“Bardo of Dharmata”
In Tibettaans is die Bardo van Dharmata: Chönyi(d) Bardo, waar chön yi beteken “the intrinsic nature of everything, the essence of things as they are” (Sorgyal Rinpoche: The Tibetean Book of Living & Dying).
Die afgestorwene het nou, as suiwer energie, verby die oorweldigende Wit Lig van die Chikhai Bardo beweeg en bevind hom/haar in die Karma gedrewe Bardo van oorweldigende kleure, geluide en lig. Wat hier gebeur, sê Sorgyal, is dat “mind and its fundamental nature” (as suiwer energie) gaandeweg begin her-manifesteer as vorm. Hier neem jy weer jou oorspronklike vorm as mens aan, maar in die vorm van lig (moontlik die “verheerlikte liggaam” waarvan die Bybel praat? Of die astrale liggaam?).
Die eerste fase van Dharmata is steeds een van helder wit lig, maar die lig is nie so intens soos in die Chikhai Bardo nie en uit die lig begin die ou bekende wêreld vorm aanneem, maar in verskillende kleure soos in ´n lugspieëling op ´n warm dag. Die lug is blou, water is wit, grond is geel, vuur is rooi en die wind is groen. Hoe stabiel hierdie lugspieëling sal voorkom, en of jy daarmee een sal kan word en so bevry word van die siklusse van Samsara, hang 100% af van die mate van stabiliteit wat jy gedurende die lewe bereik het deur meditasie en ander geestelike praktyke.
Weereens moet mens die ligte moontlik beskou as energie wat op bepaalde, baie spesifieke frekwensies vibreer. Indien jou energie dan op dieselfde frekwensie vibreer sal jy die verskynsel nie vrees nie, en kan jy deur eenwording op hierdie stadium bevry word. Indien jy nie tot hierdie vlak van bewussyn gevorder het nie, sal jy aanbeweeg na die volgende fase van Dharmata.
Die tweede fase van Dharmata is “luminosity dissolving into form”. Die verskillende kleure neem nou bepaalde vorms aan. Die vorm wat hierdie ligte sal aanneem, sal afhang van die kultuur en tradisies waarin jy groot geword het, want ons moet steeds onthou dat alles wat in die Bardo met ons gebeur in ons eie gedagtes (die Engelse woord ‘mind’ is hier vir my meer beskrywend) afspeel. Vir Bhuddiste verander die ligte in goeie en slegte gode (deities). Vir ons sal dit moontlik die Christus, Engele, Moeder Maria of Heiliges en duiwels, bose geeste of demone wees.
Hierdie verskynsels gaan gepaard met verblindende lig, oorweldigende geraas soos ´n baie erge donderstorm, en die geluid soos van ´n skreeunde stormwind. Ligstrale soos lasarstrale straal uit jou en die ‘gode/heiliges’ en as jy besef dat goed en kwaad se oorsprong jou eie gedagtes, wense en vrese is, sal jy een word met hierdie Lig en so bevry word.
Indien jy in vrees en bewing vlug, beleef jy die derde fase van die Bordo van Dharmata wat; “union dissolving into wisdom” genoem word. Verskillende ligte, eers blou, dan wit, gevolg deur geel, rooi en groen, sal in pare van dieselfde kleur na jou toe aankom. Die primêre lig (bv Blou) sal byna verblindend voorkom, terwyl die sekondêre lig (ook blou van kleur) dof sal skyn. Hierdie ligte verteenwoordig aspekte van wysheid. Sogyal beskryf dit as:
Die blou lig dui op wysheid/onkunde. Indien jy soos ´n dwaas deur die lewe gegaan het sal die helder lig jou verskrik en jy sal deur die dowwe lig aangetrek word. Indien jy reeds in die lewe wysheid bekom het, die “wisdom of all-encompassing space,” sal jy na die helder lig gaan, daarmee een word en ´n helder begrip en direkte belewenis van die werklikheid sonder die tussenkoms van konsepte beleef.
Die dowwe wit lig verteenwoordig haat en woede. As dit die soort lewe was wat jy gelei het, sal die dowwe lig jou aantrek en sal jy weens jou karma, tien maal erger haat en woede beleef as gedurende jou lewe. Indien jy jou lewe sonder haat en woede geleef het sal die helder wit lig jou aantrek en sal jy “mirror-like wisdom” bekom waardeur jy ´n diep en omvattende selfkennis en selfaanvaarding sal beleef.
Die dowwe geel lig verteenwoordig hoogmoed. As jy hoogmoedig was, sal die dowwe geel lig jou aantrek en sal jy nou nog meer hoogmoeddig word. Jou hoogmoed en eiewaan sal onbeperkte, waansinnige hoogtes bereik. Indien jy jouself gedurende jou lewe nie bo ander geag het nie en die werklikheid sien soos wat dit is, sal jy nou ervaar dat daar geen dualiteit bestaan nie. Die EK wat hoogmoedig is bestaan in werklikheid nie, jy en alles wat bestaan is uit die Lig. Dit is, “equalizing wisdom”.
Die dowwe rooi lig verteenwoordig begeerte. As hierdie lig jou aantrek omdat jou lewe oorheers was deur begeerte, sal jou begeertes nou tien maal erger word. Omdat begeertes in die Bardo nie vervul kan word nie, sal dit jou nou erge pyn en lyding besorg. Om reeds gedurende jou lewe bevry te word van begeerte is om “the wisdom of discernment” te bekom. Dit is die wysheid om te kan onderskei tussen wat werklik nodig en onnodig is, wat van waarde en wat waardeloos is.
Die dowwe groen lig verteenwoordig jaloesie. Soos met begeertes, neem jouloesie hier onmeetlike proposies aan en veroorsaak dit lyding soos uit die hel. Om vry te lewe van jaloesie is om onbevooroordeeld en vry van begeerte te wees. Die helder groen lig wat “all-accomplishing widom” verteenwoordig, sal jou aantrek en jy sal bevry word.
Die siftingsproses gaan eenvoudig voort, en afhangende daarvan of jy reeds gedurende jou lewe al hierdie negatiewe eienskappe en drange kon bemeester, kan jy met hierdie helder “ligte” saamsmelt en bevry word van Samsara.
Indien jy steeds nie gereed is vir bevryding op hierdie vlak nie, sal jou slegte karma hier erge pyn en lyding veroorsaak. Dan sal dit jou aandryf na die vierde en finale fase van Dharmata.
Die vierde en laaste fase van Dharmata word genoem: “wisdom dissolving into spontaneous presence.” Al drie die vorige fases van die Bardo van Dharmata word nou vir ´n kort tydperk gesamentlik beleef in ´n oorweldigende “vertoning” met ´n laaste geleentheid om uit die kringloop van hergeboorte te ontsnap.
Op hierdie stadium van spontane teenwoordigheid besef jy eers werklik dat jy dood is. Skielik sien jy jou liggaam leweloos lê, jy sien hoe jou mense huil, jy sien hoe jou liggaam voorberei word vir die begrafnis en jy hoor as die mense met mekaar praat, ook alles wat hulle van jou sê (en dink!) en jy probeer met hulle praat om hulle te verseker dat jy nie dood is nie, maar hulle steur hulle nie aan jou nie, en dit ontstel jou geweldig.
Gedurende hierdie tyd vind jy dat jy wonderlike dinge kan doen soos om deur mure te kan loop en oombliklik van een plek na ´n ander kan beweeg deur net daaraan te dink. Jou hele lewe speel weer voor jou af en jy onthou elke oomblik daarvan. Jy onthou ook al jou vorige lewens en jy weet wat die volgende lewens vir jou gaan inhou. En dan verdwyn alles soos mis voor die son, en as jy weer wakker word is jy in die laaste Bardo, die Sipa (of Sidpa) Bardo; The Bardo of becomming, die finale fase voor jy weer gebore word.
Om die Bardo van Dharmata te verstaan, moet jy daaraan dink as ´n droom terwyl jy slaap, of ´n dagdroom, of ´n nagmerie. Jy moet onthou dat alles wat daar met jou gebeur, al die gode en heiliges en bose geeste en demone wat na jou toe aankom, jou eie skeppings is en dat dit skadeloos is. Dit kan jou geen kwaad aandoen, of pyn veroorsaak nie. Jy moet kalm bly deur gebed, deur herhaling van jou meditasie tegnieke wat jy geleer het, en jy moet konsentreer op wie jy as jou helper, heiland en redder sien, maak nie saak of dit die Christus, die Buddha, Krishna of God self is nie. Deur hulle/hom/haar te vra vir bystand en hulp sal jy jou gemoed stabiliseer en die verskynsels sien vir wat dit is en een word met die Lig volgens jou vlak van ontwikkeling/vibrasie en dan sal jy bevry wees.
Die alternatief is om afwaarts te spiraal na die Sipa Bardo (Hemel en Hel?)wat ek volgende keer sal bespreek.