Lyding bedaar in die mate
Waartoe mens vry is van die bedoeling
Om te skaad.
Daar is geen werklike grootsheid nie,
As woede nie beteul word nie.
Dhammapada vers 390
Kommentaar deur Bhikkhu Munindo:
Die gevoel van verontwaardiging kan gegrond wees op ‘n gevoel van grootsheid, of meerderwaardigheid. Maar só ‘n gevoel van grootsheid is deurtrek met lyding.
Wanner die vlamme en rook van ons woede bedaar het, dan sien ons die skade wat deur onbeheersde handelinge en woorde veroorsaak is. Andere is seer gemaak en mens vind jouself alleen om die verdriet en berou te trotseer.
Dis lekker om innie son te lê en bak; en ‘n soetigheikie is baie aanloklik, maar sulke goed se voorkoms verdoesel die werklikheid. Net omdat dit lekker is, beteken nie dat dit goed is nie.
Net so is die drif van woede baie stimulerend, maar sodanige stimulasie het ‘n prys: ‘n erge skuldlas word veroorsaak deur willens deur daardie vloed van energie meegesleur te word. (Want die bedoeling agter ons dade wanner ons in woede optree is om te skaad.) Mens mag geregverdig voel om ‘n standpunt van vergelding in te neem, maar dis ondeurdag om in woede te handel.
As ons werklik baie ernstig daaroor is om vry van lyding te wees sal ons onsself inspan om gewaar te word van die kleinste neiging om skade te bewillig.
In sy pos “Disgrace” hieronner vra Louwie:
Ek dink hierie preek spreek tot sy vraag. Die malligheid vannie mensdom is grootliks ‘n probleem van waardes, of dan meer korrek die gebrek aan waardes. Materialisme as ‘n lewensbenadering is uiters vernietigend. Gelukkig word dit in (ietwat) gevorderde beskawings, soos die weste en die ooste, in toom gehou deur morele waarde-stelsels, hetsy daargestel deur godsdiens of filosofie. Maar as materialisme deur ‘n kultuur aangegryp word voordat dit ‘n redelike waarde-stelsel ontwikkel het, raak dit hondsdol soos ‘n Prius en hol weg, met erge gevolge.
In so ‘n situasie word dit van uiterste belang dat ons die hoër waardes wat ons voorstaan moet verdedig en indien moontlik bevorder. Daarom dan dat ons wel dié wat in woede optree en vergelding eis as dol kan beskou. Vir ons eie welsyn moet ons die Dhammapada (en soveel anner Wysheids Tradisies) se lering volg en ons woede beteul deur aandagtige insig, die toepassing van wysheid, en die uitleweing van deernis.
Plato het skynbaar gesê: “Be kind, for everyone you meet is fighting a hard battle.”
Yip, onbeteulde woede kan jou in diep sop laat beland… dikwels onnodig.
Dhammapada is reg, Plato is reg en Demoerin is ook reg. Op voetsoolvlak lyk dit egter meeste van die tyd asof niks sal verander as jy nie geweld gebruik, brand stig, plunder en moor om jou punt te bewys, of jou sin te kry nie.
Meeste van die tyd is die plunderaars ook reg want die met wie hulle moet onderhandel is ewe eens plunderaars in eie reg wat ook net geweld as middel tot eie doel verstaan.
Diesulkes het nie `n idee waarvan die Paddaman praat nie, en sal nie in `n duisend jaar daarby kom nie.
Wat doen ons in die tussen tyd?
Preek en bid dat die biesies bewe?
Belowe die hemel en dreig met die hel?