Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘stories’

Die voerder-van-voëltjies en die kaal man.

`n Vrou se werk hou mos nooit op nie. In teenstelling hiermee het die man eintlik hemel op aarde. Die dag as hy aftree is hy klaar gewerk en dan rus hy. Maar vir die arme rokdraers van die wêreld bied selfs aftrede geen respyt nie. Daar is `n huis en daar is huiswerk wat gedoen moet word tot die dag dat sy haar kop neerlê. `n Man voel mos amper jammer vir hulle, net soms!

En so kom dit dat die voerder-van-voëltjies (vrou van `n afgetrede ou plaasboer) vroegdag met die mandjie vol nat wasgoed onder die arm by die agterdeur uit draf, kan jy maar sê, want die dag is kort en die werk is baie. Die wasgoed moet op die draad kom en die voëltjies moet gevoer word en die huis moet skoon kom, alles voor die son weer sak. (Hier moet darem ter verdediging gesê word dat die ou plaasboer al reeds geleer het om `n stofsuier net so bedrewe te bestuur as wat hy destyds `n tien ton vragmotor kon hanteer, en die groot paar hande wat `n jong bul kon vaspen het geleer om die fynste porselyn breekgoed te was sonder om te veel skade aan te rig).

Hoe dit ook al mag wees, dit is hier met die flinke uitdraf op die werf waar teenspoed en weemoed op een slag toeslaan. In haar has haak die voerder-van-voëls se voet aan `n klip vas en sy val, sy val oor die klip, en toe oor die mandjie vol nat wasgoed waaraan sy verbete klou voor sy die harde, koue plaveisel met haar tenger skouer tref. En toe sien sy sterretjies helder oor dag, en sy hoor voëltjies sing, en sy bly sommer net daar lê want daar is `n skreeuende pyn waar daar flus `n gekraak en geskeur in die skouer gehoor en gevoel is toe die lyf die aarde tref.

En dit is hier waar haar ridder op die wit perd haar te hulp snel. By die skuifdeur sien sy hom deur die newels van pyn aangestorm kom, hande voor hom uitgestrek kom hy om haar uit haar elende te help. Sy sien goed wat gevaarlik op en af skud en rondswaai, en dit is hoe sy agterkom daar is geen ridder op `n wit perd nie, haar ridder is perdloos en hy het nie `n draad klere aan sy lyf nie. Haar held is `n poedel kaal man!

Die kaal man storm op haar af … en stamp sy voet teen dieselfde klip waaroor sy so pas geval het. Die kaal man spreek die klip in vreemde tale aan maar storm huppelend en skellend voort om by die gevalle voerder-van-voëltjies uit te kom. Hy help haar versigtig op en draai om om haar die huis in te help … en stamp weer sy toon teen dieselfde klip. Dié keer word die klip se voorgeslagte ook driftig aangespreek deur die kaal man terwyl hy dit verwoed weg slinger van die misdaad toneel af.

Die naakte ridder het die gevalle voëlvoerder op die bed gaan gemaklik maak en toe gaan stort soos hy beplan het voor hy die helse lawaai gehoor het, by die venster uit gekyk het en sy vrou op die grond sien lê het. Daar was nie tyd vir klere aantrek nie, dit was `n noodgeval. Die bure moes maar hulle oë sluit of die vertoning geniet.

Die voerder-van-voëls se vlerk moes toe onder narkose weer in sy potjie terug gesit word. Daar was niks gebreek of geskeur nie, maar die vlerk hang in `n “sling” om dit te laat rus en teen verdere skade te beskerm. Nou was die kaal man die wasgoed en voer die voëltjies … ten volle geklee maar met een kaal voet waarvan die groottoon swaar verbind is, en hy wonder oor hoeveel van die petalje die buurvrou toe regtig gesien het want sy bly skelm oor die muur loer, so asof sy hoop om die kaal naeler weer in aksie te sien.

Read Full Post »

Untitled-1

Goeie nuus aan al die getroue ondersteuners en aanhangers van my stories, sowel as die nuwe bewonderaars wat opgewonde op die kantlyn sit en wag.

My boek “Vuurvoël” is weer beskikbaar, dié keer by Megabooks in beide sagteband en eboek format.

Die slapband weergawe is beskikbaar by http:/megabooks.co.za/shop/vuurvoël-2

Die prys is `n skamel R108 per boek.

Die eboek weergawe (vir alle e-readers behalwe Kindle) is beskikbaar by http:/megabooks.co.za/shop/vuurvoël/

Die prys vir die epub weergawe is `n onverbeterlike R68 per boek.

Gaan heen en gaan koop vir jou `n boek. Een resensent het gesê dit is die beste bundel Afrikaanse kortverhale wat hy in `n lang tyd gelees het. Ek is seker jy sal dit ook geniet.

Read Full Post »

Annie get your gun

Vaagweg hoor ek vrouestemme wat fluister: “Ek was die hele nag hier by hom, hy was baie onrustig en het deurmekaar gemompel oor bloed op die vloer. Die afgelope uur is hy darem weer rustig.”

“Baie dankie matrone,” fluister die ander stem. “Jy kan nou maar gaan, ek sal hier by hom bly tot hy wakker is.”

Ek is nog deurmekaar van die slaap, maar skielik onthou ek van die skietery en ek skrik myself wawyd wakker. Ek kom orent op die bed en soek desperaat na bloed teen die muur en op die vloer.

“Waar is hy?” skreeu ek verskrik vir die vrou langs my bed. “Waar is al die bloed?” wil ek driftig weet en wys na die muur waarteen die bloed afgeloop het.

“Waar is wie?” vra sy rustig.

“Die korporaal. Hy is dood. Hy het hier langs my bed gelê, op die vloer, met ´n groot gat in sy kop. Sy het hom geskiet,” stamel ek onsamehangend.

Sy druk my sag terug teen die kussing en sê ek moet kalmeer, die dokter is op pad.

Toe sien ek eers wie langs my bed sit. Dit is die ou ou tannetjie met die papiertjies en die honde onder haar bed, dieselfde ou tannie wat die korporaal met haar voorlaaier geskiet het. Sy sit kersregop op die stoel langs my bed, deftig uitgevat in ´n laat negentien veertigs uitrusting, kompleet met polkadot hoedjie op die kop en klein blink handsakkie in die hand. Om haar nek is ´n pikante geel serp geknoop.

“Ons vermoed jy het ´n ligte senuwee ineenstorting gehad,” sê sy paaiend, “jy het ´n baie slegte nag gehad, skynbaar erge nagmerries en die korporaal was dan seker een van die drome. Moet jou nie bekommer nie, dis nou verby. Dokter kom nou dan sal hy jou ondersoek en ´n kalmeermiddel gee. Jy het rus nodig na al die opwinding van die afgelope paar dae. Slaap nou, ek gaan net gou badkamer toe dan kom ek weer.”

“Wie is jy?” vra ek versigtig.

Sy kyk lank na my met haar kop skeef gedraai. “Noem my maar Annie,” sê sy met so ´n skewe glimlag. “Annie soos in ‘Annie get your gun’.” (meer…)

Read Full Post »

Altz en Heimer se Aftree-oord

Die jare stap aan, dit wag vir niemand nie. Maak nie saak of jy mooi of lelik, dom of slim, ryk of arm is nie, een of ander tyd haal tyd jou in, trek jou hare uit jou kop uit, stoot jou maag soos brooddeeg oor jou belt, beplooi jou gesig en begrawe jou gisters asof dit nooit gebeur het nie. En dit is die maklike deel daarvan, hef aan lê en wag vir jou soos ´n honger luislang om die lewe stadig uit jou uit te wurg voor die ou sekelman genadiglik jou lewensdraad kom knip.

Maar dit alles meen nie mens kan nie weghardloop vir die onding nie. Jy kan dit bloot ignoreer en aangaan met jou lewe asof daar nie ´n einde aan is nie, in elk geval nie aan joune persoonlik nie. Ander word oud en gaan dood ja, maar nie jy nie. Jy gaan min of meer vir ewig lewe. Daar is mos pille, plastiese snykunde en botox. En as dit nie genoeg is nie is daar altyd mooi jong meisies (of jong mans vir die cougar tantes) wat die ou ego streel en jou weer jonk en pure perd laat voel, tot jy eendag wakker word en meer soos ´n rot as ´n stoetperd voel. Jou asem begin jaag nog voor jy agter die meisie aan begin hardloop het, en jou bene word lam sodra jy uit jou stoel uit opstaan. Dis dan wanneer jou kinders jou aftree-oord vir jou kies, jou karigge besittings in bokse pak en jou sonder seremonie by jou laaste blyplek gaan aflaai.

En so beland ek in Altz en Heimer se Aftree-oord. Ek wou nog met die ou benerige, bewende hand bespotlik ontsier deur lewervlekke waai, toe is die kinders alweer in ´n stofwolk met hulle dubbelkajuit 4×4 om die hoek en weg op pad see toe vir welverdiende, lang vakansie met my geld (vir die vakansie en die 4×4). (meer…)

Read Full Post »

Ek kry hierdie skreeusnaakse storie by Johan Kriek,`n ou skoolvriend van my. Ek plaas dit hier met sy toestemming.

Lees en geniet. Jy sal nooit weer met dieselfde oë na jou eie kleinkinders kyk nie.

My free range kleinkinders

(Deur Johan Kriek)

My week wat kom is die rustigheid self – my kinders weet, as hulle móet kom kuier, los hulle hulle kinders by die skoonmense en bring so bietjie “ready to eat” van Woollies saam – dan is hulle regtig geen moeite nie – hulle weet ek gaan slaap 2 uur elke middag en in die aand 9 uur kyk ek Bikini Beach – alles uitgesort.

My kinders se kinders is ongelooflik lastig – en regtig heeltemal useless – kan net skreeu en sk..t sê ek amper. Ek weet nie hoeveel daar is nie, of hulle name of geslag nie. Ek het baie belangriker dinge wat ek in my ou koppie probeer hou – soos wie ék is en so aan. Ek het gemeen as hulle eendag Excel, Word en Outlook baas geraak het, sal ek weer kyk of hulle iets beteken.

My een seun sê hy maak sy kinders “free range” groot – nogal. Sy een kuiken het sowat ‘n maand of drie gelede hier ingesneak voor ek haar terug op die bakkie kon gooi – haar ma moes glo môl toe – en háár ma is al op! – toe laai sy haar hier af en jaag weg! Soos die kuiken hier instap, drup sy melk oor ons vloer uit haar tietiebottel ( mooi woord dìe – nog nooit so daarna gekyk nie) – in haar ander hand het sy ‘n half geëete appel. Toe sy by ons persiese mat kom wat ek by ma geërf het (my ma het dit destyds by Daddas op Ramathlabama gekoop) – begin sy die melk op die persiese mat uitspuit -“maak dammetjie” sê sy en roer dit met haar vuil “free range” voete in die mat in.

Net toe ek haar wou gryp om haar “free range” nekkie om te draai, kry ek so ‘n lamte oor die hele linkerkant van my luif en my spraak raak duk. Suna dra/trek my na ons sitkamerbank, nou bestrooi met chips wat die klein free range nonsens wie weet waar gekry het. Suna bel dadelik die dokter – ligte beroerte meen sy – die dokter sit haar deur na sy PA om te hoor of ons nie nog geld skuld nie, en of ons ‘n mediese fonds het. Suna smeek hom naderhand – ook met ‘n paar vreemde woorde, wat ek nog nooit in die verband uit haar mond gehoor het nie – ok, hy sal kom as sy regtig dink ek is besig om te vrek, sê hy.

Terwyl ek nou op die bank lê, tussen die chips, kan ek darem my oë draai en sien hoe die klein monster afstap op ons rooshout eetkamertafel, wat ek by my ouma geërf het (waar sy dit gekry het weet ek nie maar beslis nie by Daddas nie – alhoewel hulle sappe was, en ook redelik rassisties, is dit miskien nog by ‘n Jood gekoop, want hulle verskyn in die Bybel, maar by Daddas … nooit). Ek sien hoe sy die tafel se blad met die halfgeëte appel polish – ek probeur skreeu maar voel net hoe my regterkant ook dof raak – en gelukkig pass ek uit voor ek vrek.

Al wat ek onthou is, dat terwyl sy die rooshouttafel met die appel polish – sê sy “oupa (`n woord wat ek in my huis verbied het) jy lyk vannie (funny in Engels) terwyl sy met haar bottelhand (kan nie meer die woord “tietie” gebruik nie, netnou kry ek weer ‘n speech oor vrouens se siele) al druppende na my wys.

Die “free range” kinders van my kinders dink my sitkamer is ‘n sirkustent en ek die hoofnar – maar ek het intussen ‘n plan met hulle bewimpel – ek sit net ‘n tiet/tepel/ drinkding (sorry) op ‘n bottel “sto-payne” en neem die melk weg – my rekord met hulle is 13 1/4 uur aanmekaar slaap! Goed nê! (moet dit asb. nie self probeer doen nie – ek is ‘n professional).

Ewenwel, na 3 maande is ek nou redelik by – en neem rehabilitasie klasse by ‘n mooi kindersielkundige – om te leer hoe met kinders te werk. Ek moet die woorde van John Denver uit my kop leer (ek kan die liewe, mooie dr. nog nie in die oog kyk nie – sal seker later daar kom – kyk nog hier in die middel iewers rond … weens die ligte beroerte sien, dit het niks met drinkdinge waarvoor ek nou `n erge aversie het, te doen nie!) maar terug na John Denver:

“Oh Montana (God), give this child a home. Give him the love of a good family and a woman of his own. Give him a fire in his heart, give him a light in his eyes” Pragtig nê?

Gee hulle drome, vlerkies, fire in the heart, light in the eyes – en sto-payne – en hulle is waxed.

Shalom.

Read Full Post »

Tert se storie

Die volgende storie kom hier aan via sus Cobie. Miskien het sommige van julle dit al raakgelees. Dit het `n tyd gelede glo in die Brits & Harties Gateway verskyn en is geskryf deur ene Tert wat maandeliks in genoemde blaaidjie `n storie publiseer. Dit is so `n aandoenlike storie, ek plaas dit hier sonder sy eksplesiete toestemming, en hoop hy sal die ekstra blootstelling waardeer.

TERT SE KERSFEESSTORIE.

Ek brand al van lankal af om hierdie storie te vertel, maar ek het uitgehou tot nou toe. Merkwaardig, al moet ek dit self sê. As ek ‘n storie hoor, dan moet hy vertel word, maar hierdie een moes ek mee wag.

Verlede jaar, besluit Tert en Lien dat, aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Tert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

“Nou waar was julle toe?” wou ek nuuskierig weet.

“Noord-Kaap” sê Tert.

“Ek het nie geweet julle het familie daar nie?” vis ek verder uit.

“Nie gehad nie, maar nou het ons.”

“Nou maar hoe werk dit?” hou ek vol.

“Jy’t ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het,” sê Tert.

“Maar jy weet mos. Ek dood oor ‘n storie.”

“Nou maar fyn. Sit terug en luister.”

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van ‘n storie.

“Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie ‘n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

“‘Nou maar dan moet jy woestyn toe,’ sê sy toe half op rukkerig.’Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees’, en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.’

“Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

“‘Ek weet’ kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

“‘Nou waar sal ons dan heengaan?’ wou sy weet.

“Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

“Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis ‘n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

“Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op ‘n grondpad. Die grondpad word toe wel later ‘n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe ‘n koedoe of twee, drie, en selfs ‘n troppie gemsbokke. Deur plase en seker ‘n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

“Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na ‘n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar ‘n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

“‘Dis lekker hier’, sê sy toe. ‘Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.’ Sy giggel avontuurlik.

Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. ‘Kyk hoe mooi is die sonsondergang’ sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons ‘n vreemde geluid hoor. So ‘n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar ‘n donkiekarretjie om die draai. (meer…)

Read Full Post »

007

Uiteindelik JD Salinger se beroemde boek “The Catcher in the Rye” in die hande gekry. ´n Bietjie laat. In der waarheid vier en sestig jaar laat!! Ook maar goed. Pa sou my nooit toegelaat het om so iets te lees nie, en buitendien was ek toe nog te jonk vir die soort leesstof. Genade, my Engel was toe nog nie eers gebore nie! So ´n tyd gelede het ek ook “To Kill a Mockingbird” gelees. Is nie dat ek nou sentimenteel of nostalgies raak en skielik “Tom Sawyer” en “Paradise Lost” gaan gryp en lees nie. Is maar net toevallig dat ek die twee “classics” raakgeloop het. Altwee by dieselfde verskriklik deurmekaar tweedehandse boekwinkel. (Ek het ook Milton se “Paradise Lost” daar gekoop maar kon nog nooit verder as bladsy drie vorder nie. Nee, dit is nie iets wat maklik lees nie. Ek skat jy moet iets van ´n ernstige poeet wees om dit te waardeer.

Groot storie gewees op sy tyd, en ´n mens kan sien waarom. Ek vermoed die outannies het weer gestik in hulle tee en toe blou moord geskreeu oor die taalgebruik, en die broeders kerkraad het sekerlik sensuur en en tugmaatreëls voorgestel.

Soveel van die groot “G” en “C” en “J” woorde word aanhoudend rondgegooi dat dit later effe irriterend word. En natuurlik is dit presies dit wat die asempies laat snak het en die boekverkope die hoogte laat inskiet. Onthou, dit was 1951. Amerika was nog moreel –eties erg konserwatief. Salinger was ´n besonder dapper man, dink ek.

Die skryfstyl is grootliks briljant, baie soos die van ons eie Herman Charles Bosman met dieselfde soort humor. Die storie self is kol-kol baie snaaks, maar later wil jy jou eie polse loop sny so depressief is die hele trant van die vertelling. Holden Caulfield, die hoofkarakter en verteller, is nie ´n baie optimistiese mens nie, inteendeel, Holden sal jou van jou sinne af dryf as jy hom persoonlik ontmoet.

Maar mens hou aan lees want jy bly wonder wat van die arme drommel gaan word. En uiteindelik gebeur daar niks. Die einde val so half briljant uitmekaar en die storie bly in jou kop draai, want eintlik is dit my en jou storie toe ons jonk en onbeholpe en onseker was. Daar is ´n Holden Caulfield in elkeen van ons. Meeste van ons is maar net gelukkig dat ons nie vir psigiatriese behandeling weggestuur is nie. Miskien sou dit tot ons voordeel gewees het as ons was.

Ek sien my boek het op ´n tyd aan ene Lindsey Podd behoort. Mens wonder wat sy van die storie gedink het.

009 (2)

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: