Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Piet Retief’

Vêr Paaie 2

Dinsdag Buhrmansdrif in Noord-Wes, Donderdag Paul Pietersburg noord Natal. Genade, man se lyf en siel kom nie meer bymekaar vir `n koppie tee nie.

Twaalf uur die middag vertrek ons. Ontmoet ons reisgenote en drink koffie by die Ultra City na die tolhekke naby Middelburg. Van daar swaai ons weg na Hendrina op pad na Ermelo. Die pad is goed maar nou en bevolk deur kreunende vragmotors wat teen `n slakkepas die bulte op en af stoom. Verbysteek is `n nagmerie.

Die Oos-Transvaal is die plek waar Pa en Ma gebore is en waar hulle opgegroei, geskool en getrou het. Die ou familieplaas (nou in die hande van steenkool grawende mynmagnate) lê naby Bethal. Oupa en Ouma (van beide kante) het later op Trichard gebly en is daar begrawe.

Hendrina, vernoem na die vrou van Gert Beukes op wie se plaas die dorp ontstaan het iewers rondom 1914 (1920?), was die saamkom plek vir nagmaal van boere uit die omgewing. Die eerste winkels is glo deur Libanese bedryf. Dit is ietwat vreemd aangesien meeste winkels in omliggende dorpe destyds deur Jode besit was.

Kleintyd het ons gewoonlik gedurende die winter hier by familie gekuier. Een woekerende oom van ons het `n klein plasie hier net buite die dorp besit. Die legende loop dat die oom besighede en huurhuise (let wel, huur en nie hoerhuise nie!) in die dorp besit het en dat sy vrou eers na sy dood bewus geword het van 2 slaghuise en ander eiendom wat syne was. Dit terwyl hulle op die plaas in relatiewe armoede en erge onvrede in `n bouvallige ou huisie gebly het.

Die omgewing is `n mengelmoes van mielielande, weiveld en verwoeste, omgedolwe aarde waar oopgroef steenkoolmyne soos stink swere  op `n malaatse mens se lyf die wêreld besoedel.

Ons bereik Ermelo ongeskonde (maar net deur Genade!). Indrukke na vorige vlugtige deurtogte was dat die plek heel skaflik beskaafd is met `n ongelooflike hoeveelheid baie goeie gastehuise. Hierdie keer ry ons deur `n meer ongure deel van die dorp wat jou laat onthou van berigte oor Nigeriese dwelmbase wat hier in samewerking met die Polisie bordele en dwelmfabrieke bedryf het. Strate is in `n swak toestand en winkels word swak onderhou. Nie regtig `n plek waar ek uit eie keuse sal wil dood nie.

Die dorp is in 1870 aangelê deur Dominee Frans Lion Cachet. Hy vernoem dit na  die dorp Ermelo in Nederland waar `n goeie vriend en leermeester van hom gebly het en waar hy self begeesterd/ bekeer geraak het. Dertig jaar later word die dorp gedurende die Groot (dom?) Oorlog deur die Engelse tot `n rommelhoop verwoes. Net een huis het glo staande gebly.

Die huidige aanslag van Afrikanisering teen die dorp, en alle ander plattelandse dorpe dreig om dit weer te reduseer tot rommelhoop met min of geen hoop dat dit weer soos `n Phoenix sal opstaan uit die as nie.

Ons sukkel voort na Piet Retief. Skuif bevange verby vragmotors belaai met steenkool en ander vrag. Dis snikkend warm en die aircon zoem heelpad soos `n swerm bye om ons te beskerm teen verswelging, of dalk versmelting.

Van Piet Retief weet ons almal (Dingaan en al daai tragiese stories). Van sy dobbel gewoontes en bangkrotskappe in die Kaap as rede vir sy trek die woeste binneland in, weg van skuldeisers, weet ons minder. Dat die hoofstraat in die dorp nou so vervalle is dat `n trekker met waterkar ingespan word om die stof in bedwang te hou, (komplimente van van swak ANC regering) is `n ontstellende nuwe ontdekking.

Wonder ek nou of Ungungungluvu nie dalk Dingaan se dobbelhuis was en of hy en onse Piet nie dalk vinnig `n potjie poker gaan speel het en die Piet daar met `n kaart of twee in sy mou op betrap is en daarom vermoor is nie?

Die dorp is in 1882 aangelê en iewers gedurende die Groot Oorlog in puin gelê. Dit is weer opgebou tot model “tuindorp” en verval nou weer vinnig tot model blikkiesdorp.

Te midde van `n stofwolk in die hoostraat gooi ons petrol in en koop koffie vir die dors.

Van oom Piet se plek af kronkel die pad deur plantasies tot by Paulpietersburg. Hierdie is seker die dorp met die grootste identiteitskrisis in die land, indien nie in die wêreld nie. In 1888 word die dorp as Paulpietersrust aangelê, vernoem na Paul Kruger en generaal Piet Joubert, die man wat die Engelse in 1881 by Majuba op hulle rooi baadjies gegee het. `n Paar jaar na stigting word die naam verander na Paulpietersdorp. Iewers jeuk iemand se dinges toe weer en hulle verander die naam na Paulpietersburg soos dit vandag nog bekend staan. Maar in Zulu staan die dorp bekend as Dumbe, so genoem as gevolg van die voorkoms van `n eetbare aartappelagtige knol wat in die omgewing gevind word.

Maar dit is nie die enigste van die dorp se beproewings nie. Vir een of ander rede is die dorp wat eintlik in Natal lê, by die ou Transvaal ingelyf. Toe word dit weer deel van Zoeloeland, en toe, skynbaar na Uniwording, is dit weer by Natal ingelyf soos dit vandag nog is.

Duitsers en Skotte het laat in 1800 in die dorp en omgewing ingetrek en boer en woeker steeds daar rond. Praat steeds Duits, maar ook Engels, Afrikaans en Zulu, drink bier en speel ook nog steeds umpa musiek by saamtrekke. `n Pragtige Lutherse kerkie staan trots tussen die dennebome by Luneburg.

Ons staan oor op `n jagplaas by erg gasvrye Duisers wat vlot Afrikaans praat. Lieflike gastehuis met `n asemrowende uitsig oor die berge. Aandete, bekook en voorgesit deur `n jong Zulu man is uit die boonste rakke. Het nog nooit in my lewe soetpatats gemaak met marsh mellows ge-eet nie. Uitstekend. Drink witblits uit `n bottel met heel rooi rissies in. Dit brand die bloue hel uit jou uit en jy durf nie naby `n oop vlam asem uitblaas of poep nie, dit kan jou duur te staan kom.

Dag 2 bring ons tussen die Drakensberger koeie deur op `n ander Duitser se plaas. Is al die vierde generasie van die familie wat die plaas besit en beboer. Reg rondom die plaas lê lamlendige Zulu huisies en lappies heuphoog verlepte, vergeelde, verpiepte mielielande en hulle kyk met gretige oë na die groot ou opstal en landerye wat beplant staan met mielies wat lyk soos jong dennelote. Fantasties geil en groen en gesond. En ja, sê die boer gelate, daar is grondeise teen die plaas.

Laat mens dink aan Paul Theroux se ondervinding op sy reis deur Afrika. Verslae en geskok oor die verval en agteruitgang van alles wat hy teenkom dertig jaar na sy vorige verblyf in Malawi en Uganda, vra hy aan die mense, regeringsamptenare en lektors aan Universiteite wat hy persoonlik ken; waarom lyk dit so, waarom die verval, waarom staan voorheen winsgewende Indiër winkels leeg, wat het van die groot produktiewe plase geword, hoekom is skole en universiteite vervalle? Dan antwoord hulle een en almal; “The problem you see, the problem is, we have no money and you see, the UN and America won’t give us any.”

Skuins na 11 die oggend is die werk met die koeie afgehandel en ons ry terug na Sodom en haar suster se ontugtige, wellustige vleispotte. Ses uur later is ons weer by die huis. Met die intrap word ons oorweldig deur die vreugdevolle groet van ons  stertswaaiende swart kinders. Dit verskaf mens tog altyd oneindige plesier om so verwelkom te word in jou eie huis. Uitgelate en uitbundig bly is hulle, so asof jy `n leeftyd lank weg was.

    

Advertisements

Read Full Post »

Die drie susters

In die jaar van onse Liewe Heer 1938 word die jongste van 4 susters gebore, die agtste kind van elf wat die oumense uiteindelik gemaak het. Sewe seuns, vier dogters. Een suster gaan relatief vroeg dood aan haar hart. `n Moeilike ou tannie net soos die res van haar susters.

Van die drie langslewendes is dit die oudste wat haar gesag op die ander afdwing. Op die oppervlak is sy die rustige een, die een met klas. Die middelste een word gereken as die kommen een, die bakleier met die skerp tong wat niemand ontsien nie. Die jongste is die klein, fyn, maer mensie, die oulike, sagte mensie, maar in enige geveg verloor die ouer susters elke keer want haar tong is skerp, bitter skerp.

Die jongste het nie `n maklike lewe gehad nie. Haar man drink hom dood, haar dogter loop weg met `n psigopaat en haar geliefde seun pleeg selfmoord. Sy hou nie van haar dogter nie en maak nie `n geheim daarvan nie. Na die dood van haar man en seun, is sy aangewese op die hulp van haar dogter en die se tweede man. Maar vir geen oomblik toon sy enige dankbaarheid of gee enige erkenning aan dit wat die dogter vir haar doen nie. Inteendeel, sy kritiseer haar ongenadiglik oor absoluut alles. Van haar kleredrag tot haar huishouding tot die manier waarop sy haar kinders en kleinkinders grootmaak. Boetie wat nooit iets vir sy ma gedoen het nie, wat baie selde vir haar gaan kuier het, wat nie eers opgedaag het as sy hom vir ete genooi het nie, is die engelkind.

Onder die vernis van “nice” en beskaafd en opgevoed skemer daar `n klipharde persoonlikheid deur, en jy wonder hoe groot was haar bydrae tot haar man se finale oorgawe aan drank na hy vir baie jare “droog” was, hoe `n groot bydraende faktor was haar verbete geveg om skeiding tussen pa en seun te bewerkstellig, by sy uiteindelike selfmoord, en hoeveel het sy bygedra tot haar dogter se eerste wegloop en latere drankprobleem?

Die middel suster se lewe was ewe eens nie met rose besaai nie. Haar man het ook erg gedrink, hy het haar van tyd tot tyd geslaan, maar nie as hy gedrink was nie! Dit laat die vermoede ontstaan dat hy gedrink het om te ontsnap aan haar gevloek en geskel. Hulle is geskei en weer getroud en weer geskei.

Haar seuns slinger rond tussen besope, werkloos en redelik welgesteld. Sy val rond van een na die ander en bly nie baie lank by een op `n keer nie omdat sy hulle al hulle hel gee. By die familie is sy baie ongewild en selfs onwelkom. Met haar tong saai sy onrus waar sy gaan. `n Harde mens, ongenaakbaar so.

Die ousus en haar man lei `n rustige middelklas lewe op `n klein plattelandse dorpie. Sy is erg status bewus en verkies om met mevrou dokter en mevrou dominee en die Burgemeester se vrou tee te drink. Hulle verkies om dit nie te doen nie. Sy verkies ook dat haar kinders met genoemde mevroue se kinders meng, maar haar kinders verkies om dit nie te doen nie.

Haar oudste dogter is haar liefling. Haar jongste dogter wou sy van dag een af nie gehad het nie vir die blote feit dat die dogter nie die seun was wat sy wou hê nie. Die twee kan mekaar tot vandag toe nie uitstaan nie. Die ma kritiseer die dogter oor alles en die dogter gryp die ma verbaal aan die strot elke keer as sy aangeval word.

Oor die seun wat jare later gebore is en drie dae later dood is, huil sy nou al vir meer as dertig jaar. En bewaar die een se siel wat sy geboortedag en die dag wat hy begrawe is vergeet.

Die oudste dogter, ma se liefling, kan haar ma nie hanteer nie en het haarself selfs in die hospitaal ingeboek toe sy hoor haar ma kom kuier. Na behandeling met spierverslappers, pynstillers en kalmeermiddels, en na die ma uitgewyk het na die jongste dogter se huis toe, is sy terug huis toe.

Sy sê sy sal in `n gestig beland, sou haar ma vir langer as `n maand by haar moet bly. Toe sy jonk getroud was, vertel sy, het haar dokter haar telkens vir `n dag lank met kalmeermiddels in die bed gesit na `n naweekbesoek van haar ma. Dan het sy die hele dag lank gelê en huil. Sy kan nie sê waarom sy so gehuil het nie.

Vir die jongste dogter is so `n besoek ewe traumaties. Vir `n week lank voor die ma se besoek skop sy die kat, jaag die honde uit die huis uit, skel op haar man en skrop die huis verwoed van kant tot kant.

Voor sy dood het die kinders se pa die oudste dogter gebel en gesê julle ma maak my dood, ek kan nie meer nie. Ses maande later is hy dood aan kanker. Hy het dit so verkies.

Op haar oudag is sy `n formidabele ou tannie, gerespekteer in die kerk en die gemeenskap, selfs geliefd. En nie een van haar dogters sien kans daarvoor om haar in hulle huis te neem en te versorg nie.

En al drie die susters roem hulle self op hulle Christenskap, gaan getrou elke Sondag kerk toe en vermaan, nee beveel hulle kinders en kleinkinders om te leef volgens Bybelse beginsels soos hulle dit doen. Daar staan iets oor die liefde in die Groot Boek, en sagmoedigheid?

Hoe leef mans jouself so in `n hoek vas dat jy op jou oudag nie welkom is by jou eie kinders nie? En hoekom leer kinders nie uit die foute van hulle ouers nie?

Die enigste verklaring vir die drie susters se vreemde gedrag is dalk te vind in die besem wat elkeen van hulle in die gangkas wegsteek. Daar is dalk ook iewers `n gepunte hoed te vind.

Karen Elof van Loslyf vaam, stripper, masseuse en jy weet wat, sê Afrikanermans is bang vir vroue, daarom slaan hulle die vroue so. Nou weet ons hoekom Afrikanermans bang is vir Afrikanervroue. Is dit dan nie hulle wat kaalvoet oor die Drakensberg getrek het, of wou trek nie.

Ek kan my voorstel hoe ou Piet Retief nog een oggend knoes in die kooi gelê en slaap het toe mevrou Retief hom aan die oor daar uit sleep en sê die wa is gelaai jou slapgat, ons vrouens het besluit ons trek nou en ek, ek bedoel jy is die leier van die trekkers. Kry jou broek aan en kom, ek wag nie vir jou nie!

Het hy maar liewer met ou Dingaan oor hulle gemeenskaplike probleme met hulle vroue gepraat, het hy dalk net `n geesgenoot gevind en weggekom met die helfte van Natal as geskenk en nog `n honderd vroue ook!

Vreemd genoeg kom buitestanders baie goed oor die weg met die oudste en jongste susters. Hulle is dan sulke liewe en gawe mense. En hulle is, hulle is dit regtig, in elk geval vir solank jy hulle vertel hoe mooi en goed hulle is en hoe lief jy vir hulle is, en nie dom genoeg is om hulle teen te gaan in enige iets soos politiek, godsdiens of die kleur van die lug op `n Somersdag nie.

Read Full Post »

%d bloggers like this: