Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘humor’

Die voerder-van-voëltjies en die kaal man.

`n Vrou se werk hou mos nooit op nie. In teenstelling hiermee het die man eintlik hemel op aarde. Die dag as hy aftree is hy klaar gewerk en dan rus hy. Maar vir die arme rokdraers van die wêreld bied selfs aftrede geen respyt nie. Daar is `n huis en daar is huiswerk wat gedoen moet word tot die dag dat sy haar kop neerlê. `n Man voel mos amper jammer vir hulle, net soms!

En so kom dit dat die voerder-van-voëltjies (vrou van `n afgetrede ou plaasboer) vroegdag met die mandjie vol nat wasgoed onder die arm by die agterdeur uit draf, kan jy maar sê, want die dag is kort en die werk is baie. Die wasgoed moet op die draad kom en die voëltjies moet gevoer word en die huis moet skoon kom, alles voor die son weer sak. (Hier moet darem ter verdediging gesê word dat die ou plaasboer al reeds geleer het om `n stofsuier net so bedrewe te bestuur as wat hy destyds `n tien ton vragmotor kon hanteer, en die groot paar hande wat `n jong bul kon vaspen het geleer om die fynste porselyn breekgoed te was sonder om te veel skade aan te rig).

Hoe dit ook al mag wees, dit is hier met die flinke uitdraf op die werf waar teenspoed en weemoed op een slag toeslaan. In haar has haak die voerder-van-voëls se voet aan `n klip vas en sy val, sy val oor die klip, en toe oor die mandjie vol nat wasgoed waaraan sy verbete klou voor sy die harde, koue plaveisel met haar tenger skouer tref. En toe sien sy sterretjies helder oor dag, en sy hoor voëltjies sing, en sy bly sommer net daar lê want daar is `n skreeuende pyn waar daar flus `n gekraak en geskeur in die skouer gehoor en gevoel is toe die lyf die aarde tref.

En dit is hier waar haar ridder op die wit perd haar te hulp snel. By die skuifdeur sien sy hom deur die newels van pyn aangestorm kom, hande voor hom uitgestrek kom hy om haar uit haar elende te help. Sy sien goed wat gevaarlik op en af skud en rondswaai, en dit is hoe sy agterkom daar is geen ridder op `n wit perd nie, haar ridder is perdloos en hy het nie `n draad klere aan sy lyf nie. Haar held is `n poedel kaal man!

Die kaal man storm op haar af … en stamp sy voet teen dieselfde klip waaroor sy so pas geval het. Die kaal man spreek die klip in vreemde tale aan maar storm huppelend en skellend voort om by die gevalle voerder-van-voëltjies uit te kom. Hy help haar versigtig op en draai om om haar die huis in te help … en stamp weer sy toon teen dieselfde klip. Dié keer word die klip se voorgeslagte ook driftig aangespreek deur die kaal man terwyl hy dit verwoed weg slinger van die misdaad toneel af.

Die naakte ridder het die gevalle voëlvoerder op die bed gaan gemaklik maak en toe gaan stort soos hy beplan het voor hy die helse lawaai gehoor het, by die venster uit gekyk het en sy vrou op die grond sien lê het. Daar was nie tyd vir klere aantrek nie, dit was `n noodgeval. Die bure moes maar hulle oë sluit of die vertoning geniet.

Die voerder-van-voëls se vlerk moes toe onder narkose weer in sy potjie terug gesit word. Daar was niks gebreek of geskeur nie, maar die vlerk hang in `n “sling” om dit te laat rus en teen verdere skade te beskerm. Nou was die kaal man die wasgoed en voer die voëltjies … ten volle geklee maar met een kaal voet waarvan die groottoon swaar verbind is, en hy wonder oor hoeveel van die petalje die buurvrou toe regtig gesien het want sy bly skelm oor die muur loer, so asof sy hoop om die kaal naeler weer in aksie te sien.

Advertisements

Read Full Post »

Ek kry hierdie skreeusnaakse storie by Johan Kriek,`n ou skoolvriend van my. Ek plaas dit hier met sy toestemming.

Lees en geniet. Jy sal nooit weer met dieselfde oë na jou eie kleinkinders kyk nie.

My free range kleinkinders

(Deur Johan Kriek)

My week wat kom is die rustigheid self – my kinders weet, as hulle móet kom kuier, los hulle hulle kinders by die skoonmense en bring so bietjie “ready to eat” van Woollies saam – dan is hulle regtig geen moeite nie – hulle weet ek gaan slaap 2 uur elke middag en in die aand 9 uur kyk ek Bikini Beach – alles uitgesort.

My kinders se kinders is ongelooflik lastig – en regtig heeltemal useless – kan net skreeu en sk..t sê ek amper. Ek weet nie hoeveel daar is nie, of hulle name of geslag nie. Ek het baie belangriker dinge wat ek in my ou koppie probeer hou – soos wie ék is en so aan. Ek het gemeen as hulle eendag Excel, Word en Outlook baas geraak het, sal ek weer kyk of hulle iets beteken.

My een seun sê hy maak sy kinders “free range” groot – nogal. Sy een kuiken het sowat ‘n maand of drie gelede hier ingesneak voor ek haar terug op die bakkie kon gooi – haar ma moes glo môl toe – en háár ma is al op! – toe laai sy haar hier af en jaag weg! Soos die kuiken hier instap, drup sy melk oor ons vloer uit haar tietiebottel ( mooi woord dìe – nog nooit so daarna gekyk nie) – in haar ander hand het sy ‘n half geëete appel. Toe sy by ons persiese mat kom wat ek by ma geërf het (my ma het dit destyds by Daddas op Ramathlabama gekoop) – begin sy die melk op die persiese mat uitspuit -“maak dammetjie” sê sy en roer dit met haar vuil “free range” voete in die mat in.

Net toe ek haar wou gryp om haar “free range” nekkie om te draai, kry ek so ‘n lamte oor die hele linkerkant van my luif en my spraak raak duk. Suna dra/trek my na ons sitkamerbank, nou bestrooi met chips wat die klein free range nonsens wie weet waar gekry het. Suna bel dadelik die dokter – ligte beroerte meen sy – die dokter sit haar deur na sy PA om te hoor of ons nie nog geld skuld nie, en of ons ‘n mediese fonds het. Suna smeek hom naderhand – ook met ‘n paar vreemde woorde, wat ek nog nooit in die verband uit haar mond gehoor het nie – ok, hy sal kom as sy regtig dink ek is besig om te vrek, sê hy.

Terwyl ek nou op die bank lê, tussen die chips, kan ek darem my oë draai en sien hoe die klein monster afstap op ons rooshout eetkamertafel, wat ek by my ouma geërf het (waar sy dit gekry het weet ek nie maar beslis nie by Daddas nie – alhoewel hulle sappe was, en ook redelik rassisties, is dit miskien nog by ‘n Jood gekoop, want hulle verskyn in die Bybel, maar by Daddas … nooit). Ek sien hoe sy die tafel se blad met die halfgeëte appel polish – ek probeur skreeu maar voel net hoe my regterkant ook dof raak – en gelukkig pass ek uit voor ek vrek.

Al wat ek onthou is, dat terwyl sy die rooshouttafel met die appel polish – sê sy “oupa (`n woord wat ek in my huis verbied het) jy lyk vannie (funny in Engels) terwyl sy met haar bottelhand (kan nie meer die woord “tietie” gebruik nie, netnou kry ek weer ‘n speech oor vrouens se siele) al druppende na my wys.

Die “free range” kinders van my kinders dink my sitkamer is ‘n sirkustent en ek die hoofnar – maar ek het intussen ‘n plan met hulle bewimpel – ek sit net ‘n tiet/tepel/ drinkding (sorry) op ‘n bottel “sto-payne” en neem die melk weg – my rekord met hulle is 13 1/4 uur aanmekaar slaap! Goed nê! (moet dit asb. nie self probeer doen nie – ek is ‘n professional).

Ewenwel, na 3 maande is ek nou redelik by – en neem rehabilitasie klasse by ‘n mooi kindersielkundige – om te leer hoe met kinders te werk. Ek moet die woorde van John Denver uit my kop leer (ek kan die liewe, mooie dr. nog nie in die oog kyk nie – sal seker later daar kom – kyk nog hier in die middel iewers rond … weens die ligte beroerte sien, dit het niks met drinkdinge waarvoor ek nou `n erge aversie het, te doen nie!) maar terug na John Denver:

“Oh Montana (God), give this child a home. Give him the love of a good family and a woman of his own. Give him a fire in his heart, give him a light in his eyes” Pragtig nê?

Gee hulle drome, vlerkies, fire in the heart, light in the eyes – en sto-payne – en hulle is waxed.

Shalom.

Read Full Post »

Winter in Kanada

Terwyl ons hier braai onder die Afrika son, is dit winter in Kanada. `n Baie koue winter.

Snee 1

Tenminste het hulle hulle sin vir humor behou, ten spyte van die koue.

Sneeu 3

Hulle meer lewensgetroue weergawe van ons stokmannetjie prentjies op ons voertuie.

Sneeu 12

As `n fietsryer vir een oomblik stilhou is dit verby met hom.

Sneeu 13

Bevrore Karwassers is n algemene verskynsel. Hulle ontvries eers weer in die Somer.

Sneeu 31

More is expected during the day!!

Intussen in sonnige SA

055

skyn die son en wei die beeste rustig in groen weivelde

049   048

H14020184  H14020230

Fotos van die rivier deur Hannelie.

Read Full Post »

23 JULIE 2014

AUGENZENTRUM, NYMPHENBURG

MUNICH

050

Kom nou al `n lang pad met die ligte erg op dim. Kan nie meer lees nie, sien dofweg die TV raak en kan lank al nie meer sien of robotte rooi, geel of groen is nie. Ek ry as’t ware op gevoel straat-af. Gelukkig loop die trem stad toe hier reg voor my deur verby en hoef ek nie te gereeld die Germane aan my blindemol bestuursvernuf bloot te stel nie. Die grootste probleem is om die nommer van die trem reg te lees sodat ek by my bestemming uitkom en nie aan die gatkant van die stad nie.

Na maande van wag, breek hierdie dag uiteindelik aan. Vandag is my eerste lensoorplanting. Die Prof doen een oog op `n slag. Natuurlik het ek nie geslaap nie, deels opgewondenheid en deels bangeit. Ek en narkose is nie maatjies nie. Prof het gese operasie is ongeveer 2 en `n half uur tot 3 drie ure. En dit met lokale verdowing? Ek dink nie dit is moontlik nie.

Geen ontbyt, geen grimering. Dis `n quicky vandag. Ek sit 6 uur die oggend druppels in my oog. Woep, my pupil word een groot donker grot. Iewers begin iemand aanhoudend in my kop klop met `n hamer. Gaan `n lang dag wees. Munich is soos enige ander stad in die oggend, `n nagmerrie.

Ons is vroeg. Geen mens in sig nie. Ek is geskeduleer vir 07:30.  Presies 07:30 begin personeel opdaag. 08:00 roep die suster ons nader. Snaakse growwe rasper stem met `n vreemde aksent. Geen vorms om in te vul, vra net Skip se nommer sodat sy hom kan bel as ek klaar is.

Oulike jong doktertjie met stywe boudjies, wat voorheen deel van die span was wat my oë getoets het, roep my in `n kamer met baie apparate. Hy herken my, bly vir `n oomblik stil asof hy wil sê: Alweer die flippen vrou wat Engels praat. Hy gooi nog druppels in my oog. As gevolg van die stigmatisme in my oog moet hy net gou merkies op my oog maak om die posisie van die lens aan te dui. Die man pluk `n lang kopspeld uit. Die spoort wat professionele kleremakers gebruik, met die ronde koppie agter. Sit my kop in `n klem en sê ek moet stil hou en glad nie my oog “twinkle” (knip) nie. Ek kyk regs, en hy zap-zap 5 steke in my oog. Kyk op, dieselfde 5 steke. Hierdie proses begin my oog irriteer. Is nie seer nie, maar ongemaklik. Kyk af, weer 5. Toe sê hy kyk op, en daar verloor ek dit amper. 10 blerrie steke op een plek!  Hy neem my terug na die Rasper-Suster.

Ek moet my skoene uittrek en in `n kassie bêre. `n Donker seun kom haal my. Ek lê op `n lang plat bed met my kop waar my voete moet wees en my voete op `n kussing. Deure gaan oop en toe, oop en toe en dan is ek in die teater. So vinnig gekyk lyk dit as of daar alreeds 3-4 pasiënte is waarop dokters besig is om te opereer. Voor elkeen is `n groot TV skerm met die pasiënt se oog op. Dit lyk weird. Die narkotiseur staan nader en ek vra haar of ek gaan slaap. Sy lag en sê ja maar met lokale verdowing. `n Begrip wat ek nie mooi verstaan nie. Sy kyk op my lêer en toe sy lees penisillin alergie, toe hardloop almal in verskillende rigtings om drupsakkies en spuite te vervang. Sy werk saggies en sê ek gaan moeg word. Voor ek kan vra moeg of slaap, toe is ek moeg en weg.

Iewers tussen in word ek soort van wakker en voel honderde spelde in my oog. Ek soek my Engel. Met my vorige operasies was die Engel van die Here elke keer by my. Ek sweef weer weg. Word weer `n keer bewus van `n gewerk aan my oog, maar sweef verder, nog steeds sonder my Engel.  Toe ek wakker word staan Resper-suster langs die bed en sê ek kan my skoene aantrek, sy vat my “ambulans” toe. Is Rasper-suster dan my Engel? Ek strompel agter haar aan. “Ambulans” is die wagkamer, met stoele en tafeltjies. Sy gee my `n heerlike koppie Rose tee. Ek sluk dit weg met een teug, het gisteraand laas water gehad.

Ek begin te fokus terwyl klein mannetjies met groot hammers in my kop raas. So erg, ek sien oral sterretjies. Skuins oorkant my sit `n groot oom met `n wit hemp, kruisbande en `n oogklap. Hy eet sy bretzen en drink `n bier. Ek gaan haal vir my nog `n koppie tee en toe sien ek die kas met bier langs die teepot. Dalk moet ek ook `n bier drink, dink ek, maar sê nou net die mannetjies met hammers raak vrolik en gaan haal hulle jackhammers?

Ek soek `n bed, dringend. Ek moet lê. My migraine is besig om die oorhand te kry. Manlief Skip red my. Ek slaan die BMW se sitplek plat en ons gaan huis toe. Die son is skerp, baie skerp. My kop wil bars. By die huis sluk ek twee sterk hoofpynpille en  kruip in die bed. Vieruur word ek wakker en Skip staan by die bed en vra : “Bokkie, wil jy nie bietjie koffie hê nie?” Toe weet ek, die Engel van die Here is nog steeds aan diens!

Sodra hierdie oog met sy nuwe gepoleerde lens ordentlik kan sien, dan gaan die Prof die ander een ook doen. Voor dan moet ek iets kry om die flippen mannetjies met die hamers in my kop ook “moeg” te maak voor die narkotiseur my “moeg” maak.

Read Full Post »

Lag-n-slag

Ek het gedink die een is baie snaaks!!

Read Full Post »

Ons rekenaar gee die gees. e-pos crash totaal, soos in onopspoorbaar weg. Ikoon op die skerm en program in sy binnegoed spoorloos uitgewis.

Nerd se hulp word gevra en soos gewoonlik klaar hulle een probleem op en los jou met `n wavrag ander wat `n komputer moroon soos ek nie kan oplos nie. Gevolg? Roep die donner terug en betaal maar weer vir sy “diensste”?

Gelukkig is daar nog ander idiote in die wêreld wat `n glimlag glimlag op jou bakkies kan sit op hierdie koue Vrydag.

So gaan dit glo in die Kaap lyk as die ANC weer die bewind daar oorneem.

Nuwe gebruike vir Taxi’s is legeo en blondines bedink ook daagliks nuwe gebruike vir hulle laptops.

En pa’s bedink maniere om nat doeke te voorkom as ma gaan inkopies doen.

Diens op lughawens verbeter ook elke dag.

Mens wonder of dit `n waarskuwing of `n uitnodiging is?

Is goed om te weet daar is dommer ouens as ek in die wêreld.

En dan is daar Walmart, my ou gunsteling as die wêreld te erg raak.

Read Full Post »

Monday is fun day

Om die bloumaandag te verjaag:

As dit is hoe jou week begin gaan dit `n laaang week wees.

Twee meisies gesels in Spitsverkeer Maandagoggend op pad werk toe.

Man sou liewer nog op die strand wou rondhang eerder as om in die bedompige kantoor te sit.

`n Harde naweek van suip en dan is daar net een boom!

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: