Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘evolusie’

Dated Clouds

Annie Dillard se “Dated Clouds” bly telkens by my opkom. Sy skryf in haar boek “For the Time Being” van John Constable se twee skilderye van Brighton Beach, een van 1824 toe sy vrou siek geword het, en die ander een van 1828 toe sy vrou dood is. Dan maak sy die opmerking dat John se twee skilderye nog met ons is, maar dat nie een van John of sy vrou nog met ons is nie.

Shoreham-Bay-Near-Brighton,-1824    The-Coast-At-Brighton-Stormy-Evening,-C.1828

Foto links is Brighton Beach 1924 en regs is 1928

Alles is verganklik, maar sommige goed is meer verganklik as ander?

Ons ry vroeg oggend af Laeveld toe op Woensdag 6 Maart 2019. Malelane is die eindbestemming. Net anderkant die eerste tolhek anderkant Witbank/Emma-hy-wil-nie-lê-nie of wat ook al, staan die verkeer dood stil. Dit is 07:19 en almal is ongeduldig. Voor in die pad is rooi ligte van ambulanse en `n brandweer of twee.

Toe ons uiteindelik verby die ongelukstoneel beweeg sien ons twee verfrommelde bakkies in die pad, en langs die pad, onder teen die wal van `n spruit `n groot verpletterde vragmotor en sleepwa en houtpale wat die wêreld vol lê, en `n baie plat, baie dooie jakkals lê langs die pad.

Volgens wat mens van die toneel kan aflei het die ongeluk soos volg verloop: Die (60 ton?) vragmotor kom met sy vrag houtpale teen `n redelik hoë spoed teen die afdraande af gery in die heel linkerkantse baan van die snelweg in `n oostelike rigting (m.a.w. in Pretoria se rigting). Skielik hardloop daar `n jakkals van links na regs oor die pad, die bestuurder skrik en swaai die vragmotor na regs om die jakkals nie te tref nie. Die jakkals skrik sy gat af en hou vir dood en lewe aan om die pad oor te steek. Die bestuurder verloor beheer oor die vragmotor, tref die jakkals en ry hom so plat soos `n Nando hoender.

Toe ploeg die vragmotor deur die grasbaan en kabel versperring tussen die twee rybane en tref die twee bakkies wat niks vermoedend in `n westelike rigting op pad was.

Ons weet nie of daar nog karre of bakkies saam met die vragmotor die dieptes in is nie. Ons weet ook nie hoeveel ander slagoffers daar was behalwe die jakkals nie. Dat mense baie seer gekry het is duidelik aan die aantal ambulanse wat aankom en weer wegry van die toneel af. Hoeveel dood is weet ons nie.

Nou wonder mens hoe toevallig so `n ongeluk nou was?

Ek onthou van `n soortgelyke voorval lank gelede naby Bethlehem in die Vrystaat (nie Dillard se Bethlehem in Israel nie). Daar was dit mense wat op pad see toe was vir vakansie. Net buite die dorp kry hulle vriende op pad en hulle hou stil om gou onder `n boom te sit en koffie drink, te bid vir `n voorspoedige reis en te groet voor hulle verder ry.

Terwyl hulle so sit en gesels kom `n vragmotor om die skerp draai ook so teen `n afdraande af. Die bestuurder verloor beheer oor die vragmotor en ry die wat daar onder die boom gesit en koffie drink het mors dood. Net een oorleef om die verhaal te vertel.

Dan onthou ek ook van ons bure, Rita en Raymond Cave. Iewers op pad in digte mis raak hulle motor onklaar. Hulle stuur die kinderoppasser en hulle drie klein kindertjies `n ent weg van die pad af die veld in om hulle veilig te hou terwyl hulle by die kar staan en wag op hulp. `n Groot vragmotor kom verby, raak die pad byster in die mis, jaag die veld in en ry al die kinders en die kinderoppasser dood.

Nou vra ek jou, hoeveel beplanning het so `n pynlik presies uitgewerkte ongeluk vooraf gegaan?

Tyd: moontlik presies 0700 uur die oggend van 6 Maart 2019. Plek: 5 kilometer anderkant die Tol Plaza. Oorsaak: Jakkals steek die pad oor. Betrokkenes: (Onskuldige) Vragmotor en bestuurder en twee bakkies en hulle insittendes (wat ons van weet).

Langtermyn beplanning.

Omtrent 13.8 biljoen jaar gelde gebeur die “Big Bang” en die kosmos begin te vorm.

Omtrent 1.6 biljoen jaar gelede slaan `n weerligstraal `n poel water of soutsuur raak en die eerste vorm van lewe (Mitokondria) ontstaan.

Min of meer 1.2 biljoen jaar gelede word die eerste organismes deur seks verwek (Bangiomorpha pubescens).

Omtrent 250,000 jaar gelede (na baie draaie as onder meer Homo erectus ens.) maak ons voorvaders, die Neandertal sy verskyning en toe volg ons as Homo sapiens in hulle spore.

Fast foreward na Woensdag 6 Maart 2019 … 13.8 biljoen jaar na die BB. Na baie seks en voortplanting en die oordra van bepaalde gene en DNA is `n paar individue, nasate van Miss Plet en Kro Magnon Man (en Adam en Eva ook nog iewers in die prentjie) op die N4 in teenoorgestelde rigtings op pad. Kilometer vir kilometer, en sekonde vir sekonde snel hulle na mekaar toe, en iewers langs die pad draf `n jakkals op pad na sy gat (en moontlik `n werpsel kleintjies) toe.

Word daar iewers dramatiese musiek gespeel terwyl die drama hom afspeel? Is daar werklik, volgens die ou paradigma “Iemand” wat gespanne sit en toekyk hoe die voertuie op hulle noodlotspad na mekaar toe snel? “Iemand” Alomteenwoordig, Alwetend, Almagtig daar “Bo” iewers wat saam met ons die donderende knal van vernietiging hoor?

“Nevertheless the dauntless spirit of science burns bright and clear in everyone who sees that to disappear as a particular thing is to reappear instantly as the No-thing that is the imperishable Home of all that perishes, and that to die now is to die never” Douglas E. Harding, Look for Yourself.

Die Jakkals hardloop, die vragmotor swaai … dit was fyn beplan oor biljoene jare.

Ons ry verder. Dit is `n oortrokke maar warm dag. Donderwolke begin opsteek in die ooste en mis hang oor die bergtoppe. Ons weet nie of ons dopgehou word nie, ons weet nie wat vir ons beplan word nie. Ons spoed voort, vertoef `n wyle op `n plaas anderkant Malelane en ry dan weer terug na Johannesburg en kom om 16:04 veilig by die huis.

Ons het nie `n skildery van die wolke soos hulle op 6 Maart 2019 oor die Laeveld gelyk het nie, maar ons het foto’s van die hulle. Die foto’s sal vir `n lang tyd in ons rekenaars gestoor word. Die jakkals en moontlik een of meer van die slagoffers van die ongeluk is nie meer met ons nie.

Dated clouds: 6 Maart 2019, nege minute oor twaalf op `n Woendag middag net anderkant Nelspruit

“It took me no time at all to notice that this nothing, this hole where a head should have been was no ordinary vacancy, no mere nothing. On the contrary, it was very much occupied. It was a vast emptiness vastly filled, a nothing that found room for everything – room for grass, trees, shadowy distant hills, and far above them snowpeaks like a row of angular clouds riding the blue sky. I had lost a head and gained a world.” Douglas Harding, On Having No Head: Seeing One’s Original Nature.

Read Full Post »

“Everybody wants to be enlightened, but nobody wants to change”, is glo wat Andrew Cohen altyd gesê het. En hy behoort te weet, hy was immers ´n vaandeldraer vir evolusionêre spiritualiteit. Hy weet hoe mense kan ja en amen as dit by praat kom, net om ysterklou in die grond te slaan as dit by die praktiese uitleef van nuwe idees en insigte kom.

En nou het die Amerikaners gestem, en ons staan verstom, of dalk ook nie. Vir baie jare was Amerika die versinnebeelding van vryheid, verligtheid, progressiwiteit en vooruitgang. Dit was elke land se droom om soos Amerika te kan wees: Sterk, onverskrokke, vooruitstrewend en trots. Hulle was tegnologies, ekonomies en sosiaal die res van die wêreld vêr vooruit … en toe kom Trump en ´n mens wonder wat het verkeerd geloop. Het iets verkeerd geloop?

Uit `n evolusionêre oogpunt maak die Trump oorwinning nog minder sin. Volgens die evolusionêre beginsel beweeg alles van eenvoudige stelsels tot meer komplekse stelsels, van eensellige organismes na komplekse, denkende, bewuste en selfbewuste organismes wat daartoe in staat is om die Aarde met kerntegnologie te kan vernietig.

Samelewings beweeg van primitiewe stamgebonde jagter versamelaar gemeenskappe tot stadsgebonde kuberjagters en ruimtevaarders. Die tendens van evolusie is altyd vorentoe, altyd hoër, en hoe verder sisteme vorder, hoe vinniger verander daardie sisteme. Die eerste telefoon en die heel eerste selfoon was ligjare van mekaar verwyder, en nou, net `n paar jaar later kan die eerste selfoon en vandag se iPhone skaars met mekaar vergelyk word.

En saam met die vinnig veranderende tegnologie, verander samelewings, verander individue, verander denksisteme. Om aan te pas en by te bly word al moeiliker. Groot druk word op mense en sisteme geplaas en die boodskap is duidelik; bly by of bly agter.

Lynn Sparrow Christy (Beyond Soul Growth) sê: “A system must continue to grow and develop with new input or it will dissolve into its component parts.” Sy gaan verder en verduidelik dat die huidige chaos met ekologiese, ekonomiese , politieke, sosiologiese en geestelike probleme wys op `n patroon van evolusie waar druk vir verandering opbou tot `n punt waar die ou sisteme eenvoudig nie meer geskik is om die druk te hanteer nie, en dan kan een van twee dinge gebeur; daar kan `n sprong wees na `n totaal nuwe bestel, of entropie kan intree en die huidige oorlaaide sisteem opbreek en daar dan terug geval word na `n vorige, ouer bestel.

“Therefore the organization either shrinks back to some archival version of its once glorious self or it remakes itself for a new set of circumstances.” sê Lynn Sparrow Christy. En dit is presies wat nou in Amerika gebeur het. “Overwhelmed as we may feel at times when faced with the combined ecological, economic, political, sociological, and spiritual puzzles of our day, the very chaos we experience is a sure sign that an emergent possibility exists – that is, the potential exists for a whole new way of dealing with the human condition …”

Maar die kiesers van Amerika het nie kans gesien vir die moontlike nuwe wêreld nie, hulle het hulle rug op die toekoms gedraai en terug geval na `n “mindset” wat lank gelede in die suidelike state van Amerika geheers het, en wat direk aanleiding gegee het tot die burgeroorlog.

Trump is dus nie die probleem nie, Donald Trump is slegs maar `n simptoom van die onwel psige van die Amerikaanse samelewing. Trump se enorme ego kan wel in `n probleem van globale proporsie ontwikkel. Sy slagspreuk van “Make America great again” het sterk ondertone van Hitler se “Deutschland über alles, Deutschland” slagspreuk, en dan is die gevaar van die reeds geswolle ego wat swig voor die verlyding van die massas se “sig heil, sig heil” nie `n ondenkbare moontlikheid nie.

Hillary Clinton was en is `n swak politieke leier wat net belang stel het in die glorie van die Wit Huis. Sy het nie `n idee waarvoor die party wat Obama gelei het, staan nie. Die hoë lewe en haar ryk vriende se belange is eintlik al wat vir haar saak maak.

So lei Amerika en Brexit-Engeland moontlik die val van die eens magtige Westerse beskawing in. Ons sal moontlik in die geskiedenis bekend staan as die generasie wat die sprong na `n nuwe wêreldbedeling nie  kon maak nie. Ons bou nuwe mure, ons bou nuwe, groter wapens. Ons val … om plek te maak vir die volgende, hopelik dapperder moondhede om die mensdom vorentoe te vat op sy evolusionêre pad. Iewers in die onkenbare toekoms sal ons by Pierre Teilhard de Chardin se “Omega Point” uitkom ten spyte van die Trumps en die Putins, die Theresa Mays en die Kim Jong-uns van die wêreld. (Mens noem nie eers die Zumas en die Mugabes nie want hulle is klein parratjies in die slykpoel wat ons wêreld vandag is.)

Evolusie het miljoene jare gevat om ons te kry waar ons nou is. Evolusie het tyd, dit kan nog miljoene jare wag, selfs heel voor begin sodra die veglustiges met hulle kern arsenale met ons klaar is.

 

 

Read Full Post »

 Androgenisiteit en die ‘gender-fluid’ generasie (vervolg)

Sê my vrou annerdag; jong die “trans gender” ding is nou orals in die media. Vandat daardie Jenner kêrel na hoeveel kinders, miljoene loop spandeer het om ´n vrou te word (en nou vry hy/sy steeds onder die meisies?) wil almal nou trans-gender.

´n Verwarde lot, moet mens sê, en moontlik niks minder verward as daardie eeste lot ape wat destyds (so vertel die Darwiniste ons) uit die bome uit geklim het en die vlaktes ingevaar het nie. En dit tot groot ontsteltenis van die behoudende boomklouers wat die skielike agterpoot-lopers tot afwykendes en uitgeworpenes verklaar het. En kyk hoe loop ons nou en waar sit die boomklouers steeds vandag.

Jung sou hier moontlik gesê het; nie unisex of transgender seks moet die doelwit wees nie, die Jenners van die wêreld se dinge is oppervlakkig en seks/biologies gedrewe. Die doelwit moet psigiese androgenie wees, en dit kan slegs deur die proses van individuasie bereik word. Met ander woorde die transendering van dierlike seksualiteit (‘the demon of sexsuality’) en die omvorming daarvan deur intergrasie met medemenslikheid, deernis, bedagsaamheid en inklusiewe nie-erotiese liefde.

Individuasie is aanvanklik ´n onbewuste evolusionêre proses net soos die evolusionêre biologiese proses, maar anders as huidige biologiese evolusie wat min of meer lukraak vorder oor miljoene jare heen, groei sommige individue iewers langs die lewenspad tot groter sielkundige wasdom en word so bewus van die individuasie proses en die moontlikheid dat dit aktief nagestreef kan word deur aktiwiteite soos meditasie, kontemplasie, joga, en intense studies van beskikbare geestelike literatuur, selfs van mistieke tradisies.

Lynn Sparrow Christy sê: “The more we awaken to the consciousness of who we are beyond the forms of space, time and matter, the better equiped we become to act effectively and creatively within time, space and matter.” Sodat ons uiteindelik kan kyk tot “beyond the limited slice of self-awareness in which we tend to live our lives.” Grootliks as seksuele, ego gedrewe, materialistiese en hedonistiese jagters van geld, plesier en mag.

Soos Teilhard de Chardin sê: “… we are discovering that something is developing in the world by means of us, perhaps at our expense.” En dan het ons ´n keuse om dit te beskou as “a call to be agents of transformation “ of ons kan ons self beskou as slagoffers van omstandighede, ons ruggies styf maak teen verandering en in die bome bly sit en van daar af obseniteite skreeu op die wat deur die lang gras oor die horison verdwyn op pad na ´n nuwe soort bestaan.

Intussen verklaar Miley Cyrus, Cara Delevingne, Taylor Schilling, Kristen Stewart, Michelle Roderguez en Ruby Rose, om maar ´n paar bekendes te noem, dat hulle nie meer in die boks pas waar die samelewing hulle in wil dwing nie. Hulle het vrede gemaak met die yin en yang, die anima en animus digotomie in hulle psigologiese samestelling. Dit is nie meer teenpole nie, maar geïntegreerde aspekte van hulle persoonlikheid. Sê Lynn Sparrow Christy: “the very chaos we (dis nou ons , die omgekrapte toeskouers) experience is a sure sign that an emergent possibility exists – that is, the potential exists for a whole new way of dealing with the human condition and something that we never could have expected can arise to address our problems.” (die probleem hier is moontlik ons tragies geweldadige, liefdelose samelewing). Sy gaan veder en sê: “it is the pattern of evolution for things to build to a point where the old system just cannot support any more incremental change and then either leap to a new level entirely or collaps to an earlier stage.”

Daar is geen waarborg na watter kant ´n veranderende samelewing sal val nie. In die middeleeue het die samelewing terug geval tot die donkerste, onmenslikste tyd van die moderne menslike bestaan, maar soos die aandelemark wat tuimel en weer opstaan, het die samelewing opgestaan en voort gebeur tot waar ons nou in hierdie verligte postmoderne era voor ´n keuse testaan kom; om oor die afgrond te spring na ´n nuwe bedeling, of om om te draai die duisternis in, teen mekaar te draai (die ou ‘ons teen hulle’ benadering) en bloed te vergiet. Kyk hoe lyk die Midde-Ooste. Mens kan met reg vra: Is dit wat godsdiens aan die mens doen? Het enige godsdiens dan nog ´n plek in die wêreld as dit nie bydra tot verdraagsaamheid en menslikheid nie?

Hoe vêr is ons nie verwyderd van De Chardin se ‘unity consciousness’ wat die volgende stap in die menslike evolusie moet/sal wees nie. Kan meer nippels op straat ons verby ons stomme vooroordele dwing tot aanvaarding van andersheid? Sal die ‘gender-fluid’ generasie die een wees wat ons gaan lei tot versagting, verby ´n klipharde postmoderne materialisme tot ´n meer deernisvolle (miskien post- Homo sapiens sapiens) samelewing? Die aap is uit die boom en nou op pad Mars toe, maar nóg sy tegnologie nóg sy godsdiens het van hom ´n beter mens gemaak. Hy is steeds meer aap as mens.

In ´n volgende inskrywing bekyk ons Lynne Sparrow Christy se betoog oor waarom ons dit dalk tog sal maak, en sal ek betoog waarom homofobiese Afrika dit nie sal maak nie.

Read Full Post »

Wom Go-Topless

Dit het begin met hierdie foto op Facebook wat ek “A storm in a B-cup” genoem het. Dit het nogal ´n storm ontketen. Meeste kommentaar basies ´n oppervlakkige moddergooiery deur anti-feministiese mans, klipgooiery deur fanatiese kerkmense, en beskuldigings van slet en hoer deur behoudende susters.

Een man het ge-jammerjan oor die banaliteit van die protes terwyl oorloë en hongersnood duisende lewens verwoes. Daar moet eerder aan hierdie dringende sake aandag gegee word. Daar is nie nou tyd vir ´n tietieprotes nie.

Wat uitstaan in hierdie voorval is die blatante onverdraagsaamheid aan beide kante. Beide die pro-nipple en die anti-nipple brigades staan millitant teenoor mekaar en skreeu hulle eise. Nie een is bereid om na die ander te luister nie.

Die probleem hier is die vlak waarop die drama hom afspeel. Dit gaan primêr oor die feit dat mans kaalborstig in die openbaar mag rondloop, maar die voorreg is nie vir vroue beskore nie en dit is onregverdig, dit is diskriminasie gegrond op seks. Die geveg word dus op ´n biologiese vlak geveg en die aandrang is op gelyke regte vir mans en vrouens. As die een mag wys, mag die ander ook wys. (onthou dat mans in die 1930’s in die VSA in hegtenis geneem is as hulle kaalbors in die openbaar verskyn het. Eers na erge protes is die verbod opgehef!)

CG Jung se antwoord op die aandrang vir ´n “unisex” samelewing, is dat dit gedoem is tot mislukking. Die rede daarvoor is juis omdat dit biologies gefundeer is. Indien die aandrang op transvormasie vanuit ´n psigiese vlak benader word, met die klem op individuasie, het die proses ´n baie beter kans op sukses. Nie “unisex” nie, maar psigiese androgenie behoort die doelwit te wees, sê hy.

Ester Harding (“Psychic Energy”) beskryf vier stadia in die proses van individuasie waardeur ontwikkelende individue sowel as samelewings moet gaan om by ´n staat van psigiese androgenie uit te kom.

Die eerste stadium is “that of the identification of the ego with the demon of sexuality,” met die klem op geslagtelikheid (dus biologies gegrond). Sy gaan verder en sê: “It is an auto-erotic and narcissistic state wherein the libido is essentially self-gratifying and non productive.”

Die meisies in die foto bo is moontlik op hierdie stadium van hulle ontwikkeling. Dit gaan oor die ego, die eie ek en die oorwinning oor die vyand. Ten spyte van die pretensie, is hulle aanslag ooglopend eroties-seksueel en suiwer narsissisties. Subjektief is dit, weens ´n noue identifikasie van die ego met die onderbewuste, ´n poging tot die objektivisering van die liggaam. Die man se bors is net nog ´n deel van sy lyf en niks om oor opgewonde te raak nie. Dit is ´n ding soos ´n arm en ´n been, en ´n vrou se bors is presies dieselfde. Dit is ´n ding en behoort mans nie opgewonde te maak nie. As mans oor ´n lang tydperk blootgestel word aan vroulike nippels sal die opwinding bedaar en mans se testosteroon vlakke vanself begin daal.

Gedurende die volgende stadium van individuasie tree emosie sterk op die voorgrond en die “objek” (eie en ander se lyflikheid) word nou gepersonifiseer. Dit gaan nou oor die persoon (self en ander) as totale mens en nie net oor geslagtelikheid (en seks) nie.

Die volgende fase bring ´n dieper kennis van die ander en die self as ´n eie persoonlikheid met eie behoeftes en begeertes. Dit bring groter aanvaarding en medemenslikhied in die verhouding met ander en met die self.

Die finale fase is een van internalisasie en ´n bykans alchemiese transformasie van die verhouding waar die teenoorgesteldes een word as spirituele androgene (Hiros Gamos). “The male and the female have become a single one.” Reg verstaan beteken dit nie die biologiese eenwording (koppulering) van man en vrou nie, maar die aanvaarding, eenwording en uitlewing van die manlike en vroulike aspekte teenwoordig in elke individu. Mistieke eenwording

Biologiese verskille is vir eers daar om te bly, en vir almal om te sien. Dit is in die kop waar die skuif na aanvaarding van die teenoorgestelde as gelyke gedoen moet word. Die Jammerjan hier bo se geweeklaag oor misplaaste prioriteite is dus self misplaas. Om oorloë te stop moet daar dalk meer nippels op straat verskyn, kosmopolitiese nippels, want uiteindelik gaan dit nie oor die nippels nie, maar oor aanvaarding en verdraagsaamheid wat spruit uit individuasie. Vanuit ´n androgene perspektief kan ons die andersheid van ander akkomodeer en verstaan dat hy of sy nie die vyand is wat die demagoog (Hitler/Malema/Fidel) ons voorsê om te gaan vermoor nie. Die ander is ´n mens soos jy met ´n vrou en kind en dalk ´n hond, en al wat hy wil is om net soos jy, in vrede te leef.

Hoeller self sê dat dit moeilik is om te sê of die androgenasie van ´n kultuur werklik moontlik is. Wat wel duidelik is, is dat die proses nie polities of sosiaal afdwingbaar is nie. Dit is wel, en slegs deur die proses van individuasie moontlik vir individue om uiteindelik by ´n psigies androgene staat uit te kom. Met genoeg individue wat die proses deurloop het kan ´n kultuur wel beïnvloed word tot ´n punt van kritieke massa wat bereik word, en waar die kultuur dan deur ´n sneeubal effek omvorm word. ´n Soort van Wilberrianse St Noit Marge waar omdraai nie meer ´n opsie is nie.

Wat Jung moontlik erg sou verbly het as hy nog geleef het, is die media opskrifte wat vertel van die “gender-fluid generation” van vandag wat baldadig verklaar; “Gender is over.” Gender fluidity/geslagsvloeibaarheid moet nie verwar word met bi-seksualiteit nie. Bi-seksualiteit is ´n biologies gegronde begrip wat seksuele voorkeur beklemtoon. Geslagsvloeibaarheid is omvattend en beklemtoon die totale verhouding tussen mense, maar ook die verhouding met, en verstaan van die self. Dit is dus nader aan Jung se begrip van psigiese androgenie, en dit kan dui op Lynn Sparrow Christy (‘Beyond Soul Growth’) se idee van “co-creativity” en die gedagte dat die mens nou vir die eerste maal ooit psigologies so ver gevorderd is dat hy bewustelik biologiese evolusionêre verandering kan begin teweeg bring.

Maar dit is stof vir ´n volgende inskrywing. Bly ingeskakel, ons kom daarby.

Read Full Post »

Teaser

“We are evolving in ways that Science cannot measure, to the ends that Theology dares not contemplate.”

EM Foster, ‘Howard’s End’

 

Zen oxh-07

“Once the mind has been stretched to a new idea, it will never again return to its original size”

Oliver Holmes.

Beelde 46

” … androgyny is the true goal of the transformation of the psyche, but this androgyny, rare and precious indeed, is to be found only in the highest flowering of the soul and consequently of humanity.”

Stephan A Hoeller, ‘The Gnostic Jung’

In opvolging en uitbreiding van vorige skrywes oor androgenie hier, wil ek Jung se siening oor menslike evolusie soos hier bo beskrywe opvolg. Ek het ook vermoed androgenie is die rigting waarheen die mensdom dalk beweeg, maar meer in die sin van biologiese androgenie, of selfs hermafroditisme. Jung werp egter `n heel nuwe en opwindende lig op die onderwerp, en dit vra om ondersoek te word.

Hou hierdie spasie dop. Ek werk daaraan.

Kinders 354

Read Full Post »

“The most sinister thing about the fall of the Roman Empire was that the people who conquered it never understood that they had done so. They paralyzed the patterns of Roman social structure to a point where everybody just forgot what that structure was. Taxes became uncollectable. Armies composed of hired barbarians stopped receiving pay. Everything just lapsed. The patterns of civilization were forgotten, and a Dark Age settled in.” (Robert M Pirsig: ‘Lila’)

Daar buite op straat moor en plunder myners onder aanmoediging van Malema en lede van die ANCYL (wat voorgee om die YMCA te wees) en word doodgeskiet. Vragmotor bestuurders storm die strate in en saai verwoesting. Die staatkas word sistematies geplunder. Rioolwerke stort in duie. Dienslewering is in chaos. Infrastruktuur is besig om ten gronde te gaan. Moord en doodslag vier hoogty … “and a Dark Age settled in”.

“What the evolutionary  structure of the  Metaphysics of Quality shows is that there is not just one moral system. There are many. In the Metaphysics of Quality there’s the morality called ‘the laws of nature,’ by which inorganic patterns triumph over chaos; there is a morality called the ‘law of the jungle’ where biology triumphs over the inorganic forces of starvation and death; there’s a morality where social patterns triumph over biology, ‘the law;’ and there is an intellectual morality, which is still struggling in its attempts to control society.” Aldus Robert M Pirsig in sy boek “Lila”.

Volgens Robert M Pirsig (soos uiteengesit in sy boek ‘Lila’) bestaan daar meer as een soort moraliteit. Moraliteit volg ´n evolusionêre, hiërargiese struktuur wat vorder van anorganiese, na biologiese na sosiale en laastens intellektuele morele patrone. Elke nuwe morele struktuur volg op, en dommineer die vorige struktuur omdat dit ´n hoër vlak van ontwikkeling verteenwoordig.

Pirsig sê: “It’s more moral for a doctor to kill a germ than to allow the germ to kill his patient. The germ wants to live. The patient wants to live. But the patient has moral precedence because he’s at a higher level of evolution.”

Alhoewel Pirsig konsentreer op sosio-politieke vlakke van ontwikkeling, stem sy sisteem baie ooreen met Ken Wilber se sisteem van psigo-spirituele ontwikkeling, sowel as Maslow se hiërargie van behoeftes.

As Pirsig praat van biologiese moraliteit (of morele patrone) dan praat hy van die evolusie van amoeba tot die moderne mens, waar die geveg om domminansie afspeel tussen hoër en laer vorme van lewe tot waar die mens die oorhand kry as “kroon van die skepping”, soos sommige misleide siele dit het. Maar die kroon van die skepping loop steeds half kaal en veg om oorlewing as jagters, en later as bestaansboere op die platteland. Dit is eers met die ontstaan van dorpe en stede dat “society” en die sosiale morele orde tot stand kom en waar die samelewing sy wurggreep op die individu se vryheid plaas met die moto; wat goed is vir die samelewing is goed vir die individu. Die behoeftes van die individu is altyd ondergeskik aan die eise van die samelewing. Die sosiale morele orde oorwin die biologiese morele orde en ´n totaal nuwe bestel van naasbestaan word (soms brutaal) afgedwing op almal wat deel vorm van daardie samelewing, hetsy dorp, stad of nasie.

In ‘Lila’ konsentreer Pirsig hoofsaaklik op die konflik tussen mense (en kulture) waar een lot nog op die vlak van biologiese moraliteit funksioneer, terwyl die ander klomp reeds gevorder het tot die vlak van sosiale moraliteit.  Dit stem ooreen met Maslow se biologiese of gebreksbehoeftes teenoor groeibehoeftes, of Wilber se vlakke van ‘Oranje’, modern, rasioneel, progressief, wetenskaplik teenoor ‘Amber’, premodern, pre-rasioneel, reaksionêr, mities. (of rofweg: premodern, modern en postmodern).

Daar buite is reeds meer as 2000 boere vermoor. Daar buite is gesondheidsdienste aan die disintegreer. Duikbote lê nutteloos in die droogdokke en vegvliegtuie sit op die grond sonder brandstof. Ons paaie val uitmekaar en verkragting is ´n nasionale sport.

“What was so sinister about New York was that the patterns that built it no longer seemd understood – those who understand the patterns are no longer in control of those who don’t” (Pirsig)

Daar buite in hierdie droewe land, woed die geveg tussen samelewing en biologie op sy felste ooit. Soos Pirsig sê is dit nie ´n oorlog tussen swart en wit nie, maar ´n geveg tussen biologiese swart en biologiese wit, teen sosiale wit en sosiale swart, met biologie wat (met die hulp van ´n misleide intellektuele moraliteit) die afgelope 18 jaar stelselmatig die oorhand gekry het.

Voor hierdie tyd was die samelewing in ´n kwesbare fase van oorbeweeg van ´n samelewing gedomineerde moraliteit na ´n intellektuele moraliteit gebaseer op die Westerse wetenskaplike model. Maar soos Pirsig oor Amerika sê: “The paralysis of America is a paralysis of moral patterns. Morals can’t function normally because morals have been declared intellectually illegal by the subject-object metaphysics that dominates present social thought. These subject-object patterns were never designed for the job of governing society. They’re not doing it. When they’re put in the position of controlling society, of setting moral standards and declaring values, and when they then declare that there are no values and no morals, the result isn’t progress. The result is social catastrophe.”

Die intellektuele, postmoderne moraliteit met sy liberale humanistiese aanslag en sy geloof in die mens se basiese goedheid as spontaan en natuurlik is, soos Pirsig sê; “… disastrously naïve. The ideal of a harmonious society in which everyone without coercion cooperates happily with everyone else for the mutual good of all is a devastating fiction.”

Dit geld veral vir samelewings waar biologie in die meerdeheid is, of ´n baie groot persentasie van die bevolking uitmaak. In Skandinawiese lande waar biologie ´n baie klein faktor is en samelewing (´n bevolking op die vlak van groei-behoeftes) in beheer is, is/was die oorgang na beheer/bestuur deur intellek, ´n normale, rustige evolusionêre proses na ´n hoër vlak van bestaan.

Soos ons aan ons eie basse voel, gaan dit vir biologie oor die onmiddelike bevrediging van eie basiese (biologiese) behoeftes ten koste van die samelewing en dié se morele waardes. En as biologie in beheer kom van daardie stelsels wat die samelewing daargestel het (gewoonlik in die vorm van ´n gewapende polisieman of soldaat),om biologie in toom te hou, dan is anargie die duisternis waarop alles uiteindelik afstuur, want biologie word nou gebruik om biologie se morele waardes op samelewing af te dwing deur ´n proses van devolusie na ´n laer vlak van bestaan.

Pirsig sê: “ … when society undermines intellectual freedom for its own purposes it is absolutely morally bad, but when it represses biological freedom for its own purposes it is absolutely morally good.” Maar as biologie die morele waardes en vryheid van die samelewing (en intellek) onderdruk vir sy eie, biologiese doeleindes, is die gevolge katastrofies.

“The idea that biological crimes can be ended by intellect allone, that you can talk crime to death, does’nt work. Intellectual patterns cannot directly control biological patterns. Only social patterns can control biological patterns, and the instrument of conversation between society and biology is not words. The instrumentof conversation between society and biology has always been a policeman or a soldier and his gun.”

Bid kan ook help, maar dit is altyd beter om ´n geweer byderhand te hou!!

Teen hierdie agtergrond was/is die geveggies op Utopia eintlik meer komies as tragies, tekenend van die absurditeit van die lewe soos gelewe deur klein mensies in hulle eie klein absurde wêreld.

Read Full Post »

Aapstreke

Net toe ek begin dink dis OK om my ouma se ouma se ouma  `n aap te noem, toe moet ek hoor my voorvader was dalk `n spook.

Al vir miljoene jare sit grootouma Lucy en waak trots oor haar kroos, soms juig sy en soms laat sak sy haar kop in skaamte, en soms huil sy, maar altyd dra sy biddend die belange van haar kroos op die hart. En wat maak hulle, die ondankbare snuiters? Hulle skop haar onder die jack en sê vir haar wê, jy is nie my ma nie!

En hoe moet sy nou voel? Sy mag `n aap wees, maar sy het ok mos `n hart. Nou moet sy stert tussen die bene die wildernis in om plek te maak vir, wel, die slim mense sê … `n spook. Kan jy dit glo! Lucy,
die dierbare Australopitechus afarensis, ons eie oermoeder is nie meer goed genoeg vir haar kinders nie. Nee, nou is dit skielik sediba wat aan die bors gedruk word. Australopitechus sediba die ontugtige een, die een sonder pa word op die troon gesit.

Selfs Lucy se oudste seun Homo habilis loop nou die gevaar om ontman te word. Die arme ding word op `n syspoor, `n doodloopstraat uitgeskop met geen nageslag om te wys vir al sy wilde nagte van passie op die savanna vlaktes van Afrika nie.

Nee, ons is nie besig om Sediba te maak nie, ons soek net flooie, jou vark!

Maak nou sin van die spul: sediba se brein lyk meer gevorderd as die van onse Lucy, maar sy voet is meer primitief, sy bekken lyk meer soos die mens s’n maar hy het geen adres gelaat waar ons sy ma en pa kan gaan soek nie. Eers word Adam en Eva tot stories vir die vaak gereduseer. Jy moet in Lucy glo om gered te word. Nou word Lucy vir die (uitgestorwe) ape gegooi en jy moet in Sediba glo (nie Madiba nie mind you), Sediba, die nuwe heilige aap. Red nou `n volk met sulke bontpratery!

Lucy my skat, jy is eintlik in goeie geselskap want die arme Adam en Eva is ook so pas deur hulle kerk in die groot US of A onder die jis geskop en tot mites verklaar. Jy het ten minste nog `n been (of is dit net `n kopbeen?) om op te staan terwyl die ander twee oer-ouers nou in `n wolkie mis gaan verdwyn. Byt net vas, Zecharia Sitchin gaan die kerk en die slim wetenskaplike donners wat jou nou so verneder, nog onder die gat skop, jy sal sien.

 Miskien is Lucy maar te bly om nie meer met hierdie (Wallmart) spesie geassosieer te word nie.

 

Read Full Post »

Na aanleiding van Wilhelm Jordaan se artikel in “By” 23/7/2011

`n Leeu is `n gevaarlike gedierte, dit weet ons. `n Leeu is ook `n pragtige dier, maar sy sosiale gedrag en eetgewoontes
laat veel te wense oor. Ons weet sy asem stink en hy vreet mense. Die manier waarop hy sy prooi jag en verskeur is bloedstollend wreed en laat slefs minder sensitiewe siele gril.

So ook weet ons dat `n slang `n gevaarlike ding is wat byt om dood te byt, en `n haai is nie jou speelmaat nie want ook sy byt is onvoorspelbaar en dodelik. Ons weet ook `n huiskat is `n sagmoedige, rustige dier, maar sy neef in die bos, die luiperd en die tier is weer `n kat van `n ander kleur. Varke hou van modder en meerkatte is familievaste gatgrawers. Ons weet ook `n roos is mooi en ruik lekker en kakiebos is nie mooi
nie en ruik alles behalwe goed en die stokroos is pragtig maar dodelik giftig.

Dan is daar die Engelsman wat bekend is om sy stywe bolip, die Amerikaner en die Australianer wat wêreldbekend is vir hulle groot bekke en super groot ego’s. Daar bestaan `n persepsie dat Boere/Afrikaners ongekultiveerd, rassisties en ook nie die skerpste potlode in die boks is nie. Daar bestaan ook `n algemene persepsie dat swart mense dom, lui en wreedaardig is.

Hoe het al hierdie idees omtrent die “werklikheid” ontstaan? Is dit omdat iemand eendag gaan sit het en die stories uitgedink het en die einskappe toe lukraak aan die leeu, die tier, die kat, die haai die roos en die uie, die Engelsman en die Boer  en wat ook al toegedig het?

Die mens is `n intelligente wese en fyn waarnemer. Hierdie einskap van hom het gesorg dat hy nie net kon oorleef oor al die eeue heen nie, maar ook dat hy gevorder het tot waar hy die dominante spesie op hierdie planeet geword het. Deur waarneming het hy sy leefwêreld sistematies
georden. Hy het die wêreld om hom beskryf en geklasifiseer in hirargië van goed, beter, beste en sleg, slegter, slegste; hard, sag, gevaarlik, veilig,
bruikbaar, onbruikbaar, voordelig nadelig, sterk en swak, slim en dom en alles tussenin hierdie pole van uiterstes.

Hierdie hirargië bestaan in die natuur onafhanklik daarvan of die mens dit so benoem het of nie. In die diereryk bestaan `n sisteem van domminansie in die vorm van `n “pecking order”. Daar is `n leier van die trop en daar is `n afwentelende struktuur van gesag tussen manlike en
vroulike diere en ook tussen manlike en manlike, en vroulike en vroulike diere.
Dit is normaal, dit is natuurlik. Basies is dit `n natuurlike struktuur van mag. Die wat sterk is (fisies en intelektueel) heers oor die wat swak is.

Eerstens, om `n roos `n kakiebos te loop noem gaan hom nie slegter laat ruik of leliker laat lyk nie en om `n leeu Ou Wagter te doop gaan hom nie skielik so mak soos `n lam maak nie. Maar as die meerderheid leeu hom op `n stadium soos wagter gaan begin gedra, dan sal ons ons persepsies van mensvreter moet begin verander na een van beste vriend en viervoet mater. Dit geld vir slange, renosters en Amerikaners.

Maar as die Abeltjies van die Afrikanerdom aanhou om lessenaars op wederstrewige proffies om te keer versterk dit elke keer die persepsie van dom Boer, arrogante Boer en rassis. Net so word persepsies van lui en onslim versterk elke keer as 12 manne in heldergeel jassies langs die pad op hulle rug lê terwyl een lusteloos `n graaf regop hou, of die persepsie van bloeddorstig geweldadig elke keer as `n vrou verkrag word en `n
besemstok on haar geslagsdele opgedruk word of `n ou man met `n panga in stukke gekap word.

Tweedens kan gevra word of dit dan vreemd is dat `n kultuur wat op die rand van `n industriëele revolusie gestaan het, en wat in kontak gekom het met `n kultuur wat pas uit die steentydperk getree het, onmiddelik die domminante posisie ingeneem het en begin heers het oor die” laer”
kultuur? Is dit vreemd dat die Egiptenare, lank voor die Europeërs, swart slawe uit Afrika gevang het en gebruik het om hulle eie domminante kultuur verder uit te bou?

Is dit vreemd dat die Zoeloes die kleiner stamme (insluitend die San) om hulle aangeval en basies vernietig het in die proses om die Zoeloe koningkryk te vestig? Wat anders is die huidige bloedige, selfvernietigende oorloë in Afrika as gevegte om domminansie van een groep oor
`n ander?

Om hierdie dinamiek van bestaan te misken, is om opsetlik of naïwelik “kwaadwilligheid” toe te dig waar daar geen opsetlike kwaad bedoel was nie, maar eerder `n geval van (oordrewe/onnadenkende) eiebelang.

Die probleem van die huidige bestel lê opgesluit in die tydgees van die postmodernisme. Net soos die demokrasie die saad van selfvernietiging met hom saamdra omdat hy in wese permissief is en elkeen, ook die radikaal, sy son gun, so dwarsboom die postmoderne, liberale gewete met sy credo van alles en almal is gelyk, sy eie voortbestaan. (Die vraag is natuurlik, waarom is geweldadige oorrompeling van een stam oor `n ander in Afrika meer aanvaarbaar vir die postmoderne gewete? Is dit omdat dit swart op swart geweld om oorheersing is en nie wit op swart oorheersing nie?)

Moderne en veral pre-moderne kulture het nie die etiese wroeging as remskoen in die strewe na oorheersing en domminansie en vooruitgang openbaar nie. Die gebruik van mag was eenvoudig `n instrument vir oorlewing en vooruitgang deur oorheersing. Die Romeine het nie `n wêreldryk geword deur `n ekskuus-tog-dat-ek-lewe houding nie. Genghis Kahn het pront geglo ander kulture is minderwaardig teenoor sy eie mense en so veel as 40 miljoen mense is dood as gevolg van Mongoolse verowerings krusades.

Getalsterkte speel soms `n bepalende rol in wie wie oorheers en die kans dat die Westerse beskawing, wat nooit regtig wortel geskiet het in Afrika nie, dus in Afrika of Suid Afrika gaan oorleef, is uiters skraal.

Sal so `n uitkoms noodwendig  sleg wees?

Read Full Post »

Die wonder van evolusie

 

Die evolusie van die helikopter: Van toe tot nou

Wonderlik. Wie sou kon dink helikopters sou so mooi evoleer?

Read Full Post »

Maropeng

Het die naweek vir ons voorvaders gaan kuier. Moet sê ek voel nie `n sterk ban tussen my en oer-oupa en oer-ouma nie. Hulle lyk vir my te veel na ape 😀

Baie interessante plek. `n Oorweldigende lot inligting waarmee jy toegegooi word sodat jy uiteindelik nie veel onthou nie. `n Goeie brosjure in die hand gestop sou veel gehelp het om sin van die klomp ape te maak.

Ergste was die brug met die draaiende kante wat jy moet oorsteek. Ek het behoorlik vir lewe en dood aan die reëlings geklou om oor te kom. Het vas geglo die brug is besig om die dieptes met my af te donder, en al die tyd staan die ding dood stil 😡

 Ek dink vir kinders sal so `n besoek baie opwindend wees, alhoewel die lot wat daar was redelik verveeld gelyk het. Hulle het meer daarin belang gestel om roomys te gaan eet as om te weet wat oupagrootjie en sy gespuis geeet en gedrink het, of hoe hulle hulle kos in die hande gekry het.

Weereens dink ek dit is omdat die uitstallings `n bietjie ongeorden is. Die ding word nie chronologies aangebied nie. Meer as een besoek sal nodig wees om mooi te verstaan wat daar aangaan. (en ek gaan beslis nie weer oor daai brug loop nie!)

`n Mens se koppie is dalk ook maar te plat om die ongelooflike tydspan te verwerk waarmee jy gekonfronteer word. 100,000 jaar is miskien nog verteerbaar, maar 100 miljoen maak nie meer baie sin nie.

Dit bly egter interessant, veral as mens dink hoe die ouens, kan maar sê, van ons generasie van `n breintjie van 700 cc in `n baie kort tyd gevorder het tot `n skaflikke 1400 cc model. Het iemand dalk `n handjie bygesit?

Gaan groet die grotman as jy in die omgewing is. Oupagroot was maar net so `n drol soos die res van ons vandag nog is.

Read Full Post »

Older Posts »