Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Stofstorm’

Nood langs die pad

Dit gaan mos altyd so by n ordentlike braai. Die stories begin heel onskuldig, maar soos die braai warmer word word die stories ook warmer en voor jy weet draai dit onder die belt want elke ou (of vrou) wil die vorige storie oortref met sy eie baie snaakse storie.

So vertel n meisie vir ons van haar blaps (plas) in die pad op n stuk godverlate pad iewers in die boendoes. Kry sy n nood, blaas wil bars en haar man stop sommer so half in die pad. Daar is mos niemand wat sien nie en hy sal dophou voor terwyl sy agter die kar sit en haar ding doen. Maar dit werk mos altyd so, skaars het sy gaan sit of n groen kar kom met n spoed om die draai gery en daar sit sy letterlik met haar broek om haar enkels.

In plaas daarvan om te knyp en rustig op te staan en te maak asof sy die uitlaatpyp of iets inspekteer, raak sy angsbevange en begin om soos n haas so hop-hop om die kar te hop om buite sig te probeer kom.

Toe die stof gaan lê lag hulle lekker oor die gedoente en besluit dis verby, geen skade is gedoen nie, hulle sal die mense nog nooit weer sien nie. Die kinders spot en lag sporadies tot by die volgende vulstasie. Toe hulle uit die kar klim kyk hulle vas in die mense met die groen kar. Die mense herken hulle dadelik en met vingers wat wys na die hoppende vrou sonder broek van so n paar kilometers terug, kraai hulle van die lag!!

Daar was geen wegkom van die spottende vingers af nie, die volgende fulstasie was baie vêr.

Die verdwaalde toilet

Vertel dieselfde meisie van n ander keer toe sy en drie vriendinne op pad was na een of ander funskie toe. Kom hulle teen n redelike spoed oor n bult (sy agter die stuur natuurlik), en skielik staan daar een van hierdie mobiele toilette wat hulle vir padwerkers oprig, reg voor hulle in die pad.

Daar was nie tyd vir wegswaai nie en hulle tref die ding kop aan kop. Gelukkig was daar niemand in die (k)huisie nie, sê sy. Maar die nadraai was dat hulle die volgende dag die voorblad nuus in die plaaslike roerant gehaal het! “Vier meisies in botsing met toilet betrokke!” is daar berig, en vir maande lank is hulle gespot oor hulle botsing met n (k)huis!

Die dag van die rollende toilette

Die stories laat my toe dink aan n storie wat n neef van my lank gelede vir ons vertel het. Hy en sy pa was op pad huis toe. Dit was nog in die ou Wes Transvaal, die pad was n baie slegte ruispad en hulle was in die middel van n hewige Augustusmaand stofstorm vasgevang. Hulle kon skaars die pad voor hulle sien so donker was dit van die stof.

Skielik kom daar toe links van hulle af uit die digte stof een van daardie ronde plastiek toilette aan gerol. Sy pa (wat nie een van die beste bestuurders op die planeet was nie) slaan remme aan en die toilet tref die kar skrams van voor en verdwyn weer in die stof.

Hulle sit versteen van die skok en staar na die malende wolk stof, en voor hulle weer tot verhaal kom, kom daar nog n toilet uit die donker aangerol. Die keer tref dit die kar met geweld teen die bestuurder se deur. Die volgende oomblik gooi die wind die toilet met n slag tot bo op die kar se dak, toe weer af aan die ander kant waar dit weer in die stof verdwyn.

Na n lang stilte, vertel my neef, het sy pa, nog vaal van die skrik, gesê hy hoop dit is nou die laaste toilet en toe het hy teen n slakkepas verder gery.

 

 

Read Full Post »