Keer ons rerug uit Duitsland van ´n heerlike kuier by sus Cobi en Johan. Ontspanne en rustig. Toe gryp ´n dodelike griep ons aan die keel so saam met die ontnugtering van die tragedie wat ons droewige land geword het na 1994.
Ek lees van vernietigende stakings en plundering, van lewensverlies, moord en doodslag, en die eentonig reëlmatige plaasmoorde. En in die bos verhef Steve driftig sy Stem, waarna daar natuurlik die gewone handeklap uit die een hoek, en ´n gebrul en klipgooi uit die ander hoek uit volg. So veglustig soos altyd, ons mense.
In Rapport lees ek Sonja Loots skryf van ene Annalet Steenkamp wat ´n dokkie gemaak het met die naam: “I, Afrikaner”. Dit gaan glo oor haar eie familie. In een toneel skiet ´n boer ´n jakkals dood, en as sy suster sê die diertjie is so cute, dan sê die boer nee, hy is k*k en dit is die enigste ding wat k*kker is as ´n kaffer.
Nou ja, dis ´n baie k*k ding om te sê. Onnosel, Afstootlik. Maar ´n paar dinge pla. Waarom so ´n toneel in die prent invoeg? Is dit eg, of was sy bietjie “kreatief” vir groter trefkrag? Het ons nie genoeg probleme soos dit is nie? Waarom die dokkie aan ´n uitgelese (hoofsaaklik swart) gehoor by die African Arts Initiative gaan wys? Sensasie? Opsetlik rassehaat aanblaas? Het sy die prent met daardie toneel in aan haar familie vertoon? Wat was hulle reaksie?
Ja ek weet, ´n dokkie oor die goeie dinge in die land gaan nie geld maak nie. En wat is beter as so ´n sensasionele prent om jou loopbaan (en die ego) ´n hupstoot te gee? Maar het sy gedink wat dit aan die veiligheid van ons boeremeenskap gaan doen? En het sy dalk al gedink daaraan om, as soort van teenprestasie, ´n prent te gaan maak oor die bloedige geweld van plaasmoorde op ons beleërde boeregemeenskap? Of pas so iets nie in haar agenda nie?
Dit is om van te huil, maar die Maandag staan ek op my trapmeul by die Gym. Onder by ontvangs staan ´n ou man, wit en in sy laat sestigs of vroë sewentigs. Afrikaanse oom. Ek sien hom gereeld in die Gym. Hy staan en gesels met die (swart) personeel. Toe kom daar ´n welgeklede jong, swart vrou aan en die twee omhels mekaar, hou mekaar op armlengte weg en lag en gesels soos ou vriende. Hy haal sy selfoon uit en wys vir haar iets, ek vermoed dit is fotos want hulle beduie en lag, en nog ander van die swart vroulike personeel kom staan ook en kyk en gesels. So gemaklik, so natuurlik. Sou Annalet so iets wou afneem? Waarom dink ek sy sal nie?
Dieselfde dag vertel my vrou van die ooievaarstee wat sy die naweek bygewoon het. ´n Niggie se dogter verwag haar eersteling. Groot opgewondenheid. Almal koop geskenke. Toe kom die huiswerker wat al jare by die skoonfamilie werk (en die pa van die ongebore baba help grootmaak het toe hy nog ´n snuiter was) by die man se ma en gee vir haar R200, want sy wil ook vir die nuwe ma ´n geskenk koop wat by die teeparty vir haar gegee moet word. Toe gaan koop sy (in haar armoede) op haar eie nog ´n klein geskenkie wat sy persoonlik aan die jong ma oorhandig.
Wat sê dit van ons? Ons, op voetsoolvlak gee om vir mekaar. Ons respekteer mekaar. Ja daar is sotte wat nie dink voor hulle praat nie, maar hulle is iin die minderheid Ek glo daar is net soveel, en dalk baie meer sulke goeie dinge wat daagliks in ons droewige land gebeur. Maar niemand hang dit aan die groot klok nie. Ons laat toe dat ekstremiste en kwaadstokers ons intimideer en ´n wig tussen ons indryf vir hulle eie politieke of persoonlike gewin.
Ons was in Duitsland. Ons was by Dachau. Ons het die gaskamers gesien, en die oonde, en die dokkies met skreiende relase van mense wat die kampe oorleef het. Dit is oorweldigend. ´n Mens se verstand word oorweldig deur ´n oorlading van onmenslike vergrype. Daar is die Joode ook eers verkleineer deur kirikature van hulle te maak (bobbejane wat die Stem sing?), hulle kultuur en taal belaglik te maak, en later te verontmenslik deur hulle aan diere gelyk te stel. (verwys na die een swart vrou se opmerking na sy Annalet se prent gesien het “It was good to be reminded of the nature of the beast.) Van hier af is dit maklik om die Volk op te sweep om die diere se eiendom te vernietig, dan in kampe saam te bondel, en dan om hulle soos diere te esktermineer.
Die Hemel help ons. Ons speel met vuur. En die eksterminators gaan nie vra of jy mooi opruiende dokkies gemaak het en of jy die Stem gesing het nie. Jou wit velletjie, en net jou wit velletjie alleen gaan teen jou getuig: Jy is ondier. Jy moet dood.