Versigtig nou. Buurman Boilermaker kom kuier en ons drink Ken Forester, Petit Pinotage, 2010. Na twee glase van die nektar voel man heel rustig. Te rustig sou Ma sê. Moet probeer om heel normaal te reageer. Daar buite draai `n bose wêreld steeds.
In Robert Hellenga se “Philosophy Made Simple” dryf Rudy, die hoofkarakter en oupa van `n paar kleinkinders, kaal die rivier af na hy `n halwe bottel wyn kafgedraf het. Bevry, sorgeloos en diep filosofies. Vêr die rivier af moet hy gered word van sy bravade as hy nie teen die stroom op weer terug kan swem na sy huis toe nie.
Kan mens na twee glase Pinotage laat los en vry sweef, weg van die aanslag van die wêreld daar buite?
Laat mens dink aan Professor (Filosofie) A. C. Grayling (Birkbeck College, London), wat skryf oor Jan Vermeer se “Girl interrupted at her music”
Self dig hy `n storie daaraan toe, bring dit in verband met ander skilderye van Vremeer. Romanties weef hy sy eie storie om die meisie, `n “girl interrupted” maar nie onderbreek deur kaal te swem in `n rivier nie, ook nie deur twee glase Pinotage nie, maar tog op haar eie manier bevry, sou ek dink. Nie vry soos Herbert Marcuse aan vryheid dink nie, maar ook dalk nie heeltemal anders nie. Vermeer beskryf sy vryheid sag, romanties, delikaat. Marcuse eis vryheid polities aktief, selfs brutaal. Nie die die vryheid van `n kaal lyf wat spontaan en weerstandloos rivier af dryf nie.
Miskien lê die waarde van lewe opgesluit in daardie oomblik van onderbreking. Maak nie saak of dit die ‘Vermeer oomblik’ van `n jong meisie, of die kaal ‘Rudy’ oomblik in die rivier, of `n beskeie ‘Pinotage’ oomblik is wat die lewe interrupt nie. Dit is die skim van bevryding wat daarin geleë is wat die siel se hunkering aanvuur, wat mens laat glo dat dit tog miskien die moeite werd kan wees, net miskien.
En dan word ons weer “gered” van ons oomblik van bevryding deur `n leermeester wat aandring op ons aandag by die musiek, deur helpende hande wat ons naakte skaamte bedek as hulle ons uit die rivier trek, deur die werklikheid anderkant Ken Forester Petit.
More is nog `n dag. Die “Vuurvoël” moet vlieg.



Laat my dink aan Annie Dilard wat gesê het: ” God is in the gaps.”
Die verskil tussen Rudy en Marcuse is die verskil tussen “vryheid van …” en ” vryheid om te …”. Eersgenoemde is geestelik en ontasbaar, die tweede is polities en materieël.
Dis waarskynlik ook hoekom daar twee tipes van dronkies is: die Rudy tipe wat deur die dwelm bevry word van die brutale aanslag vannie wêreld, en die Marcuse tipe wat deur die dwelm “bemagtig” word om te doen wat hulle wil; dus die wat net gemoedelik kan ontspan, en die wat vol valse bravade skop-skiet-en-donner.
`n Baie goeie ontleding Joh.
Ek sal die Marcuse storie nog aanpak. Die man se diagnose van die menslike situasie was nogal in die kol, en selfs vandag nog geldig. Sy oplossing was nie lekker nie.
Dankie aan almal wat die “like” knoppie gedruk het. Daar is ander wat gedink het dit is ag siestog, arme ding.