Feeds:
Bydraes
Kommentare

Archive for the ‘Joh’ Category

Vrede

Johan op sy driewiel

Die laaste inskrywing op hierdie blog deur Johann. Sondag sal ons sy as gaan strooi op `n koppie by Mooinooi.

Rus in vrede broer, vriend, geesgenoot. Ons mis jou.

Hy was inderdaad `n man van vrede.

 

Vrede

Die ou man leun so trug teen die kleimuur, en die riempies van sy stoel buig kwalik onner sy tenger gewig. Ons koffiebekers is lankal koud maar sy skraalte drink nog die hitte vannie muur.

Normaalweg sou ek nou al half ongemaklik begin raak het met ‘n stilte wat so draal. Die peperboom se bessies ritsel in ‘n vae bries en ‘n torrie se koer uit die bloekombos, so ‘n enkie daar agter sy hut, vee die trae lug in lustelose kringe.

Die plooie op sy gesig lyk so gemaklik – assof dit enige oomblik kan vervorm in ‘n glimlag, of verdriet. Skuins strale van die laat middag son ets sy gelaat ‘n rooier bruin en streel die grys halo van sy kort geskeerde hare. Nooit sou ek kon dink dat daar so ‘n vrede in hierdie lewe kon wees nie.

My gedagtes dwaal trug na vroeër, toe ons gesels nog gevloei het. Soos die gekibbel van ‘n bedeesde waterstroompie, wat sy weg kronkel deur die Wes- Transvaal se vlaktes, het ons woorde strominge in mekaar se gedagtes laat blyk. My gemoed waarskynlik meer van ‘n modderkolk . . . en syne . . .? Die vrede was tóé al tasbaar: die rugstring van sy wese.

Die ding van ‘n kleimuur is dat dit hitte opsuig, en later as die lug afgekoel het, weer uitstraal. Dik kleimure, met klein vensterkies soos dié van sy tweevertrek hut, hou ‘n huis se binnekant koel innie somer, en warm innie winter. Buk deur die deur en staan vir ‘n minuut of so eers baie stil. Tot dat jou oë die donkerte gewoont raak . . . tot dat jou siel die koelte vind.

My oë gly oor die groen mielielande, draai trug na sy gesig toe, en ontmoet syne. ‘n Vae glimlag speel om sy mond en die antwoord lê rein in sy kyk.

Het ek ooit ‘n vraag gehad?

Advertisements

Read Full Post »

Het na aanleiding van Louwie se vorige pos weer na Frankl se “Man’s search for Meaning” gaan kyk. So gewonner wat hy bedoel met “meaning” en dit blyk dat dit “betekenis” sou wees. Mens soek na betekenis in jou (of die?) lewe. In sy eie woorde stel hy dit gelyk aan “ideale en waardes”. Nou dit kan problematies wees. Beide word gekondisioneer deur mens se samelewing, en is hoofsaaklik self-gesentreer. Soos hy een van sy eie ervaringe vertel:

Toe hy gevange geneem is het hy die manuskrip van sy eerste boek by hom gehad en die Nazis het dit gekonfiskeer voor hulle hom in die konsentrasiekamp gegooi het. Hy voel sterk dat sy groot begeerte om die manuskrip oor te skryf ’n belangrike deel bygedra het tot sy oorlewing in die aaklige kampe.

Dus het hy die betekenis / waarde van sy lewe gevind in sy begeerte om die boek oor te skryf en te publiseer.

In ’n anner trant is dit interessant hoe hy sy logotherapy by eksistensialisme aanhaak. Veral sy “eksistensiële frustrasie” maak goeie sin uit: “Existential frustration is in itself neither pathological nor pathogenic. A man’s concern, even his despair, over the worthwhileness of life is an existential distress but by no means a mental disease.”

Dis nog als innie haak. Maar dan skeur hy weg van eksistensialisme wanner hy eksistensiële frustrasie gelykstel aan ’n spanning tussen waar mens jou nou bevind en waar jy in die toekoms wil of moet wees. “Thus it can be seen that mental health is based on a certain degree of tension, the tension between what one has already achieved, and what one still ought to accomplish, or the gap between what one is and what one should become.”

Verder stel hy dit dat hierdie spanning ’n natuurlike deel van menswees is. Ongelukkig maak hy dan ’n logiese fout deur af te lei dat hierdie spanning onontbeerlik is vir geestelike gesondheid OMDAT dit ’n natuurlike deel van menswees is – ’n totaal ongegronde afleiding.

’n Belangrike  deel van logotherapy berus dan daarop om hierdie spanning in die kliënt  aan te wakker sodat die kliënt bewus kan word van die betekenis van sy / haar lewe, wat ’n doel in die toekoms behels. En dit bring hom weer trug by die “ideale en waardes” wat deur die samelewing voorgeskryf word.

Sy benadering spreek dus nie regtig die eksistensiële frustrasie tussen die samelewing en die individu aan nie.

Maar dan weer, soos Louwie hom aangehaal het:

Everything can be taken from a man but one thing: the last of the human freedoms—to choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way.”

–Viktor E. Frankl, Man’s Search for Meaning

Foto deur Alex Leon

Read Full Post »

Diegene wat die ongeskape ken,

Wie vry en kalm is,

Wie alle begeertes verwerp het,

Hulle is die mees agtenswaardig.

Dhammapada v97

Kommentaar deur Bhikkhu Munindo:

“ Op hierdie volmaan dag van Mei, wanner ons Wesak vier, laat ons oordenk wat die Boedha  voorgehou het as wat ons aandag waardig is.

Ons is alreeds goed ingelig oor die “geskape wêreld”, met anner woorde als wat gekonsidioneer is soos ons dit sien kom en gaan. En ons het al vele male gehoor hoedat dit wat gebore word sterf; als wat ontstaan vergaan; alle verskynsels is in ‘n ewigdurende  staat van verannering.

Die Boedha se insig wys dat dit moontlik is om te ontwaak tot wat hy die “ongebore”, “ongekondisioneerde”, “onverannerlike  werklikheid” genoem het. Bewuswording van hierdie werklikheid, het hy geleer, is betroubaar en daarom ons aandag waardig .

Hoe kan mens hierdie bewuswording teweegbring? Een manier is om aanhoudend die regte vrae te vra: wat is die ongebore; wat is die ongekondisioneerde; wat is die onsterflike? Dan oorpeins ons dat enige toestand, enige idee, enige sensasie wat voorkom wanner ons die vraag vra, nie dit is nie – en ons hou aan om te laat gaan.”

Bhikku Munindo is die kloostervader van Ratanagiri, ‘n Boedhiste klooster in Engeland.

Vir meer besonnerhede sien:

ratanagiri.org.uk
forestsangha.org
forestsanghapublications.org

 

Sun Dog

Foto deur Rose Knott, Orangeville, Dufferin County, Ontario, Canada

Read Full Post »

As voëls in ‘n net gevang word

Sal net ‘n paar ontsnap.

In hierie wêreld van illusie

Vind net ‘n paar hulle weg na vryheid.

Dhammapada v174

Kommentaar deur Bhikkhu Munindo:

Dis nie maklik om verby die illusies wat ons gemoed benewel te sien nie. Maar ons kan tog ons persepsie ontwikkel; ons hoef nie noodwendig te glo wat anner ons vertel nie. Die Boedha het klem daarop gelê dat ons die waarheid vir onsself moet ken.

Soms is ons angstig oor iets en dan vind ons later uit dat dit nie eers belangrik was nie. Verstandelike indrukke kan baie oortuigend voorkom, en by anner tye blyk hulle weer flou. Wanner dít gebeur is dit wys om waar te neem hoe ‘n hersenskim die wêreld is.

Daar is niks verkeerd met die wêreld wat so is nie, net soos daar niks verkeerd is met ‘n droom wanner ons slaap nie. Maar dis voor die hand liggend dat ons moet weet dat drome drome is, en nie die werklikheid nie.”

Bhikku Munindo is die kloostervader van Ratanagiri, ‘n Boedhiste klooster in Engeland.

Vir meer besonnerhede sien:

ratanagiri.org.uk
forestsangha.org
forestsanghapublications.org

Flying Birds by Amazing Wallpaperz

Read Full Post »

Drie Pasifiste

Sit so en gesels met Louwie die anner dag. Met dat dit so rof in die wêreld gaan – geweld en doodslag net waar jy kyk. Maar soos James Clarke my eendag verduidelik het: wat anners verwag jy van die Heelal as die oorsprong van alles innerdaad die grootste gewelddadige gebeurtenis ooit was?

Maar trug na die gesprek. Geweld is so ‘n  aansteeklike ding, of miskien eerder so ‘n ingebore ding. Die kruitvat in ons binneste, soos gekondisioneer deur ons wese en omstandighede, vat net die kleinste vonkie om the ontplof. Dan bal ons vuiste, gryp na swaarde en gewere. En dit gaan altyd oor Ek is Reg en jy is verkeerd – die goeie ou ego. ‘n Natuurlike strategie om myself gestand te hou, fisies en geestelik. Die hele werking van ewolusie is hierop gebaseer.

Die probleem hiermee is dat as ons net hierdie strategie gebruik, ons net gewoon menslik is, niks anners as net nog ’n natuurlike dier nie. Tog blyk dit dat die mens wel ’n anner faset ook behels, ’n anner roeping, wat reg teen die natuurlike  strategie indruis en die geweld teëstaan. Hierdie faset laat ons minner aan onsself en ons eie persoonlike oorlewing dink, en meer aandag gee aan die groter prênkie, die Kosmos van bestaan. Dit is die pasifisme. En dit is nie naastenby dieselle as ongeërgdheid nie, en die teenoorgestelde van selfsug.

Vertel Louwie toe van rolmodelle vir die pasifis. Drie van hulle so deur die loop van tyd: (meer…)

Read Full Post »

‘n Enkele woord van waarheid,

wat lei tot kalmte,

is beter om te hoor

as ’n duisend onbenullige woorde.

Dhammapada v. 100

Kommentaar deur Bhikkhu Munindo:

“Hou dit eenvoudig” en “simpel wees” is nie dieselle ding nie. Eersgenoemde is ’n benadering tot die lewe terwyl laasgenoemde ’n ontwyking is. Die oorweldigende hoeveelheid verannerings wat ons daagliks ervaar kan die lewe baie ingewikkeld laat voorkom.

Maar die bedrewe ontwikkeling van ons aandagtigheid maak ons bewussyn oop en ontvanklik. Dan word ons nie maklik verwar deur omstandighede nie. Dit is  ’n kuns om soepel te wees sonner om weifelend te word; om gefokus te wees sonner om onbuigbaar te word.

Bhikku Munindo is die kloostervader van Ratanagiri, ‘n Boedhiste klooster in Engeland.

Vir meer besonnerhede sien:

ratanagiri.org.uk
forestsangha.org
forestsanghapublications.org

 

Foto: Serious Fox deur Roeselien Rimond

 

Read Full Post »

Kleinighede

Moenie die waarde van goed doen onnerskat nie,

Deur te dink: “Dit beteken niks nie”.

 Water vul ‘n beker druppel vir druppel,

En so vul die wyse homself met goedheid.

Dhammapada v122

Kommentaar deur Bhikkhu Munindo:

“Soms voel mens oorweldig deur die enormiteit van wat mens dink voorlê. Maar dis net die geval wanner ons bewustheid oorheers word deur veronnerstellings. Ons weet nie regtig wat die toekoms inhou nie.

Ons het ‘n verbasende vermoë om die toekoms te projekteer en te verbeel. Maar die Boedha sê dis wys om ‘n waardering van die werklikheid wat nou en hier plaasvind in ons bewustheid te kweek. Wanner ons in kontak is met die hier-en-nou werklikheid kan mens makliker onthou wat gedoen kan word om onmiddelike effek te hê: verstadig, vaste aandag, die grond onner jou voete, die ruimte wat jy beset, beleef die oomblik sonner om kant te kies vir of teen.

Onthou om nie verlore te raak in spekulasie nie.”

Bhikku Munindo is die kloostervader van Ratanagiri, ‘n Boedhiste klooster in Engeland.

Vir meer besonnerhede sien:

ratanagiri.org.uk
forestsangha.org
forestsanghapublications.org

Foto deur Clemense1980

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: