As dit nie so tragies was nie, kon mens sekerlik daaroor gelag het. Stel jou voor; jy bly in `n regstaat en alle burgers van die land is onderworpe aan alle wette. Op `n dag word jy saam met duisende mense gevang geneem vir een of ander oortreding en in die tronk gestop. Na `n tyd sê hulle vir jou hulle het die wet verkeerd geïnterpreteer en
julle word vrygelaat.
Na een dag buite die tronk word julle weer in hegtenis geneem en vertel hulle het die wet verkeerd verstaan, en weer word julle in die tronk gestop, die keer kry jy `n veel langer vonnis. Na `n dag of twee word julle weer vrygelaat en vertel dat die wet nou mooi aan hulle verduidelik is, hulle verstaan dit nou en volgens die nuwe verstaan is party van julle nou weer vry, maar ander nie.
Sou jy rustig slaap in so `n samelewing? Sou jy die regstelsel en regters vertrou in die toepassing van die wet en die handhawing van wet en orde? Ek dink nie so nie. As jy kan sal jy `n veiliger plek gaan soek om te bly voor iemand weer die wet herlees en jy weer in die tronk gestop word En dit is presies wat die kerk (veral die NGK) nou aan sy mense doen.
Dit is eintlik bisar. Eers is saambly sonde en in stryd met die woord van God. Nou skielik verstaan hulle God het dit nie eintlik so bedoel nie. Saambly is soort van OK, maar trou is beter, Hy hou meer daarvan. Nie baie nie, maar tog. Saambly maak Hom nie meer die donder in nie.
Ou Nick, wel ja, hulle het dit ook verkeerd verstaan. Daar bestaan nie regtig iets soos die duiwel waarmee hulle al die jare die gemeente gedreig (bedrieg?) het nie. Ou Satan is `n metafoor sien, nie `n objek soos `n bok nie. Al die duisende preke en dreigemente oor duiwelsaanbidding waarmee arme ou anties in ouetehuise en kinders in skole tot
die dood toe bang gepraat is, was mistastings, wan vertolking van die woord des Gods. Daar is nie `n duiwel wat aanbid kan word nie. Die ou adder in die Tuin was `n sprokie, net soos Adam en Eva `n storie vir die vaak was en is.
Maar (en dit is `n classic, lees nou stadig en aandagtig), Die uitdryf van duiwels (wat nie bestaan nie?) mag nog gedoen word MITS dit onder streng toesig gebeur.
Goed, ek is op my beste nie die skerpste potlood in die boks nie, maar die een kan ek, selfs met `n goeie skoot LSD of Procaine (mondeliks toegedien) nie kop of gat van uitmaak nie. Ek neem aan jy moet `n 80 jaar oue predikant wees om dit te verstaan.
Belhaar. Nee, nie soos in bel daai seksie meisie nie. Belhaar soos in apartheid is (nou) sonde/misdaad gepleeg teen die mensdom, so het hulle nou die boodskap direk van Bo gekry. Vir baie jare het God se heilige, onwrikbare woord vir hulle gesê jy mag nie saamvoeg wat God geskei het nie, dit is `n doodsonde. Vir seks oor die kleurgrens het hulle jou onder sensuur geplaas, onmiddelik, want dit was soos God dit will. Nou het God weer van plan verander. Afsonderlikheid was eintlik nooit OK met Hom nie, Hy haat dit met `n passie.
Vir my as buitestander lyk die hele debakel na `n bespotting van alles waaroor geloof veronderstel is om te gaan, en ek wonder of die kerk die een gaan oorleef.
Ek mag dalk verkeerd wees. Ek hoop regtig ek is, maar ek sien kerke wat leegloop, ongebruikte kerkgeboue wat verkoop word, predikante wat hulle werk verloor omdat gemeentes nie meer 2 of 3 predikers kan bekostig nie. En ek sien miljoene swart mense buite die kerk en miljoene Rande wat jaarliks in Moria se koffers beland.
Kan dit wees dat daar gehunker word na `n deel van die (swart) koek en dat `n klompie (suurgat) wit lidmate opgeoffer kan word in ruil vir die geklingel van (swart) silwer?
Of is dit maar net weer politieke gedienstigheid aan die nuwe heersers. Kan ons dus verwag dat die woord van God weer op `n later stadium, onder nuwe here en meesters (dalk die Chinese), her geïnterpreteer gaan word? Iets soos dat die hele Bybel eintlik `n versinsel was, dat God nie regtig bestaan nie? Jahwe was `n metafoor vir iets, ons weet
nog nie wat nie. Daai ouens in die woestyn, jy weet, ylend in die warm son (en dan was hulle nog Jode gewees ook, en jy ken daai lot!)
Ons wag in spanning vir die volgende bedryf in die tragikomedie.
Mense is hul lewe lank nog inkonsekwent. Dan gee eiers jou cholesterol, dan weer nie. Dan is rooi vleis sleg vir jou, dan weer nie. Dan is dit gesonder om jonk kinders te he, dan weer beter as jy ouer is. En so fok ons voort. Ek volg my eie kop, die kanse is goed dat ek meer reg as verkeerd sal wees 😈
Sal die woord van God weer her geïnterpreteer word? Sonder twyfel!
Maar wie was dit nou weer wat gesê het dis elke mens se onvervreembare reg om homself opnuut uit te dink (reinvent). Kan ook nou weer nie onthou wie dit was nie, maar dit geld dan seker die kerk ook.
As dit nie so was nie, was daar vir ons geen hoop nie.
Ja om te luister na almal wat vir jou probeer sê wat goed is vir jou sal jou net op en af laat hardloop soos n` afkop hoender. Die reel vir gesondheid is maar matigheid in alles, is dit nie. Maar as jy wil sê jy het gelewe moet jy van tyd tot tyd van die wa af val en iets doen wat n` goeie kans het om baie sleg te wees vir jou fisiese gesondheid. Katarsis… die beste manier om van jou ‘demone’ ontslae te raak is om hulle self uit te werk!
Alle gelowe deur die eeue is gebou op dieselfde fondasie – die bestaan van n` god of gode – en julle dink dat die gelowe nie werk nie want die kontrakteurs wat op die fondasie bou doen dit elke keer verkeerd. Ek dink die probleem is nie die bouers nie, miskien is dit tyd om te begin kyk na die fondasie. As die fondasie gebreek is, as dit nooit daar was nie… kan hulle herbou, aanbou of re-decorate soos hulle wil; geboue sonder fondasies staan nie n` kans nie.
Dit is werklik belaglik! Ek dink die Here treur elke dag oor die ‘waninterpretasie’ van sy woord en die misleiding van sy kinders.
Ek weet nie veel hiervan nie. Wat ek wel weet is dit is gewoonlik moeiliker om te verstaan wat ‘n probleem is, as wat die oplossing is en ek dink dis nou net hier waar die probleem le^ vir die kerk. Daar is tog ‘n verskil daarin om te se^ “ek is reg” en “ek is nie verkeerd nie”… of dan “ek weet iets” en/of “ek weet alles”. Dit gaan als oor bewyslas en daai strik het die kerk vir homself gestel. Dis makliker om die negatiewe as die regstellende te aanvaar.
Dalk moet ek bly wees dat ek nog in die platteland woon en ons kerk nog outyds is. Ek luister baie fyn na die ds en dank die Vader, word daar nog uit die Woord gepraat. Hierdie baie moeilike sake soos hierbo genoem is nog nie by ons ter sprake nie.
Ek verstaan nie wat mense van die arme NG Kerk wil hê nie. Lank is daar gekla hulle is veroordelend en wil net die vinger swaai en vir almal voorskryf. Noudat hulle besluit het om eerder akkommoderend te wees en na mense te luister sonder om te oordeel, word hulle weer daarvoor verwyt dat hulle nie vaste wette maak nie.
Ek dink nie die analogie waarmee jy die post begin het, is gepas nie. Die kerk is nie ‘n regstaat nie. Die NG Kerk het bloot die ontdekking gemaak dat spiritualiteit sinvol is wanneer dit nie gaan oor wette en reels nie, maar eerder daarom om jouself te verruim en begrip te probeer kweek ook vir diegene wat anders as jy dink. Ek meen wel done NG Kerk. Ons almal moet werk om by daai punt uit te kom.
Is dit nie maar soos met alles nie. Iets mooi en goed is deur die jare toegegooi onder menslike reëls, wette en regulasies….en op die ou einde het oë begin dwaal vanaf wat werklik belangrik was. Liefde. Onthou julle nog die belaglike swart kerkpakke en vrouens met hoede op? Ek onthou nog as kind hoe belaglik ek dit gevind het dat die mans gestaan het, en die vrouens gesit het gedurende ‘n gebed. As mens jou ophou met dit wat nie belangrik is nie, vergeet jy baie vinnig van wat wel belangrik is.
Hierdie sogenaamde gewetens verandering van die kerk glo ek nie is opreg nie. Die dogma wat op die grond aan mense en hul kinders verkoop word sal nog steeds onveranderd bly. Nog steeds sal dominies in die kerke en sondagskool klasse, week na week dieselfde ou mitologiese verhale as die waarheid aan gemeentes verkoop. Tot vandag toe word stories soos Adam en Eva en Noag en sy boot nog steeds op kinders afgedwing al word dominies op kweekskool geleer dat dit nie letterlik waar is nie.
Lucifer is hier om te bly, en seks sal nog lank “sonde” wees. En dis goed so, want stadig maar seker stap al hoe meer mense weg van hierdie oppervlakkige ideologie om hulle spirituele behoeftes op ‘n meer betekinisvolle manier uit te leef.
Drie weke terug het ek in Johannesburg geet in ‘n gewese NG kerk wat nou omskep is in a bakery en restaurant. Vir die eerste keer kon ek daadwerklike en tasbare verandering sien. Ek is dankbaar en bevooreg om in tye te leef van diep wetenskaplike insig en om in sosiale omstandighede groot te word wat my blootgestel het aan hierdie informasie.
Jy is reg Son. Ons kan en ons doen. Dan is daar weer die ander 90% wat nie kan nie en van goed soos priesters en polisiemanne voorgesê moet word, anders raak hulle die spoor totaal byster. Ons sien dit in misdaadstatistiek elke dag.
Die ou mensdom is `n sad lot.
Alleman, ek sal weer oor die ding skryf. Ek moet dit finaal vir myself uitpluis. Sien ook die kommentaar aan Johannes hier onder.
Marli, ek werk my besimpeld en kry nog nie my demone uitgewerk nie 😀
Die fondasies wat daai klomp gousoekers/stelers hier kom lê het was inderdaad nie baie goed nie, inteendeel, maar so tussendeur al die twak staan die gebou darrem al vir meer as 2000 jaar. Is dalk tyd dat hy weer afgestof en herbekyk word.
Pienkpantoffels, ek dink Hy huil sommer net oor die ganse mensdom en net oor die waninterpretasies nie.
Oor die waninterpretasies en wat nog skryf ek weer hier. Kom lees en lewer kommentaar.
Jy is reg Roer, dit gaan uiteindelik oor die bewyslas wat nou soos `n albatros om die moderne kerk se nek hang.
Ek sal dit aanspreek in `n volgende pos.
Toortsie glo my, ook julle gaan al die goeters nie gespaar word daar op die buitewyke nie. Inteendeel, ek dink dit gaan julle uiteindelik swaarder tref as vir ons in die stede. Hier het ons al dik velle ontwikkel en maak ons ons makliker los van dit wat ons nie aanstaan nie. Klein gemeenskappies is gewoonlik meer konserwatief en baie hard op afwykendes/wederstrewiges.
Bertus, is goed om weer van jou te hoor. Ja, ek het self vir Elsa gesê iets pla my oor die inskrywing en ek sal weer daaroor moet gaan besin, want sien, ek het self die kerk verlaat oor hulle so stagnant, so onwrikbaar en liefdeloos bly voort ploeter het. En natuurlik oor die kleinlike “politiek” wat binne die kerk bedryf word.
Die eerste gedeelte en die Belhaar gedeelte van my pos is ook twee onverwante kwessies wat elkeen op sy eie aangespreek moet word, en daarom sal ek dus weer daaroor skryf. Dalk kan ek dan agterkom wat my so omkrap van die huidige woelinge.
Wat die analogie aan betref kan jy maar net in die koerante gaan lees en sien hoe die gewone kerkganger dit beleef. Hulle is verward, hulle voel die kerk het hulle in die steek gelaat, eers met apartheid (ek was daar op die grens waar die predikante ons kom ondersteun het en droewig met die Grootbaas gepraat het in ons stryd teen die bose kommuniste en hulle ANC meelopers) en nou met die hand op die blaas benadering met die ANC.
Die mense soek vastigheid na die politieke omwenteling, regstellende aksie en misdaad wat hulle om elke hoek en draai tref. En hulle soek dit by die kerk, en hulle voel die kerk is besig om die mat onder hulle voete uit te trek.
Maar dankie vir jou skrywe, ek gaan weer hier skryf oor die saak. Kom lees en lewer kommentaar.
DM, jy slaat die spyker op die kop. Ons en die kerk het dalk so bietjie vergeet waaroor dit regtig gaan. Ons jaag windmeulens soos daai man van Lamanka destyds, dis hoede en broeke en rokke en kelkies en wat nog. Intussen loop die kerk leeg weens onliefde en onvrede.
Miskien is dit een van die susterskerke se probleme; dat hy iets probeer wees vir almal in `n desperate poging om te bly voortbestaan.
Ons bekyk die ding weer vorentoe.
Andrew, ek het gedink jy sal hier kom woeker. Ja, dit gaan oor die leë kerke en dat loslittige bands nie die oplossing is nie, dink ek. Mense dink deesdae vir hulleself en vra vrae, en dit is goed. Wat my bekommerd maak is daardie groot persentasie wat nie vir hulleself kan dink nie en nou jou meubels wegdra en meisies verkrag en vermoor want hulle kan, daar is niks meer wat hulle op die regte pad kan hou nie. Vir intelligente, opgevoede mense soos jy is dit nie `n probleem om tussen reg en verkeerd te besluit nie, om jou eie spirituele paadjie te loop nie. Maar ons samelewing val uitmekaar en daarvoor het die wetenskap geen antwoord nie, in elk geval nie `n antwoord wat daardie geestelik “agtergeblewenis” kan verstaan nie.
Of ek en jy dit wil of nie, daardie miljoene het `n kerk, of iets soos `n kerk nodig om hulle op die smal weg te hou.