Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘lewe’

Ouboet


Dirk, Petrus, Johannes van Schalkwyk 1936-2017
Ons Ouboet, gebore lank voor ek die lig gesien het en uit die huis uit voor ek behoorlik bewus geword het van wat alles om my aan die gang was.

Meeste van die tyd was hy net `n skadu figuur in die agtergrond van my bestaan. Iewers was daar `n ouboet met sy eie lewe, sy eie drome, sy eie vriende. Ek onthou grepe van waar hy wel op die voorgrond getree het soos Kersfees by Letswana Park waar hy en Sus die dansbaan aan die brand gedans het, soveel so dat die ander dansers op die kant gaan staan het om te kyk hoe die twee die Tango dans, amper soos Al Pacino en Gabrielle Anwar in Scent of a Woman.

Ek was nog op laerskool toe hy eendag vir my `n verjaarsdag geskenk gegee het, `n Daisy pellet gun, so `n klein, grootliks plastiek windgeweertjie wat sulke klein ronde koeëltjies met so `n boog geskiet het. Jy kon sien hoe die koeëltjie deur die lug trek, en die vöeltjies kon dit ook sien aankom, met die gevolg dat hulle gelukkig kon wegvlieg voor die koeël hulle tref. Ek en die mossies het groot pret gehad met daardie geweer van my.

Gebore in die ou Oos-Transvaal iewers op `n plaas naby Trichartd, toe na Hibernia en later Loslapdoorns in die Wes-Transvaal naby Lichtenburg. Laerskool Zoetmelksvlei, Hoërskool Lichtenburg, Universiteit Pretoria toe Army toe. Van daar die wye wêreld in om te werk, te trou en 4 seuns groot te maak, goed groot te maak sodat hulle goeie, verantwoordelike manne kon word. En dit is miskien ons finale nalatenskap, `n soort van getuigskrif vir ons, dat ons kinders eerbare, hardwerkende en geliefde mense in die samelewing word wat op hulle beurt goeie ouers vir hulle eie kinders is. (of miskien is dit juis ten spyte van ons pogings om hulle op te voed, dat hulle goed uitdraai?)

Iewers langs die pad het ek hom eendag per ongeluk amper dood gery met sy eie rooi Willys Jeep, maar dis `n lang storie. En nou is hy weg. Ons Ouboet, Pa van sy seuns en Oupa van sy kleinkinders is huis toe. Ons groet jou, jou skadu sal nog lank in die agtergrond van ons lewens voort bestaan. Gaan in vrede.
“The return journey may take us back through physical love, the unity of touch; Through mental love, the unity of rapport; Through cosmic love, unity with all things. In the end, our journey form Love to Love will take us back to the realization of oneness with What we have always been and ever will be.” (Arthur Tricknor: Solid Ground of Being)

Advertisements

Read Full Post »

Baie lank gelede was daar:

Family144(Broer Gert)

`n Jonge vryer en sy perd, moontlik ou Poon. Hier is hulle op pad na die buurplaas, opgedres in sy Sondag beste om die buurdogter te gaan vry.

Family111(1927 Cyferfontein)

Of die meisie een van hierdie skoonhede was, weet ek nie. Wat ons wel weet is dat dit die netbalspan van Cyferfonteijn van 1927 was.

Family052 (Gert,Sannie&Karel met Ou Ruiter)

Na berig word is hier die einste vryer van bo, toe hy nog op laerskool was. In die foto saam met sy tweeling suster en `n ouer sus op pad skool toe. Dit was lank-lank gelede, nog voor telefone en teerpaaie. Goeie ou dae? Ek dink nie so nie.

Family120

Die voorsate. Moes by `n begrafnis gewees het. Let op die rouband aan die man links se arm.

Family244

Toeka se tyd. Oupa en Ouma middel links, met `n broeisel nasate voor die sinkhuisie in Trichard. Nog die huis, nog Oupa en Ouma bestaan vandag.Ek vermoed ook min van die nasate is nog met ons.

Dit was lank gelede se mense met hulle eie drome en wense, vreugdes en vrese. Stof tot stof.

Read Full Post »

“Merely to survive and preserve our life is a low-level instinct that we share with good little lizards.”

Aldus Richard Röhr in sy boek “Falling Upward” waaruit ek hier onder knaend aanhaal.

Soms voel dit vir my asof die ganse wêreld bevolk is met “little lizards”.

“A journey into the second half of our own lives awaits us all. Not everybody goes there, even though all of us get older, and some of us get older than others. A “further journey” is a welll-kept secret, for some reason. Many people do not even know there is one. There are too few who are aware of it, tell us about it, or know that it is different from the first half of life.”

Ons is op reis die ewigheid in. Die son is skaars op, die dag lê vars en oop voor ons. Die “little lizards” in die veld begin om wakker te word en klouter stram teen die klippe op, op soek na lêplek in die son ter wille van oorlewing. En dan vertel ons vir die soveelste maal aan mekaar die stories van ons gisters, van ons kinderdae, van die goeie ou tyd op die plaas. Hoe lekker dit was. Hoe ons kaalgat in die plaasdam geswem het, van onwettige jagtogte op die buurman se plaas, van ploeg met osse en touleier speel onder dreigement van pa se lang sweep wat nog os nog touleier ontsien het.

Droogtes word mekaar ook nie gespaar nie, nie vandag nie en ook nie in al die vorige vertellings van dieselfde storie nie. Maar dit was lekker, dit was die lewe onbevange geleef, en nou oor en oor herleef en hervertel. Dan “fast forward” ons na die eerste werk, die eerste salaris, eerste kar, die eerste meisie, en as ons dronk genoeg is ook van die eerste seks (grootliks oordryf met meervoudige meisies en/of orgasmes). Als vreeslik lekker en opwindend. Ons was die beste. Elke grootse projek waaraan gewerk is word oorpeins en weereens bewonder, stuk vir stuk monumentaal herbou. Soos ´n CD speler wat op “loop” gestel is speel ons die storie oor en oor. Daar word niks gesê oor die toekoms nie, geen verwondering uitgespreek oor die hede nie. Die beste deel van die lewe, die enigste deel wat saak maak, lê ver terug.

“Thomas Merton pointed out that we may spend our whole life climbing the ladder of success, only to find when we get to the top that our ladder is leaning against the wrong wall.”

Hierdie reisgenote wat so hunker na die verlede is goeie mense, van die beter ouens wat jy in jou lewe sal ontmoet. Hulle sal uit hulle pad uit gaan om jou en ander vriende te help. Hulle hou van poetse bak en van grappe vertel. Die sout van die aarde waarvan die Bybel praat. Ek hou van die soort mens. Moet net nie met hulle oor die dieper dinge van die lewe probeer gesels nie, veral nie oor godsdiens nie, dan is jy baie gou in die warm water want hulle verstaan jou nie.

Hulle is die “loyal soldier” waarvan Richard Röhr praat. Hy sê: “The loyal soldier can get you through hell with the early decisions that demand black-and-white thinking; but then you have to say good-bye when you move into the subtlety of midlife and later life.” Want hulle kan en sal jou nie volg nie. Hulle word oud soos jy, maar bly in die eerste helfte van hulle lewe vasgevang, want “Life is much easier on the childhood side of the rainbow,” sê Röhr.

“Basically, if you stay in the protected first half of life beyond the natural period, you become a well disguised narcissist (or an adult infant) – both of them are often thought to be successful “good old boys” by the mainstream culture.”

Soms is dit geld (in oormaat of weens gebrek daaraan) wat ons vasvang in die eerste helfte van ons lewe. Alles in die lewe en in ons denke draai om geld en besittings wat net nooit genoeg is nie. Ons ‘sit en vergaan van ellende’ in die duurste aftree oorde of ons huisie by die see. Ons lamenteer oor ander wat meer het as ons, of oor dit wat ons eens gehad het. As ons op ons oudag baie geld het spog ons (soms subtiel, soms brutaal openlik) daarmee en baai in die gloed van die aansien, status en mag wat die geld en die geleerdheid wat dit vir ons gekoop het, meebring. Ons kyk neer op die wat minder as ons het (en dus minder as ons is) en dring daarop aan om bedien te word, en weier hoogmoedig om ons naaste te dien, selfs in hulle nood. Soos kinders sentreer die lewe om die self, die belangrike ek en my onblusbare ego.

“Most people and institutions remain stymied in the preoccupations of the first half of life. By that I mean that most people’s concernes remain those of establishing their personal (or superior) identity, creating various boundary markers for themselves, seeking security, and perhaps linking to what seems like significant people or projects.”

“They keep doing their own kind of survival dance, because no one has told them about their sacred dance.” Die dans van die tweede helfte van die lewe.

Old men ought to be explorers

Here and there does not matter

We must be still and still moving

Into another intensity

For another union, a deeper

Comunion

T.S. Eliot

Die val na bowe is ´n ontstellende val, selfs angswekkend en eensaam, en onseker, tot jy finaal die bande breek met konvensie, die uitgediende aandrange en verwagtings van ´n stagnante samelewing. Dan val jy vry na bo, na ´n dieper en meer outentieke lewe sonder maskers.

Jy ontmoet die vreemde plaasboer wat jou vertel van dood en oorlewing, en van verdieping wat met die verlies kom. ´n Storie van die stadige dood wat Altzheimers is, en moord wat wegruk in ´n oogwenk. Maar dit is volgende week se storie, waar ons val-val verder loop saam met Röhr.

Read Full Post »

“Hoe werk dit?” vra my buurman my met trane in sy oë.

“Hoe werk wat?” vra ek heel onskuldig. Dis nie aldag dat Buurman by my kom tjank nie.

“Die lewe,” sê hy erg bedroef.

“Verduidelik,” versoek ek so half versigtig. Kinders wat huil kan ek hanteer. ´n Groot gryskop man wat huil is ´n heel ander storie. Nogal ´n onstellende storie.

“My vrou,” sê hy en vee sy neus af.

Moeder Maria, dink ek geskok. Moet tog net nie vir my sê sy wil hom op hierdie rype ouderdom staan en skei nie. Hy is ´n effe dwars ou korrelkop, maar tog nie soos erg soos ander ou mans wat ek ken nie.

Toe vertel hy. Staan glo in sy agterplaas en prober met ´n vierpond hamer om ´n betonpaal stukkend te kap. Kap-kap, kap-kap tot hy nat gesweet is, maar maak min indruk op die paal. Maar, sê hy, voor hy begin kap het aan die paal, het hy die nuwe Rolex horlosie wat sy vrou vir hom gegee het afgehaal en ´n ent weg agter hom op ´n klip gesit sodat die duur geskenk nie beskadig raak met die gekappery nie.

En dis net daar waar die duiwel Buurman se werf betree en die spreekwoordelik spaander in die werke gooi.

Kap hy so aan die paal, en met die dat die paal erge weerstand bied, kap hy algaande meer drifting. Sy lyf sweet, sy voorkop sweet, sy hande sweet en toe hy een woeste hou wil slaan, vlieg die hamer met die terugtrek slag uit sy hande uit, trek met ´n sierlike boog deur die lug na agter en, sê hy nou driftig: “Die verdomde ding het die hele f*kn erf tot sy beskikking om te gaan val. En waar val die vervloekte ding, waar vra ek jou?”

Ek trek my skouers verontskuldigend op en skud my kop. Weet nie? Ek het ´n sterk vermoede maar ek gaan dit om die dood nie uitspreek nie.

“Ek sien duidelik waarheen die ding op pad is,” sê hy, en ek kan sien hy sien die trajek van die hamer weer helder en duidelik in sy geestes-oog. “En ek draai om en ek hardloop agterna,” sê hy so half hygend. “Maar die hamer was natuurlik eerste daar.” Nou hou hy sy kop tussen sy hande vas. Ek kry hom so jammer.

“Die Rolex. In duisend stukke,” sê hy bewoë.

“En toe?” vra ek geskok al het ek geweet hier kom moeilikheid.

“Hoekom die Rolex?” vra hy moedeloos. “Die erf lê wyd en oop, maar die verdomde ding moet op die Rolex val. Hoekom? Al wat ek vra is twee duim links of twee duim regs. Is dit nou te veel gevra?”

Met die horlosie in stukke voor hom,  doen Buurman  toe ´n vreemde ding. Hy vat die hamer, gaan staan weer by die halstarrige betonpaal en gooi die hamer oor sy skouer na agter, maar die keer met opset in die rigting van die verpletterde geskenk. Oor en oor herhaal hy die proses. Gooi die hamer, loop tel dit op, staan by die paal en gooi die hamer oor sy skouer.

“En nie een keer nie, nie een keer val die hamer eers naby die oorblyfsels van die kosbare Rolex nie,” sê hy nou weer driftig.

Ons sit in my agterplaas onder die lapa en drink Klippies en Coke, en ek stoot die hamer wat onder my stoel lê so onpsigtelik as moontlik met my voet dieper onder die stoel in. Mens weet nooit waartoe hy in sy drif in staat is nie.

Later, sê hy, gaan staan hy by die gewraakte betonpaal, kyk na die Rolex en gooi die hamer verwoed na die teiken, keer op keer, maar selfs toe kon hy die Rolex nie tref nie. En dit is hier waar die groot moles toe eintlik begin. Wat hy nie wis nie, was dat sy vrou hom die hele tyd deur die venster gestaan en dophou het. Toe hy  so verwoed met die hamer direk na die horlosie begin gooi storm sy op hom af en gil op hom teen desibels wat Maria Sharapova sou laat skaam kry.

“En wat de hel dink jy doen jy? Is jy van jou sinne beroof? gil sy” Toe sien sy eers dat die tydmasjien reeds in duisend stukke op die grond lê, en toe moes hy haar van die hamer af weghou anders was daar moord.

“En ek prober vir haar verduidelik wat gebeur het, maar sy weier om na my te luister,” sug hy nou amper gelate. “Hoe sal ´n vrou nou ooit verstaan hoe ´n man se kop werk. Ek moes mos bepaal hoe dit gebeur het dat die hamer juis daar gaan val het waar dit nie moes nie. Hoe anders sou ek presies aan haar kon verduidelik wat gebeur het?”

“Nou vra ek jou, hoekom? Hoe werk dit? Watter diabolise magte sit agter sulke dinge?”

“Is presies soos die keer met die snoeiskêr,” sê Buurman half bitter.

“Wat van die snoeiskêr?” vra ek uit die veld geslaan.

“Ek loop anderdag mos en snoei bietjie aan my bome en struike. Pla niemand nie. Stap later met die skêr in my hand na my Bonsai boompies toe om hulle ook bietjie terug te snoei,” vertel hy nou meer rustig. “Ek loop en dink aan al die ander werk wat ek nog moet doen, toe haak my voet aan iets vas en ek val. Maar ons lang ouens val mos so half in paaiemente. Die knieë swik, die arms swaai, die bene beur vorentoe om die ewewig te herstel terwyl die grond met spoed nader aan jou neus begin beweeg. Ek sien hier kom moeilikheid en gooi die snoeiskêr weg van my af sodat die ding my nie dalk beseer nie.” Hy bly `n oomblik stil en glimlag verleë.

“En?” vra ek nuuskierig.

“Toe val ek,” sê hy met so `n skewe glimlag. “Ek val en ek hou my hande voor my uit om die skade aan my neus te beperk, en ek sien te laat hoe die skêr deur die lug trek en himself oopbek tussen twee klippe inwig presies net daar waar ek gryp om my val te stuit.”

“Nou vra ek jou weer; hoekom? Hoekom daar? Hoekom met sy skerpkant na my toe?”

“En toe?” vra ek geskok.

“Toe val ek met my hand in die skêr se kake in en hy vreet my tussen die duim en die wysvinger dat die bloed so spat. Kloof my hand oop.” Hy skud sy kop verslae. Hou sy hand en wys my die letsel.

“Hoeveel steke moes die dokter insit om die al daai skade te herstel,” vra ek. Ek sien ook dat die ringvinger aan die ander hand ´n lit kort, maar ek vra nie. Ek wil liewer nie weet nie, nie vandag nie.

“Dokter? Watter dokter?” vra hy gebelg. “Ek het dit self toegewerk met naald en gare. Vir wat sal ek geld mors op ´n dokter!”

“Maar ek vra jou weer; hoe de hel werk dit? Hoekom val die hamer presies op ´n twee sentimeter groot splinternuwe Rolex en loop staan die skêr wyebek reg daar waar my twee vingers te lande gaan kom? Dis mos nie logies nie, en nog minder regverdig!” snork hy nou weer driftig.

“Ek kan twee boeke oor my lewe skryf,” sê hy gegrief. “Twee. Een boek oor hoe my lewe verloop het, en ´n ander een oor hoe dit kon verloop het.”

“Hoe bedoel jy nou?” vra ek so half opsetlik.

“Kyk, as ek harder op skool gewerk het en minder met my vriende gejol het kon ek Universiteit toe gegaan het en my graad gaan kry het. Dan sou dinge baie anders verloop het, baie. En ek kon met daai ryk Vrystaatse boer se dogter getrou het en dan het ek nie nou hier saam met jou gesit en Klipdrift drink nie, nee. Ek sou agter in my Cadillac sit en dik sigare rook en Konjak drink,” sê hy met so ´n veraf blik in sy oë. Hy ry daardie droom, sien ek.

“En jy sou my nie eers gegroet het as jy so verby my ry nie,” sê ek gemaak ongelukkig.

“Nee,” sê hy half skuldig. “Nee man, ek is nie so nie! Natuurlik sou ek by jou kom kuier het,” skerm hy.

“Maar nou is dit nie so nie,” sê ek vir hom. “Ons het elkeen twee boeke wat ons kan skryf oor ons lewens. Maar tot tyd en wyl ons nie daardie boek nommer twee gaan begrawe het, of in die vuur gegooi het nie, kan ons nie die eerste boek met oorgawe begin leef nie. Dis wat ons moet doen, al lankal moes gedoen het. Is bietjie laat hier waar ons al naby aan die laaste hoofstuk van boek een gekom het. Die beste wat ons nou  kan doen is om voor te begin lees aan boek een sodat ons die einde daarvan beter kan verstaan en dit kan aanvaar. En dalk sien dat dit goed was.”

“Want sien ou Buurman, in boek twee sou daar ook hamers en snoeiskêre en duiwels gewees het. Miskien nog meer as in boek een, wie weet?”

“Jaaa,” sug hy. “En Klipdrift is ook nie so sleg nie. Buitendien rook ek glad nie. Ek hou nie daarvan nie.”

Toe loop ek en gaan haal vir ons ´n bottel Konjak en ´n bak ys, en ons vergeet vir ´n wyle van boek  twee se bestaan en van boek een se sondes.

Read Full Post »

Diogenes die wyse

Sit in die koelte  op die stoep en gesels met die professor. Voor ons strek die vallei grasgroen af tot doer onder waar die rivier deur die hiasante worstel. Beeste en ´n trop skaap, sy trots en rede vir sy lament, loop rustig en wei in die verte.

Die man is bedruk vanoggend, maar weier om negatief te wees oor sy situasie. Vir die afgelope 30 jaar het hy alles wat hy kon in die stukkie grond ingedruk. Sy tyd, sy geld, sy arbeid, sy liefde. Nou moet hy van die plaas af, en vir gaan ander rede as dat hy wit is en in Afrika woon.

As dit enige ander land in die wêreld was, sou hy tot op sy laaste dae op sy geliefde plaas kon bly. Maar hy is in sy sewentigs en witmense wat oud is kan nie in hierdie vervloekte land alleen op ´n plaas bly nie. Sy kinders, professionele mense, moet noodgedwonge verhuis van die plaas af en hulle kan nie die twee oumense alleen agter laat nie. Hulle moet trek.

Is tragies, sê die professor, maar ook die gebodder sal ´n positiewe ellement in sy lewe na vore bring. Als is nie verlore nie.

Dit blyk dat een van die redes vir die kinders se trek, is die kleinkinders se opvoeding. Die ouers wil die kinders in ´n voorste Afrikaanse skool in die stad gaan sit waar die akademie en sport van die hoogste gehalte is, veral die sport. Die laaitie is glo akademies gesproke ´n voorslag student, maar ook en veral ´n uitmuntende sportman. Krieket, atletiek, rugby, boomklim, jy noem dit en hy doen dit.

Sê die professor hy kan nie vir sy kinders besluit nie. Hulle en die kleinkinders se lewe lê voor, syne is min of meer op sy einde. Hulle moet doen wat die beste is, veral vir die kleinkinders se onthalwe. ´n Goeie opvoeding is nie vandag meer onderhandelbaar nie, dit is ´n vereiste in hierdie droewe land van ons, veral as jy wit is en wil oorleef, hier of in die buiteland.

En atletiek is goed, sê die prof. Maar hier stamel hy so effe asof hy nie die moed het om die saak aan te roer nie. Sê hy het al probeer om met die kinders te praat maar hy wil nie inmeng nie. “Maar hoe belangrik is atletiek nou regtig?”  Vra hy versigtig. “Ons het dit almal gedoen toe ons jonk was, maar …” en hier raak hy stotterend stil.

Sien ek in my geestes oog ou Diogenes daar in sy  ou reënwater houer waarin hy bly langs die straat in Athene met die atleet wat uitasem maar trost na ´n olimpiade by hom kom staan en verkondig; ‘ek is die vinnigste atleet in die wêreld’.

Kyk Diogenes hom so skeef aan en antwoord; “Ek veronderstel dat daar in enige kolonie van miere ook een mier is wat vinniger as al die ander miere kan hardloop. Dink jy die ander miere gee om?”

Dit is dieselfde ding wat die professor nou wil weet. Hoe belangrik is sport uiteindelik in ´n mens se lewe?

Maar Diogenes se antwoord sou vandag moontlik afgelag kon word deur die Bolt’s en die Rooney’s en die Ronaldo’s van die wêreld wat miljoene uit sport maak. Sport is ´n biljoen dollar bedryf. Aanhangers raak mal oor hulle helde. Slaan vuis, breek en brand eiendom af. Rand teenstanders aan.

Sou Diogenes  dieselfde antwoord aan ´n vurige All Black of Bloubul ondersteuner gee, as dié dalk in sy opwinding beweer sy span is die beste in die wêreld, sou Diogenes heel moontlik  ´n klap teen die kop, of ´n skop onder sy jis kry.

En tog, die vraag implisiet in Diogenes se antwoord van destyds is vandag nog net so geldig soos toe:  Gegee die grooter opset van die teater van die lewe, hoe belangrik is dit om vinniger as die volgende ou te kan hardloop, of hoër te kan spring? More is daar ´n nuwe held wat vinniger as jy kan hardloop, meer doelskoppe as jy aanteken, meer geld maak as jy. Dan gee die ander miere nie meer om dat jy vinnig kon hardloop nie. Dan word ´n nuwe mier op die hande gedra. Dan val jou eie kaartehuis in duie.

Dit is wat die professor met sy doktorale graad in die ekonomie so bekommer. Maar hoe verwoord jy dit sinvol aan die nuwe geslag wat obsessief geld en mag en aansien najaag?

Word die storie vertel van Alexander die Grootte wat verneem het van hierdie wyse man Diogenes wat in sy watertank langs die straat bly. Gaan besoek hy hom om te bewys dat Diogenes ook maar net ´n mens met begeertes is soos enige ander mens.

Staan hy voor Diogenes en sê vir hom; ek is die koning van Macedonië, ek kan vir jou enige iets gee wat jou hart begeer. Jy vra wat jy wil en ek sal dit aan jou gee.

Sê Diogenes waar hy op die grond sit; Dankie. Daar is een ding wat jy vir my kan doen, staan bietjie na daardie kant toe, jy staan in my son.

Read Full Post »

Brusselspruit onnersteun Geelwortel

Brusselspruit tree toe tot die debat, en onnersteun Geelwortel se oproep tot protes teen die gewetenlose aanslag van vegetariërs. Met ‘n formidibale beweging het Brusselspruit saamgespan met wetenskaplikes om te bewys dat plante wel ‘n hoë vlak van bewustheid het. Dit, in teenstelling met vegatariërs se siening dat groente soveel laer af op die voedselketting is dat dit vir hulle heeltemal aanvaarbaar en polities korrek is om Brusselspruit en Geelwortel te eet eerder as Bees, Skaap  of  Hoenner.

Brussels Sprouts

Dr Monika Hilker en haar kollegas van die Instituut vir Biologie by die  Vry Universiteit van  Berlin het gevind dat Brusselspruit bewus word daarvan dat ‘n Koolmot haar eiers op dié  se blare gelê het. Sodra Brusselspruit die chemiese stof benzyl cianied bemerk in die gom waarmee die mot haar eiers aan die blare vasheg, verander sy die chemiese samestelling van haar blare se oppervlakte om ‘n spesifieke wespe aan te lok. Die wepse word aangetrek na die blare waar die mot se eiers is en lê dan háár eiers in die mot se eiers. Sodoende verhoed die Brusselspruit dat die mot se papies uitbroei en haar blare verorber.

Lees meer hier.

Read Full Post »

Oneindigheid

‘n Wonnerlike ding, die menswees ding. (Ding ôk!)

Net die feit dat mens kan wonner oor die oneindigheid. Die inskrywing op Wikipedia wat handel oor die verskillende konsepte en gebruike van daardie konsepte buig my brein; en tog in ‘n opwindende manier.

Dit laat my dink aan die “sieners” van Castaneda wat drie epistemologiese kategorië beskryf het: die bekende, die onbekende, en die onkenbare. In ons pogings om met die oneindige om te gaan raak ons betrokke by die misterie van die onkenbare. Dis seker waarom terme soos “alef-nul”,  “kardinale getalle” en “hernormalisering van die infinitief” so ‘n bekoring vir my inhou: dit wys na geheime wat ek nooit sal kan peil nie. Maar al weet ek dis onkenbaar – vir my – laat ek my telkens verlei deur die wink van die ontelbare sterre.

Die sin van die lewe? Onkenbaar, maar nie onbereikbaar nie. Die verskil tussen ‘n latente oneindigheid en ‘n werklike oneindigheid ?  Die onkenbare kan nie geken word nie, maar dit kan belewe word. Of so glo ek.

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: