Dit het toe gesneeu in SA, in Gauteng en Ceres (foto bo) en baie ander plekke. Te pragtig>
Dagboek 3
Stoicism emphasizes accepting life as it is, focusing on what we can control, and letting go of what we can’t.
Dit lyk vir my asof die enigste ding wat jy kan doen om nie van jou kop af te raak nie, is om die Stoïseinse weg in te slaan. Daar buite gaan dit woes: Dit is Winter, dit sneeu in Johannesburg, dit sneeu vir die eerste maal in die (opgetekende) geskiedenis van Durban. In Indië verdink mense in die ergste vloede ooit (een maand se reën val in een dag!), en in Amerika verskuif ‘n berg en dit is besig om dele van ‘n stad (Phillidelphia dink ek?) in te sluk. En ons staan magteloos, ons kan daar niks aan doen nie. Maar moet nie bekommerd wees nie, beebop, beebob, die nooddienste is op pad!
Brian McLaren sê: “What we forget, is that even in the darkest night, when we see no light at all, the light is still there. The sun is still shining over Earth even when our side of Earth rotates away from it. The stars still shine above us. … What we need in the darkest nights is to keep walking along the path until we can glimpse the stars again. What we don’t need is to panic and run blindly into the woods.”
Dit vra baie moed om nie die bos in te hardloop nie – op 30 April 1991 tref ‘n sikloon Bangladesj en ongeveer 140,000 mense sterf in die storm. Voor dit, in 1970 tref ‘n sikloon Oos Pakistan en 500,000 mense kom om, vyf-honderd-duisend mense! – en ons moet nie “panic” nie?
Die afspraak waarvan ek laas geskryf het met die tande spesialis is nagekom. Die bose stuk tand wat in die sinus gaan skuil het moes uit. Word ek ingeboek in die kliniek waartydens 110 vorms ingevul moes word. Trek hospitaal oorpak aan, ‘n blou een soos wat mekenieks dra. Toe trek die narkotiseur kop uit. Die ouman se hart lyk vir hom verdag. (Ja goed, daar is lank terug ‘n trippel hartomleiding op hom gedoen – en sy hart het twee maal gaan staan gedurende ‘n roetine gastroskopie so ‘n jaar of wat gelede, maar dit is geen rede vir hom om sy speelgoed uit die kot te gooi nie!)
Die kardioloog kry niks verkeerd nie en verklaar die ouman opereerbaar. Vrydag is ons toe weer terug teater toe. Die keer kry ek ‘n seksie, maltrap narkotiseur. Sy tap vir my ‘n dubbel brandewyn en Coke in my aar, sê sy. En ek slaap soos ‘n Bergie onder ‘n brug op ‘n stuk plank. Toe sny die dokter ‘n venster in my verhemelte en trek die stuk tand uit my sinus uit. Jig, dit klink erg, en dit was erg. Dit voel vir my sy het die gat met bloudraad toegewerk!
“The Greek knew and felt the terror and horror of existence,” sê Nietzsche, en hy was nie eers by my tandarts nie! En aan die einde van die boek, sy uitmuntende “The Birth of Tragedy” sê hy: “what must this people have suffered, that they might become thus beautiful” En dan nooi hy jou uit: “Follow me to a tragic play, and sacrifice with me in the temple of both the deities!” (Apollo and Dionysus) en dan aanvaar jy jou lot soos ‘n goeie, gesoute Stoïsyn (met jou stuk tand in ‘n botteltjie wat jou dokter vir jou saam gee huis toe) en gaan aan met jou lewe.
More sneeu dit dalk en is die wêreld rein wit toe gesneeu, gehul in ‘n heilige stilte, of nie. More word kinders gebore en gaan ander mense dood in oorlog of in vrede. More lag ons uitbundig, want die lewe is goed.
Annie Dillard skryf in “Pilgrim at Tinker Creek”: “It snowed all day yesterday and never emptied the sky. … The dark is overhead and the light at my feet; I’m walking upside-down in the sky.”
En nou lê daar ‘n hospitaal en dokters-rekening wat betaal moet word. Haal diep asem, word kalm, mediteer; ook dit sal verby gaan het die wyse ou Seneca gesê. (Maar nie voor jy die R16,000 se rekening betaal het nie!)