Trietsige Sondag, en daarby is die weer ook nie te wonderlik nie dankie. Gebruik die dag om hangkas skoon te maak en reg te pak. Man moet die jaar skoon aanpak sodat die eindtyd teen Desember jou nie onnet en ongepoets betrap nie.
Die sondagblad, die grootste Afrikaanse een in die ganse wêreld, is ook maar trietsiggerig. Ons “bekokstower” het nie weer die woord bekook nie, en Rachelle Greef het op die kreef gaan staan en kots. Klitsgras Bellingan raak omgeklits en heel stekelrig oor vuil water terwyl ons vriend Koos op sy oudag (en na menige brandewynbottel sy gat gesien het) verdrietig lamenteer oor die voël toe nooit regtig vry geword het soos wat hy destyds beloof het sy struggle vriende beslis en sonder twyfel met die voël sou doen nie. Hy voel beswaard want die onderwys, wat destyds so swak en so `n onmenslike simbool van onderdrukking was, is vervang met `n voël van anderste, veronderstelde wonderlik bevryde vere, en die voël het nou `n windeier gelê. Aldus vriend Koos.
En so gepraat van voëls. Mens verstaan ons Prez ook nou baie beter na sy slim planne met rygoed aan ons verduidelik is. Man gebruik 4 vliegtuie om van hier tot in New York en terug te kom. Drie vlieg gelyktydig en op die laaste been terug ry hy sommer `n vreemde Franse meisie (Airbus A340) terwyl die ander 3 in gelid volg. Die verduideliking vir die baie rygoed vir een trip? Vir as daar met een fout sou gaan, dan is die ander nog daar om te kan ry. Nou verstaan mens hoekom hy so baie vrouens het?
Dan word ons ook deur `n ouerige antie Z Jongbloed ernstig gemaan om te begin dink aan die nasionalisering (of is dit die voëlvry verklaar )van goeters soos myne en banke en plase soos deur die malman en sy trawante op aangedring word. Mens het begrip vir die soort van ding. Gesondheid, onderwys (hoog en laag), verdediging en die provinsies is deur staasamptenare briljant tot anderkant bankrotskap geplunder, maar banke (sommige boere) en myne maak nog goed geld en dit is onregverdig, nee, dit is onmenslik. Die sluise moet oop, die dam moet leeg.
En so waggel die land die weg van die Dodo terwyl die honde en die varke en die plunderaars/veroweraars (net soos die Hollanders destyds op Mauritius gedoen het) die lewe uit hom uit wurg vir die pret daarvan.
Daar is darem ook goeie nuus. Discovery Health het besluit dat jou psigiatriese hulp van hierdie jaar af onbeperk gedek gaan word. Wat `n verligting. Nou kan ek en my psigiater rustig verder gesels met die stemmetjies in my kop.





LOL…’n windeier gelê…bwahahaha