Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Buurman’

Buurman en sy beeld.

Julle het my buurman al ontmoet. Sout van die Aarde soort van mens ten spyte van die ultra-konserwatiewe streep wat die man het. `ʼn Trump ondersteuner en lofsanger erger as Fox News. Maar hy kan ook nie anders nie, hy het immers in die Waterberge opgegroei en mens geword en die destydse Afrikaner kultuur van Volk en Land en Taal en Kerk het in sy beendere gaan sit soos jou vel om jou lyf sit.

Later is die man weg uit die Waterberge, maar die Waterberg sit steeds in sy lyf en slaan kol-kol weer uit as hy erg geagiteerd raak, gewoonlik net as ek begin dink my eie meer liberale uitkyk op die lewe begin sy AWB uitkyk so effens te temper.

Maar net voor ek die handdoek ingooi, dan gooi hy weer `n klip in my bos om onrus onder my oordele en veroordelings te saai. Soos nou weer met sy nuwe buurman. Die storie kom so; Buurman verf weer die hoë pre-cast muur wat hom van sy Noordelike buurman skei. En soos hoeveel maal tevore voeter hy weer van die stellasie af en beland in die blombedding. Net toe kom loer die Noordelike buurman oor die muur en sê hy sien Buurman het hierdie stellasie gedoente (scaffolding noem Buurman dit) wat hy gebruik as hy buite aan die huis rond peuter soos verf en geute skoonmaak en so aan. Hy wil self bietjie aan sy huis verf en wil weet of hy die gedoente kan leen vir die taak.

My 74 jarige ou buurman is mos nou van geaardheid `n goeie mens en stem in om die pyperasie vir die man te leen, maar eers later, sê hy. Ek lê net eers bietjie en rus hier tussen die blomme. Mens moet so af en toe tot rus kom en die skoonheid van die natuur bewonder, as’t ware die blomme ruik en die bytjies van nader bekyk.

Hy het dit eintlik sarkasties bedoel, maar dit het by sy buurman verby gegaan. Later gaan slaan hy die stellasie self vir sy buurman op en wys hoe dit werk. Baie dankbaar is die man en sê hy hou van my buurman se manier van doen. “Jy sien nie kleur nie,” sê hy. “Jy sien net `n medemens wat hulp nodig het, en dit gee my moed vir die land van ons.” Sien, my buurman se nuwe buurman is `n Zoeloe. (meer…)

Read Full Post »

Sy lewe lank werk hy met sy hande want skool wou hy nie, toe los hy dit na standerd agt en loop bemeester n ambag. Dit was nog die goeie ou dae en jy kon n ordentlike opleiding kry deur vir drie jaar n appie te word. Hy besluit om ketelmaker, of soos dit meer bekend was; boilermaker te word. Dit was, na my mening, n groot fout want die man was ingeneur material. Hy het die verstand en die insig en vaardigheid om n uitstekende argitek of ingeneur te kon word.

014-copy

Maar toe maak hy ketels en koekepanne en mynskagte en hysbakke van staal, alles van staal. En alles moet perfek wees want dit is soos hy is, hy doen niks half nie. Hy doen n rits groot projekte soos die oprig van fabrieke en kragstasies asook die Carlton Sentrum waar hy die staalwerk van die fondamente tot by die boonste verdieping help ontwerp en inataleer.

030-copy

Toe word hy oud en tree af, en gaan werk weer omdat hulle hom vra om asseblief te kom help. En toe tree hy regtig af, en nou speel hy (soos sy vrou dit noem) in sy werkskamer.

047-copy

Hierdie Singer naaimasjien het hy omskep in n Johndeer trekker en die kas van die naaimasjien maak hy toe n sigeuner wa.

033a-copy

Die sigeuner meisie het Hannelie vir hom met Photoshop gedoen.

037        039

As hy alles oor kon doen, sê hy, sou hy beslis skool klaargemaak het en verder gaan studeur het, en sou hy dalk tog graag n beeldhouer wou word. Maar natuurlik, in daardie tyd het mans nie kuns gedoen nie. n Man was net n man as hy met sy hande kon werk. Baie soos dit vandag steeds maar is vir ons Boerenasie.

Nou speel my ou konserwatiewe buurman, oud KP ondersteuner en behoudende gees in sy goue jare stil en rustig in sy werkplek.

049-copy    028-copy

Hierdie ou Plymoth het hy self opgebou uit stukke wat hy op skrootwerwe, plase en by versamelaars gekry het. Dit het hom die beste deel van 10 jaar gevat om dit presies soos die oorspronklike kar op te bou.

Car Show Modderfontein 2013

Car Show Modderfontein 2013

 

Read Full Post »

Buurman se vuurwarm romanse met die komplimente van Escom.

Vroeg Saterdagoggend klop Buurman aan my deur. Die man lyk bedremmeld. Hare deurmekaar, stoppelbaard, donker kringe om die oë en as ek my nie misgis nie het hy steeds die bokserbroek en T-hemp aan waarmee hy geslaap het. Dan dra hy nog `n nekstut ook.

Ek sê dit lyk of hy `n beker sterk koffie nodig het en hy vra of ek dan niks sterker in die huis het nie, asseblief. Met bekers warm koffie in die hand om die kombuistafel, (syne bietjie verstek met `n skoot Whisky), vra ek hom wat dan oor sy lewer geloop het.

‘Escom’, sê hy en drink gulsig aan sy koffie.

‘Escom?’ vra ek uit die veld geslaan. ‘Wat het Escom aan jou gedoen? Het jy nie jou kragrekening betaal nie?’

‘Beurtkrag,’ sê hy en teug weer diep aan sy koffie. Die man praat in raaisels, en dit nog in monosillabes ook. Ek verstaan niks en kyk hom vraend aan.

‘Gisteraand was mos weer @***$# beurtkrag’, stotter hy en vat-vat so aan sy nek.

‘Ek het so agter gekom,’ sê ek nou nog meer in die duister.

‘Sien,’ sê hy nou meer vloeiend. Ek dink die koffie doen sy werk. ‘Sien, toe die krag nou so skielik afgaan wou ek net weer my moer strip, maar toe dog ek so by myself, hoekom nie iets positiefs van die ou ongeriefie maak nie. My vrou is mos nou sterk in die “wees positief” gedoente in. Jy mag niks skeef sê nie dan is dit “wees positief skattie”. Hy sê dit in so `n fyn stemmetjie soos sy vrou dit sou doen.

‘En toe?’ por ek hom aan.

‘Toe steek ek kerse aan en gaan tap vir my vrou `n heelike bad warm water in, en gooi sommer so `n ekstra lot borrelbad affêrings ook in en ek sê vir haar “gaan ontspan jy maar solank in die bad liefie, dan bring ek vir jou `n glas lekker wyn.”

‘Sien, mens moet geleenthede wat jou gebied word aangryp. En wat is nou lekkerder as `n romantiese aand by kerslig, met komplimente van Escom daarby! Terwyl sy toe in die bad is met haar glas wyn, kry ek gou nog drie kerse en gaan sit dit in die slaapkamer op die bed se kopstuk. Ons bed se kopstuk is mos so `n boekrak gedoente,’ beduie hy en vryf weer aan sy nek.

‘Vir ekstra effek vat ek toe sommer die groot blompot met die blomme wat sy vir haarself gekoop het die oggend ook kamer toe en sit dit by die kerse. Te pragtig sê ek jou. So romanties. En sy kom uit die badkamer uit en kom lê langs my en sy vra skalks “voer jy dalk iets in die mou?” Sy giggle soos `n stout meisiekind en sê “ my man is nie die romantiese tipe nie, en as hy jou hier kry gaan hy jou doodmaak.”’

‘Ek speel toe maar saam en sê sy hoef nie bekommerd te wees nie, hy het my toestemming gegee om die aand saam met sy vrou te kuier. En toe raak dinge rof, so rof dat die een kers van die bed se kopstuk af val en op my kaal rug beland. Van daar af het dinge baie sleg verloop,” sê hy en vat-vat so aan sy bors.

‘Nou wat de joos gebeur toe?’ vra ek gemaak geskok. Ek kan al sien wat kom en moet keer om nie te lag nie.

‘Nee man, toe die warm kerswas my op die rug tref verstyf ek van skok, val op my rug en gee `n helse harde gil. My vrou skrik haar buite weste en dink ek kry `n hartaanval. Haar eerstehulp klasse skop in en sy begin my met dubbelhand houe op die bors slaan. Hard, sê ek jou, baie hard. Ek protester luidkeels maar dit spoor haar net aan. Sy slaan so hard dat die bed wild rondskommel en die ander twee kerse ook van die kopstuk af val. En toe slaan die kussing en die punt van die laken aan die brand.’

‘En toe?’ vra ek nou werklik geskok. ‘Wat gebeur toe?’

‘Toe is dit totale chaos, sê ek jou. My vrou hol verskrik die gang af, steeds poedel kaal, en gaan druk die paniekknoppie om Alpha Security se mense te roep. Ek staar verlam na die vlamme, kom effe tot verhaal en gryp die blompot en gooi die water met blomme en al op die vuur. Dit blus die spul toe so effens en ek gryp die hele lot en gaan gooi dit in die bad wat toe nog vol skuimende water was. Vir goeie geluk spring ek so `n paar keer op en af op die beddegoed om seker te maak die vuur is geblus.

‘Ek staan nog so in die bad, beskuim van kop tot tone met die sirene wat steeds oorverdowend skreeu, toe lui die voordeurklokkie. Ek storm voordeur toe, maar my vrou, nou gelkee in `n kamerjapon is voor my daar om die deur oop te maak. Alpha se gewapende wag staan voor die deur en vra “Is daar `n probleem mevr… “ en toe gly my nat voete op die teëls en ek slaan op my rug neer. My momentum dra my kaal lyf tot tussen my vrou en die nou erg verbaasde sekuriteitswag se voete. Sy oë rek en hy kyk my vrou vraend aan terwyl sy hand na sy vuurwapen begin beweeg.

‘My vrou stotter “nee, nee niks is verkeerd nie meneer” terwyl sy die deur in sy gesig probeer toemaak. Maar ek lê soos `n naakte, skuimbeplakte deurstop op die vloer en sy kry nie die deur toe nie. “Daar is iets verkeerd,” sê ek toe so waardig as wat ek kon daar van die vloer af. “Ons het die huis aan die brand gesteek!”. Toe rek sy oë nog groter en hy gee so `n paar treë agteruit.’

Teen die tyd lê ek al amper op die kombuisvloer soos ek lag. So deur die trane en lagbuie vra ek, ‘ en toe, wat gebeur toe?’

‘Nee,’ sê hy erg verleë. ‘Toe help my vrou my op, vee die skuim van my gesig af en groet die wag vriendelik voor sy die deur toemaak. Ek sweer ek kon die man hoor lag toe hy wegstap, maar ek is nie seker nie want toe lag my vrou so hard dat sy nie kan asem kry nie. Ons het niks geslaap nie. Die huis stink van nat, gebrande beddegoed en met die brandwonde op my nek en rug waar die kerswas op my geval het kon ek in elkgeval nie op my rug lê nie. En met die val het ek my nek beseer en ek sweer sy het my borsbeen gekraak met die verwoede hartmasering wat sy op my toegepas het,’ sê hy so half droewig en hou sy bors met albei hande vas.

‘Baie dankie treurige #**&%#@ Escom vir `n romantiese aand,’ sê Buurman ontstoke. ‘Volgende keer sal ek my generator loop start. Romantiese aandjie se gat man. Kyk hoe lyk ek, en sy lag nou nog onbedaarlik elke keer as sy vir my kyk!!’

 

Read Full Post »

“Hoe werk dit?” vra my buurman my met trane in sy oë.

“Hoe werk wat?” vra ek heel onskuldig. Dis nie aldag dat Buurman by my kom tjank nie.

“Die lewe,” sê hy erg bedroef.

“Verduidelik,” versoek ek so half versigtig. Kinders wat huil kan ek hanteer. ´n Groot gryskop man wat huil is ´n heel ander storie. Nogal ´n onstellende storie.

“My vrou,” sê hy en vee sy neus af.

Moeder Maria, dink ek geskok. Moet tog net nie vir my sê sy wil hom op hierdie rype ouderdom staan en skei nie. Hy is ´n effe dwars ou korrelkop, maar tog nie soos erg soos ander ou mans wat ek ken nie.

Toe vertel hy. Staan glo in sy agterplaas en prober met ´n vierpond hamer om ´n betonpaal stukkend te kap. Kap-kap, kap-kap tot hy nat gesweet is, maar maak min indruk op die paal. Maar, sê hy, voor hy begin kap het aan die paal, het hy die nuwe Rolex horlosie wat sy vrou vir hom gegee het afgehaal en ´n ent weg agter hom op ´n klip gesit sodat die duur geskenk nie beskadig raak met die gekappery nie.

En dis net daar waar die duiwel Buurman se werf betree en die spreekwoordelik spaander in die werke gooi.

Kap hy so aan die paal, en met die dat die paal erge weerstand bied, kap hy algaande meer drifting. Sy lyf sweet, sy voorkop sweet, sy hande sweet en toe hy een woeste hou wil slaan, vlieg die hamer met die terugtrek slag uit sy hande uit, trek met ´n sierlike boog deur die lug na agter en, sê hy nou driftig: “Die verdomde ding het die hele f*kn erf tot sy beskikking om te gaan val. En waar val die vervloekte ding, waar vra ek jou?”

Ek trek my skouers verontskuldigend op en skud my kop. Weet nie? Ek het ´n sterk vermoede maar ek gaan dit om die dood nie uitspreek nie.

“Ek sien duidelik waarheen die ding op pad is,” sê hy, en ek kan sien hy sien die trajek van die hamer weer helder en duidelik in sy geestes-oog. “En ek draai om en ek hardloop agterna,” sê hy so half hygend. “Maar die hamer was natuurlik eerste daar.” Nou hou hy sy kop tussen sy hande vas. Ek kry hom so jammer.

“Die Rolex. In duisend stukke,” sê hy bewoë.

“En toe?” vra ek geskok al het ek geweet hier kom moeilikheid.

“Hoekom die Rolex?” vra hy moedeloos. “Die erf lê wyd en oop, maar die verdomde ding moet op die Rolex val. Hoekom? Al wat ek vra is twee duim links of twee duim regs. Is dit nou te veel gevra?”

Met die horlosie in stukke voor hom,  doen Buurman  toe ´n vreemde ding. Hy vat die hamer, gaan staan weer by die halstarrige betonpaal en gooi die hamer oor sy skouer na agter, maar die keer met opset in die rigting van die verpletterde geskenk. Oor en oor herhaal hy die proses. Gooi die hamer, loop tel dit op, staan by die paal en gooi die hamer oor sy skouer.

“En nie een keer nie, nie een keer val die hamer eers naby die oorblyfsels van die kosbare Rolex nie,” sê hy nou weer driftig.

Ons sit in my agterplaas onder die lapa en drink Klippies en Coke, en ek stoot die hamer wat onder my stoel lê so onpsigtelik as moontlik met my voet dieper onder die stoel in. Mens weet nooit waartoe hy in sy drif in staat is nie.

Later, sê hy, gaan staan hy by die gewraakte betonpaal, kyk na die Rolex en gooi die hamer verwoed na die teiken, keer op keer, maar selfs toe kon hy die Rolex nie tref nie. En dit is hier waar die groot moles toe eintlik begin. Wat hy nie wis nie, was dat sy vrou hom die hele tyd deur die venster gestaan en dophou het. Toe hy  so verwoed met die hamer direk na die horlosie begin gooi storm sy op hom af en gil op hom teen desibels wat Maria Sharapova sou laat skaam kry.

“En wat de hel dink jy doen jy? Is jy van jou sinne beroof? gil sy” Toe sien sy eers dat die tydmasjien reeds in duisend stukke op die grond lê, en toe moes hy haar van die hamer af weghou anders was daar moord.

“En ek prober vir haar verduidelik wat gebeur het, maar sy weier om na my te luister,” sug hy nou amper gelate. “Hoe sal ´n vrou nou ooit verstaan hoe ´n man se kop werk. Ek moes mos bepaal hoe dit gebeur het dat die hamer juis daar gaan val het waar dit nie moes nie. Hoe anders sou ek presies aan haar kon verduidelik wat gebeur het?”

“Nou vra ek jou, hoekom? Hoe werk dit? Watter diabolise magte sit agter sulke dinge?”

“Is presies soos die keer met die snoeiskêr,” sê Buurman half bitter.

“Wat van die snoeiskêr?” vra ek uit die veld geslaan.

“Ek loop anderdag mos en snoei bietjie aan my bome en struike. Pla niemand nie. Stap later met die skêr in my hand na my Bonsai boompies toe om hulle ook bietjie terug te snoei,” vertel hy nou meer rustig. “Ek loop en dink aan al die ander werk wat ek nog moet doen, toe haak my voet aan iets vas en ek val. Maar ons lang ouens val mos so half in paaiemente. Die knieë swik, die arms swaai, die bene beur vorentoe om die ewewig te herstel terwyl die grond met spoed nader aan jou neus begin beweeg. Ek sien hier kom moeilikheid en gooi die snoeiskêr weg van my af sodat die ding my nie dalk beseer nie.” Hy bly `n oomblik stil en glimlag verleë.

“En?” vra ek nuuskierig.

“Toe val ek,” sê hy met so `n skewe glimlag. “Ek val en ek hou my hande voor my uit om die skade aan my neus te beperk, en ek sien te laat hoe die skêr deur die lug trek en himself oopbek tussen twee klippe inwig presies net daar waar ek gryp om my val te stuit.”

“Nou vra ek jou weer; hoekom? Hoekom daar? Hoekom met sy skerpkant na my toe?”

“En toe?” vra ek geskok.

“Toe val ek met my hand in die skêr se kake in en hy vreet my tussen die duim en die wysvinger dat die bloed so spat. Kloof my hand oop.” Hy skud sy kop verslae. Hou sy hand en wys my die letsel.

“Hoeveel steke moes die dokter insit om die al daai skade te herstel,” vra ek. Ek sien ook dat die ringvinger aan die ander hand ´n lit kort, maar ek vra nie. Ek wil liewer nie weet nie, nie vandag nie.

“Dokter? Watter dokter?” vra hy gebelg. “Ek het dit self toegewerk met naald en gare. Vir wat sal ek geld mors op ´n dokter!”

“Maar ek vra jou weer; hoe de hel werk dit? Hoekom val die hamer presies op ´n twee sentimeter groot splinternuwe Rolex en loop staan die skêr wyebek reg daar waar my twee vingers te lande gaan kom? Dis mos nie logies nie, en nog minder regverdig!” snork hy nou weer driftig.

“Ek kan twee boeke oor my lewe skryf,” sê hy gegrief. “Twee. Een boek oor hoe my lewe verloop het, en ´n ander een oor hoe dit kon verloop het.”

“Hoe bedoel jy nou?” vra ek so half opsetlik.

“Kyk, as ek harder op skool gewerk het en minder met my vriende gejol het kon ek Universiteit toe gegaan het en my graad gaan kry het. Dan sou dinge baie anders verloop het, baie. En ek kon met daai ryk Vrystaatse boer se dogter getrou het en dan het ek nie nou hier saam met jou gesit en Klipdrift drink nie, nee. Ek sou agter in my Cadillac sit en dik sigare rook en Konjak drink,” sê hy met so ´n veraf blik in sy oë. Hy ry daardie droom, sien ek.

“En jy sou my nie eers gegroet het as jy so verby my ry nie,” sê ek gemaak ongelukkig.

“Nee,” sê hy half skuldig. “Nee man, ek is nie so nie! Natuurlik sou ek by jou kom kuier het,” skerm hy.

“Maar nou is dit nie so nie,” sê ek vir hom. “Ons het elkeen twee boeke wat ons kan skryf oor ons lewens. Maar tot tyd en wyl ons nie daardie boek nommer twee gaan begrawe het, of in die vuur gegooi het nie, kan ons nie die eerste boek met oorgawe begin leef nie. Dis wat ons moet doen, al lankal moes gedoen het. Is bietjie laat hier waar ons al naby aan die laaste hoofstuk van boek een gekom het. Die beste wat ons nou  kan doen is om voor te begin lees aan boek een sodat ons die einde daarvan beter kan verstaan en dit kan aanvaar. En dalk sien dat dit goed was.”

“Want sien ou Buurman, in boek twee sou daar ook hamers en snoeiskêre en duiwels gewees het. Miskien nog meer as in boek een, wie weet?”

“Jaaa,” sug hy. “En Klipdrift is ook nie so sleg nie. Buitendien rook ek glad nie. Ek hou nie daarvan nie.”

Toe loop ek en gaan haal vir ons ´n bottel Konjak en ´n bak ys, en ons vergeet vir ´n wyle van boek  twee se bestaan en van boek een se sondes.

Read Full Post »

Buurman en Lady Di

Het toe weer ´n draai by Buurman gaan maak. Omdat die vorige besoek kort duskant die blatante skending van (my) menseregte en persoon geëindig het, met my wat huis toe hol en Buurman wat so in die hol dreig om die braaivurk in my hol op te druk, het ek vir ´n maand lank draaie om sy voorhek geloop.

Kon toe ´n besoek aan hom nie langer uitstel nie omdat Ma begin dreig om dieselfde met my soldeerbout te doen (vooraf verhit tot duskant rooiwarm) as ek nie oorstap en Buurman se elektriese boor te gaan leen sodat ek gate in die muur kan boor vir ´n potret van ´n afgestorwe hond of iets van haar wat sy wil ophang (kon ´n prent van oupa of ouma ook gewees het).

Met ´n bottel goeie rooiwyn in die hand as vredesgebaar (of as wapen ter selfverdediging as die offer nie aanvaar word nie), stap ek toe oor terwyl Ma my met die soldeerbout van ons voorhek af staan en aanmoedig.

Vind ek Buurman toe heel rustig op sy agterstoep waar hy in die koelte sit, besig om sy hans duif met broodkrummels te voer. Is ´n geringde vliegduif wat een dag doodmoeg op sy stoep kom sit het om te rus en toe net nooit weer verder gevlieg het nie, inderdaad nooit weer gevlieg het nie. Loop te voet waar sy wil wees.

“Ek sien jy bring vir my ´n ou botteltjie vreugde,” groet hy uitgelate toe ek versigtig om die hoek loer met die bottel armlengte voor my in geil aanbod van vrede. “ Moet nie net daar staan nie. Loop haal vir ons glase en kom sit.”

Ek merk dat sy een been in gips is en daar ´n dik verband om sy kop is. Een oog is ook toegeplak. Ek gaan haal die glase en skink mildelik terwyl ek onderlangs loer om seker te maak daar is geen braaivurk in die omtrek nie.

“En dié,” vra ek so met die gaan sit en beduie na die been en die kop. “Moeilikheid met die vrou opgetel?” vra ek en berou die ondeurdagte vraag onmiddelik. Gedagtig aan my vorige noue ontkoming na so ´n persoonlike vraag, maak ek gereed om op te vlieg en weg te hol.

“Nee,” sê Buurman gemoedelik. “Nee, die Vrou is goed vir my. Geen probleme in daardie departement nie dankie. Ek het van die leer af geval.”

“Nou hoe de joos …” vra ek ontstig en ook effe verward. Hy het nog laas vir my vertel sy vrou slaan hom!

“Was besig om vir hierdie vriend van my … “ en hy beduie na die voetganger duif, “ ’n huisie daar teen die muur op te sit toe die leer agteroor omvoeter. Gelukkig was dit langs die swembad. Val ek gat oor kop die water in. Swembad amper leeg,” lag hy.

“Jou been gebreek?” vra ek en gooi nog wyn in sy glas. Moet die skok van die val wees wat hom laat vergeet het van my vorige besoek, dink ek so half skuldig maar dankbaar.

“Nee, niks gebreek nie, nie toe nie. Die gemors het gekom toe ek van die dak af geval het.”

“Nou wat de duiwel soek jy op jou ouderdom op die huis se dak?” vra ek onthuts. Die man het immers byna  sewentig somers agter die blad. So tussen deur wonder ek of hy dalk tog vir sy vrou gevlug het.

“Vrou kla al maande dat die dak lek,” sê hy en hou sy glas vir nog wyn. “Toe klim ek op die dak. Maar jy weet mos ongelukke kom in drie’s. Net toe ek bo is skop ek per ongeluk die leer om. Probeer nog gryp en keer toe gly my voet en ek rol so half in stadige aksie teen die skuinste af en ek weet hier kom groot moles. Voete gly oor die rand van die dak en ek skreeu soos ´n vroumens in kraam, sê ek jou. Ek klou verbete, maar toe die voete oor die kant gaan was daar nie keer nie,” sê hy en gooi nog krummels vir die duif.

“Ek kry toe gelukkig die rand van die geut beet. Hang soos ´n bleddie vink daar aan die dak tussen hemel en aarde. Nog ´n kaalgat vink ook, want so met die hang sak my broek af tot op my skoene. Help ook nie ek roep om hulp nie want die vrou is weg winkels toe. Toe laat los ek en val my gat af. Die grond was gelukkig losgespit en die val dus nie te erg nie. Ongelukkig was dit die roostuin waarin ek beland het. My vrou se geliefde Lady Di boompie in sy moer in. My agterent vol dorings, broek en hemp erg geskeur, enkel verstuit, knieg beseer en die kop hard teen die tuinkabouter gestamp. Maar dit kon erger gewees het. Ek kon op my vrou se duur Nataniël roosboom geval het, dan was ek dood sê ek jou, morsdood vrek! Dit sou sy my nooit vergewe het nie.” sê hy ernstig.

“En die oog, het die roosboom jou oog ook beskadig?” vra ek terwyl ek steeds wonder of sy vrou hom nie so aangerand het nie.

“Is die derde onheil wat my tref. Jy weet mos daai siekte wat ek lank terug in my oog gekry het, daai roos … roos, jingles of bingles?” soek hy na die woord.

“Jy bedoel die gordelroos, shingles,  wat jy ‘n jaar terug in jou oog gekry het?” help ek hom reg.

“Einste,” sê hy. “Die ding pak my toe mos weer uit die bloute uit. Dokter sê dis van al die opwinding,” sê hy nou so half blymoedig onder invloed van die wyn.

“Jy bedoel, spanning,” sê ek. “Spanning veroorsaak gordelroos, so vermoed die dokters. Nie opwinding nie.”

“Ja, ja,” sê hy. “Wat ook al. Ek is mos nou onder ´n uroloog. Hy sê ek het soster.”

“Moet ´n viroloog wees, nie ´n uroloog nie,” sê ek. “Uroloë werk met jou blaas. Gordelroos word veroorsaak deur Herpes zoster, dis ´n virus, dus sal ´n viroloog na jou moet kyk.”

“Wat ook al,” sê Buurman vrolik. “Ek was laasweek by hom. Hy het sewe soorte bloed uit my getrek. Ek het die buise getel. Vra ek hom of hy die LPT toets op my gaan doen. Jy ken die LPT toets?” vra hy met die volkel van Bachus in die oog.

Hy wag nie vir ´n antwoord nie, maar bulder; “dis die longe, poeph ….”

“Ja, ja ek weet,” val ek hom in die rede. Mens het ook mos skaamte. Wat moet die bure van ons dink as hy so aangaan!

“Maar hy sê hy gaan toets vir Aids en vir geelhond-luiskoors en varkmasels en nog blouwille-boeppenskoors ook. Hy dink hy is snaaks. Dokters behoort nie snaaks te wees nie, nie eers monoloë nie,” sê hy uitgelate.

“Viroloë,” sê ek.

“O ja,” sê hy, “nou onthou ek. Monoloë het met seks te doen.”

“Nie wat ek van weet nie,” sê ek effe oorbluf. Die man se gedagtegang is erg dwalend vandag. Moet die gevolg van die stamp teen die kop wees, of dalk maar net die wyn wat hy soos water drink.

“W-a-a-g-i-n-a M-o-n-o-l-o-ë” sê hy stadig en uitdruklik en tot my verdriet.

“Ja goed,” sê ek. “Praat net sagter, jou buurvrou kan jou hoor!” probeer ek die skade beperk. “Dit het niks met dokters te doen nie. Is ´n klomp skaamtelose vroumense wat oor hulle onnoembare onderdele in die openbaar praat.” Maar niks sit Buurman vandag af nie. Hy stoomroller voort.

“Hy vra my toe allerhande simpel vrae. Vra of ek baie sweet in die nag. Sê ek vir hom ja, so een maal per maand as ek gelukkig is!”

Hy leun oor na my kant toe en gee so ´n lang konspirerende leepoog knip terwyl hy uit die kant van ´n skeefgetrekte mond fluister; “as jy verstaan wat ek bedoel.” En hy lag so hu-hu-hu.

“Maar dis  nou ´n gebodder. Ek steur my mos nie aan wat met my lyf aangaan nie. As jy dit eers begin doen, dan vreet die doktersgelde baie gou jou bankrekening leeg en het jy niks om vir die drankwinkel om die hoek te gee nie, en dis baie sleg vir jou gesondheid. Jy lewe dalk langer, maar wat is ´n lang lewe werd sonder die plesier van rooiwyn en Johny Walker?”

“Hoe ook al,” sê hy en hou sy glaas vir nog wyn. “Nou vind ek uit ek sweet in die nag, en sommer in die dag ook. Dit stroom tydig en ontydig soos water van my af. Ek weet nie of dit nou is omdat ek meer oplet nie, en of dit dalk die dokter se medisyne is wat dit veroorsaak nie. Miskien is dit ook maar net oor die angstige afwagting vir die rekening wat hy gaan stuur.”

“Sien jy nou,” sê hy ernstig. “Ek was blakend gesond gewees tot ek by die dokter was. Nou is ek skielik siek.”

“Maar jou oog was ….” begin ek hom wys op al sy skete, maar hy luister nie. Val my dwars in die rede.

“Is soos laas met die rugpyn. Na behandeling was ek sieker as voor die behandeling, en vir jou inligting,” sê hy nou baie driftig aan my, “Vir jou inligting, daardie enema het toe gewerk soos dit moes en nie soos jou perverse gedates dit bedink het nie!”

Hy is nou skielik boosaardig kwaad en toe ek sien sit hy daar en swaai ´n braaivurk in die lug rond.

“Stadig nou,” paai ek terwyl ek die vinnigste roete hek toe bedink. “Jy gaan jou been skade aandoen. Sit dood stil, ek gaan haal vir ons nog wyn,” sê ek senuweeagtig terwyl ek opstaan en agteruit hek toe beweeg. “ Dit was in elkgeval net ´n ou grappie gewees. Niks ernstig nie. Kalmeer, die opwinding is nie goed vir jou oog nie,” was my laaste woorde aan Buurman voor ek in trurat om die huis se hoek  verdwyn.

“Ek dog jy sêspanning doen niks aan my oog nie!” skreeu hy my agterna.

Ma was toe baie kwaad oor ek sonder die boor by die huis aangehardloop kom.  Sy verstaan nie van lewensbedreigende bure nie. Sê die man is so sag soos ´n groot teddiebeer. Onskadelik.

Wel , ek het nuus vir haar. Sy kan self loop en die boormasjien gaan haal. Ek mors nie weer ´n goeie bottel wyn op ´n ondankbare buurman nie. Teddiebeer of te not.

Read Full Post »

Sekelman

Staan Ma gister in `n winkel by die betaalpunt. Pak haar mandjie met buit uit om te betaal. Is `n sak vol peuselgoed; pasteitjies, tertjies, brood en so aan.

Staan daar `n ouerige dame agter haar in die tou van gesoute kopers. Ma ken haar van g’n kant af nie. Die tante kyk so na Ma se koopsels en sê; “Oo, besig om op te stock vir die naweek.” Nie `n vraag nie, ook nie `n stelling nie, maar tog op `n manier soort van beskuldigend.

Kyk Ma haar so op haar WTF manier aan en, nie lus vir nonsens nie sê sy; “Nee, besig om op te stock vir `n begrafnis” en pak haar paksels (of is dit stoksels?) rustig verder uit.

Dame agter die til proes van die lag. Antie staan effe tru en sê nie `n woord nie.

“Is so,” sê Ma vir die tiller. “Buurman is dood en sy help koop aan iets om te eet vir die mense na die begrafnis.”

“Skuus dat ek lag.” sê die tilvrou verleë.

“Is OK, vergeet dit,” sê Ma en strompel onder die las van haar stoksels die winkel uit.

Stock op vir `n begrafnis! Het nooit so daaraan gedink nie. Ek onthou`n neef van my was destyds nie by my ma se begrafnis nie. Toe iemand hom vra waarom nie, was sy antwoord dat hy nie daardie maand begroot het vir `n begrafnis nie! Nou wil ek nie snaaks wees nie, maar sal iemand asseblief vir Ma gaan sê ek het ook nie hierdie maand begroot vir opstok vir `n buurman se begrafnis nie. As daar nog so `n onvoorsiene, onbeplande begrafnis iewers vorentoe opduik waarvoor ons nie begroot het vir die opstkkery nie, dan gaan sy die jaar weer nie see toe nie.

Ja, Buurman is nou onder die kluite, maar hol nog soos `n mal haas hier in sy huis rond. Dit gaan laaank vat vir die man om tot ruste te kom. Ma sê dat, van die dag van sy dood af, as sy vrou en kinders iewers heen gaan, dan loop hy hier in ons huis rond op soek na hulle. Snaaks dat hy nie saam met hulle winkels toe gaan nie. Hy was baie lief vir shopping.

Hy was `n vriendelikke, vrolikke klein kaalkop mannetjie van Tjeggiese afkoms. Net 42 jaar oud. Hy gaan gemis word by sy werk en by sy huis.

So val ons om, een vir een. Ma se neef Kobus, omtrent so oud soos Buurman, lê ook in die hospitaal, ook met kolonkanker. Dit kap weer  woes in ons bos. Mens voel die wind van die ou swarte se sekel teen jou lyf. Miskien is dit tyd om die nekkie uit te hou en te sê; “Do your damnest.”

Read Full Post »

Prenkie

Nou is my ou KP buurman vir ewig op doek vasgelê. Vir al sy moeite van bou en breek aan onse huis, kry hy die prentjie (geraam) vir krismis.

Read Full Post »

Nog `n Dag

Na maaande se gespook begin my buurman lyk soos my buurman, of dan die ‘selfportret’ van my buurman soos iemand dit gestel het!

Gaan hernuwe my lisensie vanoggend by die munsipaal se kantore. Gaan Ma saam om te help met die tolkery soos dit deesdae al meer gebeur. Sê sy vir die man wat die oogtoetse doen om te sien of jy nog kan sien om te kan ry, sê Ma sy staan net daar om vir my te sê wat die Toetser sê omdat ek dalk nie sal hoor wat hy sê nie. Sê die Toetser reg, hy gaan my oë dan  nie toets nie ons kan maar na die volgende stasie gaan en dan gaan betaal. Dit lyk of ek goed genoeg kan sien! Ha, nou kan ons weer vir nog `n jaar die pad aandurf en hoop niemand ry ons dood nie.

   

Die kombi waar mens jou foto laat neem vir die lisensie. Daar is `n spul van hulle wat wedywer om klante te werf.  Dis `n vuil, varkige tampan nes en jou foto lyk ook so as hulle met jou klaar is. Ma sê tenminste werk hulle vir hulle geld. Ek vermoed jy kan ook enige dwelm wat jou lyf begeer daar koop. Ek het in my lewe nog nooit so `n vuil kamera gesien nie.

 Nee, dis nie ek wat `n wilde naweek beleef het na die Leeus se oorwinning oor die Haaie nie.

Read Full Post »

Buurman en die morfien

Sit ek en my KP buurman weer nou een aand om `n botteltjie Rooi en gesels. Vertel hy van toe hy nou onlangs in die hospitaal was, amper die emmer geskop. Ons het op `n kol nie gedink hy sou dit oorleef nie. Kom die gesprek uit by `n vriend van hom wat kanker het, terminaal, in pyn en konstant onder morfienverdowing. Kan nie meer `n samehangende gesprek voer nie.

Sê ek en my vrou dit is die morfien wat die man so onsamehangend maak. Vertel ek as voorbeeld wat alles met my gebeur het onder die invloed van morfien na my hartomlyning. (breedvoerig beskryf by ‘Die ouman en sy hart’ op hierdie werf)

Ons lag weer oor die natreën in die bed, oor die motte teen die muur en die motoronderdele in die hospitaal.

My KP buurman se vrou lyk skielik so half verlig. Half skaam-skaam vertel sy van wat met hom gebeur het toe hy in die hospitaal was. Sy dog haar man het van sy varkies verloor.

Sy kom eendag by hom in die hospitaal en hy wink haar nader. Terwyl hy onrustig rondkyk fluister hy vir haar dat sy hom hier moet uit kry, baie gou ook want hulle gaan hom dood maak. Sy vra wie, hy sê die ANC. Hulle skiet mekaar, sê hy. Wie? vra sy. Die ANC man, sê hy. Hulle het my ook geskiet, in my bors.

Sy sê nee man, jy verbeel jou, dis `n hospitaal, niemand gaan jou doodmaak nie.

Die volgende dag besoek ons hom en toe is sy hande en voete vasgemaak aan die bed. Sy vrou sê toe dis om te keer dat hy nie opstaan nie, hy bly sy drup en suurstofmasker afpluk.

Nee, sê hy nou vir ons, hulle het hom vasgemaak omdat hy gevlug het. Gevlug? Vra ons geskok. Ja, sê hy. Vir die ANC, hulle wou hom doodmaak toe staan hy op en vlug na die dak van die tienverdieping gebou om te gaan wegkruip. Toe vang hulle my en maak my aan die bed vas.

Onthou jy dit dan? Vra sy vrou verbaas.

Natuurlik, sê hy. Dit was erg, ek was vrek bang!

Sy vrou was geskok om hom so vasgemaak aan die bed te kry. Hy sê weer vir haar hy moet hier wegkom, hulle gaan hom doodmaak. Hulle vergiftig hom, fluister hy vir haar. Sy is nou seker haar ou man is besig om mal te raak, maar sy vertel vir niemand nie, te skaam sien. Sy wil nie hê ander mense moet weet haar man is besig om mal te word nie.

Die volgende oggend vind sy vrou `n leë bed. Sy is rasend van bekommernis want sy weet daar is iets ernstig met die man verkeerd. Uiteindelik vind sy hom in `n enkel kamer. Hy wink haar vertroulik nader en sê sy moet die deur toe maak. Hy vra kwaai hoekom sy nie laasnag die deur vir hom wou oopmaak nie, hy het huis toe gevlug en aan die deur gehamer vir haar om oop te maak. Hy sê dit was vrek koud en hy het nat gereën. Toe sy nie oopmaak nie het hy op `n boomstomp voor die deur gaan lê en slaap. Toe hy wakker word was hy weer in die hospitaal. Hy weet nie hoe hy daar gekom het nie.

Ja, sê hy terwyl ons nog rooiwyn skink. Dit was vrek koud en nat en die boomstomp was hard en ongemaklik.

Sy vrou sê nee, jy was nie by die huis nie, ek sou mos geweet het!

Toe sy daardie oggend die deur toegemaak het sê hy vir haar die ANC het koeëls in sy polse ingeplant en toe het hulle blokkies ys op sy polse gesit en dit toegebind met verbande en, sê hy verontwaardig, hulle het ook ys op sy voël gesit (net so sê hy dit vir haar) maar hulle het dit nie vasgebind nie.

Teen die tyd lê ons van die lag. Ek sê vir my vrou, en jy het gedink ek is snaaks toe ek foto’s van my hallusinasies met my selfoon geneem het om vir jou te wys dis regte motte en regte mense wat ek sien!

Daar was verbande aan sy polse, sê sy vrou, en daar was bloed aan sy nagklere. Toe sy na besoektyd loop roep hy haar weer terug, sê sy. Kom help my en lig my kanon so `n bietjie op, sê hy vir haar. Jou kanon, vra sy toe verbaas. Ja my kanon. Lig hom op en draai hom na die deur toe, ek wil hulle skiet as hulle inkom, sê hy.

Ons lê soos ons lag. Ek sê vir hom ons het gevra dat hulle die morfien moet stop toe ons sien dinge ruk hand uit. Nee mens, dit is nie speletjies nie. Die goed buig jou brein.

My KP buurman en sy vrou het tot nou toe nooit vermoed dis die morfien wat so met sy gal gewerk het nie. Sy was dood seker daarvan dat hy besig was om van sy trollie af te raak. Sy was `n erg bekommerde vrou. Sy het hom tot nou toe nog elke dag fyn dopgehou om te kyk of  hy nie weer begin ‘snaaks’ word nie.

Die volgende oggend het hy vir sy vrou en dogter gesê hulle kan hom nou net op bepaalde tye besoek want hulle gaan die hospitaal verskuif. Op `n denkbeeldige kaart het hy vir hulle beduie dat die ingang na die hospitaal in die oggend op die normale plek sou wees. In die middag sou die ingang in `n ander voorstad wees op die plek wat hy vir hulle op sy kaart wys, en in die aand sou die ingang  weer in `n ander voorstad wees en dan moet sy liewer nie vir hom kom kuier nie want dis te ver, glo `n paar uur se ry van die huis af.

Met die verskuiwing van die hospitaal, sê hy vir ons terwyl ons skater van die lag, laai hulle hom op `n oop sleepwa sonder matras net so op die koue, harde bak en ry hom na die nuwe staanplek toe aan.

Maar hoe kan jy dit onthou, vra sy vrou. Jy was dan die heel tyd deurmekaar? Ek het nie gedink jy weet wat om jou aangaan nie!

Natuurlik onthou ek, sê hy. Daai sleepwa was vrek koud, en dit was ver wat ons moes ry. Die ding skud jou longe los al die pad.

Die hallusinasies het skielik verdwyn en hy het gesond geword

Ek kan op hierdie stadium darem rapporteer dat dit lyk of my KP buurman nog al sy varkies op hok het, altans, dit lyk nie of daar meer weg is as wat daar weg was voor hy hospitaal toe is nie.

Read Full Post »