Staan Ma gister in `n winkel by die betaalpunt. Pak haar mandjie met buit uit om te betaal. Is `n sak vol peuselgoed; pasteitjies, tertjies, brood en so aan.
Staan daar `n ouerige dame agter haar in die tou van gesoute kopers. Ma ken haar van g’n kant af nie. Die tante kyk so na Ma se koopsels en sê; “Oo, besig om op te stock vir die naweek.” Nie `n vraag nie, ook nie `n stelling nie, maar tog op `n manier soort van beskuldigend.
Kyk Ma haar so op haar WTF manier aan en, nie lus vir nonsens nie sê sy; “Nee, besig om op te stock vir `n begrafnis” en pak haar paksels (of is dit stoksels?) rustig verder uit.
Dame agter die til proes van die lag. Antie staan effe tru en sê nie `n woord nie.
“Is so,” sê Ma vir die tiller. “Buurman is dood en sy help koop aan iets om te eet vir die mense na die begrafnis.”
“Skuus dat ek lag.” sê die tilvrou verleë.
“Is OK, vergeet dit,” sê Ma en strompel onder die las van haar stoksels die winkel uit.
Stock op vir `n begrafnis! Het nooit so daaraan gedink nie. Ek onthou`n neef van my was destyds nie by my ma se begrafnis nie. Toe iemand hom vra waarom nie, was sy antwoord dat hy nie daardie maand begroot het vir `n begrafnis nie! Nou wil ek nie snaaks wees nie, maar sal iemand asseblief vir Ma gaan sê ek het ook nie hierdie maand begroot vir opstok vir `n buurman se begrafnis nie. As daar nog so `n onvoorsiene, onbeplande begrafnis iewers vorentoe opduik waarvoor ons nie begroot het vir die opstkkery nie, dan gaan sy die jaar weer nie see toe nie.
Ja, Buurman is nou onder die kluite, maar hol nog soos `n mal haas hier in sy huis rond. Dit gaan laaank vat vir die man om tot ruste te kom. Ma sê dat, van die dag van sy dood af, as sy vrou en kinders iewers heen gaan, dan loop hy hier in ons huis rond op soek na hulle. Snaaks dat hy nie saam met hulle winkels toe gaan nie. Hy was baie lief vir shopping.
Hy was `n vriendelikke, vrolikke klein kaalkop mannetjie van Tjeggiese afkoms. Net 42 jaar oud. Hy gaan gemis word by sy werk en by sy huis.
So val ons om, een vir een. Ma se neef Kobus, omtrent so oud soos Buurman, lê ook in die hospitaal, ook met kolonkanker. Dit kap weer woes in ons bos. Mens voel die wind van die ou swarte se sekel teen jou lyf. Miskien is dit tyd om die nekkie uit te hou en te sê; “Do your damnest.”




Bwahaha, jammer dat ek ook lag…maar die opstock vir ‘n begrafnis is prysloos.