Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Viëtnam’

Dit is werklik soos n sprokiesland, en die mense so vriendelik. Die taal bly maar n probleem maar ons gesels land en sand deur gebare.

Die meisies is klein en fyn en nie skaam om afgeneem te word nie.

 

n Dag op die strand

    

n Dag in die strate van Hai Phong

   

Die see se water is altyd bruin. Viëtnamese is nie lief vir die son nie en lê dus nie soos ons en braai op die strand nie.

Die oue en die nuwe langs mekaar. Tradisies teen vernuwing en verval. Die gesigte van n land in wording.

Dit is n arm land en die mense kry swaar (of so lyk dit) maar hulle is vriendelik en tevrede met hulle lot (of so lyk dit).

 

Twee Suid Afrikaners in die vreemde. Hulle was nie daar vir die “Noodle Soup” nie!!!!

Daar is nog baie fotos van vakansies en reise tydens hulle verblyf in Viëtnam. Mettertyd sal nog fotos hier geplaas word.

Na presies een jaar is hulle weer terug in SA. As alles reg verloop is die volgende stop Slowakië.

Read Full Post »

Sondag woorde

Vyftig woorde

Foto geneem in n begrafplaas in Viëtnam deur Sus Cobie. Volgens begruik word van die oredene se besitings in die berafplaas gelaat na die begrafnis. Met verloop van tyd word nog bygevoeg. Elke nou en dan word alles veryder om plek te maak vir nuwe “aandenkings”.

Lank gelede op n plaas. Links staan ek, dan broer Flip en dan sus Cobie en nee die safarie uitrustings het niks met Livingston en ekspedisies na Donker Afrika te doen gehad nie. Dit was maar net hoe plaaskinders aangetrek is! Toe het kinders nog geen sê gehad in wat hulle wil dra nie.

Skoene was net vir skool en kerk.

n Ander begrafnis. Ek en broer Flip het elkeen n ambulans persent gekry. Die bambulanse was van plastiek. Op die eerste dag toe ons met ons nuwe speelgoed speel gaan sit daar n by op my ambulans se dak en Flip slaan die by met n stuk stok dood. Dit was die einde van my ambulans. Regs voor kan die dak van die ambulans gesien word waar ons dit toe begrawe het.

 

 

 

Read Full Post »

Ons tyd word nou kort hier in Viëtnam. Een van die dae trek ons weer Noorde toe, beksawing toe.

Maar intussen geniet ek dit nog elke dag hier in die vreemde land met sy vreem de mense en vreemde gebruike.

Hierdie tyd van die jaar is die skole in Viëtnam gesluit vir 3 maande. Ek kan dit verstaan, met temperature wat tussen 40 en 45 grade boer is niemand lus om skool te graan of te werk nie. Die strate is leeg en meeste klein winkels gesluit. Al wat floreer is die klein eetplekkies op straat.

Oral sit mense in die koelte rustig en gesels en eet.

Ek soek ʼn taxi maar daar is niks in sig.  Die enigste wat stop is die Grab motorfiets taxi’s. Ek het vandag n rok aan en kan myself skop dat ek so dom was. Gewoonweg vaar ek die strate in met ʼn langbroek aan. Op ʼn motorfiets taxi ry ek nie met ʼn rok nie.

Uiteindelik stop ʼn taxi, na amper 3 km se loop in die uitmergelende son. Wil die man nou vir my vertel hy gaan nie die meter aansit nie, ek moet 100,000 Dong betaal. Amper klap ek die donner. Ek sê trek af ek klim uit. Maak die deur onmiddellik oop nog voor hy kan probeer om die te sluit sodat ek nie kan uitklim nie. Hy dink ek gaan hom 100,000 Dong betaal vir n klein entjie se ry? Se gat man!

Na nog so een km se stap verder kry ek ʼn taxi. Meterlesing is aan en die aircon die loop. Dog ek soen die man.

Ek is op pad na die Katolieke katedraal. Die flippen hek is gesluit, en weer is daar geen mens in sig nie!

Ek klim uit, loop om die blok met die hoop om iewers ʼn oop hekkie te vind. Onthou dis nog steeds 45 grade buite in die son!

Moeg en dors sien ek op die sypaadjie n tafeltjie met klein stoeltjies op. Ek haal maar twee stoeltjies af, vir die gewiggies, jy weet! Daar maak ek my tuis met my botteltjie water om eers te rus, reg voor die hek, reg om in te sluip sou iemand kom oopsluit.

Niemand kom die hek oopsluit nie en ek moet terug na een van die hoofstrate om ʼn taxi te kry. Op pad sien ek die klein winkeltjie wat tipiese Viëtnamese rokke verkoop. n Klein-klein tannie sluit die deur oop. Ek dink hulle wou ʼn slapie (of iets!) gevang het.

Ek beduie ek soek ʼn rok vir my. Sy kyk my op en af en skud haar kop. Sy beduie met die handjies, wyd uitmekaar: ek is dik, vreeslik dik beduie sy!

Uit kom die maatband, sy sit hom om my middel, elke keer gee ek haar drukkie. Ons lag te lekker. Haar koppie kom net so onder my tieties. Ek druk haar oë toe dat sy nie kan sien hoe dik IS die lyf nie!! Lag-lag is ek daar weg, sonder rok. Ek loop tot op die hoek, en die tannie waai nog steeds. Hulle is sulke vriendelike en dierbare klein mensies.

Nog ʼn paar blokke verder sit ʼn jong knaap in die koelte, in ʼn goudgeel taxi, vas aan die slaap. Ek klop hom wakker en sê boetie nou gaan ons huis toe!

By die huis trek ek al my klere uit en gaan lê kaalgat op die bed – mens moet mos afkoel na so ʼn wilde dag!

Die tannies het alweer skottelgoed op die sypaadjie gewas, maar gelukkig nie gesien ek het ʼn foto geneem nie. As hulle sien jy neem n foto is die duiwel los. Ek vermoed dis omdat hulle nie die skottelgoed in die straat mag was nie!

Read Full Post »

Tuiskoms

Cobie skryf vir ons uit Viëtnam

My grootste vrees word waar: Ons vlug vertrek 40 min laat vanaf Jhb. Ek weet verseker ek gaan nie my aansluitings vlug van Hong Kong na Hanoi maak  nie. Die vlug is rumoerig en almal praat te hard. 90% kyk fliek en dit word nie stil nie. Langs my sit ʼn mooi jong man, kortbroek, pony, met ‘n “maak my sterk” hempie aan. Almal vra nog ʼn kombers, dis koud, maar nie die meneer langs my nie. Hy drink glase en glase water, eet al die snacks in die kombuis op, en toe begin die gedreun van die grondboontjies. Hy burb en poep, lig sy hempie op en vryf sy maag. Ek kan nie slaap nie. Vir 12 ure en 40 min stres ek my dood oor my volgende vlug.

Na wat soos ʼn marathon, wat heelpad opdraand loop, gevoel het, land ons op Hong Kong. Ek spook en druk in, ry almal se hakskene raak met my tas, ek weet ek moet hardloop om die vlug na Hanoi te haal.

Nog nooit het ek so verlig gevoel om ʼn lugwaardin, met ʼn bloedrooi lugwaardin pakkie aan, te sien staan met ʼn Hanoi bordjie in  die hand  waarop my naam, plus 6 ander se name opgeskryf is nie!

Ek en ses ander mense begin agter haar aan hardloop. Dit is oral net mense. Sy is so klein, sy hou haar hand in die lug met die “Hanoi” bord, maar die armpie kom nie eens naby die ander mense se koppe nie. En daai voetjies beweeg. Kort-kort sien jy net ʼn klein rooi lyfie wat aanhou al vinniger en vinniger drafstap.

Toe ry ons met ʼn trein. By die volgende stasie gaan almal regs maar sy druk ons 6 links in ʼn hysbak in. Ons gaan deur ʼn spesiale sekuriteitshek, haastig haastig. Daar is nie tyd vir selfone of lap tops uithaal nie, geen skoene of belde word soos gewoonlik afgehaal nie. Ons hardloop al die pad af, met trappe tot daar onder hy Hek 509. Daar wag ʼn klein bussie vir ons. Ons lugwaardin maak die deur toe en sê: “nou is julle op jul eie”.

Gewoonlik ry jy met die bus tot by die vliegtuig. Nie die keer nie. Dit voel of ons om die hele lughawe ry. Deur tonnels, wag vir vliegtuie om op te styg, tot voor ʼn ander gebou. ʼn Jong man sê ons aan om hom te volg. Ons ry op met roltrappe en skielik is ons in die vliegtuig. Wat ʼn verligting, ons is betyds.

Dit was nou netjiese werk deur die lugredery Cathy Dragon se mense.

Ek is op pad terug Viëtnam toe waar ek en my man nou bly. Hy help die Viëtnamese karre bou en ek verken die stad Hai Phong en die mense waar ons bly.

(meer…)

Read Full Post »

 

Gaan loop ons vinnig n draai terug die geskiedenis in. Lank gelede toe ons nog kinders was, het ons soms oor Kersfees by Waterval naby Zeerust gaan uitkamp. Dit was, soos n kind maar onthou deur sy kleurvolle verbeelding, n wonderlike plek met n rivier, hemel hoë kranse, groot waterkuile en rotsbanke waarvandaan ons kordaat afgeduik het soos op die foto bo gesien kan word. Dit was destyds, baie lank gelede.

Soms het ons die tente en eetgoed met die ou Farmall trekker en sleepwa aangery as ons n week of langer gekamp het.

Toe gaan ons kyk of die plek nog lyk soos dit meer as 50 jaar gelede gelyk het.

Deur Google spoor ons Bokkraal Waterfall Valley op en bespreek terstond plek vir die naweek. Mens het al vergeet hoe vêr Zeerust van Johannesburg af is! Mens het ook vergeet dis Afrika dié. Die teerpaaie is nie wonderlik nie en die grondpaaie is n saak vir 4×4 rygoed, veral as dit nat is. Net duskant Magalliesburg kry ons n padblokkade en word deur die polisie beveel om n ompad te ry want by die plakkerskamp verder die pad af brand en breek dit in voorverkiesings jolyt onder aanvoering van jy weet wie (n leidraad … hulle dra rooi kepsies). (meer…)

Read Full Post »

`n Verkenningstog te voet deur die strate van Hai Phong

n Man in sy groentewinkel wat hy letterlik op die sypaadjie bedryf.

`n Vriendelike meisie en haar kosstalletjie, eweneens op die sypaadjie. Dit kon net sowel Bronkhorstspruit of Marabastad hier by ons gewees het. Die vlak van higiëne is omtrent dieselfde?

  

Tipiese straatmarkte. Let op die Viëtnamesese idee van veilige elektriese bedrading (by `n “stoute” winkeltjie?)

  

Die mees gewilde vervoermiddel in Viëtnam. Die strate wemel behoorlik van scooters en mense met gesigsmaskers.

`n Tempel in tipiese Viëtnam styl gebou. By alle winkels, hotelle en tempels moet jy jou skoene uittrek voor jy daar mag ingaan.

Die twee Suid Afrikaanse avonturiers in Viëtnam

Die mense van Viëtnam is baie vriendelike mense. Waar jy gaan is hulle altyd bereid om afgeneem te word en `n woord of twee in Engels met jou te gesels. Veral die kinders hou daarvan om hulle vaardigheid met Engels ten toon te stel.

 

Orals waar jy gaan is daar beelde en kunswerke op straat te sien

Hai Phong is `n hawestad en die derde grootste stad in Viëtnam

Daar is pragtige, kleurvolle tonele vir die toeris om te besoek. Dit lyk of selfs hulle aanhangers van die Bloubulle kan wees?

Dit is n ou stad en die strate is nie ontwerp vir moderne tegnologie nie. Vragmotors kan nie in hierdie deel van die stad ry nie omdat die strate te nou is. Vullisverwydering word dus deur mense met trollies soos hierdie gedoen. Hulle neem al die rommel na n sentrale punt waar vragmotors dit dan oplaai en verwyder. Mens praat liewer nie oor hulle baie swak rioolstelsels nie!!!

En dan is daar natuurlik altyd ou Afrika waar dinge nie juis beter gaan nie!

Read Full Post »

Opgewonde laat weet sus Cobie my daar uit die vreemde: Kyk wat het ek gekry. Dit lê hier op die ashoop. Daar is nog baie sulke mooi goed. Ek wonder hoekom mense sulke mooi goed weggooi. Ek gaan gou terug om nog te gaan haal.

Kyk net hierdie mooi raam, laat weet sy uitasem na `n rukkie. Daar is nog, ek gaan weer haal.

Kyk net hierdie mooi potte. Dis maklik 500 jaar oud en dit lê op die ashoop, vertel sy later weer.

En daar lê n pragtige mooi, gekerfde tafelblad uit soliede hout, maar dis te swaar vir my om te dra. Ek sal Johan vra om dit vanaand te gaan haal!

Ek het dit toe self gaan haal. Kyk net die handewerk. Dit gaan mooi lyk in my kombuis. Ek kan nie glo hulle gooi sulke mooi goed weg nie! jubel sy.

En toe: Oh fok, die manager het nou net alles kom haal. Dis alles vir dooie mense en dit is bad luck om dit in jou huis te hê. Sy het gesê ek kan darem die raam hou.

En so vyf minute later: Sy het pas ook die raam kom haal. Ek mag niks hou nie. Sy sal my volgende week vat na n plek waar ek nuwes kan koop. Sy hou vol die geeste van die dooies sal ons kom jaag as die goed in my huis staan.

Dit wil voorkom of dit n kulturele gebruik is om mooi goed daar naby die begrafplaas vir die afgestorwenes te laat. As die familie van die dooies haar die goed sien steel het sou sy diep in die moeilikheid gewees het!

Nou is my spoed sommer gebreek, sê die grafrower. My hart is seer oor die fotoraam, dit was so mooi. En hoekom gooi hulle die goed op die ashoop? Daar is ou stukkende meubels en ander gebreekte goed.

Ons besluit die mooi goed is daar vir die dooies waarvoor die mense baie life was. Die gebreekte goed is dalk op die hoop gegooi vir daardie ou heks van n skoonma, dronklap man of rondloper vrou.

Begrafplase is baie mooi plekke daar in Viëtnam. Dit is netjies en goed versorg. Ons sal nog by daardie fotos kom met n volgende inskrywing … as sy haar kan gedra daar in die vreemde en uit die tronk uit kan bly!

Die grafdief en n Vietnamese vrugteverkoopster

Read Full Post »

In die Ooste werk die kalender volgens die Maan se siklusse om die Aarde, en nie soos by ons waar die Aarde se omwentelinge om die Son die jaartelling bepaal nie. Die nuwe jaar begin ook nie soos by ons elke jaar op dieselfde datum nie. By ons is 1 Januarie altyd nuwejaarsdag. In Viëtnam was nuwejaar in 2018 op 16 Februarie en hierdie jaar was dit 5 Februarie. In 2020 sal dit op 25 Januarie nuwejaarsdag wees.

Vir ons as Euro-Afrikane is omtrent alles vreemd hier in die Ooste, van kos tot kleredrag en basies alles omtrent hulle kultuur. Gelukkig was die aanpassing die keer nie so erg vir ons nie omdat ons vir baie jare in China gebly het.

  

Ek en Johan by hierdie vreemde, vriendelike mense.

Maar terug by nuwe jaar, by hulle bekend as Tét Nguyen Dan wat beteken ‘fees van die heel eerste more’ of dan ook lentefees, want die nuwe jaar begin met die aanvang van die lente. Simbole wat dan ook sterk op die voorgrond tree is die van vrugbaarheid en voorspoed, en daarom is die gee van geskenke van vrugtebome soos Kumkwat, lemoen, perskeblom en pomelos baie gewild.

Kulturele gebruike rondom die nuwe jaar is in misterie gehul en mitologies geïnspireer. Rooi en geel kleure is prominent omdat dit geluk sou bring en daarom word rooi en geel klere gedra en baie rooi en geel vlae en versierings (soos ons kersversierings) is oral te sien.

Dit is ook die tyd dat die mense hulle kulturele drag dra soos die kinders hier bo. Hulle kleredrag is tipies Oosters met die mooiste tabberts in helder kleure. Ook mans dra tabberts byna net soos die van vrouens, en somtyds selfs mooier as die van die vrouens. Soos gewoonlik is die ryk mense se klere baie mooier as die van die werkersklas met baie meer juwele en ander versiersels.

  

Die tuine word pragtig versier met ruikers wat soos kunswerke lyk.

  

          

Nog n vreemde ding vir ons Westerlinge (maar tog ook nie heeltemal vreemd vir ons uit Afrika nie) is die gebruik om offers te bring aan die voorvaders en die gode. Papier beelde en ander papier voorwerpe word op straat verbrand deur oud en jonk om te verseker dat die nuwe jaar op goeie voet met die onsigbares ingegaan word.

 

Daar word geglo dat die kombuisgode op 23 Desember hemel toe gaan om aan die Jade Emperor verslag te gaan doen oor elke gesin se doen en late deur die loop van die afgelope jaar, en daarom word die kombuis altar oorlaai met eet en drinkgoed vir die gode se reis na bowe. n Goed gevoerde boodskapper verseker dalk n goeie verslag daar bo!

Daar is baie voorskrifte vir wat jy moet en nie moet doen om te verseker dat die nuwe jaar voorspoedig sal wees. Op nuwejaarsdag moet jy byvoorbeeld heel eerste die belangrikste mense wat jy ken nooi om by jou te kom kuier. Op die tweede dag moet die gesin bymekaar wees en op die derde dag ander familie. As iemand in jou gesin onlangs oorlede is mag jy by niemand gaan kuier in hierdie tyd nie want jy sal vir ander mense groot teenspoed bring.

Op die dag van Tét word klappers geskiet, toeters geblaas en fees gevier. Dit is omtrent die enigste tyd dat die mense ernstig alkohol drink, vir ons buitelanders wat nie aan hulle drank gewoond is nie, is dit baie slegte drank. Goeie ingevoerde wyn is te koop, maar teen n stywe prys.

Die tradisionele en die moderne. Almal ewe seksie met hulle skoolmeisie lyfies.

Dit was n heerlike, nat dag. Vir ons van buite af baie vreemd maar opwindend. Ons geniet elke dag, en leer elke dag nuwe dinge hier in die vreemde.

Volgende keer meer oor vervoer, kos en die mense se gebruike en leefstyl.

En dan is daar natuurlik altyd Afrika en sy vreemde gebruike wat ons nooit sal vergeet nie. Sy is in ons bloed en in ons gene.

Read Full Post »

Viëtnam

Viëtnam: ‘n Nuwe ondervinding

Wat weet ons van Viënam? Dat dit iewers in die Ooste is, dat dit eers n Franse kolonie was en dat Amerika met hulle in n oorlog betrokke was van 1965 tot 1973. Ons weet van Agent Oranje wat Amerika teen hulle gebruik het in die oorlog  en dan was daar die foto van `n kein skreeuende dogtertjie wat verband was deur die bomme wat die Amerikaners op die bevolking gegooi het en wat gehelp het om die gety teen die Amerikaanse aanslag te draai.

En ons weet dat die Viët-Cong die Amerikaners se gat behoorlik geskop het.

Maar wat het intussen van Viëtnam geword? Wel sus Cobie en Johan is nou daar en ons gaan ‘n van tyd tot tyd saam met hulle daar kuier om te sien hoe dit lyk en hoe die mense lewe.

Viëtnamese is baie vriendelike mense wat nie omgee of afgeneem te word nie. Hulle lewe op die sypaadjies waar hulle saam kosmaak en saam eet. As jy fotos neem word jy sommer genooi om saam te eet.

Die taal is natuurlik iets ysliks om te leer, bykans onmoontlik vir (ouerige) boorlinge uit die ou Wes Transvaal. Gelukkig praat baie van hulle Engels, veral die kinders, en hulle is altyd baie gretig om hulle vaardigheid met die Rooi taal te demonstreer.

Hulle kos is baie vreemd vir ons Westerlinge. Hierdie groot blare word gekook en dan word klein stukkies vleis en groente daarin toegedraai en gekook.

Die vleis is nie baie lekker nie, ruik effens af (eintlik vrot!) en wissel van suur tot soet tot erg bekruie.

Hierdie klomp het onder die seil afdak gesit en eet en was baie opgewonde om afgeneem te word. Hulle het die fotograaf dadelik uitgenooi om saam te eet, maar die fotograaf is nog effens skrikkerig vir sypaadjie kos! Die mans het haar almal met die hand gegroet. Daar is baie min antagonisme teenoor Westerlinge te bespeur, wat vreemd is gegee die onaangename ondervinding met die Amerikaners. Hulle het egter min ooghare vir die Franse.

Slaaie en ander vreemde groentesoorte dien as stapelvoedsel en alles word met tjop sticks geëet. Dis moontlik hoekom hulle so maer is. Hulle eet stadig en uiters gesonde kossoorte sodat hulle gemiddelde ouderdom (meer as 80) baie hoër is as die res van Asië se mense. Daar is meer as 90 miljoen Viëtnamese en omtrent 70% van hulle is ateïsties. Buddhisme maak 10% van die bevolking uit en 8% is Katoliek met 6% Protestant, en dan is daar ‘n hele paar klein groepies van ander tradisonele gelowe.

Die omgewing waar ons bly is meer middel en werkersklas met smal, donker stegies. Ek noem dit Marabastad, maar vind dit ‘n baie aangename plek om te bly omdat die mense so vriendelik is en maklik gesels. Die broodverkoper hou al my brood vir my gereed as ek in die oggend aangestap kom.

Volgende keer vertel ek van my eerste rit op ‘n scooter, die mees algemene vorm van vervoer vir meeste mense. Dan moet ek vertel van hulle kleredrag, en ons naweek uitstappie op ‘n boot.

 

Read Full Post »

%d bloggers like this: