Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Rooiwyn’

Naweek

Funny 74

Gelukkig is dit amper naweek. Sodra die son sak Vrydag en die bottel rooiwyn verbykom sal ek opstaan en weer begin lewe!

Advertisements

Read Full Post »

Buurman en Lady Di

Het toe weer ´n draai by Buurman gaan maak. Omdat die vorige besoek kort duskant die blatante skending van (my) menseregte en persoon geëindig het, met my wat huis toe hol en Buurman wat so in die hol dreig om die braaivurk in my hol op te druk, het ek vir ´n maand lank draaie om sy voorhek geloop.

Kon toe ´n besoek aan hom nie langer uitstel nie omdat Ma begin dreig om dieselfde met my soldeerbout te doen (vooraf verhit tot duskant rooiwarm) as ek nie oorstap en Buurman se elektriese boor te gaan leen sodat ek gate in die muur kan boor vir ´n potret van ´n afgestorwe hond of iets van haar wat sy wil ophang (kon ´n prent van oupa of ouma ook gewees het).

Met ´n bottel goeie rooiwyn in die hand as vredesgebaar (of as wapen ter selfverdediging as die offer nie aanvaar word nie), stap ek toe oor terwyl Ma my met die soldeerbout van ons voorhek af staan en aanmoedig.

Vind ek Buurman toe heel rustig op sy agterstoep waar hy in die koelte sit, besig om sy hans duif met broodkrummels te voer. Is ´n geringde vliegduif wat een dag doodmoeg op sy stoep kom sit het om te rus en toe net nooit weer verder gevlieg het nie, inderdaad nooit weer gevlieg het nie. Loop te voet waar sy wil wees.

“Ek sien jy bring vir my ´n ou botteltjie vreugde,” groet hy uitgelate toe ek versigtig om die hoek loer met die bottel armlengte voor my in geil aanbod van vrede. “ Moet nie net daar staan nie. Loop haal vir ons glase en kom sit.”

Ek merk dat sy een been in gips is en daar ´n dik verband om sy kop is. Een oog is ook toegeplak. Ek gaan haal die glase en skink mildelik terwyl ek onderlangs loer om seker te maak daar is geen braaivurk in die omtrek nie.

“En dié,” vra ek so met die gaan sit en beduie na die been en die kop. “Moeilikheid met die vrou opgetel?” vra ek en berou die ondeurdagte vraag onmiddelik. Gedagtig aan my vorige noue ontkoming na so ´n persoonlike vraag, maak ek gereed om op te vlieg en weg te hol.

“Nee,” sê Buurman gemoedelik. “Nee, die Vrou is goed vir my. Geen probleme in daardie departement nie dankie. Ek het van die leer af geval.”

“Nou hoe de joos …” vra ek ontstig en ook effe verward. Hy het nog laas vir my vertel sy vrou slaan hom!

“Was besig om vir hierdie vriend van my … “ en hy beduie na die voetganger duif, “ ’n huisie daar teen die muur op te sit toe die leer agteroor omvoeter. Gelukkig was dit langs die swembad. Val ek gat oor kop die water in. Swembad amper leeg,” lag hy.

“Jou been gebreek?” vra ek en gooi nog wyn in sy glas. Moet die skok van die val wees wat hom laat vergeet het van my vorige besoek, dink ek so half skuldig maar dankbaar.

“Nee, niks gebreek nie, nie toe nie. Die gemors het gekom toe ek van die dak af geval het.”

“Nou wat de duiwel soek jy op jou ouderdom op die huis se dak?” vra ek onthuts. Die man het immers byna  sewentig somers agter die blad. So tussen deur wonder ek of hy dalk tog vir sy vrou gevlug het.

“Vrou kla al maande dat die dak lek,” sê hy en hou sy glas vir nog wyn. “Toe klim ek op die dak. Maar jy weet mos ongelukke kom in drie’s. Net toe ek bo is skop ek per ongeluk die leer om. Probeer nog gryp en keer toe gly my voet en ek rol so half in stadige aksie teen die skuinste af en ek weet hier kom groot moles. Voete gly oor die rand van die dak en ek skreeu soos ´n vroumens in kraam, sê ek jou. Ek klou verbete, maar toe die voete oor die kant gaan was daar nie keer nie,” sê hy en gooi nog krummels vir die duif.

“Ek kry toe gelukkig die rand van die geut beet. Hang soos ´n bleddie vink daar aan die dak tussen hemel en aarde. Nog ´n kaalgat vink ook, want so met die hang sak my broek af tot op my skoene. Help ook nie ek roep om hulp nie want die vrou is weg winkels toe. Toe laat los ek en val my gat af. Die grond was gelukkig losgespit en die val dus nie te erg nie. Ongelukkig was dit die roostuin waarin ek beland het. My vrou se geliefde Lady Di boompie in sy moer in. My agterent vol dorings, broek en hemp erg geskeur, enkel verstuit, knieg beseer en die kop hard teen die tuinkabouter gestamp. Maar dit kon erger gewees het. Ek kon op my vrou se duur Nataniël roosboom geval het, dan was ek dood sê ek jou, morsdood vrek! Dit sou sy my nooit vergewe het nie.” sê hy ernstig.

“En die oog, het die roosboom jou oog ook beskadig?” vra ek terwyl ek steeds wonder of sy vrou hom nie so aangerand het nie.

“Is die derde onheil wat my tref. Jy weet mos daai siekte wat ek lank terug in my oog gekry het, daai roos … roos, jingles of bingles?” soek hy na die woord.

“Jy bedoel die gordelroos, shingles,  wat jy ‘n jaar terug in jou oog gekry het?” help ek hom reg.

“Einste,” sê hy. “Die ding pak my toe mos weer uit die bloute uit. Dokter sê dis van al die opwinding,” sê hy nou so half blymoedig onder invloed van die wyn.

“Jy bedoel, spanning,” sê ek. “Spanning veroorsaak gordelroos, so vermoed die dokters. Nie opwinding nie.”

“Ja, ja,” sê hy. “Wat ook al. Ek is mos nou onder ´n uroloog. Hy sê ek het soster.”

“Moet ´n viroloog wees, nie ´n uroloog nie,” sê ek. “Uroloë werk met jou blaas. Gordelroos word veroorsaak deur Herpes zoster, dis ´n virus, dus sal ´n viroloog na jou moet kyk.”

“Wat ook al,” sê Buurman vrolik. “Ek was laasweek by hom. Hy het sewe soorte bloed uit my getrek. Ek het die buise getel. Vra ek hom of hy die LPT toets op my gaan doen. Jy ken die LPT toets?” vra hy met die volkel van Bachus in die oog.

Hy wag nie vir ´n antwoord nie, maar bulder; “dis die longe, poeph ….”

“Ja, ja ek weet,” val ek hom in die rede. Mens het ook mos skaamte. Wat moet die bure van ons dink as hy so aangaan!

“Maar hy sê hy gaan toets vir Aids en vir geelhond-luiskoors en varkmasels en nog blouwille-boeppenskoors ook. Hy dink hy is snaaks. Dokters behoort nie snaaks te wees nie, nie eers monoloë nie,” sê hy uitgelate.

“Viroloë,” sê ek.

“O ja,” sê hy, “nou onthou ek. Monoloë het met seks te doen.”

“Nie wat ek van weet nie,” sê ek effe oorbluf. Die man se gedagtegang is erg dwalend vandag. Moet die gevolg van die stamp teen die kop wees, of dalk maar net die wyn wat hy soos water drink.

“W-a-a-g-i-n-a M-o-n-o-l-o-ë” sê hy stadig en uitdruklik en tot my verdriet.

“Ja goed,” sê ek. “Praat net sagter, jou buurvrou kan jou hoor!” probeer ek die skade beperk. “Dit het niks met dokters te doen nie. Is ´n klomp skaamtelose vroumense wat oor hulle onnoembare onderdele in die openbaar praat.” Maar niks sit Buurman vandag af nie. Hy stoomroller voort.

“Hy vra my toe allerhande simpel vrae. Vra of ek baie sweet in die nag. Sê ek vir hom ja, so een maal per maand as ek gelukkig is!”

Hy leun oor na my kant toe en gee so ´n lang konspirerende leepoog knip terwyl hy uit die kant van ´n skeefgetrekte mond fluister; “as jy verstaan wat ek bedoel.” En hy lag so hu-hu-hu.

“Maar dis  nou ´n gebodder. Ek steur my mos nie aan wat met my lyf aangaan nie. As jy dit eers begin doen, dan vreet die doktersgelde baie gou jou bankrekening leeg en het jy niks om vir die drankwinkel om die hoek te gee nie, en dis baie sleg vir jou gesondheid. Jy lewe dalk langer, maar wat is ´n lang lewe werd sonder die plesier van rooiwyn en Johny Walker?”

“Hoe ook al,” sê hy en hou sy glaas vir nog wyn. “Nou vind ek uit ek sweet in die nag, en sommer in die dag ook. Dit stroom tydig en ontydig soos water van my af. Ek weet nie of dit nou is omdat ek meer oplet nie, en of dit dalk die dokter se medisyne is wat dit veroorsaak nie. Miskien is dit ook maar net oor die angstige afwagting vir die rekening wat hy gaan stuur.”

“Sien jy nou,” sê hy ernstig. “Ek was blakend gesond gewees tot ek by die dokter was. Nou is ek skielik siek.”

“Maar jou oog was ….” begin ek hom wys op al sy skete, maar hy luister nie. Val my dwars in die rede.

“Is soos laas met die rugpyn. Na behandeling was ek sieker as voor die behandeling, en vir jou inligting,” sê hy nou baie driftig aan my, “Vir jou inligting, daardie enema het toe gewerk soos dit moes en nie soos jou perverse gedates dit bedink het nie!”

Hy is nou skielik boosaardig kwaad en toe ek sien sit hy daar en swaai ´n braaivurk in die lug rond.

“Stadig nou,” paai ek terwyl ek die vinnigste roete hek toe bedink. “Jy gaan jou been skade aandoen. Sit dood stil, ek gaan haal vir ons nog wyn,” sê ek senuweeagtig terwyl ek opstaan en agteruit hek toe beweeg. “ Dit was in elkgeval net ´n ou grappie gewees. Niks ernstig nie. Kalmeer, die opwinding is nie goed vir jou oog nie,” was my laaste woorde aan Buurman voor ek in trurat om die huis se hoek  verdwyn.

“Ek dog jy sêspanning doen niks aan my oog nie!” skreeu hy my agterna.

Ma was toe baie kwaad oor ek sonder die boor by die huis aangehardloop kom.  Sy verstaan nie van lewensbedreigende bure nie. Sê die man is so sag soos ´n groot teddiebeer. Onskadelik.

Wel , ek het nuus vir haar. Sy kan self loop en die boormasjien gaan haal. Ek mors nie weer ´n goeie bottel wyn op ´n ondankbare buurman nie. Teddiebeer of te not.

Read Full Post »

Die bose Hitler

Nou ja, laat ek die bottel rooiwyn nader trek voor ons hierdie gewigtige sake aanpak.. Robertson Winery, Ruby Cabernet 2008 is al wat ek op die oomblik het. Was 2008 ‘n goeie oesjaar emil? Ek ken my wyne so goed as wat ek my Bybel ken. Moes seker die bottel nog ‘n paar jaar laat verouder het? Kan ‘n mens goedkoop wyn laat verouder? Het ‘n paar ou Bybels hier, en ‘n Koran, maar dit wil nie beter word soos dit ouer word nie.

Sal maar by koffie hou vanaand. Mens moet die gewigtige sake nugter aanpak.

Nee flippiefanus, die storie is nie gebasseer op iets uit die Bybel nie, nie eers as jy die Bybel oppervlakkig interpreteer nie. Baie kerkmense wat ek ken sal dit inderwaarheid as lasterlik beskou.

Rosalind, soos ek dit verstaan is panteisme kortweg die geloof dat God in bv. ‘n boomstomp is en jy kan dus tot die boomstomp of ‘n klip of ‘n dier bid want dit is god. Panenteisme daarenteen sê dat God in alles teenwoordig is. God is alles en alles is God. (Wees in My soos Ek ook in julle is ens.) Eensydig, anekdoties van iets? Eina.

Ek dink die Hitler ding het ons so effe ontspoor. Kom ons fokus op die kern van die anekdotiese, eensydige opinie van die iets.

Jy hoor die vliegtuig wat oor jou kop gaan emil. Stel jou nou voor jy is ‘n alwetende, alomteenwoordige, almagtige en verskriklik liefdevolle god. Jy weet wat in die vliegtuig is want jy is alwetend. Jy weet waarheen dit op pad is en watter gemors dit gaan veroorsaak en jy gaan daar wees want jy is alomteenwoordig. En nou is jy so liefdevol dat jy kan bars. Wat gaan jy doen? Wat, volgens ons eenvoudige, dom menslike moraliteit is jy veronderstel om te doen? Gaan jy toekyk en die pragtige, kokende mushroom bewonder, of gaan jy jou almagtige hand opsteek en die vliegtuig uit die lug uit vat, opfrommel en in die snippermandjie gooi?

Die storie (nie ‘n anekdote nie Rosalind!) word vertel van Jode in ‘n konsentrasiekamp in die 2de WO. Hulle het ‘n formele hofsaak aanhangig gemaak teen hulle almagtige, alwetende, alomteenwoordige God. Hulle het Hom aangekla van volksmoord. Aan die einde van die saak het hulle Hom skuldig bevind soos aangekla maar voor hulle Hom kon vonnis was dit tyd vir hulle daaglikse gebed. Die hofsaak is toe onderbreek en hulle het gaan bid tot die God wat hulle so pas skuldig bevind het aan die uitwissing van Sy eie uitverkore volk. Daar is toe nooit ‘n vonnis opgelê nie.

In hierdie eensydige, anekdotiese opinie van iets gaan dit nie oor Hitler of enige moroon wat hom skuldig maak, gemaak het of nog gaan maak aan koelbloedige moord op ‘n medemens nie. In hierdie skrywe probeer ek my bes om God onskuldig te maak aan alle gruwels teen die mensdom, teen alle dinge wat ooit was en sal wees tot in die ewigheid.

Ek stem heelhartig saam met alles wat Die Piesangverkoper sê. Rykdom, mag, geweld en selfs nie al die kennis in die wêreld kan jou gelukkig maak nie. Dit is egter nie net Hitler wat sy lewe lank ongelukkig was nie. Iemand het iewers geskryf “most people live their lives in quiet desperation” Sartre dalk?

Miskien probeer ek desperaat om ontslae te raak van die ou geïndoktrineerde Christen beeld van Die Ou Man met die wit baard wat iewers in die hemel op sy troon sit met ‘n donderblits in die een hand en ‘n sambok in die ander en wat veronderstel is om goed te wees maar ooglopend nie is nie.

Ek probeer ‘n godsbegrip daarstel waar God nie in die beskuldigingsbank hoef te staan nie, maar wat vir my ‘n aanvaarbare oplossing bied vir die onverklaarbare.

Miskien sal die laaste aflewering ‘n katarsis bewerkstellig.

Miskien lê die oplossing by die Dansende Wu Li Meesters?

Ek weet flippiefanus, “ons ken ten dele en eendag van aangesig tot aangesig” en so aan, maar dit maak my rasend, net soos die ‘inherente boosheid’ van die mens “in sonde ontvang en gebore.” Dit maak God impotent.

Read Full Post »

%d bloggers like this: