Ons beleef voorwaar nie `n aangename tyd nie. Die afgelope week of drie loop die ou Sekelman knaend op ons spoor. Neem ons eers afskeid van Mia wat vir baie jare die kleinsus in die gesin was na ons ander mensekinders die huis verlaat het. Toe groet ons ons ouboet Dirk, en nou neem ons afskeid van ons geliefde Bonnie.
Die twee hondekinders het oral saam met ons gaan vakansie hou. Kleinsus en Ousus. Bonna was veral lief vir die see, maar eintlik was sy maar net mal oor saamry. Maak nie saak waarheen gery word nie, as die wiele draai wou sy saam.
Saam met Ma en Pa by die see, met Mia in die rugsak omdat haar been seer was en sy nie vêr kon loop nie.

Sy was lief vir water, of dit nou n getypoel of stortreën was, as dit nat was moes sy daarin speel, maar nooit in die swembad nie, daarvoor was sy te veel van n lady, n waardige, afsydige Skotse lady.
Na 14 jaar saam met ons, het kanker haar kom wegvat. Sy was gedaan en die veearts het haar uit haar pyn verlos.
Ons mis jou ou Bon met jou ronde lyfie en kordaat houding. Jy was uniek, jy was dierbaar. Mooiloop ou honne. Dit was goed om jou te geken het.
Sy was voorwaar so ‘n liewe wese. Sterkte
Hartseer want hul kruip tog so diep in mens se hart in. Sterkte aan jou en Elsa
Dankie julle. Hulle is mos jou kinders. Is swaar om afskeid te neem.