Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Super rykes’

Foto deur Hannelie

Covid-19: the boomer remover.

In Amerika sien ek, noem die jonger generasie Covid-19 (met nie ‘n bietjie selfvoldaanheid en bravade nie) die “boomer remover”! Ek het dit baie snaaks gevind … tot dit tot my letterlik “ou” breintjie deurgedring het dat die snuiters van my praat! Ek is een van die “boomers” wat ge-remove gaan/moet word!

Maar na die verontwaardiging bedaar het en ek die ding in perspektief kon sien, vind dit steeds heel snaaks. Die jongmense van vandag is skerp, ek hou van hulle uitkyk op die lewe. Hulle is heeltemal reg, ons “boomers” het ons tyd gehad. Op ‘n tyd was ons die hardekwas nuwe generasie wat nie veel tyd en geduld met ons ouers en voorouers gehad het nie. Hulle was outyds en het in die pad van vernuwing gestaan. En ons was die ouens wat die vernuwing sou bring, of soos Freud gesê het toe hy in Amerika aanland “ons bring die plaag”!

Op ons tyd het ons die leisels gegryp en die die wa in ‘n nuwe, “beter” koers gestuur (het ons selfvoldaan geglo). En ons het baie vermag, en in ‘n baie kort tyd. Ons het gevorder van die ossewa tot die eerste mense op die Maan tot landings op Mars en verkennings diep die ruimte in. Ons het baie gedoen, maar ons het ook baie drooggemaak, en daarvoor vra ons nederig verskoning aan die nageslag, aan die Gen X en Y en Z, en ons bid dat julle nie dieselfde foute as ons sal maak nie.

Na ons die aarde geplunder het (en steeds plunder) vir ons eie (en julle) materialistiese gewin, hebsug en grypsug tot die punt waar die aarde nou vir ons sê genoeg is genoeg, is dit nou julle taak om reg te maak wat ons verbrou het. Dit is julle taak om die natuur te herstel en te bestuur tot almal se voordeel, want as julle sou voortgaan op die trant wat ons met die natuur omgegaan het gaan julle dit nie oorleef nie.

Maar ek is vol moed, julle harte sit op die regte plek … as julle nou net van die ou “boomers” kan ontslae raak! Wat seker is is dat niks ooit weer dieselfde gaan wees na hierdie virus met ons klaar is nie. Ons kan nie weer terug gaan na wat ons beskou het as “normaal” nie. Die gaan julle X, Y en Z’ters se taak wees om die nuwe “normaal” te definieer. En as die “boomers” wat oorgebly het wil inmeng en voorsê en voorskryf soos hulle altyd wil, dan is dit julle taak om hulle op hulle plek te sit.

Nou is daar ook uit Amerika die oproep dat die ouer geslag (wie se tyd nou in elk geval verby is), nou (ten spyte van die virus daar buite en ten spyte daarvan dat daar ‘n groot moontlikheid bestaan dat hulle die virus nie sal oorleef nie) moet uitgaan en die fabrieke en besighede beman om die ekonomie aan die gang te hou terwyl hulle, die jongmense, veilig by die huis sit en wag tot dit weer veilig is om dit na buite te waag!

En dit is dalk die ironie van die saak; die ouer geslag is meer as bereid om hulle lewens daar buite op die spel te gaan plaas terwille van die nageslag … as hulle sou toegelaat word om dit te mag doen. Wat meer is, ons is selfs bereid om ons respirators (sou ons dit dalk mag nodig kry om te oorleef) af te staan aan ‘n kind of jongmens sodat sy of haar lewe gered kan word.

Om die hele land se ekonomie op sy knieë te bring net omdat daar op daardie stadium 50 of 60 mense was wat as gevolg van die virus dood is, grens aan waansin.

Die Covid-19 pandemie word deur sommige mense gelyk gestel aan oorlog. Maar waar die Generaal of wie ook al gedurende oorlog sy mense toerus met die beste beskikbare toerusting om die vyand die stryd aan te sê, beveel hierdie bevelvoerders hulle manskappe om in hulle huise te gaan skuil tot die gevaar verby is! As die ou wêreld nou al ooit ‘n klomp papbroek bevelvoerders gehad het dan vat hierdie lot die koek.

‘n Bevelvoerder met “balls” stuur sy manne na die front om die vyand fisies aan te vat en hy gaan saam met hulle. ‘n Bevelvoerder met “balls” vertel sy manne dat die geveg bloedig gaan wees en dat nie almal weer lewendig huis toe sal kom nie, inteendeel, baie soldate gaan in die geveg omkom. En terwille van volk en vaderland, vir vrou en kinders is die manne en vroue bereid om die opoffering te maak. Dit is hoe jy ‘n oorlog wen. Jy wen dit nie deur weg te kruip nie.

Dit is ook ‘n illusie om te dink dat vrouens en kinders in tyd van oorlog permanent in bom skuilings wegkruip. In die werklike lewe beman vrouens en kinders fabrieke, boerderye, besighede en hospitale. Sit is slegs in die geval van lugaanvalle en bombardemente dat hulle in bom skuilings gaan wegkruip. Sodra dit verby is kom hulle weer uit en gaan aan met hulle werk.

Maak vrede daarmee; mense gaan hulle lewens verloor met hierdie virus. Maar meer mense gaan alles verloor, ook hulle lewens, as die ekonomie nie nou weer aan die gang kom nie. Die strategie van wegkruip gaan gesinne verwoes, dit gaan lande verwoes, dit gaan onherstelbare skade aan almal (behalwe die super rykes) se lewens aanrig.

Wees verseker; die “boomers” is saam met julle in hierdie gemors en is bereid om te help waar dit nodig mag wees. Dit is ons laaste skof en ons kan dit net sowel gebruik om goed te doen. Ons sal met ‘n “bang” uitgaan, nie met ‘n “whimper” nie.

 

Read Full Post »

%d bloggers like this: