Die slang in die put.
Dit was nie lank na oom Tewes saam met sy dooie skaap in die gat beland het nie, dat ons konstabel self (in sy eie woorde) “amper sy gat gesien het”.
Dit het so gebeur; op hulle werf is daar jare gelede ‘n put gegrawe vir drinkwater vir die huis en vir vee. Die gedoente was soos alle putte toegerus met ‘n katrol, ‘n tou en ‘n emmer. Jy laat sak die emmer aan die tou met ‘n katrol die gat af, skep die emmer vol water en katrol dan die emmer met water weer boontoe.
Met tyd syfer moderne tegnologie stadig maar seker tot in hierdie uithoek van die wêreld en die windpomp verdring die emmer-in-die-put tegnologie, maar nie sonder dat die Kerk heftig daarteen beswaar gemaak het nie. Die redenasie was dat dit goed en reg was om ‘n put te grawe om water onder uit die Aarde se ingewande te gaan skep want Jesus het self so sy dors geles. Maar om ‘n gat te boor met ‘n masjien en dan ‘n windpomp te gebruik om water uit die gat te pomp was om God se water te steel.
Ons konstabel se pa het die probleem met die kerk omseil deur sy windpomp bo op die put se bek staan te maak. Dit was steeds ‘n put en die windpomp het maar net die emmer en katrol sisteem vervang. Hy het die saak met sy Skepper uitgeklaar, het hy vir die dominee gesê, en daar was geen teenkanting van Bo af teen die vindingryke plan nie.
En toe lol die windpomp. Die wind waai, die windpomp se wiel loop, maar daar kom geen water by die pype uit nie. ‘n Plan moes gemaak word om te gaan kyk wat verkeerd is onder in die put, en die plan was … ons konstabel wat toe nog nie ‘n konstabel was nie maar net ‘n blote kind. Die pa se plan was om die kind, omdat hy die kleinste mens op die werf was, in die emmer waarmee water altyd uit die put geskep was, te laat sit en die kind dan in die put te laat afsak sodat hy kan gaan kyk wat verkeerd is.
Dit was nie asof die kind ‘n keuse gehad het oor of hy in die put wou afgaan of nie wou afgaan nie. Pa sê jy is ‘n kind van die Karoo en ‘n kind van die Karoo is nie bang nie, en as Pa sê jy gaan die put af met die emmer, dan gaan jy die put af met die emmer of jy bang is of nie.
En so is die kind die donker dieptes van die put af laat sak, bewend en bleek van bang. En soos sy oë die donker gewoond raak, sien hy dieper die put af tot by die water … en toe skreeu hy blou moord daar uit die dieptes uit. Slang, skreeu hy. Trek my op daar is ‘n groot slang in die water, skreeu hy.
“Hoe kan daar ‘n slang in die water wees” skreeu sy pa daar van bo af, “jy is ‘n bang gat. Kalmeer jouself en kyk wat is fout met die pomp voor ek jou nerwe aftrek” maar die werkers trek die kind so vinnig as wat hulle kan boontoe want hulle hoor en verstaan die angs van ‘n kind onder in ‘n donker put.
Net toe die pa die kind aan die oor wou beetkry om hom weer in die donker put af te stuur, daag die ou Joodse smous mister Cowen (of dan wel mr. Clown soos die pa hom altyd noem) met sy gehawende stasiewa waarmee hy een maal per jaar die plase in die omgewing besoek om sy ware (egte geweefde matte uit Persië, vroue onderklere uit Parys, speserye uit Indië en 100% Vodka uit Rusland lieg hy onbeskaamd) te verkwansel daar op en soos hy aangestap kom trap hy die pa van die kind uit: “No mister Markata, what are you doing! Vir wat mishandel jy die kind so? Los sy oor uit, hy is nie ‘n hond nie!” Die naam Markata waarmee hy die Pa altyd aanspreek is moontlik maar net sy manier om meerkat se sê. Die Pa is dus meneer Meerkat en verwys dalk na die Pa se weersin in meerkatte waarop hy tydig en ontydig jag maak. Die moontlikheid bestaan ook, gegee die twee se wedersydse renons in mekaar, dat die naam eerder verwys na die Sanskrit woord “markata” wat aap beteken. Daar bestaan geen moontlikheid dat meneer Cowen met die naam Markata verwys na die Egiptiese naam Markata wat die esoteriese naam vir die songod Amun Ra is nie.
Toe die pa vir hom die storie van die “kamstige” slang in die put vertel loop hy na sy kar toe en gaan haal ‘n groot spieël onder ‘n hoop komberse uit. Met die spieël loop hy put toe en weerkaats die sonlig in die put af.
“Daar,” sê hy triomfantlik vir die pa “is jou ‘kamtige” slang, ‘n knewel van ‘n rinkhals in die water mister Markata!” Die pa brom omgekrap iets oor’ hoe die d*** het die slang in die put gekom’, en ‘bring my haelgeweer dat ek die ding kan vrek skiet’ toe mr. Cowen hom weer in die rede val: “Why is it that I must come all the way from the City to teach you how to farm? Wil jy die slang doodskiet en dan weer die water drink?” vra hy ontsteld, want hy sien al klaar hoe die pa se kop werk: Skiet slang – stuur kind die put af om die dooie slang te gaan haal – probleem opgelos!
“Nou hoe wil jy die slang uit die put haal mr. Clown?” snou die pa die handelsreisiger toe.
“Bring vir my daardie dooie karoobos daar,” beduie hy. Die bos is groot genoeg om omtrent die hele opening van die put van kant tot kant toe te maak. Hy maak die emmer los van die tou af, bind die bos aan die tou vas en laat sak dit die put af. Toe die bos die water raak seil die slang dadelik die bos in.
“Quidquid recipitur ad modum recipientis recipitur.” sê Richard Rohr. Wat hy bedoel is; ons sien dinge nie soos dit is nie, ons sien dinge soos wat ons is. Dit laat ‘n mens wonder: Hoe is die Jood en hoe is die Meerkatman? En waarom kyk die meerkatmens in ons almal altyd neerhalend af op die Jood of enige iemand wat nie “ons” is nie?
Toe die ou smous begin om die karoobos met die slang uit die put uit te trek hardloop al al die omstanders, met die pa heel voor, dat die stof staan om weg te kom. Die kind het die tou gevat en mr. Cowen gehelp trek om die bos en die slang weer uit die put te kry. Toe die punt van die bos bo die muur van die put uitkom het die slang vinnig af grond toe geseil en toe koers gekry veld toe in die rigting van die eensame graf teen die rant. Die kind het gemik om ‘n klip op te tel om die slang dood te gooi, maar mr. Cowen het sy kop geskud; “Let it be my son. There is a place and a purpose for all God’s reatures under the sun, the good and the bad. Die vraag, sal jy eendag uitvind is; wat of wie is goed en wat of wie is sleg. Is daar goed en sleg of is dit … but don’t you worry, let’s go get you some sweets and sell some goodies to mr. Markata. Hy moet my betaal vir die spieël wat hy laat val het in sy haas om weg te kom van die put af,” sê hy en lag uitgelate.
Daardie aand was dit weer volmaan en die kind het weer na die graf toe gegaan. Toe hy naby die graf kom het hy iets blinks in die maanlig op die graf sien beweeg. Toe hy nader gaan het die slang sy kop bak gemaak, sy lyf ‘n halwe meter bo die grond opgelig en stip na die kind gekyk met daardie inkswart ogies van hom terwyl sy gesplete tong onheilspellend kwispel. Vreemd genoeg was die kind glad nie bang nie. Hulle het lank na mekaar gekyk voor die slang stadig in die gras verdwyn het. Toe het die kind langs die graf gaan sit en vir sy ma gevra oor die slang en die Jood en van sy pa. “Jy moet my help” het hy gepleit “ek vesrstaan nie mooi wat vandag hier gebeur het nie.”
Dit was eers later met die storie van die Jood op die ashoop dat hy begin verstaan het. Van daar af het sy lewe ‘n nuwe koers ingeslaan, maar daarvan vertel ons in die volgende aflewering.
Oupa het op Lazy Y geboer so 60 myl uit Vryburg in diie rigting van Piet Plessis / Stella Op die rand van die werf aan die windkant was ‘n ry bloekombowe as breek geplant. ie voeltjies het die hoê bome as gunsteling nesplek aangeneem MAAR die mambas en anderslange het dit beskou as die beste wegneemete plek in myle Ongelukkig het die voels vreeslik keel opgesit as hulle die slange sien boomklim. gewoonklik so tussen een en twee in die middag as Oupa wou rus. Die oubaas is uit met die skaapstok ‘n broeksak vol patrone en die 10 boor dubbel loop Greener haelgeweer Die slang is uit die boom gehak, ‘ngeweldig donderslag het gevolg en die voorste kwart van die slag het in ‘n rooi mis verdwyn
Mooi storie, oulike kind. En dit haak aan Die Boekklub se episode van hierdie week – Karookinders se pa’s is blykbaar wild met hulle seuns.
Kostelik!
Ockie dit is so; Met die geweer en die Bybel onder die arm het ons voorvaders hierdie land getem … en duisende stuks wild afgemaai so ver hulle getrek het.
Vandag probeer ons selfs die slange te bewaar waar ons kan, solank hulle nie saam met ons in ons huise probeer nesskrop nie!
Dr Christa, Ons ouers en hulle ouers voor hulle was soms maar genadeloos teenoor kinders (en vrouens!) en werkers. Toe kom ons en selfs ons kinders en probeer (oor) kompenseer vir wat aan ons gedoen is, en kyk hoe lyk die jonges van vandag! Haha, klink ek nou soos my Pa!
Nee man, ons jeug is reg. Hulle doen goed en bedoel goed. Dis ‘n wilde wêreld wat hulle by ons geërf het.
Ons Polisieman? Hy is nou al diep in sy 80. Volgende week vertel ek meer.
Hennie, ek is bly om jou weer hier te sien. Hoop dit gaan goed met jou daar in die Kaap.