Feeds:
Artikels
Kommentare

Posts Tagged ‘Armblankes’

Die week wat was

Vreemde week beleef. Behalwe van die barbaarse aanval voor ons hek, loop die lewe ook ander draaie met ons.

Terloops: is verbasend hoe vinnig ander riller stories by jou uitkom na jy self die ding aan die lyf beleef het. En dis skrikwekkend hoeveel en hoe wreedaardig sulke aanvalle byna daagliks daar buite gebeur. So is vriend Kobus se buurman op die plaas by sy hek aangeval. Die koerante sal vandag dalk die storie vertel, of dalk nie aangesien sulke goed nie meer so erg nuuswaardig is nie!

Terug na die week wat was. Staan ek by `n robot en wag waar daar altyd dosyne swart mans sit en hoop op werk. Ry die groot lorrie van die musipaal wat vullis verwyder verby. Wit man bestuur die trok. Hy en die werksoekers skreeu iets op mekaar. Volgende oomblik gooi die man `n plastieksak vol ou broodrolle by die venster uit. En dit is om van te dood om te sien hoe daardie mense storm en mekaar uit die pad uit stamp om by daardie ou broodrolle uit te kom. Soos honger vee op `n droogte plaas as die boer `n bietjie voer uitsit, storm hulle. Twee sterk manne werk saam en stamp die ander uit die pad uit, gryp die sak en begin die brood net so droog te verslind, terwyl die ander vuis in die lug skel en dreig.

Dit gaan sleg daar buite, baie slag.

En nie net met die swartmense nie. `n Ou oom en sy broerskind bedel by ons landlord op die plot vir werk. Die twee mense slaap in hulle ou skedonk van `n kar in die veld langs `n dam in die omgewing. Die somtotaal van hulle aardse besittings ry hulle in genoemde ou kar waar hulle gaan. Die ouman is `n bouer en doen nog bouwerk waar hy dit kry, maar weens `n gebrek aan werk en geld het hy nou sy laaste paar stukkies toerusting bestaande uit `n graaf, spitfurk, troffel, hamer en grinder vit R200 aan iemand verkoop.

Die vorige plek waar hulle gebly het vra nou R1,000 per maand vir `n kamer. Die ouman se pensioen is R1,200 per maand wat hom dus nie met veel laat om kos te koop nie. Op Heidelberg kan hy `n woonstel kry vir R2,000 per maand, wat hy natuurlik graag wil hë, maar nie kan bekostig nie.

Soos gewoonlik kry Ma die mense vreeslik jammer. Daar moet gehelp word, soos in nou dadelik. Ons bel Solidariteit en vra hulp. Ons sal `n tent koop as dit moet as Solidariteit kan help met plek waar dit opgeslaan kan word sodat ons die twee mense uit die veld uit kan kry waar hulle gevaar loop om vermoor te word vir die kar en wat ook al daar in is. Intussen betaal ek hom vir `n stukkie bouwerk wat gedoen moet word.

Solidariteit is erg behulpsaam. Daar is plek vir R500 per maand, water en ligte ingesluit. Ons së dis reg, sal die mense vat om te gaan kyk, wat ons toe ook doen.

Dit was net so `n hartverskeurende ondervinding. Arm witmense wat in sinkhuisies en karavane bly, elkeen met `n handvol vuil, klein,  jong kinders en `n gebroedsel maer blaffende en keffende brakke. Waarom het arm mense altyd so baie kinders? En waarom die spul honde wat ook nog moet gevoer word? Vrouens sit gehawend en moedeloos (en getrek?) voor hulle stanings.

Ons word rondgewys, plek waar die tent opgeslaan kan word, badkamers en toilet. Beslis nie vyfster verblyf nie, maar veilig. Ma gryp die beursie en sit af “kantoor” toe om die maand se verblyf vooruit te betaal. Ek vra die ou man met sy vuil, stukkende onderhemp en vuil sweetpakbroek of hy tevrede is. Sal hy daar bly? Nee sê hy, hy dink nie so nie. Die plek is vuil.

Later blyk dit sy ontevredenheid spruit uit die teenwoordigheid van `n swart gesin wat eenkant in `n hoekkie bly. Ek vermoed dit is Solidariteit se “token black” of dan kwota komponent ter wille van hulle weergawe van politieke korrektheid.

Ons keer afgehaal terug huis toe. Daar is mense wat nie gehelp wil, of gehelp kan word nie. Mense wat die gawe het om altyd, maar altyd die verkeerde besluite te neem en dan word hulle diewe, moordenaars, rowers en verkragters en beland hulle in die tronk of besittingloos, werkloos iewers in die veld langs `n dam.

 

 

Read Full Post »