Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Prostitusie’

Straatkind

Ry elke dag hier deur die middedorp, ook genoem klein  Nigerië. Berugte plek. Dwelms word glo openlik gesmous, cutshops word onder die oog van die gereg bedryf en die menere uit die noorde ry met groot, blink motors rond.

En van tyd tot tyd staan die meisiekind iewers op die hoek van ‘n straat. Soms lyk sy goed versorg, hare gewas, mooi klere aan en lyk sy selfs vrolik. As ek verby ry smile sy vir my en waai met die handjie, dan smile ek trug en waai vir haar en wonder of haar ma weet wat haar kind vir ‘n lewe doen. Nogal ‘n mooi kind.

Ander dae soos vandag sit sy op die sypaadjie, verwaarloos, vuil hare, vuil klere en sonder die glimlag. Dit is seker die tyd wanneer haar Nigeriese pimp nie vir haar genoeg dwelms gegee het om die werk draaglik te maak nie. Meeste van haar kliënte is waarskynlik die swart mans uit die omgewing, en so nou en dan ‘n ou wit man met ‘n BMW of Merc.

Soms sit sy daar reg voor die kerk, inderwaarheid op die kerk se trappe. As sy daar sit lyk sy altyd afgerem en moeg. Mens wonder, het die predikant al met haar gaan praat of draai hy ook maar die kop anderkant toe? Wat het oor die kind se lewe geloop dat sy daar beland het? Die enigste padjie uit die gemors uit vir haar is waarskynlik die dood een nag iewers in ‘n steeg in daardie hool. AIDS het sy sekerlik reeds, wat sy dan aan elke bliksem wat haar gebruik oordra, en wat dit dan huis toe vat na sy vrou en almal wat hy mee rondslaap.

Die kind met haar glimlag en die waai van die hand ontstel mens. Dit bly in jou gedagtes die res van die dag, en dan vergeet jy, tot sy weer daar staan eendag. Dan wonder jy hoe jy kon vergeet het.

Dan is ‘n mens tog dankbaar vir jou eie kinders wat nie daardie pad geloop het nie.

Read Full Post »