Moord op ‘n kaal man
Die Maandag na die onthaal by die Burgemeester het Peet Priester met sterre in sy oë by die werk opgedaag. Hy kon nie uitgepraat raak oor al die belangrike mense waarmee hy gesels het nie. En ja, die Burgemeester se dogter was woedend omdat Die Waarnemer nie opgedaag het nie en wou niks met Peet Priester te doen hê nie. Hy en die Burgemeester is egter op noemnaam terme uitmekaar en hy is genooi om saam met hom golf te gaan speel.
Die grootste rede vir sy opgewondenheid was oor ‘n meisie wat hy daar ontmoet het. Nie beeldskoon nie, sê hy, maar pragtig. ‘n Meisie met die eksotiese naam van Monique. Niemand op kantoor het so iemand geken nie, maar aan sy haarfyn beskrywing het hulle vermoed dat hulle hier ‘n probleem op hande het. Toe hy vir hulle sê waar sy bly, was hulle oortuig daarvan dat hulle ‘n groot probleem op hande het.
Die meisie wat hy beskryf het was die plaaslike “call girl,” het hulle aan hom verduidelik. Mans met baie geld het vir haar duur juwele gekoop en haar saam met hulle gevat as hulle oorsee gegaan het, of as hulle gaan jag het. Baie belangrike mans het haar na konferensies in die Kaap of Johannesburg toe gevat, alles sonder die medewete van hulle vrouens natuurlik. Die sportmotor waarmee sy ry was ‘n geskenk van ‘n miljoenêr buitelandse sakeman. Haar woonstel, so word vertel, is die eiendom van ‘n plaaslike mynmagnaat. Toe dit lyk of die Priester nie mooi verstaan wat hulle aan hom probeer sê nie, het sy baas vir hom gesê; “Priester, die vrou is ‘n hoëklas hoer, maar steeds ‘n hoer, bly weg daar.”
Almal het die Priester dringend gewaarsku om daar weg te bly. Hy was nie in haar klas nie en die mans in haar lewe was nie ouens waarmee jy wou moeilikheid soek nie. Maar die Priester was betower. Hy sou haar van haar dwaalweë laat afsien, hy sou haar saam met hom kerk toe vat, en dan, wie weet wat nie alles kan gebeur nie, het hy gesê.
“Die amoreuse Priester word verblind deur die goddelike aspek van Kali en hy verwar haar met sy geliefde Astarte,” sê Neels die nihilis so half smalend, “en daarom sien hy nie die halssnoer van menslike skedels om sy geliefde se nek nie. Hy sien ook nie die kopbeen waaruit sy die bloed van die afgekapte kop wat sy in een van haar vier ander hande houvas drink nie. Bedwelm deur Eros, jaag hy Ishtar, die godin van liefde. Of dink hy miskien hy is Shiva wat die bloed bedwelmde Kali kan kalmeer?
“Los die wellustige sot maar uit. Kali sal op sy lyk dans soos sy op die magtige Shiva se lyk gedans het.”
Sondag het die Waarnemer saam met Blondie en haar kind na haar ouers se plot toe gery en daar gekuier. Die oumense het dit duidelik nie breed gehad nie, maar hulle het na ‘sout van die aarde’ mense gelyk. Toe hulle weer op pad was huis toe het Blondie opgemerk dat haar ouers wonderlike mense is, maar dat haar pa te veel drink. “Maar met ‘n dogter soos ek is dit seker nie snaaks nie,” het sy gespot. Hy kon vir haar sê dat hy gesien het dat haar ma dop vir dop saam met haar pa drink, maar het wyslik besluit om die saak daar te laat. Hulle was goed vir haar en dit was wat werklik saak gemaak het.
Daarna het hy haar gereeld saam met hom gevat om na klasieke musiek uitvoerings, kunsuitstallings en opera opvoerings te gaan kyk. Hulle het ook gereeld op Sondae ‘n mandjie gepak en gaan piekniek hou. Hy het altyd daarop aangedring dat Carmen moet saam gaan. Hy was mal oor die kind met haar lawwe, sonnige geaardheid.
Rambo het haar na sy stampkar wedrenne toe gevat. Toe hy haar vra om saam met hom na sy ouers se plaas toe te gaan om sy ma te gaan ontmoet het hy daarop aangedring dat die kind by haar ouma en oupa moes bly. Hy was nie lus om die hele naweek met die kind opgeskeep te sit nie.
Een oggend vroeg staan die jong manne buite die kantoor en koffie drink. Stiptelik om agt uur het die Hoof in die straat voor die kantoor stilgehou. Net toe hy sy motor se deur oopmaak om uit te klim, kom Peet Priester teen ‘n bevoeterde spoed die skuinste af gejaag met sy dikwiel fiets. Die Priester tref die Hoof se kar se deur volspoed en almal staan en kyk hoe hy loshande bo oor die deur vlieg soos Superman, arms wyd uitgestrek, mond wawyd oop in ‘n onaardse gil. Hy tref die grond met sy bors soos ‘n eend wat op water land, hop twee of drie maal en kom in ‘n stofwolk tot rus.
Snoop Dog die piloot het hom aandagtig staan en aankyk en toe vir hom gesê,” swak landingstegniek Priester, baie, baie swak, jy moet werk daaraan” en sy koffie rustig verder gedrink.
Die Priester is ingedra kantoor toe waar die dames sy wonde ontsmet en verbind het. Hy het geen bene gebreek nie, maar sy een enkel was erg verstuit. Sy fiets het omtrent soos Snoop Dog se trompet gelyk na sy buurman daarmee klaar was. Dit was onherstelbaar beskadig.
Die Hoof was woedend omdat die Priester so roekeloos met sy fiets jaag en het hom onmiddellik na sy kantoor ontbied. Die Priester se vriende het geen simpatie met die Hoof en sy probleem met sy erg gebuigde deur gehad nie en het Priester met groot gebaar op ‘n draagbaar by die kantoor uitgedra, kamstig op pad hospitaal toe. Hy het eers weer die volgende dag by die kantoor opgedaag. Sy kop was verbind, daar was verbande aan altwee knieë en sy een enkel en hy het met krukke geloop. Die man het sleg gelyk en die Hoof het hom met rus gelaat.
Op kantoor het alles vir ‘n tyd baie rustig verloop, tot een Maandag gedurende teetyd. Almal het nog gesit en tee drink en bespiegel oor waarom Maria (Voorkat) vir die eerste maal in jare nie by die werk opgedaag het nie, toe die Polisie daar instap. Hulle is sonder omhaal van woorde meegedeel dat mevrou Pieterse (Voorkat) dood is. Dit word vermoed dat sy selfmoord gepleeg het. Die Polisie wou met Maria se baas (ou donderbek, soos die jong manne hom agter sy rug noem weens sy harde stem en sy luide uitgesprokenheid), en haar vriendinne praat, afsonderlik.
Dit blyk toe dat die bediende die oggend op die lyke van Maria en haar man afgekom het. Sy het die bure gaan roep en die het die Polisie ontbied. Meneer Pieterse is kaal op die grond in die slaapkamer gevind met ‘n koeëlwond in die kop. Mevrou Pieterse het op die bed gelê. Sy het ook ‘n skietwond in die kop gehad, en sy het ook geen klere aangehad nie. Daar was ‘n kort, onsamehangende selfmoordbrief langs haar waarin sy gesê het dat sy haar man se siekte nie langer kon hanteer nie.
Maria se vriendinne was histeries en haar baas was so geskok dat hulle vir hom ‘n glas koue water moes bring om hom te lawe. Die res van die personeel was stomgeslaan. Sy was die laaste persoon waarvan hulle so iets verwag het.
Die grootste skok het egter die Vrydag gekom toe die Polisie weer tydens teetyd daar opdaag en Maria se baas in hegtenis neem op aanklag van moord.
Die verhaal wat hom toe ontvou was so bisaar dat niemand dit wou glo nie. Maria en haar baas, ‘n getroude man met twee kinders wat reeds afgestudeer en uit die huis uit was, het sonder dat hulle kolegas daarvan bewus was, al vir jare ‘n intieme verhouding gehad. Net een van die meisies wat saam met haar gewerk het was bewus daarvan. Ou Donderbek het egter, vandat Blondie daar begin werk het, na Maria se mening te veel aandag aan “die blonde sekskat” begin gegee. Sy het by Donderbek begin aandring dat hy van sy vrou skei sodat hulle kan trou. Toe hy dit nie wou doen nie het sy gedreig om 8mm films wat hulle in hulle seksuele dronkenskap van hulle katelkaskenades gedurende ontmoetings in motelkamers gemaak het, aan sy vrou te gaan wys.
Die vryer is die Sondag na haar huis toe om met haar te gaan praat. Vir die eerste maal ooit het hulle seks daar in haar slaapkamer gehad. Hy het haar belowe dat hy van sy vrou sal skei en toe daarop aangedring dat sy die film rolle vir hom moet gee, maar sy het geweier. Daar het ‘n hewige rusie ontstaan, sy het ‘n pistool uitgepluk en gedreig om hom te skiet. Hy het die pistool by haar probeer afneem, en in die gestoei het ‘n skoot afgegaan. Mevrou Pieterse is op slag dood.
Die baas was besig om die kamer te deursoek vir die film materiaal toe meneer Pieterse sonder ‘n draad klere aan die kamer instap. Die baas het hom op kort afstand in die kop geskiet, sy vingerafdrukke van die pistool afgevee en dit toe in Maria se hand gaan sit. Hy het toe sy sekretaresse se handskrif so goed moontlik nagemaak en die selfmoord brief geskryf.
Die man het egter een groot flater begaan. Hy het die pistool in die mens wat al jare lank vir hom gewerk het, se regterhand gesit. Sy geliefde was linkshandig.
Die Polisie het sy vingerafdrukke oral in die kamer gekry. DNA toetse het ook later bewys dat dit hy was wat met haar gemeenskap gehad het. Die films waarna hy gesoek het, is ook gevind. Die beeldmateriaal was nie iets wat jy vir jou dominee sou wou wys nie.
“Moroon,” het Neels die nihilis gesê. “Alles kamtig terwille van die liefde, en kyk wat het dit hom in die sak gebring. Nou gaan hy met sy gat in die tronk sit vir die res van sy lewe. En waarvoor? Vir ‘n bietjie obsene plesier in stinkende, vuil Motelkamertjies.
“Die vroumens se dood was ‘n ongeluk, nie dat die helkat dit nie verdien het nie. Egbreekster en hoereerder en elke Sondag in die kerkbanke. Maandag loop haar giftong sonder brieke en as die son sak dan sak haar panty. Haar man het meeste van die tyd nie eers geweet wat sy eie naam is nie. Ou Donderbek het hom ‘n guns gedoen om hom hel toe te blaas. Nou sit hy lewenslank. Dis om van naar te word.”
(word vervolg)
Lewer kommentaar