Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Duitsland’

Wit soos sneeu

Terwyl ons hier onder die Afrika son uitbraai, en soms natreën, stuur sus Cobie fotos van `n sprokies winterwêreld uit Duitsland. Iets baie vreemd vir ons kinders van Afrika.

Voor die sneeu kom, kom die ryp, maar nie so ieffie-ieffie soos ons dit ken nie. Hulle ryp lyk soos sneeu by ons.

006   004

012

En toe kom die sneeu. Gewoonlik gebeur die groot sneeu eers in Februarie en Maart, maar so elke 4 jaar kom dit vroeg in Januarie soos hierdie jaar. Sprokiesland.

017   019-2

026    031

022-2

Terug in Afrika sak die son oor 2016.

048

Read Full Post »

Seisoene

Maak ons toe `n vinnige draai (en stadige braai) by die Vaaldam. Die dag begin uitstekend met somerson wat windloos op ons neerskyn. Uitstekend vir braai en kuier. Maar dis verder as wat ons gedink het, want die plek is aan die oorkant van die wal op die verste punt van die dam waar daar darem nog water is. Die dam, sê hulle, is nou 29% vol water en dus teoreties baie meer vol vis as voorheen. Maar die mense wat lyne natmaak vang niks. Hulle dink die vis lê en “tan” op die groot nuwe eilande wat te voorskyn gekom het soos die water sak.

030

Doer ver weg lê die water onder die helder son. Ons sit onder die afdak en kuier en begin stadig regmaak om te braai.

032   035

En toe kom die wind, so n regte Vrystaatse stofstorm wat selfs die dam benewel.

041   064

Toe pak ons maar op en gaan braai in die huis. Gelukkig is daar n braaiplek wat toegebou is. En toe het mens die keuse om of in die rook gevulde braaiplek met trane in jou oë in die te staan, of om buite in die wind en stof te gaan staan tot jou oë traan.

En intussen, terwyl die wind ons verwaai, word dit herfs in Duitsland.

004-2   006-2

Die blare verkleur lieflik terwyl die Begonias nog hulle laaste blomme vertoon voor die sneeu kom.

055   057

Sus Cobie se tuin in Munich. Sy moet die blare hark en optel, maar los dit vir eers omdat dit spatsels kleur so mooi is. En iewers in die bos hou Maria wag. Die Duitsers is lief vir hulle beelde

005-2

Read Full Post »

025

Dit sneeu in Munich by sus Cobie en Johan terwyl ons hier in SA uitbraai onder die ongenaakbare son.

027 (2)

Die blou tuinbankie is nou `n wonderlike wit tuinbankie.

002

Maar gelukkig is daar `n plek soos Hofbräuhaus om die koue te besweer.

030 (2)

Die tafel is gedek, maar die man sien nie kans daarvoor om aan te sit nie.

032 (2)

Ons van sonnige SA kry swaar in die koue Europa. Tog kry ons ook nie genoeg van die pragtige wit landskap nie.

103

Daarom bly ons maar liewer by Hofbräuhaus en hou die lyf warm.

Read Full Post »

005

Die plaaslike meerkat trek saam met sus Cobie en Johan na Munich toe waar dit tans op die voorstoep waghou oor die tulpe in die tuin. Die gedierte lyk heel tuis tussen die Germane.

030

Ook die twee vroue in tradisionele Afrika-drag staan trots in tussen die Duitsers, piepklein onder die bos pragtige tulpe uit hulle eie tuin.

En uiteindelik, na baie gespook het ek hierdie opdrag skildery ook klaar gekry. Die mooie kind is al amper een jaar oud en die prentjie is nou eers klaar!

014

Dit is hoe sy deesdae lyk

029

 

 

Read Full Post »

Sneeu in Munich

Sus Cobie laat weet dat dit bitter koud is daar in die land van die Germane. Hulle kry hierdie jaar meer sneeu as verlede jaar, maar natuurlik nie so baie soos wat hulle elke Winter in China beleef het nie.

013

Selfs die temperature in Duitsland is `n matige -7 grade C teenoor China waar dit soms tot -27 gedaal het.

016

In hulle klein tuintjie waar die eekhoringkies in die somer speel, staan die beelde so half verdrietig in die sneeu.

022

Ons sonlanders kan maar nie die versoeking weerstaan om in die sneeu te loop speel nie, al wil die vingers af val van die koue. Hier het sy die koue trotseer om vir ons `n foto van haar sneeuman te stuur.

033

Intussen, terug in sonnige SA:

Vroeg oggend op pad braai die son die sweet uit jou uit.

Wolke 18

Laatmiddag en donderwolke bring `n effense lafenis as die son begin sak.

Wolke 2

Read Full Post »

`n Wit Kersfees

Sus Cobie stuur fotos uit duitsland. Munich is vir die eerste keer in `n lang tyd toe onder die sneeu oor Kersfees.

014

Sy kuier in sonnige SA by haar kinders om van die nat, koue Europese Winter weg te kom, net om hier nat te reën en koud te kry. En terug in Munich vind sy hierdie pragtige wit landskap.

016

Dis koud, maar dis wonderlik.

021  022

015  023

Kyk die liggies in die kersboom! Sprokiesland.

020  027

Meanwhile, back home in good ol’ SA, the sun is setting in style.

028

Dit reën steeds hier terwyl hulle lekker rondrits in Italië, Oostenryk, Monaco en Spanje. Gelukkige blikskottels!

Read Full Post »

Kersfees 2014

Jesus_022_small

Is weer daardie tyd van die jaar, Krismis. Ek hou van Kersfees. Behalwe dat die strate stil is en die buurt rustig, is die mense ook meer vriendelik en kalm. Geen padwoede, geen vingertaal vir mede padgebruikers nie, en geen beurtkrag tot hier toe nie.

In Duitsland is Kersfees groot. Die gees van Kersfees, sê sus Cobie en Johan uit Munich, is aanvoelbaar. Heel anders as hier by ons. Miskien is dit die afwagting op sneeu en die moontlikheid van `n wit kersfees wat alles aanhelp. Hoe ook al, die mense daar is opgewonde. Kersfees is vir hulle `n opwindende tyd, `n ware feestyd.038

066

 

 

 

 

 

Kerkdienste word gehou en bygewoon, en kerke word pragtig versier.

Kersfees 5   Kersfees 1

En dan het ons die vermetelheid om sendelinge Duitsland toe te stuur om die mense daar te loop bekeer! Laat my altyd wonder oor die variant van Christen wat hier wortel geskiet het.

Kersfees 2   Kersfees 4

Intussen is ons boompie weer staangemaak soos elke vorige jaar vir die afgelope meer as 40 jaar. Die enigste verskil is dat ons vir die eerste maal ooit ook `n Kersfeeskransie gemaak en teen die deur opgehang het.

Krismiskrans    Kersfees 3

Hannelie en Ma se handewerk. Te oulik. Ons is nie seker wat die kransie beteken nie. Google beduie van `n Pagan gebruik om hergroei na die Winter uit te beeld. Die Christen weergawe daarvan is dan ook herlewing, maar veral die ewige lewe in Christus, of so iets.

Krismiskrans 3   Kersfees 1

Hiermee dan aan almal wat hier lees, `n geseënde Kersfees. Mag dit vrede bring, en geskenke van alle soorte solank dit uit die hart uit kom, en opwindende feestelikheid saam met julle families en/of vriende. God bless you all, believers and unbelievers alike. Merry Christmas.

Read Full Post »

Kaas met `n klankie

LE RUSTIQUE
Ons kry weer die geleentheid om `n pakkie na ons vriendin, Lizette en haar man Dirk, in Shenyang, China te stuur. Soos gewoonlik gaan die pakkie oorlaai wees met allerhande lekker bederf goedjies. Ook mag dit nie te swaar wees nie, Kate moet dit nog in haar reeds oorvol tas kry.
Twee uiters noodsaaklike items is brood en kaas. Brood is volop in China, maar nie brood soos ons mense dit ken nie. Dis soet, en meeste smaak soos koek en dan natuurlik die eweige “black bean” waarmee amper ieder en elke broodjie gevul is. Dis om van die piep te kry. Jy eet nie brood in China nie, punt. Dus koop ons vir Dirk een hengse swaar huisbrood. Dink die ding weeg een kg op sy eie. Die brood moet in, mens eet nie kaas sonder brood nie.
Volgende op die lysie is Dirk se kaas. Die man eet kaa soos wat ons biltong sal verslind. En as jy nou `n Chinees wil laat gril tot sy tone krul, moet jy hom kaas gee. Dit bestaan nie in hulle woordeskat nie, en ook nie op hulle spyskaart nie. Kaas is so skaars soos hoendertande in China. Jy kry nog, as jy gelukkig is van daardie smaaklose plat skyfies, maar nie kaas soos ons dit ken nie. As jy die helfte van jou maandelikse salaris wil spandeer kan jy teen n ongelooflike prys by Rich Mall kaas uit Duitsland bestel. Beslis nie vir die gewone ou op straat nie.
Lizette is mal vir n lekker Brie of Cammebert. Ons loop die kaasgangetjie op en af op soek na die regte, lekker kaas. Dirk se Emmentaller is reeds in die waentjie, nog net op soek na Lizette se kaas. Skip roep my en sê ek moet hierdie kaas in `n oulike houertjie van hout sien. Tipies Duits met tot `n pragtige blou papiertjie om die boksie. Daar hang so `n snaakse reukie waar ons staan, maar pak nogtans die houertjie in. Ek sê vir Skip die mense moet bietjie kyk na hulle yskaste, dit ruik nie lekker nie. Soos ons loop bly die reuk in my neus. Maar ons gaan aan, betaal en pak die aankope in die kar.
Ons gaan eers aandete koop by die vriendelike Turk. `n Donner noem hulle dit, die aandete, nie die Turk nie. Heerlik, amper soos `n wrap, net twee keer so groot en hoofsaaklik gevul met groente. My soort kos. Met die Donner onder die arm stap ons terug kar toe, maak die deure oop en daar slaan dit my vol in die bakkies, amper van my voete af. Dit is die verskriklikste vrotste reuk wat ek nog ooit beleef het. Vrot, vrot vrot en die hele kar ruik daarna. Ek maak my venster oop en druk my neus toe, tot by die huis.
Niks vat hierdie reuk weg nie. Skip pak die pakkies uit en ek kots. Elke keer as ek in die kombuis kom, moet ek omdraai en weer hol. Skip besluit om self hierdie vrot Le Rustique te beproef. Hy stap met sy bord in die eetkamer in en ek hardloop by die agterdeur uit. Ek sê vir hom hy moet al die vensters toe maak, as die bure hierdie vrot reuk kry, is ons in die moeilikheid.
Skip smul aan die kaas en dink dis heel aangenaam. Ek kry nie een hap van my kos geeët nie.
Uiteindelik skraap ek moed bymekaar en gaan sit die blerrie kaas in `n ziplog sakkie en stop dit in die yskas. En toe vermy ek die yskas soos die pes. Die volgende oggend bring Skip vir my koffie, en sowaar ek proe daai kaas in die koffie. So kots-kots sit ek die ziplogsakkie in nog n ziplogsakkie en boender dit terug in die yskas. Dit wil nie werk nie. Die hele dag vermy ek die yskas. Vandag gaan ek dood van die honger, maar daai yskas se deur maak ek nie oop nie.
Die aand kom Skip by die huis, en sowaar, hy maak weer die yskas dood luiters oop en vat nog `n stukkie kaas om te eet. Kots-kots verloop my aand toe weer. Skip sê as ek dit weggooi moet ek tog net die houertjie probeer red. Ons kan vir Lizette net ander kaas in die pragtige houertjie sit. Asof ek dit aan my vriendin sal doen! Kan jy jou voorstel hoe sou arme Kate se tas na 4 dae greruik het? En sy eet nie eens kaas nie!
Die volgende oggend sluip ek na die asblikke en hoop en bid net niemand sien my raak, of ruik my nie! Daardie duur stukkie kaas is waar dit hoort, in die asblik! Die yskas ruik nog vir 3 dae na vrot kaas. Ek pak hom vol suurlemoene, was hom van bo tot onder uit, maar daardie reuk sit.
Vir eers vermy ek die gang met kaas in die supermark. Skip gaan haal alleen die kaas wat ons nodig het. Hierdie reuk gaan nog lank in my gestel wees. Gee my goeie ou cheddar of gouda !!! Geen esperimente vir die toekoms nie en ook vir die volgende paar weke word selfs nie eens bloukaas in ons huis toegelaat nie.
Ek sttur volgende keer eerder vir vriend Dirk `n koei, dan kan hy sy eie verdomde kaas maak!

Read Full Post »

Laaste dae in Munich.

Vreemd hoe vining die dae verby gaan as jy met vakansie is. Nog vreemder en ontstellender is die pas waarteen jou bankrekening leegloop as jy uit ´n piesangrepubliek in Europa rondhang. Teen amper R15 vir een Euro slaan die prys van ´n koppie koffie elke keer jou asem weg en dan is alkohol die enigste ding wat jou senuwees weer kan kalmeer. En alkohol is eers duur!

Duitsland 2014

Die weer het die hele tyd fantasties saamgespeel. Sonskyn was dit van dag een af. Selfs dodelik warm sonskyn. Ons dae is nou rustiger. Ons ry met die trem stad toe, gaan drink koffie of bier en doen my gunsteling aktiwiteit; ons kyk mense. Straatmusikante sing vir ons. Bedelaars bedel bedees van ons. Vriendelike mense glimlag vir ons, en onvriendelike mense gluur ons aan. Daar is maer mense, vet mense, mooi mense en ook vreemde karakters soos die netjiese bedelaar vrou wat met ´n braaitang in rommelsakke rondkrap en afval kos en ander “skatte” so herwin. Sy wil nie haar hande vuil maak nie, daarom die braaitang.

Duitsland 2014Die ou Meesters by die kunsmuseum is gegroet en al wat nou oorbly op die vooraand van ons vertrek terug huis toe, is ´n baldadige besoek aan daardie beroemdste van beroemde drinkplekke, die Hofbräuhaus. Gebou in 1589 en tradisioneel die eksklusiewe brouery en drinkplek van die konings. (Een van die donners het op ´n kol selfs alle ander brouerye verbied om dieselfde soort bier te brou as Hofbrauhaus). Later, toe die konings nie meer konings was nie, is die drinkplek oopgestel aan die gepeupel.

Duitsland 2014     Duitsland 2014 Duitsland 2014

En toe gaan besoek hierdie gepeupel ook die plek as afskeid aan Mϋnchen en sy Germane. En wat ´n afskeid was dit nie! Jy sit by lang hout tafels op lang hout banke saam met vreemdelinge wat vreemde tale praat, en jy lag en gesels later, as die bier begin saam gesels, land en sand met hulle al verstaan niemand wat die ander ou sê nie. Ons eet reuse pretzels en drink moerse kanne bier. Die lawaai is oorverdowend, jy kan jouself skaars hoor dink. Die opwinding is aansteeklik en die Germane vol bier is vir ´n verandering heel vriendelik. Mense sing sporadies en klap hande op maat van die Umpha orkes wat skaars bo die geraas hoorbaar is. Langs ons moedig jong manne mekaar luidkeels aan om ´n beker bier te “down”.

Duitsland 2014    Hofbrauhaus 5

Hier het Lenin bier gedrink, het Wolfgang Amadeus Mozart soms inspirasie (en krag) vir sy komposiesies gevind, en het Hitler sy diabolise planne kom beraam, al het hy nie gedrink, gerook of vleis ge-eët nie. Selfs JF Kennedy het sy dors hier kom les, net soos die meer as 4 miljoen toeriste wat jaarliks hierheen kom om dieselfde te doen. Dit was egetr nie hier waar hy verkondig het dat hy ´n trotse worsbroodjie is nie! Dit was in Berlyn waar hy ´n gat van himself loop maak het, as ek reg onthou.Duitsland 2014

In 1919 was dit die Kommuniste se hoof(knoei)kantoor (en hulle kon glo suip die spul kommies!). Van 1920 af vergader Hitler en sy Nasionale Sosialistiese Party gereeld hier na hy tot leier van die party verkies is. Voor dit is hy mos uit die party geskors (miskien juis omdat hy nie gedrink, gerook of vleis ge-eët het nie?), maar toe kom hulle agter dat die ou klein mannetjie met die groot bek en oratoriese vermoëns eintlik die party aan die gang hou, en toe moet hulle hom vra om terug te kom. En hy sê ja hy sal, mits hy die partyleier word. Die res is geskiedenis (waarvan die hele wêreld behalwe die studente van Potchefstroom weet.)

014

Hitler se vergadersaal

Vannaand skreeu niemand egter “Heil Hitler” en gee daai beroemde saluut, of skreeu “Sieg Heil” nie, wel, nie hier nie. Dalk tog in Potch? Die enigste saluut is wanneer daardie reuse bekers bier die lug in gehou word as gebaar van solidariteit met alle bierdrinkers oor die hele aardbol heen . Die manne en vroue van Bavaria drink hulle bier entoesiasties asof Hitler nooit gebeur het nie (of is dit juis omdat Hitler gebeur het dat hulle so baie drink?). Laatnag ry ons met die trem huis toe. Ons slaap die slaap van gesoute bierdrinkers, eet ´n heerlike ontbyt die volgende oggend, en gaan drink tee in die ewe beroemde (vir sommige dalk “onheilige”) Englischer Garten voor ons lughawe toe moet vertrek.

Duitsland 2014Die naam Englischer Garten het niks met die Engelsmanne te doen nie, behalwe dat die uitleg veronderstel is om te lyk soos ´n Engelse tuin van rondom 1700. Hierdie een is uitgelê in 1789, hoofsaaklik om soldate besig te hou toe die Germane op daardie oomblik niemand gehad het om teen oorlog te maak nie.

Is ´n fantastiese tuin wat 3.7 km lank is en 370 hektaar beslaan. Dit is pratig bebos met grasland ooptes, ´n groot dam en die Isar rivier wat daar deur loop. Onheilig vir sommige omdat die Schönveldwiese gedeelte nie net op sigself ´n skone piekniek area is nie, maar omdat dit in 1960 tot vrye nudiste gebied verklaar is. En behalwe vir die kaalgat vermaak (afstootlik sondig, hoor ek Ouma brom) is daar ook nog die Monoteros, ´n pragtige tempel met ´n koper koepel ter ere van Apollo, sowel as ´n Chinesischer Turm, of dan Pagoda met ´n baie gewilde biertuin. Op die ander punt is daar ook nog ´n Japanisches Teehaus waar gereeld Japanese teeseremonies gehou word. Alles volksvreemde goed wat outannies die bloue ritteltits gee.

Monopteros 1  Duitsland 2014

Ons wandel deur die tuin, drink bier en hoop om ´n kaal meisie of twee te sien, maar dit is onweer en daar is geen naakte siel in sig nie. Ons wandel verder en drink Earl Grey tee en eet vir laas egte Duitse kos.

Toe is dit tyd vir afskeid en vertrek. Die tasse is gepak en die BMW staan en wag om ons lughawe toe te vat. Afskeid is swaar. Party van ons huil so ´n bietjie, maar die geharwar van inboek by die lughawe trek die aandag so ´n effens af. Ons waai vir laas oor die koppe van mede reisigers vir mekaar en pik ´n traan. Toe gaan sit ons en wag vir die groot Voël om ons huis toe te vat.

Dit was ´n fantastiese ondervinding en ons kan Cobie en Johan nie genoeg bedank vir die geleentheid om daar by hulle te kon kuier nie. Baie, baie dankie aan Cobie wat ons bederf het, en Johan wat tyd by die werk afgevat het om ons rond te karwei deur Munich se strate, oor die grens na lieflike Verona en magiese Venisië in Italië en Saltzburg in Oostenryk. Hierdie is ´n vakansie wat ons nooit sal vergeet nie (behalwe as Altzheimer dalk eendag deur ons koppies kom toer en so ons pret bederf!) Eendag as ons die Lotto wen, gaan kuier ons saam met julle in Holland, Spanje en Frankryk, en dalk sommer Rusland ook, en ons betaal. Belowe. Dit was baie LEKKER (spesiaal vir jou Cobie!!) om saam met julle die wêreld te verken.

Toe vlieg ons. En toe sit ons op Dubai se lughawe vir tien ure en wag vir die volgende vlug terug huis toe. Dit is ´n mooi, moderne lughawe, maar nie vriendelik met jou lyf as jy 10 ure daar moet oorstaan nie. Dit was bepaald die langste en ongemaklikste 10 ure wat ek al ooit beleef het. Maar selfs dit kan nie ons Germaanse avontuur bederf nie. Ons was daar. Ons het amper 2000 fotos en ´n blou keps met Saltzburg/Austria daarop geskryf om dit te bewys.

Vader Duitsland 2014  Moeder Duitsland 2014  Vader Duitsland 2014

Read Full Post »

Die Meesters

Ons besoek aan Duitsland staan einde se kant toe, en daar is nog so baie om te sien. Mens kan dit regtig nie alles in een besoek inpas nie, inderwaarheid kan jy dit skaars in een leeftyd inpas.

Behalwe vir al die kastele, is daar museums van alle soorte, van ’n oorlogmuseum tot ‘n speelgoedmuseum en nog alles tussenin. Die grootste hiervan is die Duitse Museum met meer as 17,000 voorwerpe wat uitgestal word. Dan is daar nog ‘n handvol kunsmuseums waaronder die Alte Pinakothek, die Nue Pinakothek, die Pinakothek der Moderne en die Brandhorst Museum. En as dit nog nie genoeg is vir jou kunslus nie, is daar nog die Glyptothek waar beeldhouwerke uitgestal word, die Staatliche Antikensammlungen en Lenbachhaus, die huis van die Duitse kunstenaar Franz von Lenbach wat in ‘n kunsgallery omskep is.

Vir ons kort besoek aan die land van die Germane, word ons beperk tot een kunsgallery. Nou hoe kies jy nou die beste een uit die lot? Dit is basies onmoontlik. En tog, as jy dan moet kies, dan kies jy die ou Meesters. Sê nou net daar kom weer oorlog en hulle skiet die spul weer plat, dan is als verlore en jy sal nooit weer een van die ou manne se oorspronklike werk in lewende lywe sien nie, en dit sal ‘n ramp wees. Of jy gaan dood en jy moet by ou Petrus daar by die Goue Hekke gaan bieg dat jy wel die geleenheid gehad het om te gaan kyk na ‘n oorspronklike Van Dyck, Rembrandt, Raphael en Rubens, maar jy het nie. Ek sweer hy stuur jou reguit Hel toe net daaroor. Hy hou niks van skiderye met kaal meisies nie, maar hou baie van engeltjies. En as ou Paulus (voorheen Saulus) aan diens is is jy nog dieper in die moeilikheid. Hy is glo ook mal oor kuns, veral skilderwerk met donkies in.

Dus en daarom gaan ons na die Alte Pinakothek, die blyplek van die konings van kunswerke.

Wat kan mens sê? Dis oorweldigend. Dis ‘n groot plek en daar is baie skilderye en daar is nie genoeg plek in jou kop om alles in te neem nie. Voor jy halfpad deur die museum is draai jou kop en jy kan nie meer onthou wat jy al gesien het en wat nie. Jy bekyk kleure, jy bekyk tegniek, jy vergelyk tydperke en jy vergelyk skilders se benadering en as jy nader leun om mooi na detail te kyk, dan storm die wagters teen die mure op jou af en beduie ontsteld in Germaans dat jy te na aan die ou Meester staan. Staan weg! Nicht Tasten, Nicht Tasten! Of so iets. Asof jy die kaal meisies se borste sal gaan staan en betas!

Al wat ek kan doen is om fotos vir julle te wys, en dit kan regtig nie die werke eer aandoen nie, selfs al het ons Fotograaf weereens uitstekende werk gedoen. Dis een ding om na ‘n foto te kyk, maar ‘n heel ander ding om reg voor die skildery te staan en daarna te kyk en jou te verbeel jy sien die jong kunstenaar daar voor sy doek staan, kwas in die hand, besig met sy meesterstuk.

Daar is skilderye met donkies in, en baie met engeltjies, en ook baie met kaal meisies. En dan is daar die met engeltjies en kaal meisies. Man sal dus met ‘n geruste hart kan gaan verslag doen daar Bo, eendag.

Kliek op hom

Rembrandt Detail

Rembrandt Detail

Read Full Post »

Older Posts »