Sien ek nou eendag in ´n tydskrif hierdie advertensie, gestel in die trant van: ‘Dra hierdie Jean en word só die beste weergawe van jouself wat jy ooit kan wees’. Dit was ´n effense skok op my sisteem. Die eerste keer waar ek die aanspraak teengekom het was in ´n advertensie vir ´n ‘retreat’ wat oor geestelike verdieping gegaan het wat jy kon bywoon “to become the best possible version of yourself”. Nou word dit ´n goedkoop mantra van die markplein aan jongmense. Ons klere maak van jou ´n beter mens! Koop,Koop,Koop!
David Foster Wallace (DFW) vertel hierdie storie: Twee jong vissies swem vroeg oggend rivier af. Kom ´n ou, wyse vis in die teenoorgestelde rigting by hulle verby geswem. So in die verbygaan sê die ou, wyse vis vir die jonges; “goeie more julle twee, en hoe is die water vanoggend?” Swem die twee jonges vir ´n oomblik in stilte, dan draai die een na die ander en vra; “wat de hel is water?”
Dis moontlik dieselfde reaksie wat ´n buitelander sal kry as hy terloops aan twee ANC staatsamptenare, of twee hoogeplaasde munisupale amptenare sou opmerk: “Ek hoor korrupsie is endemies hier by julle?” Sal hulle ook moontlik vir mekaar vra: “Korrupsie, wat is korrupsie?” want dit is so algemeen onder ons eie kripvreters soos water vir visse is.
Maar hoe vaar ons, die sogenaamde wetsgehoorsame burgers in ons alledaagse lewe. Wat is ons “water”? Hoe doen ons in die ongeduld en onverdraagsaamheid department. Soos David sê, dit is ons selfgesentreerdheid wat ons in spitsverkeer laat sit en “being disgusted about all the huge, stupid, lane-blocking SUV’s and Hummers and V12 pickup trucks, burning their wasteful, selfish, 40-gallon tanks of gas,” terwyl ons dink aan die feit dat “the patriotic or religious bumper-stickers always seem to be on the biggest, most disgustingly selfish vehicles, driven by the ugliest, most inconsiderate and aggressive drivers,”
Ons “default setting” soos hy dit noem, is selfgesentreedheid, ons “water”. Ek is moeg. Ek wil by die huis kom. Ek werk hard en moet rus kry. Ek,Ek,Ek. Hierdie ander padgebruikers hoort nie hier nie, hulle is in my pad.
Natuurlik skel ek self op die onnosel donders voor my. Natuurlik slaan ek op die stuurwiel met die vuis dat hy bewe en gee die vark wat my op die witlyn verbysteek die vinger. Sommer meer as een vinger vir die wis en die onwis! En die hoeter, ek blaas daai horing dat die kranse antwoord gee!
Selfde ding gebeur waar ons in die lang tou voor die kassier in die winkel staan. Ongeduld. Hoekom skreeu daardie snotneus kind so, kan sy ma hom nie ´n klap gee nie. Daardie een is vet en slordig en wat soek sy in haar nagklere in die winkel! Onverdraagsaam is ons. En belangrik. En reg, altyd reg. En beter as ander, natuurlik.
Ons “water”. Ons swem deur die lewe sonder om te dink, en dit, sê David en al die ander groot geeste oor al die jare heen, is ons problem. Ons gaan bewusteloos deur die lewe. Ons dink nie, ons opereer op ´n ingeburgerde “default setting” wat gaan oor die self, oor geld, oor mag, oor die eie klein lewetjie se dramas en traumas. Niemand verstaan ons nie, niemand kry so swaar soos ek nie en dit gee my die reg tot onvrede en ongeduld.
En die gevaar is dat, as ons bewusteloos deur hierdie lewe ploeter, die kans dat ons aan die “anderkant” beter gaan vaar omtrent zero is. Soos die ou in wat Elsa nou anderdag in Chekers raakloop. Wandel met haar trollie tussen die rakke deur en kom hierdie trollieslose man op haar afgestap. Sy steek vas om hom kans te gee om in die druk verkeer verby te kan kom, maar hy pyl verbete reg op haar af. Net toe sy die asempie intrek om vir hom te skreeu; “kyk waar jy loop jou dom donner”, toe loop hy reg deur haar en haar trollie en verder die gang af! Bewusteloos is hy, onbewus daarvan dat, waar hy is, dit nie meer nodig is om kruideniesrsware te koop nie.
Maar hier klou ons aan ons “regte”, aan ons persoonlike Vryheid, die Vryheid om ander te minag, en natuurlik die Vryheid om te kan koop. Jy koop jouself beter soos die advertensie hier bo ons wysmaak.
Gaan trek ek my jeans aan en kyk vol afwagting vir daai ‘beter weergawe van myself’ in die spieël. Toe staan daar steeds hierdie bekende ou, kaalkop mannetjie met die pens hier voor my. Jeans doen dit bepaald nie vir hom nie!
Sê David: “The really important kind of freedom involves attention and awareness and discipline, and being able truly to care about other people and to sacrifice for them over and over in myriad petty, unsexy ways every day.” Met ander woorde, om terug te staan en werklik waar te neem wat om ons aan die gang is, om ander in ag te neem en te besluit wat is van belang en wat dit is waartoe my selfsug (en my kultuur) my onnadenkend dryf.
En as ons die dag bewus word van wat om ons aangaan, dan kyk ons met ´n verbete tonnelvisie, gevorm deur ons eie gewaande belangrikheid en vooroordele om ons rond. Dis dan wanneer ons skreeu oor onreg en minagting doelbewus teenoor ons gepleeg. Soos die vroue-lektor wat boosaardig jil oor die “diskriminerende” benaming ‘dame’ en ‘dameskoshuis’ teenoor ‘man’ en ‘manskoshuis’. Of die ander een wat gil oor ´n vrou wat in die openbaar deur haar baas as mooi en intelligent gekomplimenteer word. Hoe durf hy. Dis ´n gruwelike belediging, nee vernedering vir alle vroue!
Ag shit. Dit is net so erg as hierdie be-boepensde grotmanne wat glo hulle is seksie, en glo die vrou is minderwaardig en moet die man in alle opsigte onderdanig wees.
Kan ons die lewe anders benader. Is David reg as hy sê: “It will actually be within your power to experience a crowded, hot, slow, consumer-hell type of situation as not only meaningful, but sacred, on fire with the same force that made the stars: love, fellowship, the mystical oneness of all thigs deep down”.
Dit is ´n ongelooflik moeilike opdrag, maar ons moet leer om bewustelik en sonder oogklappe deur die lewe te gaan. Ons moet, soos David sê, ons self oor en oor herinner:
“Dit is water.”
“Dit is water.”
Dit was ´n pragtige, leersame en bemoedigende toespraak wat hy by ´n gradeplegtigheid gehou het. Toe gaan staan en bevark hy dit alles deur drie jaar later selfmoord te pleeg!
Die opdrag is moeilik genoeg. Dit is oneindig moeiliker om dit na te volg terwyl jy elke dag met die “swart hond” ook moet baklei. Rus en vrede vir jou ou grootte. Ons, die agtergeblewenes sit die stryd verbete voort, meermale met erge bloedvergieting, maar ons probeer.
Ter syde, en terloops: die afgelope paar dae het ek seker meer as 5 keer die onnervinding gehad dat in druk verkeer iemand vir my plek maak om te beweeg- bane te veranner, regs oor die verkeer te draai. Daar is hoop en dit moedig mens sommer aan om ook meer verdraagsaam en bedagsaam te wees. Klein dingekies wat mens doen kan vêr rippel.
Ja sowaar. Net gister het een medepadgebruiker vir my gesmile. Daar is hoop!!
Passing disturbances. As mens net kan onthou, he.
Is waar die Buddhiste se “mindful living” ter sprake kom Dalene. Dit moet `n lewenswyse word, maar dit is vir meeste van ons westerlinge nie regtig `n opsie nie. Ons beur materialisties voort onder die vrag van ons begeertes, vooroordele en eie belangrikheid tot die einde toe.