Die Polisieman:
Mense dink dit is ‘n grap, maar Pofadder is ‘n regte plek, ‘n dorp kan jy amper sê as ‘n paar straatligte en ‘n winkel of twee in die dorre woestyn ‘n godverlate plek ‘n dorp kan laat word. Dit is die gatkant van die wêreld waarheen aasvoëls gaan om te gaan vrek en waar die Koi-San Klaas Pofadder en sy vee-rowerbende in iewers in 1875 vasgekeer en vermoor is en waarna ander aasvoëls, die met die lang swart manelpakke met die Bybel onder die arm daar ingetrek het en die plek toe ‘n “beskaafde” dorp geword het.
Maar, sê die mense wat daar bly of gebly het; Dit is die plek wat murg in jou pype sit, wat van seuns mans maak. As jy Pofadder oorleef het, sê hulle, is daar niks wat jou ooit sal onderkry nie (iets wat Klaas Pofadder, as iemand wat dit nie oorleef het nie, natuurlik heelhartig sal beaam). Hulle sal jou vertel dat die mees geharde boere in die land daar bly en dat van die land se beste Polisiemanne daar gebore is. Sout van die Aarde mense is dit wat daar gemaak en tot mens gevorm word. Van sand kan jy hulle niks vertel nie, en nog minder van droogte en mofskape wat vrek op strepe. Hulle ken dit, hulle leef dit elke dag. Dit is ‘n wêreld van en vir manne, harde manne. Vrouens is net daar om kos te maak vir die manne, en om ‘n paar ander onbelangrike dinge te doen waarvoor mans nie tyd het nie, en natuurlik vir ….
Ons Polisieman kom van daardie wêreld af. Twee en tagtig jaar gelede is hy daar gebore toe die eerste wêreldoorlog begin het (terloops, sy geboorte het natuurlik niks daarmee te doen gehad dat die oorlog uitgebreek het nie). Ons storie volg sy spoor van arm kaalvoet skaapwagter, deur die na-oorlogse depressie jare, deur die brutale Sharpeville slagting tot afgetrede polisieman. Van die dorre Karoo tot in die stad van goud.
Hy gaan haal grepe uit jy lewe so stuk vir stuk soos hy dit onthou en stal dit as’t ware trots voor jou uit – kyk, sê hy vir jou, dit is ek, dit is wie ek is … vir ewig kind van die barre Karoo.
Die lewe op Pofadder ontsien jou nie, nie eers as jy ‘n kind is nie. Die noodlot lê jou voor soos ‘n pofadder, gereed om toe te slaan as jy dit die minste verwag, soos die oggend saam met Pa van die plaas of met die donkiekar op pad dorp toe, kerk toe. Die dorp is ver van die plaas af daarom word kerk besoeke beperk tot Nagmaal en begrafnis. Jou naaste buurman se huis is ‘n uur se ry te perd van jou af en jy kuier eintlik net by hom as siekte of dood ook daar besoek aflê.
Jy ry by oom Jan, die naaste buurman se huis verby op pad kerk toe. Daardie Sondag lê daar iets op oom Jan se stoep in die vroeë oggendson, dit lyk soos ‘n groot swart vark. Pa vind dit vreemd want hy weet oom Jan hou nie van varke nie. Hy rem die donkies tot stilstand en sê my aan om die leisels te vat sodat hy kan gaan kyk wat aangaan. Hy stap huis toe. By die vark staan hy lank stil. Daar is iets vreemds, iets onheilspellends aan sy stilstaan, maar sy praat daar langs die vark is nog meer ontstellend as sy stilbly, dit laat rillings deur my ruggraat afgly as hy my aansê om net daar op die donkiekar te bly sit en nie nader te kom nie.
Maar dit is nie vir my nodig om nader te gaan om te weet wat aan die gang is nie want hoe langer ek na die vark kyk, hoe meer verander die vark in iets grotesk, iets afstootliks. Voor my oë verander die vark in ‘n reuse swart-groen, opgeblase mens oortrek en omgewe met groot groen brommers wat soos bye om hom swerm. Toe die ligte wind in my rigting draai en die reuk van verrotte vleis my tref, kots ek met ‘n boog oor die donkies se stertkante.
Oom Jan was al ‘n paar dae dood voor ons hom gekry het. Vermoedelik ‘n hartaanval het die dokter later gesê. Ons het hom laatmiddag toe die son sak, daar op sy werf begrawe, net ek en Pa en die dominee en die twee bejaarde plaaswerkers, wat die gat onder ‘n skreiende warm son en steen-hard gebakte aarde gegrawe het.
In die verte het ‘n fisant op ‘n miershoop gestaan en roep na sy maat. Ek het saggies begin huil omdat die lewe in die Karoo vir my so verskriklik mooi en goed was, en omdat die kis en die streep rysmiere tussen die yl gras my aan my Ma laat dink het … en aan miergif. Die Karoo verdra nie swakkelinge nie. Net die sterkes oorleef hierdie droogte geteisterde, onverbiddelike barre aarde.
Volgende aflewering: “Die Jood op die ashoop” en dan “Boer in die put”
Sjoe, wat ‘n storie. Is dit waar? Die arme kind as dit is.
UITSTEKENDE vertelling!
Was die “sy se stilstaan ‘n vinger fout on ‘n Freudiaanse glips?
Dr Christa my stories loop maar altyd so ‘n tree agter die waarheid. Die Polisieman is die waarheid. Sy storie vleg so tussen waarheid en verdigsel.
Ek is bly jy het dit geniet.
VVO ):o
Waneer kom die volgende boek!
Die stories is klaar geskryf. Die geld om die boek te maak ontbreek.