Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Kersfees’

Tert se storie

Die volgende storie kom hier aan via sus Cobie. Miskien het sommige van julle dit al raakgelees. Dit het `n tyd gelede glo in die Brits & Harties Gateway verskyn en is geskryf deur ene Tert wat maandeliks in genoemde blaaidjie `n storie publiseer. Dit is so `n aandoenlike storie, ek plaas dit hier sonder sy eksplesiete toestemming, en hoop hy sal die ekstra blootstelling waardeer.

TERT SE KERSFEESSTORIE.

Ek brand al van lankal af om hierdie storie te vertel, maar ek het uitgehou tot nou toe. Merkwaardig, al moet ek dit self sê. As ek ‘n storie hoor, dan moet hy vertel word, maar hierdie een moes ek mee wag.

Verlede jaar, besluit Tert en Lien dat, aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Tert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

“Nou waar was julle toe?” wou ek nuuskierig weet.

“Noord-Kaap” sê Tert.

“Ek het nie geweet julle het familie daar nie?” vis ek verder uit.

“Nie gehad nie, maar nou het ons.”

“Nou maar hoe werk dit?” hou ek vol.

“Jy’t ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het,” sê Tert.

“Maar jy weet mos. Ek dood oor ‘n storie.”

“Nou maar fyn. Sit terug en luister.”

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van ‘n storie.

“Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie ‘n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

“‘Nou maar dan moet jy woestyn toe,’ sê sy toe half op rukkerig.’Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees’, en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.’

“Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

“‘Ek weet’ kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

“‘Nou waar sal ons dan heengaan?’ wou sy weet.

“Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

“Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis ‘n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

“Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op ‘n grondpad. Die grondpad word toe wel later ‘n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe ‘n koedoe of twee, drie, en selfs ‘n troppie gemsbokke. Deur plase en seker ‘n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

“Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na ‘n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar ‘n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

“‘Dis lekker hier’, sê sy toe. ‘Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.’ Sy giggel avontuurlik.

Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. ‘Kyk hoe mooi is die sonsondergang’ sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons ‘n vreemde geluid hoor. So ‘n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar ‘n donkiekarretjie om die draai. (meer…)

Read Full Post »

Kersfees 2014

Jesus_022_small

Is weer daardie tyd van die jaar, Krismis. Ek hou van Kersfees. Behalwe dat die strate stil is en die buurt rustig, is die mense ook meer vriendelik en kalm. Geen padwoede, geen vingertaal vir mede padgebruikers nie, en geen beurtkrag tot hier toe nie.

In Duitsland is Kersfees groot. Die gees van Kersfees, sê sus Cobie en Johan uit Munich, is aanvoelbaar. Heel anders as hier by ons. Miskien is dit die afwagting op sneeu en die moontlikheid van `n wit kersfees wat alles aanhelp. Hoe ook al, die mense daar is opgewonde. Kersfees is vir hulle `n opwindende tyd, `n ware feestyd.038

066

 

 

 

 

 

Kerkdienste word gehou en bygewoon, en kerke word pragtig versier.

Kersfees 5   Kersfees 1

En dan het ons die vermetelheid om sendelinge Duitsland toe te stuur om die mense daar te loop bekeer! Laat my altyd wonder oor die variant van Christen wat hier wortel geskiet het.

Kersfees 2   Kersfees 4

Intussen is ons boompie weer staangemaak soos elke vorige jaar vir die afgelope meer as 40 jaar. Die enigste verskil is dat ons vir die eerste maal ooit ook `n Kersfeeskransie gemaak en teen die deur opgehang het.

Krismiskrans    Kersfees 3

Hannelie en Ma se handewerk. Te oulik. Ons is nie seker wat die kransie beteken nie. Google beduie van `n Pagan gebruik om hergroei na die Winter uit te beeld. Die Christen weergawe daarvan is dan ook herlewing, maar veral die ewige lewe in Christus, of so iets.

Krismiskrans 3   Kersfees 1

Hiermee dan aan almal wat hier lees, `n geseënde Kersfees. Mag dit vrede bring, en geskenke van alle soorte solank dit uit die hart uit kom, en opwindende feestelikheid saam met julle families en/of vriende. God bless you all, believers and unbelievers alike. Merry Christmas.

Read Full Post »

Dis amper alweer Kersfees. In opvolging van die geveg rondom die Kersboom dalk ´n finale woord of tien.

Lees ek toevallig hierdie stukkie wysheid raak in Robert E Kennedy se boek: “Zen Spirit, Christian Spirit.”

Vra ´n monik op ´n kol vir Meester Nansen: “Is there any Dharma that has not yet been taught to the people?” sê Nansen; “Yes, there is.”

Vra die monik: “What is the Dharma that has not been taught to the people?” sê Nansen: “It is neither mind, nor Buddha, nor beings.”

Kennedy was ´n Katolieke priester wat in Japan gaan sendingwerk doen het, vir jare. Toe besluit hy om Zen Buddhisme te bestudeer onder Yamada Roshi. Later het hy vir 20 jaar sy studies van Zen Buddhisme in Amerika voortgesit.

Toe eendag, kry hy hierdie Groot Insig. Hy spring in sy kar en jaag na sy leermeester Glassman Sensei toe en uitasem deel hy sy Groot Insig met die Sensei: “Sensei,” sê hy. “Sensei, everything is mind!”

En rustig antwoord Glassman Sensei: “Wonderful. Everything is mind.”

´n Paar maande later herhaal die storie homself. Kennedy kry ´n nuwe insig, spring in sy kar en jaag na Glassman Sensei toe en vertel hom uitasem van sy nuwe Insig: “Sensei, everything is not mind,” sê hy.

“Yes,” sê Sensei, “yes, you see it.”

“Wonderful. Everything is not mind.”

Kennedy moet nog een besoek aan Glassman Sensei bring, iewers in die toekoms vir die aankondiging van ´n finale Insig. Dalk het hy al, ek weet nie.

En dit bring ons terug by die Kersboom.

Van kleintyd af leer ons; die Kersboom is Kersfees. Die een kan nie sonder die ander nie. Die Kersboom is Kersfees, is geskenke, is kersliedere en kerkdienste en sneeu. Dit is in ons Europese gene geskryf. Dit is soos dit is, al bly ons in dorre Afrika.

“Everything is mind!” Die Kersboom, die geskenke, die Christus is Kersfees, so sê ons tradisies vir ons.

Dan word ons groot en ons begin vir ons self te dink, en ons sien dat die boom en die fees nie dieselfde ding is nie. Daar is nie ´n Kersvader nie. Die boom is net ´n boom met blinkers aan. As ons volwasse genoeg is aanvaar ons dit so in die gees van Kersfees en ons gun die wat nog in die boom glo hulle opwinding en verwondering.

“Everything is not mind.” En die boom is nie Kersfees nie.

As ons nie volwasse genoeg is nie, en ons Insig is ego gedrewe, dan pluk ons ons eie Kersboom, met groot geraas en vertoon, met wortel en tak uit en gaan skop ander mense se bome met die liggies in letterlik en figuurlik onderstebo. Want ons WEET die Boom is nie Kersfees nie. Die Zen os is nog nie getem nie, inderdaad nog nie gesien nie. Die boom staan nog in die pad, versper die uitsig op die werklikheid.

Taming the ox: Zen oxh-03   Zen oxh-06

As dié wat wyser is as ons dan die Boom verder bedink en die dualistiese beeld van subjek en objek wat ons van die lewe het ophef, behoort hulle tot die volgende Insig te kan kom: Daar is nie ´n boom nie, daar is nie ´n Kersfees nie, daar is nie ´n Ek nie, en helaas, daar is ook nie ´n Christus nie. Die Islamitiese Soefiste sê “There is no God …. There is only God”. (en Abel Pienaar sê “God se oë is blou”, maar dit is `n storie vir later.)

Zen oxh-07   Zen oxh-08

Uiteindelik is die Os sowel as die temmer van die Os weg. Die temmer van die Os, wat ook die siener van die Kersboom was, betree die Lig, “enters the void, but not the void of nothingness” en weet dat alles net ´n illusie is. En dan kom hy/sy terug en hou Kersfees en plant sy boom met baie liggies in en gee geskenke met liefde. “He returns to the marketplace with bless bestowing hands”. Hy is bevry van die ego en al die obsessies van hierdie bestaan. Hy is ´n Buddha. Hy is ´n Christus, ´n verligte een. Hy gun dié wat ´n kersboom nodig het, sy boom met liefde, en sing Kersliedere uit volle bors saam met die wat wil sing. En so word dit ´n werklik geseënde, heilige en vredevolle Kersfees soos dit hoort.

Zen oxh-10

(Zen prentjies uit Joh se pos hier bo iewers “Riding the Ox home””

Read Full Post »

Kersfees

002

Verlossing in ´n boom

Is weer daardie tyd van die jaar. Die liggies brand, die kasregisters sing en die mense glimlag bolangs terwyl ´n medemens met die elmboog uit die pad geloop word, of op die skeen gestamp word met ´n tot boordens oorlaaide trollie in oorvol winkelgange. Christelik ongeskik?

En op Facebook bereik die gekla en gekerm nuwe hoogtes, soos elke jaar hierdie tyd. En vreemd genoeg is dit die Christen mense self wat hulle eie tradisies aanval en probeer aftakel. Sederd ´n paar jaar gelede is dit mode uit daardie oord om die gee van geskenke te kritiseer. Die geldgod, persoonlike assistent van die Duiwel, is beskuldig dat hy die Cristus uit Krismis gesteel het. Dus die soms histeriese wekroep; sit Christus terug in die Christus fees! Weg met die kasregisters!

003Dan wonder ´n mens; was dit nie die eerste ding wat destyds, volgens oorlewering, gebeur het by daardie krip in Bethlehem nie? Het die wyse manne nie geskenke gebring nie? En was dit goedkoop PicknPay plastiek goedjies? Handgemaakte houtspeelgoed of dolosse? Ek mag verkeerd wees, maar ek onthou van goud en mirre en duur olies en nog wat, nie onderbroeke en kouse of ´n sakdoek of das nie!

Ja, dit is ´n Christus fees en matigheid met die uitgee van geld moet gehandhaaf word, maar dit is ook ´n vreugde-fees en veral ´n kinder fees. Dit is in die opwinding van afwagting wat die vreugde van Kersfees vir kinders lê. Dit is daardie opwinding wat hulle belangstelling in die geestelike dimensie van die lewe prikkel, wat hulle in die kerk hou. Dit is die siel van Kersfees. Vat dit weg, maak dit ´n suiwer (oumens) Christusfees, ´n droewe kerklike instelling, en jy verloor die kinders, en uiteindelik die kerk wat reeds steier onder die verlies aan duisende lidmate, moontlik juis omdat die kerk al lank sy siel verloor het, want die kerk self word deesdae soos ´n besigheid bestuur. Die kerk self jaag eerder geld na as om siele te red, dis nou as hulle nie besig is om politiek te speel nie.

Die Christusfees vaandeldraers het reeds (saam met die ongelowiges en ateïste) daarin geslaag om kersliedere uit die winkels te verban. Nou is die nuwe aanslag uit daardie oord teen die nederige eeue oue tradisie van die kersboom. Daar bestaan glo nie iets soos ´n “Christusboom” nie, dus mag daar ook nie ´n kersboom wees nie. Wonder ek; is daar so iets soos ´n “Christus lied”, en ´n “Christuskoek  en mag daar dan iets soos kersliedere en ´n kerskoek wees? En watter sou die groter euwel wees; die kersboom of die krismiskoek waaraan die (dik) susters so gulsug weglê?008

Die boom pla die Christen woelgeeste, maar Anny Dillard skryf in haar boek “Pilgrim at Tinker Creek” pragtig oor “the tree with the lights in it”. Sy noem so ´n voorval, (moontlik die eerste opgetekende voorval van ´n boom met liggies in) waar Koning Xerxes van Persië, gedurende die opmars vir die finale veldslag teen die Grieke (479 BC by Plataea?) “halted his unwieldy army for days that he might contemplate to his satisfaction the beauty of a single sycamore.” ´n Boom wat onverklaarbaar skitter van lig. So beïndruk is Xerxes dat hy die goudsmit laat kom om die boom in ´n medalje te verewig sodat hy dit vir altyd om sy nek kan dra om hom elke dag te herinner aan die verstommende gesig van die boom met die liggies in.

Anny haal aan: “Pascal saw it. He grabbed pen and paper; he managed to scrawl the one word, FEU; he wore that scrap of paper sewn in his shirt the rest of his life. I don’t know what Pascal saw. I saw a cedar. Xerxes saw a sycamore,’ ´n wonderbare boom met ligte in.

Nog ´n opgetekende geval is die van ´n kind wat na ´n oog-operasie die verstommende gesig van ´n boom met liggies in beleef het. En dan natuurlik Anny Dillard self. Sy skryf: “Then one day I was walking along Tinker creek and thinking of nothing at all and I saw the tree with the lights in it. I saw the backyard cedar where the mourning doves roost charged and transfigured, each cell buzzing with flame.”

008Is dit die ware oorsprong van die kersboom? Het meer mense al die verskynsel van die boom met die ligte in beleef? Ek glo dat Xerxes en Dillard in ´n staat van diepe meditasie/kontemplasie verkeer het toe hulle die ondervinding gehad het. Die boom met die ligte in is ´n diep geestelike ervaring, dit is dalk wat die Buddhiste ‘Kensho’ noem en in die Katolieke tradisie as ´n “beautiffic experience” bekend staan.

As jy as Christen nie die vrede en vreugde, die heiligheid van die geleentheid van een van die grootste feeste van jou kerk in die eenvoudige liggies van ´n kersboom kan beleef nie, hoe gaan jy dit ooit kan beleef (en leef) daar op die markplein waar jy tussen “heidene” jou brood verdien? Die boom sal jou net pla as jy jou teen die boom as objek vas staar, as die simboliek en die misterie van kersfees by jou verby gegaan het. Die gejil teen die kersboom is dus nie ´n aanduiding van die diepte van jou godsdienstigheid nie, in teendeel, dit is eerder ´n aanduiding van geestelike onvolwassenheid, van godsdiens sonder siel. En van eiewaan, gedryf deur ´n misleide ego met drome van grootsheid en uitsonderlikheid, want kyk, ek is ´n groter Christen as jy met jou boom met die liggies in.

John Wu (The Golden Age of Zen) sê: “When all things return to the One, even gold loses its value. But when the One returns to all things, even the pebbles sparkle.”

008My wens hierdie kersfees is dan dat julle almal eendag die boom met die liggies in sal sien en beleef; in die veld, in jou tuin, in jou voorkamer waar die nagemaakte sneeu jou kersboom versier of waar ook al. Sien verder, sien dieper, sien jou Christus (of jou Buddha) ook in die bedelaar op die straathoek, in die opwinding in ´n kind se oë in die lig van ´n kersboom. Moet asseblief nie die kinders die vreugde van kersfees ontneem nie.

Geseënde Kersfees.

Jesus_022_small

 

Read Full Post »

Desember blues

Sie ek dat vyf WordPress blogers iewers raad gee oor hoe om Desember te oorleef. Dit help my veel.

Een vertel hoe jy jou kinders van Kersvader moet speen sonder dat die bloedjies erge trauma beleef. Help my niks, my kinders is lank reeds gespeen van daardie rooigeklede vetteman. Dit is dalk deesdae vir hulle `n probleem om hulle pa te oortuig dat Vader Krismis nooit regtig bestaan het nie. `n Mens kan wens, kan jy nie? Kyk wat het Vader Krismis vir Zuma gegee vir kersfees, `n hele dorp genaamd Nkandla!

Die ander bloger beveel aan dat jy party tot diep in die nag, maar dat jy jou gaste se motorsleutels wegsteek sodat hulle jou moet help om die huis weer aan die kant te kry, eers dan gee jy hulle sleutels terug. Klink na `n goeie plan, maar dit is gewoonlik nie nodig nie. Teen die tyd wat ons en ons gaste ons roes afgeslaap het, het die honde die vloere en die borde reeds skoon gelek en is dit weer gereed om vir ontbyt gebruik te word!

Ons leef in `n vreemde wêreld, en die kontras in leefwêrelde is seker nerens groter as in Afrika nie. Sommige se kerstafels kreun onder die kos en ander suig letterlik aan die agterste speen!

Afrika 219

Onthou ek die dag toe ek, skaars groter as die kannetjie hier bo (en nog sterk onder die indruk dat Vaderkrismis regtig is) van die verkeerde kant af aan `n koei se speen getrek het. Sy het my terstond tussen die oë geskop dat ek sterretjies sien. Dalk die dat die koppie op sy oudag van tyd tot so bietjie raas?

Durban 1970Wat nie een van die blogers aanbeveel ter oorlewing van Kersfees nie, is om weg te bly van die strande af. In 1970 het ons, komende van die plaas af, gedink die strand is op kersdag onleefbaar vol mense gepak. Jy het dit liewer nie daar gewaag nie.

People celebrate New Years Day on a beach in DurbanOns was toe verkeerd. Op kersdag 2012 het dit so gelyk. Ter wille van oorlewing bly ons nou by die huis. Net soms, so elke twee jaar, dink ons dit sal makliker wees om die stand aan te durf as om by die huis te bly, ook ter wille van oorlewing en dit het niks met Vader Krismis te doen nie!!

Geseënde kersfees vir julle almal wat hier kom inloer. Maak nie saak of jy Christen, Moslem, Jood, Buddhis, Shintoïs of ateïs is nie. Mag die dag vir jou vreedsaam, vol geluk en genade wees.

Jesus_022_small

Read Full Post »

Kersfees 2012

Kersfess

Kersfess

Is weer daai tyd van die jaar. Kersfees met al sy dolle aanhangsels en uitsteeksels van eet en drink, veral drink, en koop tot jy dood en afjaag see toe sodat jy dood moeg en brandarm die nuwe jaar kan aanpak.

Maar dan ook met so hier en daar ´n verposing, ´n asemskep, ´n genoegdoening wat die siel kan lawe en verkwik. Soms ook ´n tyd vir ´n nostalgiese terugtog na vergange se dae en kindwees toe dinge nog eenvoudig was en´n klein geskenkie ´n groot blydskap kon ontketing. Toe ´n middernag diens nog iets van die grootsheid en misterie van wees in jou kon roer en die mistieke, die anderwêreldse meer as net ´n moontlikheid was wat op die horison lê en wag het om te gebeur. Dit was ´n tyd toe Kersfees met opgehoue asem en ´n tinteling van opwinding  ingewag is deur kinders sowel as Vlekkie die foxterier wat kon aanvoel … hier kom groot pret.

Selfs die aankoop van kersgeskenke was iets opwindend waarvoor maande lank in die geheim beplan is; wat gaan vir wie gekoop word. Hoe en wanneer gaan dit gedoen word sodat die ontvanger van die geskenk nie sal ageterkom dat die koop nou gaan gebeur nie. Koop en toedraai en wegsteek was die aanloop-opwinding tot die gee, ontvang en oopmaak by die boom die aand voor Kersdag. Dit en die kersmusiek in die winkels, gemeng met dieopgewekte lag en gesels van die kopers wat skielik nie meer vreemdelinge vir mekaar is nie, maar medepligteges in, en bewaarders van sielsgeheime. Als in die gees van ´n heilige fees, ´n ware, vreugdevolle Christus fees, ´n fees vir kinders waarin ouers toevallige, entiesiastiese deelnemers word.

Nou is dit anders.In die winkels heers daar nou ´n morbiede, selfs skisofrene stilte. Daar is geen kersmusiek om die koms van die feesgety aan te kondig, om die siel te roer nie, want die “terug-na-Christus” brigade het ´n dawerende oorwinning oor “Jingle Bells” en “Stille Nag” behaal. ´n Verwoede aanslagl teen die koop van kersgeskenke duur nog onverpoosd voort. Op Facebookword kersvader knaend en onder groot gejuig onder die gat geskop. Stadigaan word alle kinderlike vreugde streng Christelik uit kersfees uit gewurg.

Kopers loop dikbek en ongeskik deur die rakke, koop verwoed en vreugdeloos, selfs teësinnig, duur geskenke. Ouers en kinders skel openlik op mekaar oor watter nuwe tegnologie teen watter prys as geskenk gekoop moet word. Van die heerlike vreugde en kinderlike afwagting, die opwinding van gee en ontvang, is daar geen sprake nie, ook nie van ´n versagting, ´n geestelike verdieping en meelewing nie. Die ou mites en verwagting is modernisties wetenskaplik “ontmasker”, verwerp en nietig verklaar. Tussen brutale godsdiens en siellose wetenskap, het Kersfees sy boodskap van hoop, vrede en vreugde verloor.

Nou dans ons hier op ons werf ons eie binne-dans van vreugde oor Kersfees. Ons versier ons eie beskeie kersboompie en hang ons liggies in die venster. Ons draai geskenke toe en deel dit aan tuinwerker, huiswerker, handlanger, kinders  en vriende uit. Vir die eerste maal in ´n baie lang tyd sien ek uit na ´n paar dae se uitspan by die see. Ons gaan rustig wees, ons gaan ons eie, beskeie fees van lewe en dood vier. Ons gaan eet en drink, ons gaan lag en dalk huil in die gees van ´n ware fees van geestelikheid en vleeslikheid, van hoop en glo en weet; Vader Krismis is ´n mite, ´n sprokie vir kinders ja, maar Kersfees is die poort  uit ons angstige vastigheid na vrye onsekerheid, van benepe vroomheid na die esensie van wat mootlik is, van wat kan wees en is.

Bring dan die wyn en die koek, speel vir my kersliedere. Laat die fees begin. Laat daar vrede en vreugde wees.

Geseën de kersfees aan almal wat hier lees. Mag 2013 vir julle goed wees.

En as 21 Desember dan die einde is, dan sien ons mekaar aan die ander kant????

Groete en ry versigtig.

Read Full Post »

Krismistyd

So is dit ook nou verby. Seker een van die minder aangename Kersdae in ons ganse lewens. Genadiglik lê die volgende een twee jaar in die toekoms in. Twee jaar is `n lang tyd en baie kan van hier tot dan gebeur. Ek meen, ek kan dalk net volwasse raak van nou tot dan, of ook draai en als as negatief en lelik en sleg sien.

Hoe en hoekom sal mens van `n ander mens wat jy van g’n kant af ken sê hy/sy is so lelik soos `n voëlverskrikker, of iemand op TV driftig aanpraat as lelik/vet/dom/armgat of wat ook al?

`n Ligpuntjie was die kinders se teenwoordigheid, vlugtig maar soos gewoonlik genotvol en rustig. Eet en drink en gesels. Op die oppervlak die keer, nie weer soos gewoonlik diep filosofies- bepeinsend, korswillend vooruitskouend en terugkykend nie. En bewustelik nie naby aan godsdiens en die dinge van die gees nie.

Op Kersdag??

Ma het les opgesê, meer as gewoonlik. Iemand het op ons krismis gepis. Nou herstel ons, lek ons wonde en beur die nuwe jaar tegemoet. As die Mayas reg was, dan was die een in elke geval ons laaste een. Mens sou wou dat dit `n goeie een was.

Kan mens “mooi” ou word? Mooi soos in om van binne goedheid, sagtheid, liefde uit te straal. Mooi soos in bedagsaam, medemenslik, verdraagsaam en rustig besielend te wees.

Of is dit maar ons lot om verbitterd, selfsugtig, hardvogtig en eisend te word soos die jare aanloop?

Byvoorbeel. Iemand wat ons ken is besig om dood te gaan weens kanker. Dis Desember, dis vakansie. Nie sy Pa of broers wil kom afskeid neem nie. Bel so nou en dan om te hoor of hy nog leef. Die man droom van weer opstaan en gaan werk. Wil loop om die uitgeteerde lyf weer op te bou. Ons veg en ontken tot die bitter einde toe.

Sou dit help om “Tuesdays with Morry” vir hulle te gee om telees?

En dan is daar die (erge Christen volgens eie getuienis) wat teen die neus af praat omdat jy probeer help waar jy kan. Stuur hulle weg, sê jy kan hulle nie help nie, hulle moet hulle self help. (WWJD?????) Fok!!

Nou wroeg Ma erg, maar sal nie ophou help waar sy kan nie, ongeag stand, ongeag geloof, ongeag kleur, ouderdom of wat ook al. Selfs al is die wat moet gehelp word hardkoppig, of dom of te slim vir hulle eie gesondheid.

Nuwe jaar lê twee dae weg. Ons sal dit rustig en alleen vier. Ons sal wat verby is agter ons sit, dalk met behulp van Prozac of `n paar glase Rooi en dalk die jaar ernstig aan die siel begin werk. Mens mag nie toelaat dat jy sõ oud word nie, nee magtig man! Jy moet die kinders en die honde se gevoelens ook mos in ag neem.

 

 

Read Full Post »

Older Posts »

%d bloggers like this: