Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Oogsentrum’

23 JULIE 2014

AUGENZENTRUM, NYMPHENBURG

MUNICH

050

Kom nou al `n lang pad met die ligte erg op dim. Kan nie meer lees nie, sien dofweg die TV raak en kan lank al nie meer sien of robotte rooi, geel of groen is nie. Ek ry as’t ware op gevoel straat-af. Gelukkig loop die trem stad toe hier reg voor my deur verby en hoef ek nie te gereeld die Germane aan my blindemol bestuursvernuf bloot te stel nie. Die grootste probleem is om die nommer van die trem reg te lees sodat ek by my bestemming uitkom en nie aan die gatkant van die stad nie.

Na maande van wag, breek hierdie dag uiteindelik aan. Vandag is my eerste lensoorplanting. Die Prof doen een oog op `n slag. Natuurlik het ek nie geslaap nie, deels opgewondenheid en deels bangeit. Ek en narkose is nie maatjies nie. Prof het gese operasie is ongeveer 2 en `n half uur tot 3 drie ure. En dit met lokale verdowing? Ek dink nie dit is moontlik nie.

Geen ontbyt, geen grimering. Dis `n quicky vandag. Ek sit 6 uur die oggend druppels in my oog. Woep, my pupil word een groot donker grot. Iewers begin iemand aanhoudend in my kop klop met `n hamer. Gaan `n lang dag wees. Munich is soos enige ander stad in die oggend, `n nagmerrie.

Ons is vroeg. Geen mens in sig nie. Ek is geskeduleer vir 07:30.  Presies 07:30 begin personeel opdaag. 08:00 roep die suster ons nader. Snaakse growwe rasper stem met `n vreemde aksent. Geen vorms om in te vul, vra net Skip se nommer sodat sy hom kan bel as ek klaar is.

Oulike jong doktertjie met stywe boudjies, wat voorheen deel van die span was wat my oë getoets het, roep my in `n kamer met baie apparate. Hy herken my, bly vir `n oomblik stil asof hy wil sê: Alweer die flippen vrou wat Engels praat. Hy gooi nog druppels in my oog. As gevolg van die stigmatisme in my oog moet hy net gou merkies op my oog maak om die posisie van die lens aan te dui. Die man pluk `n lang kopspeld uit. Die spoort wat professionele kleremakers gebruik, met die ronde koppie agter. Sit my kop in `n klem en sê ek moet stil hou en glad nie my oog “twinkle” (knip) nie. Ek kyk regs, en hy zap-zap 5 steke in my oog. Kyk op, dieselfde 5 steke. Hierdie proses begin my oog irriteer. Is nie seer nie, maar ongemaklik. Kyk af, weer 5. Toe sê hy kyk op, en daar verloor ek dit amper. 10 blerrie steke op een plek!  Hy neem my terug na die Rasper-Suster.

Ek moet my skoene uittrek en in `n kassie bêre. `n Donker seun kom haal my. Ek lê op `n lang plat bed met my kop waar my voete moet wees en my voete op `n kussing. Deure gaan oop en toe, oop en toe en dan is ek in die teater. So vinnig gekyk lyk dit as of daar alreeds 3-4 pasiënte is waarop dokters besig is om te opereer. Voor elkeen is `n groot TV skerm met die pasiënt se oog op. Dit lyk weird. Die narkotiseur staan nader en ek vra haar of ek gaan slaap. Sy lag en sê ja maar met lokale verdowing. `n Begrip wat ek nie mooi verstaan nie. Sy kyk op my lêer en toe sy lees penisillin alergie, toe hardloop almal in verskillende rigtings om drupsakkies en spuite te vervang. Sy werk saggies en sê ek gaan moeg word. Voor ek kan vra moeg of slaap, toe is ek moeg en weg.

Iewers tussen in word ek soort van wakker en voel honderde spelde in my oog. Ek soek my Engel. Met my vorige operasies was die Engel van die Here elke keer by my. Ek sweef weer weg. Word weer `n keer bewus van `n gewerk aan my oog, maar sweef verder, nog steeds sonder my Engel.  Toe ek wakker word staan Resper-suster langs die bed en sê ek kan my skoene aantrek, sy vat my “ambulans” toe. Is Rasper-suster dan my Engel? Ek strompel agter haar aan. “Ambulans” is die wagkamer, met stoele en tafeltjies. Sy gee my `n heerlike koppie Rose tee. Ek sluk dit weg met een teug, het gisteraand laas water gehad.

Ek begin te fokus terwyl klein mannetjies met groot hammers in my kop raas. So erg, ek sien oral sterretjies. Skuins oorkant my sit `n groot oom met `n wit hemp, kruisbande en `n oogklap. Hy eet sy bretzen en drink `n bier. Ek gaan haal vir my nog `n koppie tee en toe sien ek die kas met bier langs die teepot. Dalk moet ek ook `n bier drink, dink ek, maar sê nou net die mannetjies met hammers raak vrolik en gaan haal hulle jackhammers?

Ek soek `n bed, dringend. Ek moet lê. My migraine is besig om die oorhand te kry. Manlief Skip red my. Ek slaan die BMW se sitplek plat en ons gaan huis toe. Die son is skerp, baie skerp. My kop wil bars. By die huis sluk ek twee sterk hoofpynpille en  kruip in die bed. Vieruur word ek wakker en Skip staan by die bed en vra : “Bokkie, wil jy nie bietjie koffie hê nie?” Toe weet ek, die Engel van die Here is nog steeds aan diens!

Sodra hierdie oog met sy nuwe gepoleerde lens ordentlik kan sien, dan gaan die Prof die ander een ook doen. Voor dan moet ek iets kry om die flippen mannetjies met die hamers in my kop ook “moeg” te maak voor die narkotiseur my “moeg” maak.

Read Full Post »