Ry op ver paaie hierdie week wat verby is. Bring eers `n blitsbesoek aan die ou “hunting grounds” van ons jeug … Noord-Wes (van wat, moontlik die beskawing? wonder `n mens), of dan die goeie ou Wes-Transvaal.
Kom Ventersdorp om, laat weet die agent. Nie omdat mens hulde aan Die Groot Leier wil gaan bring nie, nee, maar omdat die pad oor Magalies en Koster, soos so baie ander paaie in die platteland onrybaar geword het. Onthou net van die ompad om die sinkgat anderkant Tarlton, en die ompad om die ompad waar die ompad ook gesink het, vermaan die agent.
Spring net na 5 die oggend, toe die voëls in die bome begin hoes, hier weg en vind toe daar is inderdaad nog `n ompad om die ompad, om die ompad wat voorheen nog rybaar was, maar wat nou ook onrybaar geword het.
Lichtenburg is maar steeds die ou stowwerige dorpie van destyds. Die enigste verskil is dat die strate stadig besig is om weer stofstrate te word soos in die pioniersdae, en dat die parkie waar Die Generaal wat die Boere moet kom red op sy perd sit, besig is om in `n oerwoud te verander. Ek dink ek het `n traan in die Generaal se oog bemerk oor die gemors van papier en polistireen wat om sy voete gesaai lê. Hy het die oorlog teen die Britse beskawing verloor, en sy nasate het die stryd teen onbeskawing verloor. `n Dubbele neerlaag vir sy Volk dus, waar die huidige so verwoestend is as wat die eerste een was in terme van verlies. In die eerste is duisende mense dood, in die tweede is meer as `n miljoen verlore aan moord en emigrasie.
Die ou skool staan nog stewig ( en grootliks wit) waar hy gestaan het. Die mielies lyk goed, sê jy vir die boere. Dit lyk maar net so, sê hulle, maar jy moet sien hoe lyk dit by Sannieshof! Droog sê ek jou, droog.
Buhrmansdrif, `n godverlate plekkie Noord van Mafikeng. Selfs die internet het geen inligting omtrent die ontstaan van die plek nie. Al wat hulle weet is dat dit `n spoorwegstasie is, dat aardbewings (<5 op die Richterskaal) elke sowat 50 jaar voorkom, dat daar geen vloedgevare is nie, dat 44 kinders per 1000 mense jaarliks sterf en dat dit droog en hel warm is. En daar is `n skool en moontlik een hotel. Daar was ook `n klomp hensoppers uit hierdie geweste gedurende Die Generaal se verbete, verlore oorlog.
Die veld is welig en groen en vrolik, die mense gul en vreeslik vriendelik. Dit gesels in Afrikaans soos ou vriende … en drink tee soos meneer Scot en sy mense al vir 4 geslagte op hierdie plaas doen.
Terug huis toe, die keer verby Slurry, `n sementfabriek wat al donkiejare daar op die vlaktes sit en stof die lug in blaas, deur Ottoshoop op pad na Zeerust.
Ottoshoop sit al vir donkiejare tussen doringbome, toegegooi onder Slurry se sementstof. Maar jare voor Slurry begin stof opskop het, het Ottoshoop sy roemryke gloriedae beleef. Dit is hier waar daar in 1879 die eerste maal goud in die land ontdek is, lank voor Barberton en lank voor Johannesburg.
Volgens legende het meer as 100,000 mense met drome van rykdom op die plek toegesak. Magistraat Otto het die dorp uitgelê. Slim ouens het hotelle, bordele en winkels gebou en goeie ouens het kerke gebou. Groot klonte goud is uitgegrawe en groot vragte drank is uitgesuip.
En toe slaan die noodlot Otto se hoop in sy moer in. Wat Otto en die myners nie geweet het nie, maar wat die plaaslike Tswanas wel gweet het, was dat hier op die rand van die Galagadi/Kalahari woestyn meer water was as wat hulle geweet het wat om mee te doen …. somtyds, en daarom het hulle die plek “Melemani” genoem, plek van baie water.
Dit was nie `n geval van “a river runs trough it” nie, maar “a river runs under it” op plekke glo tot 25km wyd. En toe reën dit, en die watervlak styg en al die mynskagte word oorspoel. Tot vandag toe is daar nie pompe wat in staat is om die skagte leeg te pomp nie. Byna oornag het die myners almal Otto se hoop laat vaar en Barberton en Johannesburg toe getrek toe hulle hoor daar is ook goud ontdek.
Nou sit Ottoshoop daar in die stof op die rivier en op die goud wat in die rivier onder die dorp lê. `n Skim van die dorp wat dit eens op `n tyd was.
`n Goeie teerpad loop by Ottoshoop verby Zeerust toe. Kleintyd is ons menig maal hier deur op pad na Pa se plaas op Nietverdiend noord van Zeerust, of oom Dirk se plaas Grootkop oos van die dorp. Het selfs `n girlfriend (buurman op Nietverdiend se donkerkop, langbeen dogter) gehad wat hier in die koshuis gebly het.
Toe was Zeerust `n klein plattelandse (wit Calvinistiese) dorpie, skoon en netjies en ordelik met hoërskoolseuns so groot soos boerpampoene wat jou pimpel en pers gedonder het as jy die dag teen hulle rugby gespeel het. Nou is die plek ietwat groter, die hoofstraat vuil, verwaarloos en rumoerig, tipies Afrika waar vrouens negosieware op die sypaadjies voor die winkels uitpak en elkeen presies dieselfde items aan verbygangers probeer verkoop. Geen witmens in sig nie.
Ons ry deur die dorp sonder om te stop. Wonder vlugtig hoe groot en rond my langbeen meisiekind van destyds dalk vandag is. Slim kind gewees. Laas wat ek gehoor het het sy iewers by `n Universiteit klas gegee. Sy kon Twana praat so goed of beter as wat sy Afrikaans kon praat.
Verder langs die pad lê Herman Charles Bossman (en oom Schalk Lourens) se Groot Marico. Dit is `n plek wat ek nog eendag wil loop besoek, stadig en rustig van een mampoer drinkgat tot die volgende. Die keer is daar nie tyd nie. Ons steek verby na Rustenburg en vang die snelweg om Pretoria huis toe. Agt en `n halwe uur op die pad onder hierdie ongenadige son is nie pret nie.
Dit was Dinsdag. Donderdag is dit weer in die pad na Piet Retief en Paul-Pietersburg toe, maar dit is volgende keer se storie.

![56691426[1]](http://skalkskryf.files.wordpress.com/2012/02/566914261.jpg?w=500)



Veilig ry
Dankie Son, ons het dit oorleef.