Dinsdag Buhrmansdrif in Noord-Wes, Donderdag Paul Pietersburg noord Natal. Genade, man se lyf en siel kom nie meer bymekaar vir `n koppie tee nie.
Twaalf uur die middag vertrek ons. Ontmoet ons reisgenote en drink koffie by die Ultra City na die tolhekke naby Middelburg. Van daar swaai ons weg na Hendrina op pad na Ermelo. Die pad is goed maar nou en bevolk deur kreunende vragmotors wat teen `n slakkepas die bulte op en af stoom. Verbysteek is `n nagmerie.
Die Oos-Transvaal is die plek waar Pa en Ma gebore is en waar hulle opgegroei, geskool en getrou het. Die ou familieplaas (nou in die hande van steenkool grawende mynmagnate) lê naby Bethal. Oupa en Ouma (van beide kante) het later op Trichard gebly en is daar begrawe.
Hendrina, vernoem na die vrou van Gert Beukes op wie se plaas die dorp ontstaan het iewers rondom 1914 (1920?), was die saamkom plek vir nagmaal van boere uit die omgewing. Die eerste winkels is glo deur Libanese bedryf. Dit is ietwat vreemd aangesien meeste winkels in omliggende dorpe destyds deur Jode besit was.
Kleintyd het ons gewoonlik gedurende die winter hier by familie gekuier. Een woekerende oom van ons het `n klein plasie hier net buite die dorp besit. Die legende loop dat die oom besighede en huurhuise (let wel, huur en nie hoerhuise nie!) in die dorp besit het en dat sy vrou eers na sy dood bewus geword het van 2 slaghuise en ander eiendom wat syne was. Dit terwyl hulle op die plaas in relatiewe armoede en erge onvrede in `n bouvallige ou huisie gebly het.
Die omgewing is `n mengelmoes van mielielande, weiveld en verwoeste, omgedolwe aarde waar oopgroef steenkoolmyne soos stink swere op `n malaatse mens se lyf die wêreld besoedel.
Ons bereik Ermelo ongeskonde (maar net deur Genade!). Indrukke na vorige vlugtige deurtogte was dat die plek heel skaflik beskaafd is met `n ongelooflike hoeveelheid baie goeie gastehuise. Hierdie keer ry ons deur `n meer ongure deel van die dorp wat jou laat onthou van berigte oor Nigeriese dwelmbase wat hier in samewerking met die Polisie bordele en dwelmfabrieke bedryf het. Strate is in `n swak toestand en winkels word swak onderhou. Nie regtig `n plek waar ek uit eie keuse sal wil dood nie.
Die dorp is in 1870 aangelê deur Dominee Frans Lion Cachet. Hy vernoem dit na die dorp Ermelo in Nederland waar `n goeie vriend en leermeester van hom gebly het en waar hy self begeesterd/ bekeer geraak het. Dertig jaar later word die dorp gedurende die Groot (dom?) Oorlog deur die Engelse tot `n rommelhoop verwoes. Net een huis het glo staande gebly.
Die huidige aanslag van Afrikanisering teen die dorp, en alle ander plattelandse dorpe dreig om dit weer te reduseer tot rommelhoop met min of geen hoop dat dit weer soos `n Phoenix sal opstaan uit die as nie.
Ons sukkel voort na Piet Retief. Skuif bevange verby vragmotors belaai met steenkool en ander vrag. Dis snikkend warm en die aircon zoem heelpad soos `n swerm bye om ons te beskerm teen verswelging, of dalk versmelting.
Van Piet Retief weet ons almal (Dingaan en al daai tragiese stories). Van sy dobbel gewoontes en bangkrotskappe in die Kaap as rede vir sy trek die woeste binneland in, weg van skuldeisers, weet ons minder. Dat die hoofstraat in die dorp nou so vervalle is dat `n trekker met waterkar ingespan word om die stof in bedwang te hou, (komplimente van van swak ANC regering) is `n ontstellende nuwe ontdekking.
Wonder ek nou of Ungungungluvu nie dalk Dingaan se dobbelhuis was en of hy en onse Piet nie dalk vinnig `n potjie poker gaan speel het en die Piet daar met `n kaart of twee in sy mou op betrap is en daarom vermoor is nie?
Die dorp is in 1882 aangelê en iewers gedurende die Groot Oorlog in puin gelê. Dit is weer opgebou tot model “tuindorp” en verval nou weer vinnig tot model blikkiesdorp.
Te midde van `n stofwolk in die hoostraat gooi ons petrol in en koop koffie vir die dors.
Van oom Piet se plek af kronkel die pad deur plantasies tot by Paulpietersburg. Hierdie is seker die dorp met die grootste identiteitskrisis in die land, indien nie in die wêreld nie. In 1888 word die dorp as Paulpietersrust aangelê, vernoem na Paul Kruger en generaal Piet Joubert, die man wat die Engelse in 1881 by Majuba op hulle rooi baadjies gegee het. `n Paar jaar na stigting word die naam verander na Paulpietersdorp. Iewers jeuk iemand se dinges toe weer en hulle verander die naam na Paulpietersburg soos dit vandag nog bekend staan. Maar in Zulu staan die dorp bekend as Dumbe, so genoem as gevolg van die voorkoms van `n eetbare aartappelagtige knol wat in die omgewing gevind word.
Maar dit is nie die enigste van die dorp se beproewings nie. Vir een of ander rede is die dorp wat eintlik in Natal lê, by die ou Transvaal ingelyf. Toe word dit weer deel van Zoeloeland, en toe, skynbaar na Uniwording, is dit weer by Natal ingelyf soos dit vandag nog is.
Duitsers en Skotte het laat in 1800 in die dorp en omgewing ingetrek en boer en woeker steeds daar rond. Praat steeds Duits, maar ook Engels, Afrikaans en Zulu, drink bier en speel ook nog steeds umpa musiek by saamtrekke. `n Pragtige Lutherse kerkie staan trots tussen die dennebome by Luneburg.
Ons staan oor op `n jagplaas by erg gasvrye Duisers wat vlot Afrikaans praat. Lieflike gastehuis met `n asemrowende uitsig oor die berge. Aandete, bekook en voorgesit deur `n jong Zulu man is uit die boonste rakke. Het nog nooit in my lewe soetpatats gemaak met marsh mellows ge-eet nie. Uitstekend. Drink witblits uit `n bottel met heel rooi rissies in. Dit brand die bloue hel uit jou uit en jy durf nie naby `n oop vlam asem uitblaas of poep nie, dit kan jou duur te staan kom.
Dag 2 bring ons tussen die Drakensberger koeie deur op `n ander Duitser se plaas. Is al die vierde generasie van die familie wat die plaas besit en beboer. Reg rondom die plaas lê lamlendige Zulu huisies en lappies heuphoog verlepte, vergeelde, verpiepte mielielande en hulle kyk met gretige oë na die groot ou opstal en landerye wat beplant staan met mielies wat lyk soos jong dennelote. Fantasties geil en groen en gesond. En ja, sê die boer gelate, daar is grondeise teen die plaas.
Laat mens dink aan Paul Theroux se ondervinding op sy reis deur Afrika. Verslae en geskok oor die verval en agteruitgang van alles wat hy teenkom dertig jaar na sy vorige verblyf in Malawi en Uganda, vra hy aan die mense, regeringsamptenare en lektors aan Universiteite wat hy persoonlik ken; waarom lyk dit so, waarom die verval, waarom staan voorheen winsgewende Indiër winkels leeg, wat het van die groot produktiewe plase geword, hoekom is skole en universiteite vervalle? Dan antwoord hulle een en almal; “The problem you see, the problem is, we have no money and you see, the UN and America won’t give us any.”
Skuins na 11 die oggend is die werk met die koeie afgehandel en ons ry terug na Sodom en haar suster se ontugtige, wellustige vleispotte. Ses uur later is ons weer by die huis. Met die intrap word ons oorweldig deur die vreugdevolle groet van ons stertswaaiende swart kinders. Dit verskaf mens tog altyd oneindige plesier om so verwelkom te word in jou eie huis. Uitgelate en uitbundig bly is hulle, so asof jy `n leeftyd lank weg was.






Maak nie saak waar mens reis nie, mens se eie huis is maar altyd net lekker om na toe terug te kom. Veral mens se eie bed ook
Jy sê Son, veral die bed. Maar `n vreemde bed kan nogal pret wees