‘n Monument vir ‘n Skaapboer:
Na oom Jan se begrafnis is ons huis toe, ek en Pa. Die son was al lank onder toe ons by die huis aankom. Bo die horison in die weste het die Maan soos ‘n groot goue skyf gehang en die Karoo-landskap helder verlig, ‘n perfekte spieëlbeeld van die Maan se oppervlakte, het ek my altyd verbeel op sulke aande.
Ek het gewag tot Pa in die bed was en ek hoor hoe hy begin snork voordat ek, soos met elke volmaan sedert haar dood, die veld in geloop het na my ma se graf toe. My pa mag nie weet dat ek na haar graf toe gaan en dan die hele nag daar langs die graf bly sit en met haar gesels nie. Ek vertel altyd vir haar alles wat van die vorige volmaan af gebeur het. Daardie aand het ek vir haar van oom Jan vertel, oom Jan Vark soos ek nou vir ewig aan hom sal dink.
Maar Pa sê net swakkelinge lewe saam met die dooies en die Karoo haat swakkelinge. Die sterkes, die manne, word deur die Karoo verhef tot helde, tot uitverkorenes selfs in die dood … veral in die dood dink ek soms wrewelrig.
Oom Tewes was so ‘n uitverkore kind van die Karoo. Hy is daar gebore, is deur die meul van die Karoo se snerpende winters en haar versengende somers gemaal en gebrei tot rateltaai onverbiddelike Boer wat die onverbiddelike natuur (en sy medemens) die stryd aangesê het in sy wil tot oorlewing. Geen droogte of vloed of vrektes onder die vee of tweede wêreldoorlog, of enige oorlog sou hom onder kry nie. Miskien is dit juis daarom dat sy dood, en meer bepaald die manier waarop hy aan sy einde gekom het, so tragies was.
Roofdiere het hy met ‘n passie gehaat en hulle gejag met ‘n bloed lus wat gegrens het aan ‘n perversie. Veediewe en verteenwoordigers van mutli-nasionale maatskappye het hy ewe veel verpes en hulle het sy plaas vermy soos die pes. En ‘n dooie skaap was vir hom ‘n abominasie, ‘n persoonlike vernedering, ‘n klad op sy naam as voortreflike, ongeëwenaarde Karooboer. Hy het geen tyd gemors met dooie skape nie. Geen veearts is ingeroep om te kom kyk waarom ‘n skaap gevrek het nie. Elke dooie skaap is onmiddellik van die veld verwyder en in ‘n diep rotsskeur tussen die koppe op die uithoek van die plaas gegooi. Daar was gerugte dat veediewe wat hy betrap en geskiet het ook in die put beland het.
Oom Tewes was ‘n uiters suksesvolle boer met sewe plase en duisende mofskape, en nie baie vriende nie behalwe die predikant aan wie se kerk hy elke maand mildelik en ruim meer as sy tiende gegee het. Oom Tewes se vrou was ‘n saggeaarde Karoo kind wat haar plek geken het … in die huis, in die kombuis besig om vir haar man en kinders te sorg soos dit ‘n ware boervrou betaam. Sy het hom nooit een maal in haar lewe teengegaan nie. Almal het gedink dit was omdat sy bang was vir hom, maar waarheid was, so bruusk en onbeskof as wat hy met alles en almal om hom opgetree het, net so teer en sag het hy sy vrou behandel. Hy het haar letterlik verafgod en haar meer male laat belowe dat sy hom nooit ooit sou verlaat nie, want hy kon nie sonder haar lewe nie. As sy siek was was hy siek en het hy letterlik dae aaneen langs haar bed bly sit sonder om te eet.
En toe beek daardie verskriklike dag aan. Oom Tewes was toe tagtig jaar oud en nog sterk genoeg om honderd te haal. Maar die noodlot het ander planne gehad met oom Tewes en nie een van daardie planne het die ouderdom van een honderd lewensjare ingesluit nie.
Sy skape het op ‘n streep begin te vrek en hoe meer die skape vrek, hoe woedender word hy. Ek en Pa was daar om te help. Pa was bekend daarvoor dat hy enige siek dier, van hoenders tot kamele, van honde tot mofskape en sommer so tussen deur nog ‘n siek plaaswerker ook kan reg dokter. Daar was niks, het hy altyd gesê, wat jy nie met ou motorolie, DDT, terpentyn en daardie blou NMB pille kan reg dokter nie. Vir die wis en die onwis het hy soms selfs ‘n bietjie arseen ook by die konkoksie ingemeng. Ek vermoed dat Pa daardie dag meer skape dood gedokter het as wat hy gered het.
Met elke vrag skaap waarmee oom Tewes by die diep rotsskeur stilhou en die werkers hulle een vir een in die gat afgooi, brul hy ten hemel soos ‘n woedende leeu. Hy tier teen die Karoo wat geen genade ken nie. En toe gebeur die ondenkbare. Toe die plaaswerkers te stadig werk na sy sin, gryp oom Tewes ‘n dooie skaap al skellende aan die agterpoot om dit in die put te gooi maar hy verloor sy balans en hy val, en so verdwyn hy saam met die skaap die donker gat in.
Ek het reg langs hom gestaan toe hy val. Ek het hom hoor skreeu tot hy die bodem van die gat tref. En toe is alles stil, en toe hardloop ek na my ma toe, na haar graf toe, vyf myl vêr sonder om een keer te rus.
Die bure het probeer om oom Tewes te red maar alle pogings het misluk. Die skeur was te diep en die stank van verrottende karkaste was so erg dat niemand dit in die skeur kon waag nie.
Uiteindelik is alle pogings om oom Tewes te red laat vaar. Daar was in elk geval geen kans dat hy op sy ouderdom die val en die giftige gasse onder in die gat sou oorleef het nie. Dominee het ‘n gedenkdiens in die plaashuis gehou en later is daar ‘n betonblad oor die skeur gegooi en ‘n grafsteen (eintlik ‘n monument) is toe ter ere van die groot kind van die Karoo daar gebou.
Pa sê die Karoo verdra nie swakkelinge nie. Dit skyn ook te wees dat hy nie geduld het met die Klaas Pofadders van die wêreld en hulle bendes veediewe nie, en nou wil dit voorkom asof hy uiteindelik ook sy geduld verloor met dié van sy kinders wat hom openlik uitdaag? Wat sou die beste einde wees in ‘n vergeefse stryd teen die moordende Karoo; ‘n koeël-dood, miergif of ‘n gat met verrottende karkaste? Nie asof die Karoo ‘n mens juis ‘n keuse gee nie; hy vat wat hy wil, wanneer hy wil.
Pa sê as jy ‘n ware kind van die Karoo is gee jy nie om hoe jy in haar boesem beland nie, hoofsaak is dat jy daar in die geliefde grond, waar die erdmannetjies in die oggendson bak, begrawe sal word, dat jy die siklus van Karoo stof tot Karoo stof sal voltooi. Die vraag is, sê Pa en hy kyk my reg in die oë; die vraag is of jy dit in jou het om te bly, of gaan jy soos ‘n lafaard weghardloop, jou trotse erfenis vir ‘n pot lensiesop gaan weggee daar in die stad, in Sodom met sy klater goud?
Fots deur Hannelie.
Stunning!
Dankie! Ek sal vir die polisieman gaan sê jy het sy storie geniet. Die opvolg is op pad (as ons net daardie verdomde meerkat se naam kan kry!)