Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘genade’

Desember blues

Sie ek dat vyf WordPress blogers iewers raad gee oor hoe om Desember te oorleef. Dit help my veel.

Een vertel hoe jy jou kinders van Kersvader moet speen sonder dat die bloedjies erge trauma beleef. Help my niks, my kinders is lank reeds gespeen van daardie rooigeklede vetteman. Dit is dalk deesdae vir hulle `n probleem om hulle pa te oortuig dat Vader Krismis nooit regtig bestaan het nie. `n Mens kan wens, kan jy nie? Kyk wat het Vader Krismis vir Zuma gegee vir kersfees, `n hele dorp genaamd Nkandla!

Die ander bloger beveel aan dat jy party tot diep in die nag, maar dat jy jou gaste se motorsleutels wegsteek sodat hulle jou moet help om die huis weer aan die kant te kry, eers dan gee jy hulle sleutels terug. Klink na `n goeie plan, maar dit is gewoonlik nie nodig nie. Teen die tyd wat ons en ons gaste ons roes afgeslaap het, het die honde die vloere en die borde reeds skoon gelek en is dit weer gereed om vir ontbyt gebruik te word!

Ons leef in `n vreemde wêreld, en die kontras in leefwêrelde is seker nerens groter as in Afrika nie. Sommige se kerstafels kreun onder die kos en ander suig letterlik aan die agterste speen!

Afrika 219

Onthou ek die dag toe ek, skaars groter as die kannetjie hier bo (en nog sterk onder die indruk dat Vaderkrismis regtig is) van die verkeerde kant af aan `n koei se speen getrek het. Sy het my terstond tussen die oë geskop dat ek sterretjies sien. Dalk die dat die koppie op sy oudag van tyd tot so bietjie raas?

Durban 1970Wat nie een van die blogers aanbeveel ter oorlewing van Kersfees nie, is om weg te bly van die strande af. In 1970 het ons, komende van die plaas af, gedink die strand is op kersdag onleefbaar vol mense gepak. Jy het dit liewer nie daar gewaag nie.

People celebrate New Years Day on a beach in DurbanOns was toe verkeerd. Op kersdag 2012 het dit so gelyk. Ter wille van oorlewing bly ons nou by die huis. Net soms, so elke twee jaar, dink ons dit sal makliker wees om die stand aan te durf as om by die huis te bly, ook ter wille van oorlewing en dit het niks met Vader Krismis te doen nie!!

Geseënde kersfees vir julle almal wat hier kom inloer. Maak nie saak of jy Christen, Moslem, Jood, Buddhis, Shintoïs of ateïs is nie. Mag die dag vir jou vreedsaam, vol geluk en genade wees.

Jesus_022_small

Advertisements

Read Full Post »

Reënboog Droom

Love 74

Een Goeie dag gewees. Vreemd en vol van genade.

Ry werk toe vroegoggend. Verkeer is maar woes en die ouman se gedagtes nog nie heeltemal waar die lyf is nie. Toe hy by die robot wegtrek is daar een helse bang van agter af en hy ruk amper sy nek af. Klim toe maar uit en gaan kyk wat is aan die gang. Staan daar so ´n jong lat en kyk na die skade aan sy afgeleefe ou Mazda bakkie. Hy kyk my so skeef aan en sê moenie worry nie oom, dit gebeur met die beste van ons. Man sit per ongeluk die kar in reverse  by die rooilig en boem sê hy en gooi sy hande teatraal in die lug. Die skade is nie groot nie en dis ook maar deels my skuld, ek moes nie so naby aan oom stilgehou het nie. Ry nou maar verder en wees versigtig, sê hy en klop my gemoedelik op die rug. Geniet oom se dag.

Ek ry verbaas daar weg, kyk kort-kort om om seker te maak die man kom nie met ´n geweer agter my aan nie. Kom by die werk en sowaar, ou Jacob is op tyd by die werk, die diere klaar versorg en hy is besig om die plek skoon te maak. Sy oorpak is silwer skoon, lyk of dit pas van die droogskoonmakers af gekom het. Self is hy ook skoon gewas en geskeer. Ek ken die man skaars. Dit is inderdaad ´n vreemde dag. En toe word dit nog vreemder.

Ry van daar af na ´n afspraak toe, maar moet petrol ingooi langs die pad. Die petroljoggie is vrolik en vriendelik en “sir” my van voor tot agter en sê hy sien my bakkie is erg vuil, is meneer ´n boer? wil hy weet. En weet ek van die “special” by hulle karwas vandag. Halfprys vir “wash-n-go”, gou gedoen terwyl meneer sit en koffie drink.

Aangesien ek bietjie vroeg is vir my afspraak besluit ek om die aanbod te aanvaar en gaan drink koffie terwy die bakkie gewas word. Ek drink ´n koppie cuppuccino en lees koerant, en toe merk ek dat goed die helfte van die kelners wit meisies is. Hulle lag en skerts met mekaar soos ou vriende, wit en swart en bruin, sonder enige teken van afguns of vyandigheid. Ek roep een meisie nader om te betaal vir my koffie en toe sê sy nee, dis nie nodig nie, ek is “ge-tag” deur iemand wat my koffie vir my betaal het en sy gee my ´n “smily” kaartjie wat sê ek moet op my beurt weer dieselfde vir iemand anders doen, en ek moet my dag geniet. Ek weet nie wie die vreemde, vriendelike mens is wat my “ge-tag” het nie, en die meisie wil ook nie vir my sê wie dit was nie.

Smile

En ek verwonder my oor hierdie baie vreemde dag. Ek vat ´n pakkie pepermente van die rak af vir padkos en loop betaalpunt toe. Voor in die tou staan ´n klein swart dogtertjie by haar ma, te pragtig aangetrek, en sy vra of sy asseblief ´n roomys kan kry. Die ma sê nee, nie vandag nie, sy het nie genoeg geld by haar om roomys te kan koop nie. Die kind lyk afgehaal maar sy aanvaar dit so. Net toe ek my beursie wil uithaal om tog maar vir die kind ´n roomys te koop, kom die jong takhaar Hells Angels mannetjie wat agter my in die tou staan verby. Hy het tatoe’s op alle dele van sy lyf wat onder sy klere uitsteek, en ek vermoed daar is nog meer op die dele wat nie uitsteek nie. Daar is ´n oorbel in elke oor en ´n motorfiets-valhelm onder die arm, en  hy koop vir die kind ´n roomys en vra in ruil daarvoor dat sy hom ´n drukkie moet gee, wat sy toe ook spontaan doen!

Ek is stom verbaas.

Later die dag, so teen skemer keer ek terug huis toe. Langs die pad kry ek ´n afgeleefde, vuil tjor en ´n verwaarloosde vrou met ´n petrokan in die hand, en ek dog so by myself, hierdie blonde jong vrou is so goed as verkrag as iemand haar nie help nie. Ek hou stil al weet ek voor my heilige siel wat hier aan die gang is. Sy is een van daardie 5 liter, sestig killometer kan-in-die-hand petroldiewe wat mens deesdae baie kry. Ry Met min petrol by die huis weg, gaan staan sonder brandstof  en “leen” dan vyf liter om tot by die volgende dorp te kan kom “waar vriende bly met siekte/dood/runderpes of ingroei toonnaels in die huis” wat besoek moet word.

Is ook nie anders nie. “Mirrag Oom (verskonend bedees, oë afgeslaan, goed ingeoefende ritueel). Kan Oom my asseblief met vyf liter help tot by die volgende dorp? Ek sal Oom betaal, gee net Oom se adres en telefoon nommer dan bring ek sommer die geld na Oom se huis toe”, rammel sy haar rympie af nog voor ek iets kan sê.

Intussen hou daar ´n ander jong vrou met haar nuwe 4×4 Toyota Bosbus by ons stil. Sy is goed versorg, duidelik welgesteld en pragtig. Terwyl die petroldief weer haar rympie opsê knipoog die mooi meisie vir my en glimlag onderlangs. Sy weet ook wat hier aan die gang is. Ek bied aan om vir haar geld te gee as sy sal terug ry na die naaste vulstasie om petrol te gaan koop, dan bly ek by die arme vrou sodat sy nie iets oorkom nie, maar sy skud net haar kop, loop terug na haar blink ryding toe en kom terug met ´n 10 liter kan vol brandstof. Ek en sy gooi die petrol in die tjor terwyl die bedelvrou ons bly verseker dat sy ons gaan betaal vir die brandstof en die moeite.

Ek en die mooi meisie glimlag net vir mekaar en verseker die vrou dat sy ons regtig niks skuld nie, sy moet net ry en sorg dat sy by haar vriende uitkom voor dit donker is.

Ek klim in my bakkie en waai vir die meisie in haar 4×4. Sy glimlag vir my en voor sy ry blaas sy ´n soentjie in my rigting. ´n Gloed van genoegdoening spoel oor die ouman se lyf en sy glimlag dreig om sy gesig in twee te deel. Dit is voorwaar ´n wonderlike dag.

En toe word ek wakker en die moeder van my kinders staan voor my bed met ´n groot beker koffie en hand vol beskuit en sy sê ek moes ´n lekker droom gehad het want daar was hierdie enorme glimlag op my bakkies! Ek vat die koffie by haar en vra; “Het ons gister ´n vrou langs die pad gehelp wat sonder petrol gaan staan het?”

“Ja,” sê sy. “En daardie mooi meisie met die 4×4 het nog haar man se petrol vir die waterpomp vir die vrou gegee.”

“En het ek die bakkie laat was?” vra ek.

“Ja jy het.  En terwyl ons koffie gedrink het, het twee ouens, een wit en een swart, mekaar buite by die karwas met die vuis geslaan dat die bloed spat. Hoekom vra jy?”

Dan is die wêreld daar buite nog soos dit altyd was, dink ek stilweg en drink my koffie. Maar ons kan droom, ons kan altyd droom.

Read Full Post »

Die flippen hek

`n Week of wat gelede is ek op pad werk toe. Druk die knoppie van my gemotoriseerde hek om uit die erf te ry. Tussen my gespook om die honde dop te hou dat hulle nie uit die erf in die pad voor die verkeer beland nie, en die o-so-stadige pas van my hek, ry ek die ding in sy glory in. Skoon van die spoor af en erg gebuig. Hekpaal uit sy fondament uit geskok

Ek en Ma stoei met die swaar, gebuigde hek om dit uit die pad te kry sodat ons die erf kan verlaat om by die werk te kan kom.

En hier tree die genade in. Buurman van oorkant die pad kom aangedraf en help die ongelukstoneel opruim. Hy vra wat het gebeur, ek sê dit kom nou daarvan as jy `n knertsie teen die koue in jou oggendkoffie te gooi. Sy oë rek en hy sê regtig? en Ma sê moet nie twak praat nie, maar sy sê nie twak nie. Saam sleep ons die hek uit die pad uit en help hy om die gat waar die hek was toe te maak sodat die honde nie kan pad vat nie.

Later die dag gryp ek die groot 10 pond hamer en moker die hek weer in koers in. `n Jong wit bedelaar kom staan en vra so ewe geld. Ek sê ek het niks by my nie en ek is ook nie in `n gee-erige bui nie loop. Hy loop. Ek bedink my en roep hom terug. Ek sê jy werk vandag vir jou geld soos ek dit elke dag doen. Help my om die hek weer op sy spoor staan te maak dan hoop ons Ma is teen daardie tyd weer by die huis en sy het gewoonlik geld aan haar. Hy help en ons kry die hek weer op sy plek.

Ma kom aan net toe die hek staan. Ek sê gee die man sy geld dat hy kan loop. Sy gee en hy loop. Sy sê moes ek hom nie meer gegee het nie, of dink jy twintig was genoeg? Met daardie klein beursietjie van haar wil sy nog eendag alle bedelaars van die strate af kry. As `n junkie `n traan stort oor haar arme baba wat nie melk het nie dan spring die beursie al vanself oop.

Ek sê twintig was te veel, die man het nie eers gesweet nie.

Buurman van 2 huise straat op kom kyk wat aangaan. Hy sê hy gaan haal net gou sy welder en ander gereedskap dan kom help hy want die hek steek nog dikbek vas so halfpad oop en halfpad toe. Buurman korrel hier en klop daar en mompel van swak bestuurders, en uiteindelik loop die hek, steeds stram en halstarrig maar dit maak weer oop en toe.

Buurman wil dit weer van die spoor af haal en laat lê sodat hy die ding mooi reguit kan buig, maar ek sê nee, los dit tot die naweek dan het ek meer tyd, ek moet gaan werk. Buurman sê jy sal daai paal moet oop grou en regop trek en dan weer beton gooi want dis hoekom die hek nog swaar loop, hy sal kom help.

En dis wat dit so nice maak. Al die bure kom aan en simpatiseer en bied hulp aan, behalwe nou die ou Ingelsman van reg oorkant ons wat met bloedjong swart meisies lol.

Die naweek grawe ek en Ma en Hannelie `n gat om die paal. Ons gooi sand en klip en sement op `n hoop en buurman en sy hele gesin van oorkant die pad kom opgewonde help. Hulle is eintlik uitgevat om winkels toe te gaan, maar hy wil help met die betonmengery. Ons is regtig dankbaar. Die kinders lag oor die simpel oom sy eie hek omry. Pa maak hulle boos stil. Jy lag nie oor so iets nie, berispe hy hulle. Ek sê dis OK, mens mag maar lag want dit is simpel om jou eie hek om te ry.

Duidelik het hy nog nooit in sy lewe beton gemeng nie. Hy steek so bolangs met die graaf op die hoop klip rond, al in die rondte. Sy skoon wit klere en wit skoene is vol sement, sy gesig het strepe sement op. Hy slaan in sweet uit en blaas erg van moeg, maar ek wil nie die graaf uit sy hande vat nie want hy kan dalk beledig voel. Hannelie mik om die graaf te vat maar ek keer haar. Sy gaan haal haar eie graaf en ons help die man wat so gaaf is om ons te help om ons eie beton te meng en die paal te plant.

Hy is baie trots op homself toe die werk klaar is en ry net so vuil en vrolik weg winkels toe.

Die volgende naweek kom buurman Phillip weer met sy welder en grinder en hamers om die hek finaal “op te fix”, sê hy. Die ouman se rug is seer en sy kop voel nie lekker nie, maar vandag moet die hek reg. Hy timmer en meet en grind en weld en uiteindelik loop die hek glad en gewillig soos hy veronderstel is om te loop.

Dit is goed om te weet daar is nog goeie mense om jou. Die buurman langs jou, die swart man by die hospitaal wat die wit dwelmverslaafde meisie op sy koste vir rehab stuur, die arbeider by die werk wat bel om te hoor hoe dit met jou gaan want hy het annerdag gesien jy is nie lekker nie en nou het hy twee dae laas van jou gehoor.

Daar is nog hoop vir ons. Net dalk.

Read Full Post »

%d bloggers like this: