Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Vriende’

Kuier ons toe weer langs ons geliefde Weskus af. Vlieg tot in George en boek in by die oer-oue King George die hoeveelste se Hotel. Blits van daar af tot tussen die volstruise met ons gehuurde Sparky, en van daar af al met die kus langs tot in Montagu om by ons goeie vriende uit kaalvoet kinderdae in die goeie ou Wes Transvaal, te gaan kuier. Die Boerklonge het tussen die wynlande kom aftree. `n Baie slim plan, sou ek dink … as die man nou net `n wyndrinker was, maar nou is hulle nie nie een wyndrinkers van formaat nie. Dan wonder mens wat maak die twee Vaalpense tussen die wingerde?

106Foto: Uitsig na die westekant vanaf Hennie en Magdaleen se voordeur waar die stompe van pas vermoorde bloekombome nog sigbaar is. Daar gaan `n nuwe huis gebou word, sê die Engelse moordenaar van bome vir ons.

So gepraat van Engelsman; die dorp self is venoem na John Montagu, Sekretaris van die Kaapse Kolonie vanaf 1843. Hy was skynbaar `n baie intense man wat sy pligte, wat dit ook al mog wees, baie ernstig opgeneem het. As beroepsoldaat veg hy “for King and Country” by Waterloo. Later in sy loopbaan sit hy gevegte voort in Tasmania waar hy as sekretaris aangestel was. Hy veg met sy baas en word uit sy pos ontslaan. Later word hy Kaap toe gestuur, vind uit dat belastings erg agterstallig is en begin dit onverbiddelik in te vorder, ook van die armstes onder die armes, wat hom natuurlik nie die gewildste man in die Kaap gemaak het nie.

In 1851 kry die dorp “Agter Kogman’s Kloof” amptelike status en word herdoop tot Montagu. Dit was maar `n klein, agterlike ou dorpie op die plaas Uitvlugt (dit is steeds klein, maar nie meer agterlik nie), en Sekretaris Montagu was moontlik `n meer ambisieuse soort van man wat van meer as klein dorpies en bergpasse wat sy naam dra gedroom het, mens weet nie.

Ons eie kaalkop Nataniël sê huil is een van sy stokperdjies. Dis die ding wat keer dat hy nie die kluts kwytraak nie. Mens vermoed dat Sekretaris Montagu nie van die huilerige soort mans was nie, inteendeel. Dit is dan dalk ook die rede waarom hy wel die kluts kwyt geraak het, `n senu ineenstorting beleef het, en terug is Engeland toe. Hy het nooit herstel het van sy siekte nie, en in 1853 is hy as brandarm man oorlede. (As hy nou Prez Montagu was sou hy sekerlik van daardie belasting geld wat hy so ywerig ingesamel het, iewers in `n Switserse of Arabiese bankrekening gaan versteek het!)

Maar ons dwaal nou af, ons vriende wag vir ons met groot bekers koffie by hulle nuwe huis. Jare se gesels lê en wag om gesels te word daar tussen die berge. (meer…)

Read Full Post »

Verjaarsdag

Heng, dit was nou `n groot dag. Heerlik om julle almal hier te kon hê. En aan almal wat net vining kom inloer het, en die wat my op Facebook geluk gewens het, `n groot dankie.

Vir al die geskenke ook baie dankie. Al die bottels wyn behoort my tot volgende jaar se party heel gelukkig te hou!

Van Ma kry ek vliegkaartjies vir `n vakansie saam met haar na Munich, Duitsland!

My Buddha van Marlie en Piet kry `n ere staanplek by die swembad:

008

En met hierdie unieke geskenk van Hannelie waartoe almal bygedra het, loop ek en spog by al wat leef.

Pa 65 Geskenk 1

Die voorblad van die boek wat die ouman se lewe met fotos en staaltjies dokumenteer van die eerste lewenslig tot nou, en tussenin skrywes van vriende en familie oor hulle belewenis van die pad saam met hom.

`n Idee waarteen ek aanvanklik groot beswaar gehad het, maar nou, met die eindproduk  in die hand is ek skoon aangedaan. Fantasties. Baie dankie Hannelie en almal wat so mooi geskryf het.

The life story of quite an interesting man

who lives an interesting life,

confuses a lot of people

and amuses quite a few more.

A heart as light as his humour is dark,

he spins tales of woe and laughter,

paints pictures with colour and soul,

 and leaves every day a small smile hidden beneath.

                                                       H

Pa 65 Geskenk

Die agterblad. Fantasties gedoen.

As iemand so `n boek wil laat maak vir `n geliefde of vriend of wie ook al, laat weet. Hannelie sal dit met graagte vir jou doen. Jy gee die fotos en die skryfsels en sy maak die boek.

Read Full Post »

Skrywers en Egos

Soos op die inskrywing hier langsaan gesien kan word, is die boek wat die uwe geskrywe het nou ook op papier beskikbaar.

Dit verkoop redelik goed onder vriende en familie, soveel so dat die eerste “oplaag” byna uitverkoop is.

Nou is dit maar so dat skrywers, en ek vermoed singers van liedjies en digters en die hele lot kreatiewe kreature, wil maar graag weet wat dink die wat lees en luister van dit wat hulle lees en luister. Die ou ego wat maar altoos inskop!

Nou kom die kommentaar so stadigaan terug van die wat reeds gelees het aan my “Vuurvoël”. Uit een koers word berig dat die stories so lekker lees dat die mense nie die boek kon neersit nie. As een storie klaar gelees was, was die nuuskierigheid oor die volgende een so groot dat daar dadelik voortgelees moes word. Ai tog, en dit is mos soos musiek in enige siel se ore. Dis soos iemand wat mooi goeters van `n ma se kind sê en dan bars sy van trots.

Ander vertel dat hulle al so halfpad deur die boek is en maar stadig lees. Dit voel al reeds effens na kritiek en die ego spits sy ore en maak sy ruggie styf. Hou jy nie van my boek nie, jou lae luis!

En dan is daar die ambivalente opmerkings. Een goeie ou vriend bel van vakansie af en vertel hoe hy die storieboek geniet. Tog te lekker, sê hy. Binne dae die boek kafgedraf en hier en daar gekraai van plesier, veral die vendusie op die plotte storie, en “Ter wille van Ma”, was erg geniet.

Sê ek, die trotse skrywer vreeslik mooi dankie, natuurlik.

Maar dan volg die res van sy kommentaar. Sê hy; al die jare dog hy die mannetjie (dis nou die groot skrywer!) is maar half vlakkerig, en nou lees hy die boek en begin dink hy die man (dis nou die vriend en skrywer) is (dalk?) `n diep kêrel.

Nou is my vriend se probleem natuurlik om te besluit; is die man `n “vlak” ou wat deur sy skrywery probeer “diep” wees, of is die man `n “diep” mens wat in sy daaglikse interaksie met mense voorgee om “vlak” te wees?

My probleem is natuurlik nou om te besluit of die ou `n vriend is!!

Hy spot natuurlik maar net (dink ek?) want hy beveel die boek  by sy vriende aan en bestellings kom in teen `n spoed.

“Why then do you tell me to make myself like the many. And if I do, how shall I still be purple?” Epictetus (Dankie Hannelie)

Read Full Post »

Sonder woorde

Read Full Post »

%d bloggers like this: