Johan op sy driewiel
Die laaste inskrywing op hierdie blog deur Johann. Sondag sal ons sy as gaan strooi op `n koppie by Mooinooi.
Rus in vrede broer, vriend, geesgenoot. Ons mis jou.
Hy was inderdaad `n man van vrede.
Vrede
Die ou man leun so trug teen die kleimuur, en die riempies van sy stoel buig kwalik onner sy tenger gewig. Ons koffiebekers is lankal koud maar sy skraalte drink nog die hitte vannie muur.
Normaalweg sou ek nou al half ongemaklik begin raak het met ‘n stilte wat so draal. Die peperboom se bessies ritsel in ‘n vae bries en ‘n torrie se koer uit die bloekombos, so ‘n enkie daar agter sy hut, vee die trae lug in lustelose kringe.
Die plooie op sy gesig lyk so gemaklik – assof dit enige oomblik kan vervorm in ‘n glimlag, of verdriet. Skuins strale van die laat middag son ets sy gelaat ‘n rooier bruin en streel die grys halo van sy kort geskeerde hare. Nooit sou ek kon dink dat daar so ‘n vrede in hierdie lewe kon wees nie.
My gedagtes dwaal trug na vroeër, toe ons gesels nog gevloei het. Soos die gekibbel van ‘n bedeesde waterstroompie, wat sy weg kronkel deur die Wes- Transvaal se vlaktes, het ons woorde strominge in mekaar se gedagtes laat blyk. My gemoed waarskynlik meer van ‘n modderkolk . . . en syne . . .? Die vrede was tóé al tasbaar: die rugstring van sy wese.
Die ding van ‘n kleimuur is dat dit hitte opsuig, en later as die lug afgekoel het, weer uitstraal. Dik kleimure, met klein vensterkies soos dié van sy tweevertrek hut, hou ‘n huis se binnekant koel innie somer, en warm innie winter. Buk deur die deur en staan vir ‘n minuut of so eers baie stil. Tot dat jou oë die donkerte gewoont raak . . . tot dat jou siel die koelte vind.
My oë gly oor die groen mielielande, draai trug na sy gesig toe, en ontmoet syne. ‘n Vae glimlag speel om sy mond en die antwoord lê rein in sy kyk.
Het ek ooit ‘n vraag gehad?
Stunning!
Sterkte ou mater, wat sal ons verder kan se?
Dink aan jou xx
Is so Hannelie. En hy het sy lewe deur vrae gevra, soms in woorde, soms met `n stilte en altyd was daar `n vraag agter die vraag wat dieper gevra het as die ooglopende.
Dankie Hennie. Wat sal ons sê, jy loop ook maar dieselfde pad met jou ma se graf nog vars daar in Lichtenburg se aarde. Sterkte vir julle ook. Mooiloop.
Dankie Son. Soos altyd sal die Son weer eendag skyn. Dit is nou nog so `n bietjie onwerklik. Mooibly daar in die sonnige Kaap.