Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘vrede’

Maandag Woorde

Nuwe woorde vir n nuwe week

Dit behoort nie so te wees nie. Vanoggend toe ek opstaan, toe staan hy daar voor my deur in sy winter jas en hy sê “Gedog sy is ontslae van my né!”

En ek het, dit is hoekom ek n kortmou hemp aan het want ek was seker ons het die laaste van die Winter vir hierdie jaar gesien. Toe nie, en die gevolg is n snotneus as afskeidsgeskenk dankie.

Om dinge te vererger kreun die ou lyf ook nog vanoggend as gevolg van Saterdag se tuinwerk en gister se stap teen oom Jan Smuts se koppie op. Gelukkig vir my het die honde halfpad teen die koppie moeg geraak en kon ons omdraai en gaan koffie drink by Ouma Smuts se restaurant.

Net om dinge vir die week nog meer opwindend te maak brand die gepeul geboue en voertuie af rondom ons. En natuurlik, net om dit nog meer opwindend te maak stuur kwaadstokers ou fotos en berigte van uiterste geweld van lank gelede aan almal wat wil luister en kyk.

Mag julle n week van vrede en vreugde ervaar, en waar daar haat onrus is, dat julle die genade sal ontvang om die vredemakers te wees.

Advertisements

Read Full Post »

Vrede

Johan op sy driewiel

Die laaste inskrywing op hierdie blog deur Johann. Sondag sal ons sy as gaan strooi op `n koppie by Mooinooi.

Rus in vrede broer, vriend, geesgenoot. Ons mis jou.

Hy was inderdaad `n man van vrede.

 

Vrede

Die ou man leun so trug teen die kleimuur, en die riempies van sy stoel buig kwalik onner sy tenger gewig. Ons koffiebekers is lankal koud maar sy skraalte drink nog die hitte vannie muur.

Normaalweg sou ek nou al half ongemaklik begin raak het met ‘n stilte wat so draal. Die peperboom se bessies ritsel in ‘n vae bries en ‘n torrie se koer uit die bloekombos, so ‘n enkie daar agter sy hut, vee die trae lug in lustelose kringe.

Die plooie op sy gesig lyk so gemaklik – assof dit enige oomblik kan vervorm in ‘n glimlag, of verdriet. Skuins strale van die laat middag son ets sy gelaat ‘n rooier bruin en streel die grys halo van sy kort geskeerde hare. Nooit sou ek kon dink dat daar so ‘n vrede in hierdie lewe kon wees nie.

My gedagtes dwaal trug na vroeër, toe ons gesels nog gevloei het. Soos die gekibbel van ‘n bedeesde waterstroompie, wat sy weg kronkel deur die Wes- Transvaal se vlaktes, het ons woorde strominge in mekaar se gedagtes laat blyk. My gemoed waarskynlik meer van ‘n modderkolk . . . en syne . . .? Die vrede was tóé al tasbaar: die rugstring van sy wese.

Die ding van ‘n kleimuur is dat dit hitte opsuig, en later as die lug afgekoel het, weer uitstraal. Dik kleimure, met klein vensterkies soos dié van sy tweevertrek hut, hou ‘n huis se binnekant koel innie somer, en warm innie winter. Buk deur die deur en staan vir ‘n minuut of so eers baie stil. Tot dat jou oë die donkerte gewoont raak . . . tot dat jou siel die koelte vind.

My oë gly oor die groen mielielande, draai trug na sy gesig toe, en ontmoet syne. ‘n Vae glimlag speel om sy mond en die antwoord lê rein in sy kyk.

Het ek ooit ‘n vraag gehad?

Read Full Post »

Dis amper alweer Kersfees. In opvolging van die geveg rondom die Kersboom dalk ´n finale woord of tien.

Lees ek toevallig hierdie stukkie wysheid raak in Robert E Kennedy se boek: “Zen Spirit, Christian Spirit.”

Vra ´n monik op ´n kol vir Meester Nansen: “Is there any Dharma that has not yet been taught to the people?” sê Nansen; “Yes, there is.”

Vra die monik: “What is the Dharma that has not been taught to the people?” sê Nansen: “It is neither mind, nor Buddha, nor beings.”

Kennedy was ´n Katolieke priester wat in Japan gaan sendingwerk doen het, vir jare. Toe besluit hy om Zen Buddhisme te bestudeer onder Yamada Roshi. Later het hy vir 20 jaar sy studies van Zen Buddhisme in Amerika voortgesit.

Toe eendag, kry hy hierdie Groot Insig. Hy spring in sy kar en jaag na sy leermeester Glassman Sensei toe en uitasem deel hy sy Groot Insig met die Sensei: “Sensei,” sê hy. “Sensei, everything is mind!”

En rustig antwoord Glassman Sensei: “Wonderful. Everything is mind.”

´n Paar maande later herhaal die storie homself. Kennedy kry ´n nuwe insig, spring in sy kar en jaag na Glassman Sensei toe en vertel hom uitasem van sy nuwe Insig: “Sensei, everything is not mind,” sê hy.

“Yes,” sê Sensei, “yes, you see it.”

“Wonderful. Everything is not mind.”

Kennedy moet nog een besoek aan Glassman Sensei bring, iewers in die toekoms vir die aankondiging van ´n finale Insig. Dalk het hy al, ek weet nie.

En dit bring ons terug by die Kersboom.

Van kleintyd af leer ons; die Kersboom is Kersfees. Die een kan nie sonder die ander nie. Die Kersboom is Kersfees, is geskenke, is kersliedere en kerkdienste en sneeu. Dit is in ons Europese gene geskryf. Dit is soos dit is, al bly ons in dorre Afrika.

“Everything is mind!” Die Kersboom, die geskenke, die Christus is Kersfees, so sê ons tradisies vir ons.

Dan word ons groot en ons begin vir ons self te dink, en ons sien dat die boom en die fees nie dieselfde ding is nie. Daar is nie ´n Kersvader nie. Die boom is net ´n boom met blinkers aan. As ons volwasse genoeg is aanvaar ons dit so in die gees van Kersfees en ons gun die wat nog in die boom glo hulle opwinding en verwondering.

“Everything is not mind.” En die boom is nie Kersfees nie.

As ons nie volwasse genoeg is nie, en ons Insig is ego gedrewe, dan pluk ons ons eie Kersboom, met groot geraas en vertoon, met wortel en tak uit en gaan skop ander mense se bome met die liggies in letterlik en figuurlik onderstebo. Want ons WEET die Boom is nie Kersfees nie. Die Zen os is nog nie getem nie, inderdaad nog nie gesien nie. Die boom staan nog in die pad, versper die uitsig op die werklikheid.

Taming the ox: Zen oxh-03   Zen oxh-06

As dié wat wyser is as ons dan die Boom verder bedink en die dualistiese beeld van subjek en objek wat ons van die lewe het ophef, behoort hulle tot die volgende Insig te kan kom: Daar is nie ´n boom nie, daar is nie ´n Kersfees nie, daar is nie ´n Ek nie, en helaas, daar is ook nie ´n Christus nie. Die Islamitiese Soefiste sê “There is no God …. There is only God”. (en Abel Pienaar sê “God se oë is blou”, maar dit is `n storie vir later.)

Zen oxh-07   Zen oxh-08

Uiteindelik is die Os sowel as die temmer van die Os weg. Die temmer van die Os, wat ook die siener van die Kersboom was, betree die Lig, “enters the void, but not the void of nothingness” en weet dat alles net ´n illusie is. En dan kom hy/sy terug en hou Kersfees en plant sy boom met baie liggies in en gee geskenke met liefde. “He returns to the marketplace with bless bestowing hands”. Hy is bevry van die ego en al die obsessies van hierdie bestaan. Hy is ´n Buddha. Hy is ´n Christus, ´n verligte een. Hy gun dié wat ´n kersboom nodig het, sy boom met liefde, en sing Kersliedere uit volle bors saam met die wat wil sing. En so word dit ´n werklik geseënde, heilige en vredevolle Kersfees soos dit hoort.

Zen oxh-10

(Zen prentjies uit Joh se pos hier bo iewers “Riding the Ox home””

Read Full Post »

Vrede op Aarde

Plak Joh op sy Facebook hierdie stukkie inspirasie van Marianne Williams:

Ego says; “Once everything falls into place, I’ll feel peace”

Spirit says: “Find your peace, and then everything will fall into place.”

Ongelukkig lei die stukkie wysheid toe self tot ´n kortstondige onvrede, maar dit is ´n ander storie.

Buddha

Tog lyk dit vir my asof Spirit deesdae al hoe meer mense aanspreek om vrede en harmonie op te soek. In my vorige skrywe het ek verwys na Jon Mooallem se boek “Wild Ones” waarin hy ondermeer vetel van sy tog die veld in om sy kind eerstehands die wonder van die natuur te gaan laat beleef. Oor die wêreld heen vind die soort van doen al meer en meer plaas, soos Richard Louv skryf in sy boek “Last Child in the Woods” dat ouers begin om hulle kinders te “ontkoppel” van hulle elektronika af deur hulle weg van die stad na parke, berge en riviere toe te vat.

Miskien het hy iets beet as hy sê dat dit slegs in die natuur is dat ´n mens werklik die “awe and wonder” van dinge, en van bestaan kan beleef. Soos James George dit stel:  “Life requires an open domain, open to life, to mystery, to the unknown.” En waar beter kan mens dit beleef as in die natuur?

Ek het nog nooit gehoor van iemand wat voor sy rekenaar, of terwyl hy op sy iPhone besig is om te teks, ´n transendentale ondervinding gehad het nie.

Die ander uiterste is die nuwe lot wat (deur die Gees?) geïnspireer voel om hulle liefde aan die Aarde/Gaia eksplisiet-seksueel te gaan staan en betoon. Dis nie sommer net jou “garden veriety tree hugger” dié nie. Hol die wêreld in Adamsgewaad vol en doen eco-seks met boome, rotse, sandhope op die strand, weivelde, branders en selfs met die wind! En nie sommer net speel-speel nie, dit moet orgasmies uitgeleef word. Ek vrees die dag as hulle aangesê word om hulle oorvloedige liefde aan ou Blommetjie die melkkoei of ´n  bruinbeer in die bos te gaan betoon! Dit is miskien wat James bedoel as hy praat van “our egotism and narcissism dressed up as spiryuality.”

Ook hier by ons spook “Gees” onder die Volk. Nou anderdag is iemand selfs geïnpireer om die Kama Sutra in Afrikaans vertaal, en die naweek lees ek dat ook die I Ching nou in onse (Koos) Kombuis taal die lig gesien het.

Dink ek aan Wordsworth wat sê:

“To her fair works did Nature link

The human soul that through me ran;

And much it grieved my hart to think

What man has made of man.”

Read Full Post »

Rus en vrede

 “… a silence not broken but intensified by the totally separate existence of background noise, music playing, people laughing, and which for a moment seemed to encompass the whole of the sunlit field where the fête was taking place..”

“This is England, he found himself thinking. This is what Englishness means. Sitting at a village fête on a warm day of summer in pleasant company, eating Victoria sponge beneath a blue sky spotted with little white clouds, this is worth fighting for …”

Pete Pascoe in Reginald Hill se “The death of Dalziel”

Vind ek myself Maandag oggend in soortgelyke omstandighede. Nie by `n English fête nie, maar in die tuin van Mug n Bean by Broadacres. `n Windlose somersdag. In die tuin skrop `n paar kapokkies rustig rond. Langs ons sit twee mans in diep gesprek. Agter ons sit `n ma met haar baba wat sagte geselsgeluide maak. `n Klein dakmossie hop haar klein mossie hoppies op die gras langs ons tafel op soek na krummels.

Dit, dink ek, is hoe dit kan wees. Weg van die stadsgeraas, van die storm en drang van geldmarkte, van koop tot jy dood drifte. Maar eerder as iets om voor te veg soos Pascoe dit het, dink ek dit is eerder iets om na te strewe. Iets om elke mens onder die son toe te wens.

Dis `n fantastiese mooi omgewing (en voorreg) om in te sit en tee drink soos ek en Ma dit dan ook doen. Maar is dit die omgewing, of is dit `n ingesteldheid?

Ek dink terug aan sondagmiddae van lank gelede op die plaas in die koelte van die huis op die grasperk waar ons sommer so op die gras sit en koffie drink. Eenkant loop die hoenders en skrop. Langs Pa lê ou Wagter rustig en slaap. In die verte hoor jy die geluide van die melkbeeste in die kraal en iewers in die lande roep `n fisant.

Rustig, idillies, maar baie meer eenvoudig as die tuin in Broad Acres met sy duur struikgewas en tuinmeubels. En dit (die duur goeters) is nie nodig nie. `n Kaal oopte onder `n wilgerboom met `n klip om op te sit is ewe rustig en ryk aan atmosfeer, aan vrede.

Nou waarom gun ons mekaar nie ons vrede nie? Waarom glo ons miljoenêrs wonings se tuine is altyd beter, meer vreedsaam, meer vervullend om in te sit. Waarom glo ons die mooi, duur plek sal vir ons meer vrede gee as die eie koelteboom in die agterplaas waar die honders skrop, die voëls sing en die kinders lag en speel?

 Want ons kultuur sê vir ons duurder is beter? Wat ek het is nie goed genoeg nie. Dit is onregverdig dat my baas, my neef, my dokter of buurman so `n mooi huis en tuin en kar het. As ek ook al daardie goed het sal ek ook dol gelukkig wees.

Dit is my reg om te hê wat my hart begeer. Dit is selfs my reg om te brand en te moor om te kry wat ek wil, nee moet hê, om die mens te wees wat ek regtig is, of sal wees as …

Maar rustigheid en tevredenheid is `n ingesteldheid, iets waaraan jy moet werk soos jy vir jou geld moet werk. Dit kom nie vanself nie, en uiteindelik is dit vir jou net soveel, of selfs meer werd as die geld waarvoor jy so hard moet werk.

En as ons dit nie begin doen nie, dan brand De Doorns, dan gaan mense dood, dan word die mooi van ryk en arm verwoes en die skade loop uiteindelik oneindig dieper as die verlies aan goeters.

Read Full Post »

My Dag

My-dag en jou dag, en almal se dag, maar eintlik weet niemand regtig meer waaroor dit gaan en wat om daarmee te maak nie. Behalwe natuurlik om te gaan shop, of om lawwe politieke praatjies van verhoë af te maak. Dan word dit ter plaatse altoos verwar met die ander reeds erg gehawende (gewaande?) feesdag, Vryheidsdag.

Steeds onvry, en met donker, dreigende onweerswolke oor die bietjie vryheid wat oorgebly het, is werkersdag net maar dit vir ons gewone mense wat ons brood in die aangesig van `n banale lot vakansiedae probeer verdien … `n gewone werkdag.

Wat baie duidelik is op hierdie My-dag, is dat die wêreld nog nie beskaafd genoeg is om Kommunisme te laat werk nie. Met die heersende grypsug, eiegeregtigheid, onverdraagsaamheid en liefdeloosheid is die kanse bitter skraal dat dit binne die volgende duisend jaar beter sal gaan.

En tog … in Beeld vandag die roerende storie van die boer in Zim: “My plaas is nie al dié haat werd.”
Henry Jackson skryf `n roerende brief aan sy mense na sy plaas op 24 April brutaal van hom afgevat is en aan Philemon gegee is. Henry se reaksie; “Watter getuienis leef ons uit as ons met siedende woede reageer? Hoe is ons (as gelowiges) dan beter as die wêreld?”

Aan Philemon sê hy: “Ek sal nie bitter of kwaad vir jou wees nie.”

“Ek wil jou seën as jy die plaas oorneem. Ek wil jou help sover ek kan.”

Hy sê: Ek sal nie `n stuk grond probeer behou en my kosbare vrou in gevaar stel en aan verskrikking blootstel nie. Sy is baie meer werd as dit.”

Henry glo onwrikbaar dat sy Here vir hom iets beter sal gee as wat hy gehad het. Hy glo ook dat jy nie die oorlog van rassehaat met haat kan wen nie, maar slegs met liefde en vergifnis.

You ask

why I make my home

in the forest,

And I smile,

I am silent,

And even my soul remains quiet;

It lives

In the world which no one owns,

The peach trees blossom.

The water flows.

(Li Po ;701-762)

Mag Henry en Philemon vrede vind.

Read Full Post »

Vrede

Die ou man leun so trug teen die kleimuur, en die riempies van sy stoel buig kwalik onner sy tenger gewig. Ons koffiebekers is lankal koud maar sy skraalte drink nog die hitte vannie muur.

Normaalweg sou ek nou al half ongemaklik begin raak het met ‘n stilte wat so draal. Die peperboom se bessies ritsel in ‘n vae bries en ‘n torrie se koer uit die bloekombos, so ‘n enkie daar agter sy hut, vee die trae lug in lustelose kringe.

Die plooie op sy gesig lyk so gemaklik – assof dit enige oomblik kan vervorm in ‘n glimlag, of verdriet. Skuins strale van die laat middag son ets sy gelaat ‘n rooier bruin en streel die grys halo van sy kort geskeerde hare. Nooit sou ek kon dink dat daar so ‘n vrede in hierdie lewe kon wees nie.

My gedagtes dwaal trug na vroeër, toe ons gesels nog gevloei het. Soos die gekibbel van ‘n bedeesde waterstroompie, wat sy weg kronkel deur die Wes- Transvaal se vlaktes, het ons woorde strominge in mekaar se gedagtes laat blyk. My gemoed waarskynlik meer van ‘n modderkolk . . . en syne . . .? Die vrede was tóé al tasbaar: die rugstring van sy wese.

Die ding van ‘n kleimuur is dat dit hitte opsuig, en later as die lug afgekoel het, weer uitstraal. Dik kleimure, met klein vensterkies soos dié van sy tweevertrek hut, hou ‘n huis se binnekant koel innie somer, en warm innie winter. Buk deur die deur en staan vir ‘n minuut of so eers baie stil. Tot dat jou oë die donkerte gewoont raak . . . tot dat jou siel die koelte vind.

My oë gly oor die groen mielielande, draai trug na sy gesig toe, en ontmoet syne. ‘n Vae glimlag speel om sy mond en die antwoord lê rein in sy kyk.

Het ek ooit ‘n vraag gehad?

Mielielande

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: