Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Vuurvoël’

Untitled-1

Goeie nuus aan al die getroue ondersteuners en aanhangers van my stories, sowel as die nuwe bewonderaars wat opgewonde op die kantlyn sit en wag.

My boek “Vuurvoël” is weer beskikbaar, dié keer by Megabooks in beide sagteband en eboek format.

Die slapband weergawe is beskikbaar by http:/megabooks.co.za/shop/vuurvoël-2

Die prys is `n skamel R108 per boek.

Die eboek weergawe (vir alle e-readers behalwe Kindle) is beskikbaar by http:/megabooks.co.za/shop/vuurvoël/

Die prys vir die epub weergawe is `n onverbeterlike R68 per boek.

Gaan heen en gaan koop vir jou `n boek. Een resensent het gesê dit is die beste bundel Afrikaanse kortverhale wat hy in `n lang tyd gelees het. Ek is seker jy sal dit ook geniet.

Advertisements

Read Full Post »

Besoeker uit die Toekoms

Van hier af moet ek, Klaas van die onderdorp, die storie verder vertel.

Toe ek hoor van die vreemde man wat met Schalk wil praat, het ek dadelik onraad vermoed. Daar was geen rede vir my nerves om op loop te gaan nie, dit was net ´n gut feeling. In my wêreld leer jy gou om jou gut te vertrou, anders is jy ´n dooie man. Toe ek die man sien het ek geweet ek het hier met ´n ‘pro’ te doen. Hierdie ouens probeer mos om onsigbaar deur die lewe te gaan, daarom dra hulle swart pakke klere en Guci skoene (om te wys hulle is professioneel), en kruip dan agter ‘label’ shades weg om onsigbaar te wees.

Nou moet ek confess dat ek lankal Schalk se kamer gaan ‘rig’ het. Kyk, die man is vir my goud werd, hy weet waar my geld is en eendag sal ek en hy dit gaan haal en daarom het ek ´n spy cam en afluister apparaat in sy kamer gaan versteek. Ek moet weet met wie hy praat en wat hy doen. Ek moet hom protect, hom aan die lewe hou tot die dag dat ek en my manne alles in plek het (vervalste paspoorte, visas, vliegkaartjies en “geleende” voertuie) om hom te ontvoer en Switserland toe te vat. En hierdie swartgeklede swart kuiergas het vir my gevaarligte laat flikker, maar ek het nie ´n idee gehad waar hy in die prentjie inpas nie. Hy kom beslis nie uit “Vuurvoël” nie. (meer…)

Read Full Post »

Die Heks

Ek was nog nooit in my lewe in ´n tronk nie. Ek is ´n eerlike, gekultiveerde man wat lief is vir konsertsale waar simfonie orkeste Bach en Beethoven en ander komponiste se klasieke musiek opvoer. Ek besoek teaters en kunsuitstallings, en woon deftige onthale by, en ek geniet skemerkelkies saam met vriende. Tronke is vir diewe, moordenaars en verkragters, en hier sit ek op my oudag (en om alles te kroon in my nagklere), in die tronk.

Ek sit myself nog so en bejammer, toe staan Sarie voor my sel se deur met ´n groot pak grondbone in haar hand. “Ek kon my f*kn ore nie glo toe hulle vir my sê jy is in die f*kn tronk nie,” babbel sy in haar gewone stortvloed van woorde wat sonder dat sy dink, by haar mond uit borrel. “Ek hoor altyd hulle sê jy moet vir iemand wat in die tronk is peanuts bring, toe dog ek ek sal gou kom hallo sê en vir jou peanuts bring dé hier is vir jou ´n f*kn sak vol mens weet nie hoe lank jy nog hier gaan bly nie en nou dat jy hier sit en f*kol doen kan jy sommer aan daardie boek van jou begin skryf jy moet my storie oor my geel panty heel voor in die boek sit hier is vir jou ´n pen en papier sodat jy sommer dadelik kan begin skryf….” toe raak haar asem op en die bewaarder sê haar tyd is om, sy moet nou gaan. Ek dog ek soen die man van dankbaarheid en neem my voor om hom te vra om my asseblief in eensame opsluiting toe te sluit sodat daardie vrou nie weer naby my kan kom nie.

So met die wegstap skreeu sy oor haar skouer vir my dat sy my nog ´n ander storie ook wil vertel vir my boek, ´n storie oor ‘n Priester, ´n paaldanser en ´n plot. Natuurlik spring die skrywer in my dadelik penorent en die idee van eensame opsluiting verdwyn soos mis voor die son.

“Kom more weer en vertel vir my die storie,” skreeu ek opgewonde agter haar aan.

Sarie was skaars weg, toe kom die bewaarder en sluit my seldeur oop. “Jy is vry, jy mag maar gaan,” sê hy saaklik en loop weg.

“Wag nou, haai jy sersant of generaal of wat ook al,” roep ek terwyl ek agter hom aan draf. “Hoekom laat jy my los, ek meen, ek wil nie hier bly nie, maar ek wil darem weet waarom ek losgelaat word.” Hy steur hom egter nie aan my nie en loop weg. ´n Ander klein, maer mannetjie met ´n swart rok gedoente aan kyk op toe ek by hom verby draf agter die bewaarder aan.

“Iemand het jou borg kom betaal,” sê hy saaklik.

“Wie?” vra ek verbaas.

“´n Ou tannie, ek weet nie wie sy was nie,” sê hy.

“Een wat vreeslik baie vloek?” vra ek

“Nee,” sê hy saaklik.

“Het sy ´n Voortrekker rok aangehad, met gehawende bruin skoene en ´n kappie op haar kop, en dalk ´n voorlaaier in die hand?” vra ek en wens dadelik dat ek dit liewer nie gevra het nie, want ek wil dit nie regtig weet nie.

“Nee,” sê hy met ´n erge frons tussen sy oë. “Nee, nie ´n geweer nie, maar ´n besem. Een van daardie met takke vir vee, nie gras nie. Sy het ´n lang swart rok gedra en swart skoene met skerp punte, boots eintlik, maar nie ´n kappie nie, eintlik ´n swart hoed met ´n baie skerp punt en ´n woeste bos swart hare, en ek dink daar was ´n groot moesie op haar ken. Vreemd, baie vreemd,” mompel hy en stap weg. Maar hy steek weer vas en sê; “Die saak teen jou is terug getrek, daar was genoeg getuies wat gesê het dat dit nie jy was wat geskiet het nie, almal half seniel as jy my vra. Ons soek nog die skuldige.” (meer…)

Read Full Post »

Annie get your gun

Vaagweg hoor ek vrouestemme wat fluister: “Ek was die hele nag hier by hom, hy was baie onrustig en het deurmekaar gemompel oor bloed op die vloer. Die afgelope uur is hy darem weer rustig.”

“Baie dankie matrone,” fluister die ander stem. “Jy kan nou maar gaan, ek sal hier by hom bly tot hy wakker is.”

Ek is nog deurmekaar van die slaap, maar skielik onthou ek van die skietery en ek skrik myself wawyd wakker. Ek kom orent op die bed en soek desperaat na bloed teen die muur en op die vloer.

“Waar is hy?” skreeu ek verskrik vir die vrou langs my bed. “Waar is al die bloed?” wil ek driftig weet en wys na die muur waarteen die bloed afgeloop het.

“Waar is wie?” vra sy rustig.

“Die korporaal. Hy is dood. Hy het hier langs my bed gelê, op die vloer, met ´n groot gat in sy kop. Sy het hom geskiet,” stamel ek onsamehangend.

Sy druk my sag terug teen die kussing en sê ek moet kalmeer, die dokter is op pad.

Toe sien ek eers wie langs my bed sit. Dit is die ou ou tannetjie met die papiertjies en die honde onder haar bed, dieselfde ou tannie wat die korporaal met haar voorlaaier geskiet het. Sy sit kersregop op die stoel langs my bed, deftig uitgevat in ´n laat negentien veertigs uitrusting, kompleet met polkadot hoedjie op die kop en klein blink handsakkie in die hand. Om haar nek is ´n pikante geel serp geknoop.

“Ons vermoed jy het ´n ligte senuwee ineenstorting gehad,” sê sy paaiend, “jy het ´n baie slegte nag gehad, skynbaar erge nagmerries en die korporaal was dan seker een van die drome. Moet jou nie bekommer nie, dis nou verby. Dokter kom nou dan sal hy jou ondersoek en ´n kalmeermiddel gee. Jy het rus nodig na al die opwinding van die afgelope paar dae. Slaap nou, ek gaan net gou badkamer toe dan kom ek weer.”

“Wie is jy?” vra ek versigtig.

Sy kyk lank na my met haar kop skeef gedraai. “Noem my maar Annie,” sê sy met so ´n skewe glimlag. “Annie soos in ‘Annie get your gun’.” (meer…)

Read Full Post »

Papiertjie mense

“Waar is daardie slim hond van die Professor wat by jou was toe ons laas ontmoet het?” vra Klaas met ´n skewe glimlag, ´n glimlag wat skitter van goudgevulde tande. “Daai hond wat so mooi kon praat. Wat was die ding se naam nou weer? Trix, as ek reg onthou. Trix die pratende hond,” sê hy en lag so ´n sardoniese lag wat jou hare laat regop staan.

Hy kyk my afwagtend aan en krap sy kop met sy pistool se loop. My maag maak draaie en my kop hardloop sirkels om planne te beraam om lewend uit hierdie gemors te kom. En daar dog ek die boek gaan my baie pret verskaf!

Net toe ek my mond oopmaak om vir Klaas te probeer oortuig dat ek nie Schalk watsenaam is nie, toe bars die deur weer oop en nog ´n vreemde man storm die kamer binne, en ook dié man het ´n allemintige groot vuurwapen in sy hand. Maar anders as Klaas wat soos ´n Mafia baas aangetrek is (kompleet met wit hoed en tweekleur skerppunt skoene), is die nuwe aankomeling geklee in millitêre kamoefleer drag (kompleet met blink gepoleerde army boots), en minus die groot, vet sigaar in die mond.

(meer…)

Read Full Post »

Altz en Heimer se Aftree-oord

Die jare stap aan, dit wag vir niemand nie. Maak nie saak of jy mooi of lelik, dom of slim, ryk of arm is nie, een of ander tyd haal tyd jou in, trek jou hare uit jou kop uit, stoot jou maag soos brooddeeg oor jou belt, beplooi jou gesig en begrawe jou gisters asof dit nooit gebeur het nie. En dit is die maklike deel daarvan, hef aan lê en wag vir jou soos ´n honger luislang om die lewe stadig uit jou uit te wurg voor die ou sekelman genadiglik jou lewensdraad kom knip.

Maar dit alles meen nie mens kan nie weghardloop vir die onding nie. Jy kan dit bloot ignoreer en aangaan met jou lewe asof daar nie ´n einde aan is nie, in elk geval nie aan joune persoonlik nie. Ander word oud en gaan dood ja, maar nie jy nie. Jy gaan min of meer vir ewig lewe. Daar is mos pille, plastiese snykunde en botox. En as dit nie genoeg is nie is daar altyd mooi jong meisies (of jong mans vir die cougar tantes) wat die ou ego streel en jou weer jonk en pure perd laat voel, tot jy eendag wakker word en meer soos ´n rot as ´n stoetperd voel. Jou asem begin jaag nog voor jy agter die meisie aan begin hardloop het, en jou bene word lam sodra jy uit jou stoel uit opstaan. Dis dan wanneer jou kinders jou aftree-oord vir jou kies, jou karigge besittings in bokse pak en jou sonder seremonie by jou laaste blyplek gaan aflaai.

En so beland ek in Altz en Heimer se Aftree-oord. Ek wou nog met die ou benerige, bewende hand bespotlik ontsier deur lewervlekke waai, toe is die kinders alweer in ´n stofwolk met hulle dubbelkajuit 4×4 om die hoek en weg op pad see toe vir welverdiende, lang vakansie met my geld (vir die vakansie en die 4×4). (meer…)

Read Full Post »

Skrywers en Egos

Soos op die inskrywing hier langsaan gesien kan word, is die boek wat die uwe geskrywe het nou ook op papier beskikbaar.

Dit verkoop redelik goed onder vriende en familie, soveel so dat die eerste “oplaag” byna uitverkoop is.

Nou is dit maar so dat skrywers, en ek vermoed singers van liedjies en digters en die hele lot kreatiewe kreature, wil maar graag weet wat dink die wat lees en luister van dit wat hulle lees en luister. Die ou ego wat maar altoos inskop!

Nou kom die kommentaar so stadigaan terug van die wat reeds gelees het aan my “Vuurvoël”. Uit een koers word berig dat die stories so lekker lees dat die mense nie die boek kon neersit nie. As een storie klaar gelees was, was die nuuskierigheid oor die volgende een so groot dat daar dadelik voortgelees moes word. Ai tog, en dit is mos soos musiek in enige siel se ore. Dis soos iemand wat mooi goeters van `n ma se kind sê en dan bars sy van trots.

Ander vertel dat hulle al so halfpad deur die boek is en maar stadig lees. Dit voel al reeds effens na kritiek en die ego spits sy ore en maak sy ruggie styf. Hou jy nie van my boek nie, jou lae luis!

En dan is daar die ambivalente opmerkings. Een goeie ou vriend bel van vakansie af en vertel hoe hy die storieboek geniet. Tog te lekker, sê hy. Binne dae die boek kafgedraf en hier en daar gekraai van plesier, veral die vendusie op die plotte storie, en “Ter wille van Ma”, was erg geniet.

Sê ek, die trotse skrywer vreeslik mooi dankie, natuurlik.

Maar dan volg die res van sy kommentaar. Sê hy; al die jare dog hy die mannetjie (dis nou die groot skrywer!) is maar half vlakkerig, en nou lees hy die boek en begin dink hy die man (dis nou die vriend en skrywer) is (dalk?) `n diep kêrel.

Nou is my vriend se probleem natuurlik om te besluit; is die man `n “vlak” ou wat deur sy skrywery probeer “diep” wees, of is die man `n “diep” mens wat in sy daaglikse interaksie met mense voorgee om “vlak” te wees?

My probleem is natuurlik nou om te besluit of die ou `n vriend is!!

Hy spot natuurlik maar net (dink ek?) want hy beveel die boek  by sy vriende aan en bestellings kom in teen `n spoed.

“Why then do you tell me to make myself like the many. And if I do, how shall I still be purple?” Epictetus (Dankie Hannelie)

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: