Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Seks’

As jy nie dink hierdie Plaag is n bedreiging vir ons planeet se gesondheid nie, dan lewe jy in n ander wêreld.

Read Full Post »

Snaaks hoe dinge ‘n mens se lewe kan beïnvloed. Selfs ‘n geringe voorval. Lank, lank gelede by ‘n atletiek byeenkoms sê die donkerkop meisie aan haar blondekop vriendin: “Luister, daar speel jou geliefde musiek oor die luidsprekers.” Eenkant staan die uwe, kaalvoet plaaskind (maar nou in sy ‘spikes’, en die ‘Gemsbok’ uitrusting, want hy kan mos so vinnig hardloop), en hy hoor die gesprek, en hy hoor die musiek. Van daar af was die plaaskind versot op klassieke musiek en opera.

By ‘n later geleentheid het ons Geskiedenis onderwyser vir ons gevra of iemand al Etienne Leroux se boek ‘Sewe Dae by die Silbersteins’ gelees het. Die boek was toe pas verban (danksy PW en die koeksistervereniging). Daar het ‘n lewendige debat oor die boek gevolg. Die donkerkop meisie en die blondine, wat ek beskou het as toonbeelde van intelligensie en sofistikasie in ons matriek klas, was heel opgewonde en het veral gegiggel oor die eksplesite SEKS in die boek. Omdat die slim kinders gedink het die boek was uitstekend, en omdat ‘n hormoonbelaaide sestiejarige plaaskind die woord seks gehoor het, MOES hy die boek lees. Ek het die boek iewers  te leen gekry en opgewonde begin lees. Die storie en die skryfstyl het my so geboei dat ek die boek van voor tot agter gelees het … en op die laaste bladsy agtergekom het dat ek die gedeelte oor seks op ‘n manier moes mis gelees het. Toe begin ek weer van voor af lees, maar die keer spoedlees ek. Mens kan tog nie die grafiese uitbeelding van seks mis lees nie, nie as jy sestien jaar oud is nie! Toe ek dit uiteindelik raaklees was ek baie teleurgesteld. Soos julle seker weet was dit meer suggestie as beskrywing, nie naby ’50 shades of gray’ of selfs enige Mills en Boons vrystorie-seks nie.

Daardie onskuldige gesprek in die geskiedenisklas was die begin van my verwoede lees- en leerlus. Ek was so beïndruk met Leroux se satiriese skryfstyl dat ek al sy boeke gaan lees het, en weer en weer gaan lees het. As eksponent (vir my) van die eerste Afrikaanse eksistensialistiese skrywer, het dit my op die spoor gesit van groot name soos Sartre, Nietzsche, Kierkegaard, Kafka, Tolstoi, Dostoyevsky, Hegel en selfs Marx. Jare se studie in sielkunde en filosofie het my laat kennis maak met Zeno, Parmenides, Kant, Jung, Wilber, Maslow, Sheldrake, Bohm, Schrodinger en baie ander wat ek nie hier genoem het nie. Dan was daar William James en Aldous Huxley met sy Perennial Philosophy wat my in die rigting van Buddhisme en Sufisme gestuur het (met broer Johann se bose hulp natuurlik ook).

Leroux

Dit is dus klein dingetjies op jou lewenspad wat jou beïnvloed en jou in ‘n koers in stuur waaraan jy in jou wildste drome nie van gedroom het nie, wat jou uiteindelik die mens maak wat jy is, en steeds besig is om te word, want daar is nooit ‘n einde aan soek en leer nie. Nie voor jou koppie jou dalk een dag verlaat, of die ou sekelman jou draadjie kom knip nie.

Ek dink ek is baie dank verskuldig aan daardie donkerkop meisie en haar blonde vriendin wat (onwetend) as inspirasie gedien het vir my lewenslange soektog na antwoorde en die kaalvoet boerseun se belangstelling in die “hoge” dinge in die lewe soos kuns en musiek en letterkunde. Hy is nog net so dom soos destyds, maar hy voel nie meer so sleg daaroor nie.

 

Read Full Post »

Seks in die nuwe jaar

Die stats van hierdie werf sit daar vir almal om te sien. Anders as al die statistieke van die ANC regering oor misdaad, Nkandla, noodlottige ongelukke op ons paaie en wat nog (ek het misdaad genoem? Nkandla is ook `n misdaad?), is hierdie syfers moontlik nie gedokter nie.

En volgens WordPress se syfers was dit die inskrywings oor geweld en seks wat meeste gelees is en wat ook die meeste komentaar uitgelok het. Op sterkte van hierdie syfers is daar dus besluit dat daar in die nuwe jaar meer oor hierdie onderwerpe geskryf sal word.

Joh het op fb aanbeveel dat die twee onderwerpe moontlik gekombineer kan word, iets in die lyn van Deep Throat. Ek is nie vertroud met die inhoud van daardie epiese produksie nie, dus sal ek my eie weergawe daarvan moet bedink. Ek het vir hom gesê dat die skryfsels dalk nog meer opwindend gemaak kan word deur godsdiens ook by die brousel in te meng.

In prentjies kan dit dan dalk so lyk:

Funny 1o Blom Amorphophallus titanum Klap2 Dood `n Vriend

Hou hierdie spasie dop vir hoofstuk 2

Read Full Post »

Liewe Boet, ek wil net aan jou terug rapporteer. Ek en Ma het toe maar alleen na die Naakte Nuus op e-TV sit en kyk gisteraand. Ek was half bly jy het besluit om liewer jou vriend se 15de verjaarsdag saam met hom te gaan vier, want van die verwagte ellegansie en skoonheid en kunswerk het daar toe nie veel van gekom nie. Dit wou eerder lyk of `n paar hookers van die straat af aangekeer is om hulle ware te kom adverteer. Burlesque is die woord wat dalk beskrywend kan wees van die parodie van kuns wat hier effe banaal voorgehou is as, nou ja, kuns.

Toe jy dus laatnag na die nuus by die deur instrompel was ek half verlig. Ek het nie gedink dié nuus was geskik vir ons man tot man geselsie oor bytjies en blommetjies nie. Maar ek moet jou meedeel dat jou Ma erg onsteld was toe jy terstond op haar sitkamer mat staan en kots het, dit nou nadat jy ons onsamehangend verseker het dat jou vriend se veertien jarige sussie  gehelp het dat jou aandjie uit op `n ongelooflike klimaks geeindig het. Gelukkig vir jou het jou ma die oraal gedeelte verstaan as dat die dametjie lekker kan gesels, anders het sy jou in `n ander geloof in geklap nog voor jy vanself uitgepas het op die rusbank.

Seun, jy is op die verkeerde pad. Sodra jy jou roes af geslaaap het sal ek en jy moet gaan sit en gesels.  Die feit dat julle na die video van “Debbie’s daughter does Dallas AND Charley’s Angels”  gekyk het is geen verskoning vir jou en die kind se gedrag nie. Ek sal die anties vra om vir julle ook te bid.

En so gepraat van die anties, ek moet bieg. Ek was verkeerd en ek moet die anties om verskoning vra, en vra om hulle effort asseblief te verdubbel. Anties, julle moet bid, julle moet tien keer harder bid, maar nie soos julle gedink het om die onsinnigheid van die TV af te kry nie, nee, julle moet bid dat die storie nog lank op TV gaan bly.

Die ding werk so; as julle nou liewer self na die vrotsige spul loop staan en kyk het voordat julle op loop gegaan en begin praat het met die Grootbaas, sou selfs  julle kon agterkom dat die klomp kaalgatte erg amateuragtig is. Enige man wie se koerasie in die rooi opgejaag word deur daai misrabel skepsels, se koerasie sal ook deur `n erg ingeduikte 200 liter drom vol ou motorolie opgejaag word.

Hoe langer die absurditeit op TV vertoon word, glo ek, hoe meer  sal die lees-kultuur weer onder die manne begin posvat. Die meer verstandige en gekultiveerde man sal baie gou die TV afskakel sodra die derderangse porno sterre hulle verskyning maak en hom kooiwaarts wend waar hy rustig `n boek kan gaan lê en lees (of aandag aan sy eie “kunswerk” sal gee, as sy te besig is om te bid nie). Net die domste van die dommes sal nog op `n Vrydag tot middenag voor die TV sit en wag vir dié breinlose vertoning.

Dus my liewe anties, bid, bid dat die ganse rietbos bewe en verlos ons van die halfgebakte boosheid. Maar hou in gedagte dat, as julle vra dat die Here die redelik onskadelike gekkespul moet laat vervang met iets beter, Hy dit dalk net kan laat vevang met iets baie “beter” in dieselfde trant, want wat Hy dink ons nodig het is nie altyd wat ons dink ons nodig het nie.

Hamba gashle.

Read Full Post »

Daar is weer `n ernstige beroering onder die kappiekomando en die koeksistervereniging se tantes. `n Heilige Oorlog is verklaar. Daar word gebid dat die biesies bewe, nogmaals.

Intussen wag duisende manne en (in die geheim) hulle laaities vir Vrydagaand 2200 uur se nuusuitsending op e-TV, iets wat hulle voorheen vir geen oomblik aan gedink het nie. Maar danksy die anties weet hulle nou en moet hulle kyk, kom wat wil!

Die rede vir die histerie (en die afwagting) is e-TV se naked news om tien op `n Vrydag aand. Ek het self nie daarvan geweet nie, maar nou gaan ek en Ma kyk hoe die meisie wat die nuus lees stelsematig van haar klere ontslae raak tot sy aan die einde van die nuus glo in haar Adamsgewaad in jou voorhuis op jou TV staan.

En die anties bid, en ek wonder; is daar waragtig op hierdie oomblik geen ernstiger bedreiging vir die mensdom as een kaal meisie op TV wat dringende voorbidding benodig nie? Wat van die bedreiging van hongersnood, oorlog, Gadafi, Malema, die Japanese se krisis? Hel, hulle kan selfs vir Andrew bid as hulle dan moet energie mors.

Maar sou dit nie duisend maal beter wees as die geleentheid deur Pa aangegryp word om Boet oor sake van die lewe in te lig nie? Pa kan sy spruit nader roep en sê seun, kom ek wys jou vannaand een van die mooiste, skoonste dinge wat jy ooit in jou lewe sal sien, `n kunswerk duisend, geskep deur die Groot Kunstenaar self.

Kom sit hier en beleef dit. Vergeet van al daai tweederangse blou movies wat jy en jou pelle al skelm gekyk het. Vergeet die verweerde, banale prentjies van daai gesteelde Kama Sutra boekie wat julle in die toilet sit en bekyk, en vergeet van al die honderde maniere waarop jy dink jy hierdie meisie op die TV wil spyker.

Kyk na haar soos jy na `n eksotiese blom sal kyk. Kyk na haar met `n kunstenaars oog. Kyk na die golwende lyne, na die grasieuse bewegings, na die sagtheid, die weerloosheid. Voel hoe die beeld jou aanraak in jou diepste wese. `n Mens wil tog nie `n mooi blom bestorm en dit vermorsel nie, en `n mens moet siek wees om `n Rembrand te wil vernietig.

Dit gaan oor selfbeheersing, dit gaan oor waardering van dit wat mooi is, oor deernis en medemenslikheid. Dit gaan oor respek vir jou self, vir ander, vir die lewe.

Die dag, seun, wat jy na `n naakte meisie kan kyk sonder om `n ereksie te kry, is die dag dat jy volwaardig mens geword het, `n meer volwasse mens as daai anties wat nie na `n kaal meisie kan kyk sonder om aan seks te dink nie.

Gaan vat nou `n koue stort en gaan klim in die bed my kind. Ek sien jy het nog `n lang pad om te loop.

Ons moet ons kinders opvoed. Jy moet met hulle praat voor jy met jou God loop staan en praat, Hy het baie belangriker dinge wat Hom besig hou as om jou kinders vir jou op te voed.

Ons sal hier rapporteer oor wat ons Vrydag op NN gesien het.

Read Full Post »

Homoseksualiteit  is `n afwyking, dit is `n gruwel in die oog des Gods.

God het die mens goed en mooi gemaak, en God maak nie foute nie. Die mens, uit vrye wil, sondig teen die wil van God deur teen sy natuur in homoseksuele dade te pleeg.

Dit is min of meer die kerk se standpunt.

In hoeverre klop hierdie siening met wat in die res van die skepping gebeur?

God het diere gemaak. Diere het geen vrye wil soos die mens nie (in die kerk word daar nog gestry daaroor of die mens wel `n vrye wil het). Indien diere nie `n vrye wil het nie, dan meen dit dat hulle, ten minste in die wildernis, presies so moet reageer as wat God hulle gemaak het.

Navorsing oor seksuele gedrag, en veral selfde geslag seks tussen diere, het maar eers onlangs begin, en reeds het wetenskaplikes “homoseksuele” gedrag by meer as 1,500 diere spesies aangeteken.

Oplettende boere weet reeds dat seks tussen ramme, bulle en varkbere nie ongewoon is nie. Wetenskaplikes het vasgestel dat daar soms in `n groep ramme een of twee  ramme is met sterk vroulike eienskappe wat deur die ander ramme uitgesonder word om mee seks te hê.

Dieselfde gedragspatroon word by varke gevind. Uit `n trop bere sal een of twee gekies word wat deur die ander bere gedek word presies soos wat `n sog gedek sal word. Hierdie bere is submissief en laat dit vrywillig toe dat die ander bere hulle so “misbruik.”

Maar homo seksuele gedrag is nie net tot huisdiere beperk nie. In die natuur is dieselfde gedrag al waargeneem by dolfyne (een van die min nie-mens spesies wat seks vir die plesier daarvan beoefen). By primate is dit redelik algemeen, wildehonde doen dit asook hiënas, hase en vlermuise (veral die bloedsuiende soort). By watervoëls is dit `n redelik algemene verskynsel waar een mannetjie met `n ander mannetjie seks het, elfs gedurende vlug. Een wetenskaplike het al `n Nobelprys gewen vir die vreemdste stukkie navorsing  wat hy beskryf het. Een mannetjie eend het glo `n ander mannetjie eend agterna gesit en die het teen die professor se kantoor se venster vasgevlieg. Die eend het dood op die grond neergeval en die ander eend het eenvoudig geland, seks met die dooie mannetjie gehad en toe weg gevlieg.

Daar kan `n argument voor uitgemaak word dat die gedrag eintlik biseksuele gedrag is en nie homoseksueel nie aangesien die manlike diere by geleentheid seks met `n mede manlike dier sal hê, maar normaalweg hetero seksuele verhoudings met vroulike diere van sy soort sal handhaaf.

Uitsluitlik gay verhoudings by diere is skynbaar nie `n algemene verskynsel nie, behalwe die klassieke geval van die pikkewyn.

Pikkewyne paar lewenslank. Twee manlike pikkewyne in `n dieretuin is deur navorsers waargeneem wat `n volkome gay verhouding gevorm het. Hulle het dieselfde intieme verhouding gehad as ander heteroseksuele pikkewyne. Paartyd het hulle gepaar en saam `n nes gebou. Toe die navorsers `n eier in die nes sit het hulle die eier uitgebroei net soos ander pikkewyne. Toe die kuiken uitbroei het hulle hom/haar versorg soos alle ander pikkewyne hulle kuikens versorg.

As diere dus, in hulle natuurlike staat soos God hulle gemaak het, die geneigdheid toon om homoseksuele seks te beoefen, waarom sal dit by die mens anders wees?

Of is die diere van nature boos met `n vrye wil en handel hulle ook, soos die mens teen die wil van God?

Interessant genoeg is selfbevrediging ook nie `n uitsluitlik menslike “sonde” nie. Dit kom vry algemeen onder manlik sowel as vroulike diere voor, selfs die oulike klein krimpvark wyfietjie is al waargeneem dat sy `n klippie of `n stokkie gebruik om die sonde mee te pleeg! Is seker die dat selfs die diere (die sondaars!) nie meer in die Paradys bly nie. En as jy nou weer eendag `n blinde bobbejaan mannetjie in die bos raakloop, dan weet jy die blikskottel het nie ag geslaan op sy ma se waarskuwings nie.

Read Full Post »

Seks op skool!

Daar is groot onrus in die land. Ouers is glo die m**r in oor Vereniging Hoërskool se Mnr. En Mej. Rainbow wedstryd. Daar word ge-eis dat `n onderwyser afgedank word. Miskien sal hulle `n brandstapel verkies?

Graad 12 leerlinge voer onderhoude met graad 11 leerlinge wat aan die kompetisie wil deelneem. En genugtig, hulle vra vrae soos; as jy `n spieël was, in wie se kamer wil jy hang? En as jy `n gloeilamp was, sou wou ingeskroef of ingesteek word?

Genade, vir die afgelope 20 jaar al is dieselfde afgesaagde ou grappies in joolblaaie oor en oor gemaak. Op die skoolgronde sê kinders baie erger dinge vir mekaar, om nie eers te praat van wat hulle dink nie. En dan wil jy nie eers weet wat alles op hulle selfone gelaai is nie.

Maar moeders uit die middel eeue skreeu vir wraak. Die samelewing het, volgens een moeder, erg verrot geword. Iemand behoort gestenig te word, lyk dit. Nou moet die arme bloedjies berading ontvang. Die tyd kon dalk meer produktief gebruik gewees het deur hulle te leer somme doen en spel.

Of wil ons kinders se dinge waaroor hulle mag dink en praat totaal beheer? Mag ons hulle sensor? Ons skreeu blou moord as die ANC ons vryheid van spraak aan bande wil lê, maar self wil ons die reg hê om sensuur toe te pas waar en wanneer ons wil?

Kinders van 16 se hormone werk oortyd. Enige ding, van `n gloeilamp tot `n rol doringdraad dra vir hulle een of ander seksuele konnotasie. En hulle spot met ons stroewe swaarmoedigheid, hulle rebelleer teen ons pretensie, hulle toets die grense van konvensies, en dit is hulle reg, eintlik hulle plig.

As ons nie meer kan lag vir kinders se streke nie, dan het die verrotting werklik ingetree. Dan beweeg ons weer nader aan die donker eeue se brandstapels.

Laat my nou dink aan die grappie wat sus Cobie daar uit China vir my stuur.

Sussie kom by die huis van die skool af en vertel opgewonde vir haar ma dat klein Pietie vandag vir haar sy willie gewys het.

Ma sluk `n wind, maar voor sy `n woord kan uitkry sê Sussie dit het haar aan `n peanut laat dink.

Ma slaak `n sug van verligting en vra so argeloos as wat sy kan;

Ooo, dit was baie klein?

Nee, sê Sussie, dit was effens souterig.

Read Full Post »

Generasie Y

Eben Venter skryf nou eendag in ‘By’ van Beeld oor `n onderhoud met `n jong man (24) genaamd Zee, gebore in RSA, maar grootgeword in die VSA.

Die jong Zee lewer toe sterk sosiale kommentaar oor die stand van die samelewing, die wêreld, die toekoms, jongmense se werks etiek en oor seks.

Die volgende Saterdag was die anties blasend woedend oor Venter se “smerige onderhoud” vol seks en onsin.

Ek het toe maar weer die pen opgeneem en die anties aangespreek. Hier is my brief soos gepubliseer in ‘By’ op Saterdag 10/7/2010

Interessante stuk skrywe van Eben Venter oor generasie X en Y in By van Beeld 26/6/2010. Maar nog interessanter en heel vermaaklik was die (sekerlik te wagte ontstelde) reaksie daarop in By van 3/7/2010.

Ene X of Y van Johannesburg kloof hare oor wie tot watter generasie behoort en ontken ontsteld dat Zee verteenwoordigend van generasie Y in Suid-Afrika is. Maar nêrens in sy artikel sê Venter dat Zee `n Suid-Afrikaner is nie. Hy stel dit tog duidelik dat Zee in Amerika grootgeword het en dat hy die afgelope jaar skottelgoed was in Melbourne, wat hom ook nie `n Australiër maak soos Madeleen Roux in haar ontsteltenis dit het nie.

Dit is sekerlik `n gruwelike (onwetenskaplike) veralgemening om `n etiket van X of Y of wat ook al aan alle mense se nek te hang, net omdat hy/sy tussen bv. die jare 1970 tot 1980 gebore is. Soos X of Y van Johannesburg tereg sê, ons is nie almal so nie (al wens ons dalk soms tog heimlik om so te wees!) Mens sou eerder dink dat elke generasie individue sou hê wat eienskappe van X of Y of Z sal toon.

Wat veral amusant is, is die fiksasie van die briefskrywers op Zee se kommentaar oor sy generasie se seksuele aktiwiteite. Die jong man lewer kommentaar oor ons samelewing, oor wat hy en sy vriende dink oor ons en ons planeet se toekoms, hy verduidelik hulle werks etiek (of gebrek daaraan) aan ons, maar ons hoor net die vieslike, vuil seks waarvan hy praat.

Karin Pretorius skryf op dieselfde bladsy as hierdie ontsteldes oor ons “geïnhibeerde ou volkie” waar kinders net gesien maar nie gehoor moet word nie. Ons wil nie hoor wat Zee of enige ander jong mens `n ereksie gee nie. Ons wil verkieslik niks hoor oor ons kinders se sekslewe nie. Hoe minder ons weet, hoe beter. Die Z generasie, die Zombie generasie wat kop in die sand ontken dat ons kinders `n opinie oor seks het, of dalk, (berge bedek ons) self `n sekslewe van hulle eie het. Ons wil nie weet dat Boetie dalk gay is of Sannie vir Annie vry, en Jannie vir Annie en Sannie en Boetie vry nie. As ons dit nie weet nie, gebeur dit nie. As ons dit ontken kan Hoofouderling Jaap bloedskande pleeg met sy eie dogter of kleinkind en Dominee kan veronwaardig vra hoe kan jy `n kind se woord teen so `n voorbeeldige Christen glo?

Ons wil nie weet dat ons kinders nihilisties geen toekoms vir hulle self sien nie, dat hulle dink dat ons die aarde klaar opgef*k het en dat hulle niks daaraan kan doen nie. Hier waar my kop in die sand is, is alles lieflik en rein. Dis dalk `n bietjie stowwerig en sig is nie so goed nie, maar hel, alles is wonderlik.

Madeleen Roux vra; vertel my eerder van ons eie jeug. Regtig?

As X of Y van Johannesburg reg is, dan is ons eie Y generasie (wat ver agter Amerika is) eers laat in die 90’s gebore. Hulle is dus nou ongeveer 10 of 12 jaar oud. Wil sy regtig weet wat haar tieners oor seks te sê het, of erger nog, wat hulle DOEN? Ek dink nie so nie!

Ons kry nou `n voorsmaak van wat ons eie “Y generasie” oor `n paar jaar van nou af gaan dink en doen, en ons kry die aapstuipe. Waarom gaan dit dan later vir ons meer aanvaarbaar wees? Maar natuurlik, die Z generasie maak net engeltjies groot. Ons praat nie oor seks nie, ons dink nie daaraan dat ons die aarde plunder nie. Aardverhitting is `n mite en homoseksualiteit (en ereksies) gebeur net in sondige Amerika en Australië. Geen wonder ons kinders gaan bly oorsee nie!

Read Full Post »

Los(van)lyf

Ek sien dat die nuwe redakteur van die sekstydskrif ‘Loslyf’ `n dame is. (party mense noem haar nou baie ander name wat niks met dame te doen het nie.) Na berig word maak sy aanspraak daarop dat sy `n toegewyde Christen is wat haar geloofslewe baie ernstig opvat. Sy beoog glo om die ou Loslyf op te gradeer met gehalte artikels sodat die intellektueel begaafdes (in teenstelling met die testosteroon begaafdes?) ook die tydskrif sal wil lees. Meen dit nou sy gaan skryf oor mense se ekstatiese geestelike ervarings gedurende orgasme?

As daar nou al ooit `n geleentheid was vir `n simbiotiese saambestaan (as’t ware `n kruisbestuiwing) van die vlees en die gees, dan is dit hier in die nuwe, verbeterde Loslyf. Dink net, die nuwe redaktrise gee elke maand (of kom die tydskrif elke week uit?) aan `n predikant die geleentheid om `n artikel, `n preek of `n lewenslessie in Loslyf te publiseer. Sondag kondig Dominee van die kansel af aan dat sy skrywe in hierdie maand/week se uitgawe gepubliseer gaan word. Hy kondig ook aan dat die tydskrif volgende Sondag gratis aan alle lidmate uitgedeel gaan word, suiwer net sodat hulle sy boodskap kan lees natuurlik. By die kerk se een uitgang sal `n silwer kollekte gehou word waar die kinders en die wat nie `n Loslyf (by wyse van spreke) wil hê nie, die kerk na die diens kan verlaat. By die ander uitgang, waar net papiergeld as donasie aanvaar sal word, sal die tydskrif gratis uitgedeel word.

Dink net hoe vol gaan die kerk die volgende Sondag wees. Om seker te wees van `n sitplek sal jy maar vroeg moet opdaag. En dink net hoe `n hupstoot die kerk se weduwee en wese fonds gaan kry met al die donasies. Dis `n wen-wen situasie. Loslyf se sirkulasie skiet die hoogte in, en die kerk vul deesdae se al leër wordende banke en dus ook sy geldkoffers tot barstens toe.

Die kerk se aanddienste, wat lank reeds afgeskaf is weens min belangstelling, kan weer herleef deur die gemeente aan te moedig om die tydskrif (nou met sy opbouende, gehalte inhoud) deur die dag te lees in plaas van die dekadente Sondagkoerant met al sy geweld, misdaad en skinderstories. Die aand moet die gemeente dan hulle Loslywe kerk toe bring waar `n bespreking van Dominee se artikel sal plaasvind.

Die nuwe, Christelike Loslyf kan ook loshand die beste manier wees om aan die jong mense gehalte seksvoorligting te gee gedurende die aanddiens. Ek is seker die nuwe redaktrise sal met graagte gehalte Loslyf video’s as hulpmiddel en ter demonstrasie, aan die Dominee voorsien (te koop na die diens met 10% van die opbrengs as kommissie aan die kerk natuurlik.)

Ek hou van hierdie meisie. Dis `n dame met ambisie, met visie. Ek dink ek moet my as konsultant by haar gaan aanmeld. Ek het nog `n paar idees wat ek met haar wil deel, streng Christelik natuurlik. Dink byvoorbeeld aan die eeue oue tradisie van tempelprostitusie. Dit sal die manne (en hulle geld) weer in hulle duisende terug kry in die kerk. Dink swepe en sambokke en boeie, natuurlik suiwer as instrumente van boetedoening vir sondes, en om te ly vir jou geloof. (nog 10% van verkope aan die kerk)

Ernstig nou. Die vraag is, kan jy, as godsdiens jou erns is, die redakteur van `n eksplisiete sekstydskrif wees? Ek vra, want ek is biekie dom met die een.

Read Full Post »

Of

Hoe om `n beter, vrye mens te word.

Dis eintlik maklik. Sluit net more nog aan by BDSM. Geen jare lange bestudering van heilige geskrifte, daaglikse gebede en boetedoening vir sondes nie. Geen eensame gesit op `n kussing en eentonige mantras opsê vir jare en jare aaneen nie. Nee, laat jou geliefde jou boei en dan in liefde bliksem tot jy huil en dan maak julle passievolle liefde terwyl jy bloei en whalla, `n helende, heilige ervaring, jy word `n nuwe mens.

By www.collarme.co.za ontmoet jy sielsgenote in pyn, eintlik filosowe. Eckhart Tolle se siening dat die kern begeerte van die individu is om net te wil wees, (verdraai tot willoos wees, te wees sonder om te dink) word nagestreef. Hulle rolmodelle is die Markies de Sade en Leopold von Sacher-Masoch.

Deur jou te dissiplineer (slaan terwyl jy kaal is) word jy heerlik pynlik gestroop van jou identiteit en jou ego. Jou skyn-self word ontbloot en jy word gereduseer tot wie en wat jy werklik is. (`n kaalgat, bloeiende slagoffer van jou eie en jou geliefde se wellus). Jy word pynlik gevry tot jy weerloos vry en bevry is.

Die up side is glo `n helse adrenalien-rush of `n sielsvernuwende high van al die endorfien waarmee jou lyf desperaat probeer om die pyn te stil.

Sigmund Freud was glo al die jare verkeerd, sadomasochisme is nie `n afwyking nie, dis eintlik baie goed vir jou siel.

Gaan heen in vrede en gaan bevry jouself, dis makliker as wat jy gedink het. Dalk meer pynlik as wat jy gedink het, sieker as wat jy gedink het, maar wie de hel gee om. `n Nuwe jy word (telkens?) orgasmies gebore, `n weerlose, willose, onderdanige, ego en identiteitlose pynvraat. As dit is wie jy wil wees, go for it.

Read Full Post »

Older Posts »