Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘bosveld’

Verjaarsdag in die bos

Dated Clouds

John Constable 1824

In haar boek “For the Time Being” skryf Annie Dillard oor wat sy noem “dated clouds”, dit is bepaalde of toevallige verwysings na, of van wolke, deur die geskiedenis heen, gewoonlik deur mense soos kunstenaars en skrywers wat effens anders na die wêreld kyk as gewone mense.

Dillard: “On 12 Junie 1824 … John Constable noted from the North Fork of the Merced River (in the California Sierra) ‘Cumuli rising from the North. How beautiful their pearly bosses. How well they harmosize with the upswelling rocks beneath them. Mountains of the sky, solid-looking, finely sculptured … ’

Dag 1) Op 3 April ry ons bos toe. Ons ry stadig om papwiele weens slaggate en boetes weens spoed te voorkom (agter elke bos skuil daar mos ‘n polisieman met ‘n kamera.) By ‘n plaaswinkel koop ons vetkoek en gebakte grondboontjies vir ontbyt.

Op 4 April 2023 was daar wolke in die lug bo Mabalingwe wat Wes van Bella-Bella in Noord-Wes Provinsie geleë is. Die vierde April was ook my vrou se een en sewentigste verjaarsdag wat ons die jaar besluit het om in die bos te gaan vier, weg van alles en almal af. Stilte en rus is wat ons nodig het, het ons besluit.

Of daar wolke in die lug was toe sy 71 jaar gelede in Lichtenburg se hospitaal gebore is weet ons nie. Wat ons wel weet is dat haar ma hard en lank geskreeu het gedurende die geboorte van haar donkerkop dogter. Oor wat alles na die geboorte gebeur het kan ‘n mens ‘n boek skryf! Maar ons gaan nie.

Dag 2) Ons in die bosse en ons ontspan vir vyf dae in ‘n tyddeel eenheid wat vriende uit die goedheid van hulle harte aan ons beskikbaar gestel het. Die eerste week van hulle periode van 14 dae se tyddeel was hulle self in die bos, maar toe moes Chris hospitaal toe vir sy chemo behandeling. En so werk genade soms … die een dink hy wen, die ander weet hy verloor?

Ons slaap laat, ons eet, ons lê rond en lees boek en doen niks, tot iemand ons laat weet daar is renosters op die aanloopbaan by die vliegveld. Hoe opwindend. Ons ry daarheen maar vind geen renoster met of sonder ‘n reistas wat lyk of hy van plan is om iewers heen te vlieg nie. Die reuse diere het in die niet verdwyn.

Dit is Ma se verjaarsdag en ons het die hele dag om niks te doen nie, toe ry ons rond en soek die renosters en kry troppe rooibokke, sebras, kameelperde, honderde vlakvarke, meerkatte, skoenlappers en neushoringvoëls, maar geen renosters nie.

Toe is die oumense moeg en gaan huis toe, lees boek en lê en rus. Laat die middag gaan eet ons aandete in die restaurant en drink Gin op Ma se verjaarsdag. Omdat sy is wie sy is, gesels my vrou met enige iemand wat na haar kant toe kyk. Dit is altyd interessant om te hoor hoe wild vreemde mense hulle hele lewensverhaal aan haar vertel minute na hulle haar ontmoet het. Sy hou van (meeste) mense, sy hou van gesels, sy hou van lag … never a dull moment … !

Laat die nag groet ons mekaar soos ou vriende en stap blymoedig daar weg die nag in, wetende dat ons mekaar heel moontlik nooit weer sal sien nie. Maar dit was goed, dit was ‘n goeie verjaarsdag in die bos.

Op 12 Junie 1824 bevind John Constable homself op die strand by Brighton. Sy vrou is ernstig siek. Hy skilder die strand met olie op doek; “The gray clouds lowered over the water in failing night. They swirled from a central black snarl” skryf Annie Dillard. Nou het ons nog die skildery van die wolke maar Maria is nie meer met ons nie. Maria is in November van daardie jaar oorlede.

Dag 3) Ons ry weer die veld in op soek na renosters en olifante, en skielik staan twee reuse groot renosters lewensgroot reg langs die pad, die naaste een omtrent tien meter van die kar af en die ander een so vyf meter verder weg. Hulle vreet rustig en steur hulle nie aan ons nie. Nou en dan lig een sy kop en kyk in ons rigting en wei dan verder. Ons neem foto’s en verwonder ons aan die kolosse met hulle gepantserde lywe uit die oertyd hier in ons midde. Ons vertoef lank by die twee wat genadiglik nog met massiewe horings spog. Toe ander toeriste opdaag ry ons weg om hulle kans te gee om ook ongesteurd die ontmoeting met die besoekers uit ‘n ander tyd te beleef.

Later die dag vat Elaine en Bill ons op ‘n toer deur die veld in hulle safari-bosvoertuig. Ons kyk na wild en voëls en bome, ry na ‘n uitkyk punt en klim teen ‘n kop uit waar luiperds jag. Ons sien egter geen luiperd of olifant of renoster nie. By die Karoo Oase vertoef ons ‘n wyle, lawe ons dors en ry terug huis toe om te gaan rus.

In die Weste sak die son rooi agter die berge weg. Dit was ‘n mooi dag.

Dag 4 is rustig. Ons gaan stap so een kilometer op die teerpad langs die dam af en loop gelukkig nie ‘n krok of seekoei raak nie. Later, op pad na Elaine en Bill se huis toe lê die ou seekoei rustig in ‘n dam langs die pad. Ons drink tee en eet die appeltert wat Bill gebak het en hoor van olifante wat die huis se voordeur verniel, en van luiperds en ander diere wat gereelde besoekers by hulle huis is (ook van koedoes wat konfyttoebroodjies kom betel by die kombuisvenster, en die middernagtelike, onsuksesvolle, dronk, berserkte inbreker wat kaal in die swembad spring, onbewus van die video wat van hom geneem word!).

Dag 5) Dit is Vrydag en ons moet vroeg die huis ontruim. Ons ry huis toe, uitgerus, dankbaar.  Die lug is skoon, daar is nie ‘n wolkie in sig nie, maar in die gemoed is daar ‘n donker wolk. Ons kon vir ‘n wyle ontsnap van die werklikheid, vir Piet is daar geen ontsnapping nie. Soos vir Maria Constable is sy tyd besig om onverbiddelik uit te loop. Vir Chris is daar nog hoop … as die behandeling werk. Uiteindelik kan die einde uitgetsel word, maar vir niemand afgestel word nie!

“On April 14, 1977, at dawn, I saw a cloud in the west from an island in the Pacific Northwest. The cloud looked like a fish fillet” skryf Annie Dillard. Dit was 28 jaar en een dag na my geboorte. Ek is nog hier, Annie se wolk is weg.

Read Full Post »

Uit ons beskeie tuintjie

  

Die winter byt nog skerp, maar die blomme dink al dis Lente.

  

Miskien weet hulle iets wat ons nie weet nie, en daarom is hulle so vrolik kleurvol.

  

n Ruiker van Boslelies vir my Maria op wag voor die kruis.

 

Ma se bonsai bougainvillia doen weer sy bes terwyl die son sak oor die bosveld.

Dit was nie in ons tuin nie, ons tuin is nie so wild nie!

Read Full Post »

Mabalingwe

Die kinders verjaar. Mens mag nie sê hoe oud meisies is as hulle verjaar nie, maar ek mag sê dat ek nou, as gevolg van hulle ouderdom, besig is om die ouderdoms marge van wat as vatsoenlik gereken word, erg te oorskry. As ek `n perd was, was ek nou naby aan die punt waar die baas my gaan skiet en vir die leeus voer.

Verjaarsdag word die naweek in malse Mabalingwe gevier en ons gaan tuis by ons gashere Bill en Elaine se pragtige huisie in die berge.

Die tema vir die partydjie is so `n mengsel van Haloween en eie kreatiwiteit gemeng met groot hoeveelhede alkohol vir die jonges van gees. Die oumense kon self kies hoeveel water hulle wil bygooi.

Die priester/ondernemer saam met die hoof heks van die aand.

Die twee birthday girls as baie nugter heks en zombie/clown/heks

Ons gashere vir die naweek, Bill en Elaine en die uil.

Die Priester, die heks en die engel by die Shack waar fees gevier is tot in die vroeë oggend-ure (die jonges en die erg middeljariges, nie die oumense nie. Hulle het nugter gebly en vroeg gaan slaap.)

Vroeg die volgende oggend het die buffel koei deur die kombuisvenster kom kyk of almal die fees oorleef het. Vir haar moeite is sy terstond met `n haelgeweer geskiet. Babbelas is as oorsaak van die wandaad voorgehou. (Darem nie regtig nie. Die kolletjies is op die glas van die venster!)

Op safari later die Sondag oggend, op soek na olifante, is koedoes, rooibokke, vlakvarke en ander wild gesien, maar geen olifante nie.

Dit was n erg geseënde naweek saam met die kinders so in die bos. Mens behoort dit meermale te doen.

Read Full Post »

Bosveld

Ons staan skuins na 4 die oggend op en ry bosveld toe. Die son steek sy kop uit toe ons by Kranskop verby ry.

 

Ons en die rietbokkies geniet ontbyt voor die werk begin.

En toe begin die dag in alle erns

Chopper 44 en die arts met sy pylgeweer

Blesbokke word een vir een verdoof en aangery na die boma

Terwyl hulle slaap word daar met hulle gewerk, en dan word hulle weer wakker hemaak.

En nou het hulle net 35 dae, en dan is dit die einde van die pad vir 16 van hulle … ter wille van die wetenskap.

Read Full Post »

Lodging

013

Of dan: Die absolute vreugde daarvan om laataand lêplek te soek in die vreemde.

Omdat jy nie weet waar jy jou gaan bevind as die son begin sak nie, kan jy nie vooraf slaapplek bespreek by ´n gastehuis of hotel of herberg nie. Dus voeter jy die vlaktes in en hoop vir die beste.

En tog; man moet altyd probeer vooruit beplan. Man kan mos nie als aan die noodlot oorlaat nie. Man moet mos in beheer wees, altyd. Vroegdag op pad. Naby sy eindbestemming gewaar hy ´n bordjie wat beduie van Mountain Lodge. Hy is reeds laat vir sy afspraak, maar eerste dinge kom eerste. Man moet ´n bed hê om op te slap as die son sak.

Volg die tweespoor paadjie die bosse in agter die bed aan. Na omtrent elf kilometres van onheilige slegte grondpad is daar nog geen teken van ´n “Mountain” nie, en ook nie van lodge nie. ´n Verdwaalde bordjie wys uiteindelik Taxidermis/Lodge 3.5 km. En net daar draai hy om en ry weg. Nee hel man, as man wil slaap wil hy nie halfpad Kaap toe ry op ´n tweespoor pad nie.

Kom laat by die Afpsraak. Verduidelik. Drink koffie. Daar word gelamenteer oor die droogte, oor die politiek, oor die goeie ou dae en weer oor die droogte, of so neem hy aan want hy kan geen word hoor wat die man mompel nie. Nou en dan sê hy ja, dan sê die man nee en kyk hom verbaas aan. Toe dit klink of die politiek en die droogte weer as besprekingspunt aan die beurt kom sê hy hy is eintlik haastig, hy het nog ´n afspraak om na te kom, en dankie vir die koffie.

Dit moes weer ´n geval van swak tydsberekening gewees het waar die man se droewige betoog in die middel van sy sin brutaal kortgeknip is, want hy lyk weer erg verbaas oor die skielike aankondiging van afskeid en vertrek. Hande word geskud. Dank word betuig vir koffie en beskuit, en die man bly verbaas op sy stoep staan en kyk hoe sy besoeker, vrolik wuiwend in ´n stofwolk die plaas verlaat. (meer…)

Read Full Post »

Langs die pad

Langs die pad by Bronkhorstbaai, naby Bronkhorstspruit (Dronkwordspruit?) het Anton Smit hierdie beeld opgerig om sy werk (en werf) te adverteer. Sou nice wees om so `n beeldjie voor my hek staan te maak.

Ry laasweek deur Ellisras/Lephalale (lekkerlepelê?), verby die nuwe kragstasie wat gebou is waar daar baie steenkool is, maar geen water nie. Die ingeneurs het skynbaar nie gedink water is baie belangrik nie.

Die dooie ou dorpie weet nie wat hom getref het nie. Op `n Dinsdag lyk die plek soos Johannesburg op spitstyd. Ons sit elke nou en dan in `n verkeersknoop vas. En elke Jan-Rap en sy mater het al wat bouval op sy erf is omskep in `n “gastehuis”. Vir `n bord kos wat die Griek op die hoek om etiese redes nie aan sy klante sal voorsit nie, betaal jy R75, en vir 2 beddens wat in `n dubbel garage staangemaak is betaal jy R300 per persoon/bed vir die nag. As dit pap reën moet jy skep, en skep, die skep die mense. Van die skugter huisvroutjie tot die sigaarsuigende tenderpreneur melk die sisteem vir elke laaste druppel.

Op die boer se plaas loop die koedoes om die huis rond en wag vir kos. Tot 40 bulle draf agter die bakkie wat die kos aanry aan. Steenbokkies staan rustig onder die bome en kyk vir jou. By elke suiping staan `n trop koedoes en wag vir kos, want dit is droog en boere moet hulle beeste en bokke voer van nou af tot Januarie of Februarie volgende jaar wanneer die eerste reëns weer verwag word.

Hulle sorg vir hulle bokke want vir `n bul met trofee horings kan hy R10,000 kry in die jagseisoen. Dit natuurlik net as die boer nie self slagoffer van die “jagters” word nie. Die ou wat ons besoek boer op `n plaas waar sy oom keelaf gesny is vir die R300 wat hy in sy kluis gehad het.

Dis `n harde wêreld, gemaak vir harde mense. Ek dink nie ek sou dit as boer daar oorleef het nie.

Volgende keer sal ek my kamera saamvat.

Read Full Post »

Paaikies

Daar is iets gemoedelik en gerusstellend omtrent beespaaikies.

Sononner innie bosveld

Read Full Post »