg waardig en statig in sy koets geklim het (met die hulp van ´n halfdosyn lakeie), en deur die stofstrate met ´n ellelange gevolg die tog aangepak het. Moontlik eers na `n koppie tee.

Duitsland 2014  Duitsland 2014

Maar ons is nie konings nie. Ons ry trem en slaan voet op geplaveide en geteerde straat.

Duitsland 2014Die Residenz het ´n lang geskiedenis met ´n heel beskeie begin as fort. Met die aanslag teen Koning Stephen III word die bestaande fort versterk en vergroot om hom en sy jonger broers te beskerm. Soos gewoonlik moet die koning beskerm word teen aanvalle van ander konings, van ooms, anties, neefs en niggies, asook broers en susters wat almal aanspraak maak op die troon, sowel as teen die gepeupel van die stad self wat nie altyd happy was met hulle koning en wat hy alles aangevang het nie. Net soos deesdae hier by ons, wou almal by die trog met sy milde gawes van belastingbetalers se geld en die lekker lewe uitkom. (meer…)

Read Full Post »

Munich

Moeder Duitsland 2014

Ons is terug in Munich, of dan; Mϋnchen wat oorspronklik “ad Munichen” geheet het en wat in ou, hoë Germaans beteken het; by die Monnike (se plek). Franciskaanse monnike het baie lank gelede hier ´n klooster gebou, en toe het daar ´n dorp om die klooster ontstaan, en baie later ´n stad. Die huidige Frauenkirche het iets met die ou klooster te doen, ek is nie seker wat nie. Sal gaan opsoek.

Vanaf 1180 het Otto Wittelsbach as “Duke” van hier af oor Bavaria regeer. Wat toe van hom geword het weet ek nie, maar van 1255 het die Wittelsbach familie en hulle nasate oor hierdie deel van Bavaria, en later die hele herenigde Bavaria regeer tot en met 1918, wat ´n helse lang tyd is vir een familie om baas te speel oor ´n plek. Die Romeine het ook iewers ´n vinger in die paai gehad, want Louis 1V (of dan Louis the Bavarian) wat in 1314 tot Koning gekroon is, is in 1328 tot Holy Roman Emperor verklaar. Nugter weet hoe dit werk, maar daar het jy dit: Louis die heilige Romein, of so iets.

“A river runs trough it.” Ja daar loop ´n rivier deur die stad, volgens Buddhistiese beginsels seker nie dieselfde rivier wat destyds by die klooster verby gevloei het nie, maar dit dra steeds dieselfde naam: Die Isar rivier, wat ook dieselfde rivier is (of nie dieselfde rivier is nie, ons sal die Buddhiste moet vra) wat deur Satzburg loop. Ons kom later by Saltzburg uit. Vir nou is dit eers Mϋnchen.

Ryk aan geskiedenis en drama is die plek. Nou rustig, stil en beskaafd, en die duurste stad in Duitsland om in te woon, en die veiligste, en van wat ek kan sien, seker die skoonste. Maar dit was nie altyd so rustig en vreedsaam nie, want Munich staan ook bekend as die geboorteplek van Hitler se Nazi Party en is op ´n tyd die “Haupstadt der Bewegung” genoem. Dit is hier waar hy gekonkel het en in 1923 sy mislukte “Beer Hall Putsch” van stapel gestuur het. In die berge naby die stad is Hitler se blyplek “The Eagles Nest”, en natuurlik is dit die stad waar die eerste Konsentrasiekamp in 1933 in Duitsland gebou is, die berugte Dachau waarby ons ook later sal uitkom.

Dit is ook die geboortedorp van Eva Braun. Dit is hier waar sy op 17 jarige ouderdom deur die Feurher gemesmeraais, en later gespyker is. Kan daar iets goeds uit Munchen kom? (meer…)

Read Full Post »

Venisië

DSCN1847

Vreemd genoeg het ek geen aantekeninge oor Venisië gemaak na ons dit besoek het nie. Dalk was ek net te moeg. Dalk was ek nie so erg beïndruk nie? Of dalk was die probleem juis die oorlading van die sinne wat om elke hoek en draai oorval is met nog, en meer en mooier goed om te beleef.

Venisë, die stad gebou op 122 eilandjies, en op pale met ´n bevolking van presies 270,098 mense soos getel in 2009. Dit is dus nie ´n groot stad nie, en omdat alles so knap opmekaar gebou is weens die gebrek aan spasie, kan jy van een kant na die ander kant loop binne ´n paar uur. Maar dit wat alles ingeprop staan op eiland en paal is iets asemrowends.

Duitsland 2014 DSCN1790

Ons parkeer half onwettig in ´n parkeergarage naby die hawe. By die hawe heers ´n tipiese Italiaanse warboel. Niemand weet waar om tou te staan vir die busboot nie, of hoe laat dit sal aankom of vertrek nie, en ook nie waarheen dit jou gaan vat as jy eers op is nie. En soos gewoonlik is alle inligting net in Italiaans beskikbaar met geen siel in die omtrek wat kan verduidelik nie. Almal vra vir almal in gebroke Engels hoe hulle dink die sisteem werk.

Dit is moontlik waarom Venisië, tenspyte van invalle en oorloë deur die eeue, nooit werklik verower is nie. Alles is so verwarrend en oorweldigend dat die bevolking nooit kon agterkom dat die stad deur vreemdelinge verower is nie, en die veroweraars nooit seker was of hulle wel die stad verower het nie. (meer…)

Read Full Post »

Verona

Duitsland 2014

Vroegoggend van Peschiera op pad na Verona, populasie 265,368 soos getel in 2009. Ons ry deur wingerde wat strek so ver as die oog kan sien. Selfs lappies grond tussen huise en fabrieke is met wingerd beplant. Hier en daar loop ons sowaar lappies mielies raak, maar geen hoender, bok of skaap, bees of vark is in sig nie. En ook geen spaghetti lande nie! Mens kan tog nie van wyn alleen lewe nie?

Vader Duitsland 2014

Dan, verruklike Verona wat reeds in 550 VC onder beheer van die Romeine was, voor ons. Van ver af sien mens die mure van die ou stadspoorte, of dan dit wat daarvan oorgrbly het, of dan dit wat herbou is van dit wat oorgebly het na dit platgeskiet is gedurende WO2. Aan die binnekant van die mure die groot plein, die Piazza Bra met ´n pragtige tuin met magtige beeldhouwerke regs en restaurante aan die linkerkant, en natuurlik duisende toeriste.

DSCN1675DSCN1712

Ons eet en drink bier om ons self te oriënteer en om krag te kry vir die lang dag wat voorlê. Dis warm. Die kwik staan vroegdag al oor die 32 grade C. (meer…)

Read Full Post »

Vêr Paaie 2

Dinsdag Buhrmansdrif in Noord-Wes, Donderdag Paul Pietersburg noord Natal. Genade, man se lyf en siel kom nie meer bymekaar vir `n koppie tee nie.

Twaalf uur die middag vertrek ons. Ontmoet ons reisgenote en drink koffie by die Ultra City na die tolhekke naby Middelburg. Van daar swaai ons weg na Hendrina op pad na Ermelo. Die pad is goed maar nou en bevolk deur kreunende vragmotors wat teen `n slakkepas die bulte op en af stoom. Verbysteek is `n nagmerie.

Die Oos-Transvaal is die plek waar Pa en Ma gebore is en waar hulle opgegroei, geskool en getrou het. Die ou familieplaas (nou in die hande van steenkool grawende mynmagnate) lê naby Bethal. Oupa en Ouma (van beide kante) het later op Trichard gebly en is daar begrawe.

Hendrina, vernoem na die vrou van Gert Beukes op wie se plaas die dorp ontstaan het iewers rondom 1914 (1920?), was die saamkom plek vir nagmaal van boere uit die omgewing. Die eerste winkels is glo deur Libanese bedryf. Dit is ietwat vreemd aangesien meeste winkels in omliggende dorpe destyds deur Jode besit was.

Kleintyd het ons gewoonlik gedurende die winter hier by familie gekuier. Een woekerende oom van ons het `n klein plasie hier net buite die dorp besit. Die legende loop dat die oom besighede en huurhuise (let wel, huur en nie hoerhuise nie!) in die dorp besit het en dat sy vrou eers na sy dood bewus geword het van 2 slaghuise en ander eiendom wat syne was. Dit terwyl hulle op die plaas in relatiewe armoede en erge onvrede in `n bouvallige ou huisie gebly het.

Die omgewing is `n mengelmoes van mielielande, weiveld en verwoeste, omgedolwe aarde waar oopgroef steenkoolmyne soos stink swere  op `n malaatse mens se lyf die wêreld besoedel.

Ons bereik Ermelo ongeskonde (maar net deur Genade!). Indrukke na vorige vlugtige deurtogte was dat die plek heel skaflik beskaafd is met `n ongelooflike hoeveelheid baie goeie gastehuise. Hierdie keer ry ons deur `n meer ongure deel van die dorp wat jou laat onthou van berigte oor Nigeriese dwelmbase wat hier in samewerking met die Polisie bordele en dwelmfabrieke bedryf het. Strate is in `n swak toestand en winkels word swak onderhou. Nie regtig `n plek waar ek uit eie keuse sal wil dood nie.

Die dorp is in 1870 aangelê deur Dominee Frans Lion Cachet. Hy vernoem dit na  die dorp Ermelo in Nederland waar `n goeie vriend en leermeester van hom gebly het en waar hy self begeesterd/ bekeer geraak het. Dertig jaar later word die dorp gedurende die Groot (dom?) Oorlog deur die Engelse tot `n rommelhoop verwoes. Net een huis het glo staande gebly.

Die huidige aanslag van Afrikanisering teen die dorp, en alle ander plattelandse dorpe dreig om dit weer te reduseer tot rommelhoop met min of geen hoop dat dit weer soos `n Phoenix sal opstaan uit die as nie.

Ons sukkel voort na Piet Retief. Skuif bevange verby vragmotors belaai met steenkool en ander vrag. Dis snikkend warm en die aircon zoem heelpad soos `n swerm bye om ons te beskerm teen verswelging, of dalk versmelting.

Van Piet Retief weet ons almal (Dingaan en al daai tragiese stories). Van sy dobbel gewoontes en bangkrotskappe in die Kaap as rede vir sy trek die woeste binneland in, weg van skuldeisers, weet ons minder. Dat die hoofstraat in die dorp nou so vervalle is dat `n trekker met waterkar ingespan word om die stof in bedwang te hou, (komplimente van van swak ANC regering) is `n ontstellende nuwe ontdekking.

Wonder ek nou of Ungungungluvu nie dalk Dingaan se dobbelhuis was en of hy en onse Piet nie dalk vinnig `n potjie poker gaan speel het en die Piet daar met `n kaart of twee in sy mou op betrap is en daarom vermoor is nie?

Die dorp is in 1882 aangelê en iewers gedurende die Groot Oorlog in puin gelê. Dit is weer opgebou tot model “tuindorp” en verval nou weer vinnig tot model blikkiesdorp.

Te midde van `n stofwolk in die hoostraat gooi ons petrol in en koop koffie vir die dors.

Van oom Piet se plek af kronkel die pad deur plantasies tot by Paulpietersburg. Hierdie is seker die dorp met die grootste identiteitskrisis in die land, indien nie in die wêreld nie. In 1888 word die dorp as Paulpietersrust aangelê, vernoem na Paul Kruger en generaal Piet Joubert, die man wat die Engelse in 1881 by Majuba op hulle rooi baadjies gegee het. `n Paar jaar na stigting word die naam verander na Paulpietersdorp. Iewers jeuk iemand se dinges toe weer en hulle verander die naam na Paulpietersburg soos dit vandag nog bekend staan. Maar in Zulu staan die dorp bekend as Dumbe, so genoem as gevolg van die voorkoms van `n eetbare aartappelagtige knol wat in die omgewing gevind word.

Maar dit is nie die enigste van die dorp se beproewings nie. Vir een of ander rede is die dorp wat eintlik in Natal lê, by die ou Transvaal ingelyf. Toe word dit weer deel van Zoeloeland, en toe, skynbaar na Uniwording, is dit weer by Natal ingelyf soos dit vandag nog is.

Duitsers en Skotte het laat in 1800 in die dorp en omgewing ingetrek en boer en woeker steeds daar rond. Praat steeds Duits, maar ook Engels, Afrikaans en Zulu, drink bier en speel ook nog steeds umpa musiek by saamtrekke. `n Pragtige Lutherse kerkie staan trots tussen die dennebome by Luneburg.

Ons staan oor op `n jagplaas by erg gasvrye Duisers wat vlot Afrikaans praat. Lieflike gastehuis met `n asemrowende uitsig oor die berge. Aandete, bekook en voorgesit deur `n jong Zulu man is uit die boonste rakke. Het nog nooit in my lewe soetpatats gemaak met marsh mellows ge-eet nie. Uitstekend. Drink witblits uit `n bottel met heel rooi rissies in. Dit brand die bloue hel uit jou uit en jy durf nie naby `n oop vlam asem uitblaas of poep nie, dit kan jou duur te staan kom.

Dag 2 bring ons tussen die Drakensberger koeie deur op `n ander Duitser se plaas. Is al die vierde generasie van die familie wat die plaas besit en beboer. Reg rondom die plaas lê lamlendige Zulu huisies en lappies heuphoog verlepte, vergeelde, verpiepte mielielande en hulle kyk met gretige oë na die groot ou opstal en landerye wat beplant staan met mielies wat lyk soos jong dennelote. Fantasties geil en groen en gesond. En ja, sê die boer gelate, daar is grondeise teen die plaas.

Laat mens dink aan Paul Theroux se ondervinding op sy reis deur Afrika. Verslae en geskok oor die verval en agteruitgang van alles wat hy teenkom dertig jaar na sy vorige verblyf in Malawi en Uganda, vra hy aan die mense, regeringsamptenare en lektors aan Universiteite wat hy persoonlik ken; waarom lyk dit so, waarom die verval, waarom staan voorheen winsgewende Indiër winkels leeg, wat het van die groot produktiewe plase geword, hoekom is skole en universiteite vervalle? Dan antwoord hulle een en almal; “The problem you see, the problem is, we have no money and you see, the UN and America won’t give us any.”

Skuins na 11 die oggend is die werk met die koeie afgehandel en ons ry terug na Sodom en haar suster se ontugtige, wellustige vleispotte. Ses uur later is ons weer by die huis. Met die intrap word ons oorweldig deur die vreugdevolle groet van ons  stertswaaiende swart kinders. Dit verskaf mens tog altyd oneindige plesier om so verwelkom te word in jou eie huis. Uitgelate en uitbundig bly is hulle, so asof jy `n leeftyd lank weg was.

    

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: