Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘See’

Dit klink of ons baie lank in Mosselbaai vakansie gehou het, maar in werklikheid was dit sowat 10 dae se uitspan en rondkuier. Soos ek reeds genoem het, dit het meeste van die tyd gereën of was bewolk met min son in sig. Tog was dit heerlik om op die strand te loop, of koffie te drink terwyl ons vir die onstuimige see kyk, of om rond te ry en klein strand dorpies te verken.

Ek het nie eers geweet daar bestaan so n plek nie. Dit is n pragtige, baie klein dorpie met `n mooi strand en hierdie mooi huisies tussen die fynbos. Die dorpie, as mens dit so kan noem, is so klein dat selfs Wikipedia niks daarvan weet nie. Dit sê bloot dit is n dorpie aan die Weskus van SA en niks meer as net dit nie!

   

Wolke, sand en n grys see. Beslis nie swem weer nie, maar goed vir rondloop en koek en tee doen al langs die kus af.

Net anderkant Boggomsbaai lê Vleesbaai. Dit is effens grooter as Boggom se plek en Wikipedia weet ook meer van die dorpie. Die eerste wit voete op hierdie strand het ook aan Bartlomias Diaz en sy manskappe behoort. Hulle het in 1488 hier voet aan wal gesit en metaal en ander ware by die Hotentotte geruil vir beeste. Meer as n honderd jaar later is die plek eers gedoop tot Vleys Baeye deur Paulus van Caerden toe hy metaal en ander ware aan die Hottentotte geruil het vir beeste. Dit was op 14 Julie 1601. Vyf honderd jaar na Diaz hier anker gegooi het, in 1986, is die eerste elektrisiteitsligte in die dorp aangeskakel! Die wiele draai maar stadig in Afrika. Dis mos asof die spoed van lig self hier so effens stadiger is as in die res van die wêreld.

Daar was geen teken van Hottentotte nie, en ook nie van beeste nie. Net maar hierdie dapper vissermense wat in die reën kom hoek natmaak het. Daar is nie n restaurant op die dorp nie, net n vriendelike klein negosiewinkel met vriendelike mense agter die kasregister. Min mense woon permanenet hier. n Paar pensioenarisse het dit hulle laaste staning gemaak, vir die res staan die huise leeg tot dit vakansie word, veral Desember woel dit glo hier.

Van Vleesbaai is dit n kort entjie na Gourits Mond toe. Mens rits gou tot daar en vind dat dit n baie klein plekkie is waarvan Wikipedia ook niks weet behalwe die naam nie. Toe ons daar kom het dit so hard gereën dat ons nie eers op die strand kon loop of fotos neem nie.

Dit is hoe dit uit die lug uit lyk. (Internet foto). Die dorpie lê op die linker oewer van die Gourits Rivier en is skaars sigbaar op die foto. Visvang en lê en niks doen is skynbaar die grootste aantrekking van die plekkie. Jy kan ook stap en swem as jy jouself regtig wil moeg maak.

Saam met Cobie en Johan het ons ook Knysna, Grootbrak en Hartenbos verken, maar daarvan volgende keer.

 

Advertisements

Read Full Post »

Op Herrie se spoor na Meiringspoort

Ons ry vroeg uit Colesberg weg, en verdwaal sowaar in die dorp op soek na die snelweg! Die aanwysings in die dorp is maar trietsig (of gesteel?). Gelukkig wys `n vrolike man op pad werk toe vir ons die afdraai wat ons gemis het en toe is ons op koers na die volstruisdorp, Meiringspoort en dan Mosselbaai.

Die trek na Meiringspoort is nie oor ons, soos Sagmoedige Neelsie van destyds, sonde met die bure het nie. Dit is ook nie oor ons groot geleerdheid in groot boeke wil loop soek, of soos Neelsie n boek wil skryf “waar daar siel in is en hart en brein, humor en patos, gevoel, verstand, peillose mensekennis. n Boek wat jou laat lag en jou laat huil, wat jou laat smag na die onbereikbare, wat jou gedagtes wegvoer tot die berge en die afgronde van oneindigheid.”

Nee, ons trek na die poort (sonder olifant op n tremspoor) is heel beskeie. Ons wil gaan vakansie hou, gaan rus by die see. Meiringspoort is vir ons n poort na saligheid, vir n baie kort rukkie.

Ons pak die Groot Karoo aan. Die pad lê pragtig oop na die Suide. By die Drie Susters loop ons die manne met die driewiel ysterperde wat voor die Horse & Mill gestaan het weer raak. Ons gooi petrol in, koop ontbyt (Simba akyfies en Coke, die ander eetgoed lyk erg verdag). Die plek het onherkenbaar verander. Voorheen was dit n lieflike plek met n plaas atmosfeer. Nou is dit maar net nog n siellose Ultra City. Die Drie Susters lyk genadiglik nog net soos altyd. Mens wonder wanneer gaan iemand die briljante idee kry om geld te maak uit n kabelkar teen die Susters op. Behoede ons van so n aberasie. (meer…)

Read Full Post »

Desember blues

Sie ek dat vyf WordPress blogers iewers raad gee oor hoe om Desember te oorleef. Dit help my veel.

Een vertel hoe jy jou kinders van Kersvader moet speen sonder dat die bloedjies erge trauma beleef. Help my niks, my kinders is lank reeds gespeen van daardie rooigeklede vetteman. Dit is dalk deesdae vir hulle `n probleem om hulle pa te oortuig dat Vader Krismis nooit regtig bestaan het nie. `n Mens kan wens, kan jy nie? Kyk wat het Vader Krismis vir Zuma gegee vir kersfees, `n hele dorp genaamd Nkandla!

Die ander bloger beveel aan dat jy party tot diep in die nag, maar dat jy jou gaste se motorsleutels wegsteek sodat hulle jou moet help om die huis weer aan die kant te kry, eers dan gee jy hulle sleutels terug. Klink na `n goeie plan, maar dit is gewoonlik nie nodig nie. Teen die tyd wat ons en ons gaste ons roes afgeslaap het, het die honde die vloere en die borde reeds skoon gelek en is dit weer gereed om vir ontbyt gebruik te word!

Ons leef in `n vreemde wêreld, en die kontras in leefwêrelde is seker nerens groter as in Afrika nie. Sommige se kerstafels kreun onder die kos en ander suig letterlik aan die agterste speen!

Afrika 219

Onthou ek die dag toe ek, skaars groter as die kannetjie hier bo (en nog sterk onder die indruk dat Vaderkrismis regtig is) van die verkeerde kant af aan `n koei se speen getrek het. Sy het my terstond tussen die oë geskop dat ek sterretjies sien. Dalk die dat die koppie op sy oudag van tyd tot so bietjie raas?

Durban 1970Wat nie een van die blogers aanbeveel ter oorlewing van Kersfees nie, is om weg te bly van die strande af. In 1970 het ons, komende van die plaas af, gedink die strand is op kersdag onleefbaar vol mense gepak. Jy het dit liewer nie daar gewaag nie.

People celebrate New Years Day on a beach in DurbanOns was toe verkeerd. Op kersdag 2012 het dit so gelyk. Ter wille van oorlewing bly ons nou by die huis. Net soms, so elke twee jaar, dink ons dit sal makliker wees om die stand aan te durf as om by die huis te bly, ook ter wille van oorlewing en dit het niks met Vader Krismis te doen nie!!

Geseënde kersfees vir julle almal wat hier kom inloer. Maak nie saak of jy Christen, Moslem, Jood, Buddhis, Shintoïs of ateïs is nie. Mag die dag vir jou vreedsaam, vol geluk en genade wees.

Jesus_022_small

Read Full Post »

Vreemd 30

Het vinnig `n draai by die see gaan maak om `n tan te vang voor die winter.

Daar was baie ander mense op die strand met dieselfde idee.

Vreemd 22

Wie wil nou die winter ingaan met `n bleek lyf soos van kweekgras onder `n sinkplaat, veral as net dele van jou lyf geelgroen daaruit sien!

Vreemd 21

Nou is ons mooi getan en ek en liefie is weer op pad huis toe.

vreemd 25

Read Full Post »

Ons wag op die sardyne

Doen toe so ´n vinnige wegbreek see toe. Vriend Koos het mos so ´n mooi lêplek daar in Illovo. Apartheid se skuld natuurlik. Onheilige Afrikaner bevoorregting en al so aan.

Wonder ek nou, as die (onregmatige) materiële aanwinste dan apartheid se skuld was, wie se skuld was dit toe hy, steeds onder apartheid, op ´n kol sy dubbelverdieping huis met onderdak swembad en sy nuwe 5 reeks BMW verloor het? Groot ouens vir hy werk gedoen het, het bankrot geraak en hom honderde duisende Rande geskuld, en toe gaan hy amper saam met hulle onder.  Was dit ook  apartheid se skuld, of moet die onheil op sy eie rekening geplaas word? Indien wel, hoe de duiwel werk dit!!!!

Maar dit net so terloops.

Ons gaan kuier by vriend Koos en sy Toekie-vrou. En ons eet, en ons drink (hardehout onverdun) en speel bord en kaartspeletjies en ons drink nog, maar swem, swem ons nie want die water is onheilig koud. Selfs die sardyne weier om hulle warm (water?)- beddens te verlaat en die jaarlikse instinktiewe trek aan te pak. (Net so terloops, waarheen trek die onnosel gediertes, (of is dit gevistes?) as hulle die tog teen die kus en teen alle rede in aanpak? Is daar ´n doel mee of rede voor behalwe om gevreet te word deur als wat visvretend is?)

Intussen lees hy PG se ‘Fees van die ongenooides’ en hy kry nagmêries van die oorlog en al sy onheilighede na alle kante toe. Is ´n uitstekende storie en aan te beveel vir die wat leeslustig is, maar net as jy dit in klein porsies aanpak. Miskien is my Boerebloed maar net effe sensetief vir al die opsetlike dood en verwoesting. Shit, daardie vroue en kinders het swaar gekry. En vir wat?

Ek dwaal af. Ons hou mos vakansie, en ons drink. Op die strand lê die lywe onhebbelik mooi, en dit word net nog mooier na die eerste dop hardehout, komplimente van ons gasheer wat, na sy derde dop (my 2de Coke Zero), heel liries begin raak oor al die mooigeit.

Ons bepeins jonkwees en oudword. Ek verlustig my aan die kinders se onbevange speel en die jonges se selfbewuste ekshibisionisme en verbly my daarin dat dit nie meer, en nooit weer, deel van my eie eksistensialistiese angste en belewenisse sal wees nie. Vriend Koos lamenteer oor sy eie, vergange, ekstatiese jeug toe hy meisies soos dié hier voor ons kon bespring (maar nooit het nie?) of ten minste kon beïndruk met sy bespierde lyf.

Is ook skynbaar nie ´n ongewone ding die teruggryp na ´n (dalk gewaande?) viriele jeug nie. A P Brink doen min of meer dieselfde ding in sy ‘Ander lewens’ (wat ek ook besig is om te lees; baie stadig en half wroegend. Selfs die beskrywings van sy sekskepades is mistroostig eerder as eroties).

Ek dwaal af. Ek hou vakansie. Vier dae lank. Ma loop terug op die spoor van haar jonkheid in Margate en ons eet dus jaffels en room by Ramsgate waar die klipseekoei wat destyds blink-swart, groot en mooi was, nou vaalgrys verweerd en klein in die son lê en bak. Soos die nostalgiese onthou van ons opwindende gisters wat, met herbesoek, vaal en droewig en gestroop in die lig van die werklikheid voor ons staan.

Maar natuurlik was daai blonde meisie wie se hare ek destyds, (onder die droewe gebed van Oudominee) in die kerk getrek het pragtig, mooi, seksie en wellustig en nog met die blouste blou oë wat ek ooit gesien het. Ek onthou dit soos gister!!

Maandag ry ons terug na Sodom. Van Rheenen lê dig bemis. By Harrismith hang die wolke vrolik wit om die berg se nek. Die winterson was die Vrystaatse grasvlaktes in skakerings van goud-oranje. Johburg het reeds sy grys rookmis baadjie aan toe ons na ses en halwe uur se ry weer tuis kom waar die honde ons oorstelp van vreugde bestorm.

Dis koud, dis mislik. Ek wil gaan vakansie hou waar kinders in die water baljaar en mooi meisies in die son lê en bak. (Nou begin ek wonder; was daai meisies regtig so mooi soos ek nou dink hulle was? Of is dit net nog ´n seekoei van klip?)

Read Full Post »

Vakansie by die see

Ons was toe daar, Heidelberg, Witsand en Stilbaai, George en Hermanus en Vermaaklikheid ook. In die wind en die reën. Twee dae sonskyn, die res nat en mislik. Nie dat dit ons van die strand weggehou het nie.

`n Baie lang tyd gelede was ek ook by die strand, ek dink Queen Vic was toe nog op die troon. Dit het toe heelwat anders gelyk.

Destyds het ons nie strandsambrele en opvou stoele gehad soos vandag nie. Ek kan onthou daar was ook minder sonskyn as deesdae.

Destyds se meisies was al te fraai. Ma het altyd gekla oor hulle naaktheid, dat hulle skaamteloos en sedeloos is. Hoe durf hulle so naak in die openbaar verskyn! `n Gruwel in die oog des gods.

Ek het nogal gehou van die soort van gruwel.

 Vandag se meisies, ag tog, Ma sou die aapstuipe gekry het. Dis wonderlik en dis hoekom ek my vrou elke jaar teen haar sin see toe sleep.

Nou wonder ek hoe gaan die meisies lyk nog `n honderd jaar vorentoe?

Ek kan nie wag nie.

Read Full Post »

%d bloggers like this: