Wat sal jy doen as die heel laaste rolletjie 35mm film wat ooit geproduseer gaan word, aan jou gegee word met die opdrag: gaan neem jy hierdie allerlaaste 36 foto’s?
Wat gaan jy afneem? Wat wil jy vir ewig so vaslê?
Dit is presies die opdrag wat aan Steve McCurry, die man wat die “groen-oog Afgaanse vlugteling meisie” vir National Geographic afgeneem het, gegee is.
Steve het vir 9 maande beplan aan die opdrag en toe met sy Nikon F6 vir ses weke op reis gegaan deur die wêreld en die laaste 36 foto’s gaan neem; Indië, Turkye, Afganistan, Italië en nog ander plekke waar hy voorheen foto’s geskiet het.
Die eerste Kodachrome films is in 1935 gemaak, die laaste een in 2009. Die einde van `n era het aangebreek. Ou tegnologie is deur nuwe tegnologie vermoor. Die digitale mik-en-druk het, miskien teen alle verwagting in, die mark oorgeneem.
McCurry se persoonlike argief van foto’s beloop `n aardige 800,000.
Dit is goed dat die ou meester die een is wat die era kon afsluit. Hy kan beslis foto’s maak. Heelwat beter as wat ek dit doen!
Wat sou ek afneem vir so `n opdrag? Ek weet nie. 36 kaal meisies? Nee, miskien tog dalk net een! Die res?
Laat ek dit maar liewer in die hande van `n ekspert laat.






Interessante idee… ek sal hieroor gaan dink.
Wat sal ek afneem? Wat van alles klein, baba diere babas, selfs jong boompies ens en dan noem ek dit Toekoms.
Haai, hoe voel ek dan nou skielik so half nogtalgies oor hierdie brokkie nuus? Wat jy met ander woorde vir my wil se Louwie is dat hierdie ou Ricoh van my nou ‘n ornament geword het en dat ek (selfs al sou ek regtig wou) nou nie meer daarvoor enige film te koop sal kry nie?
FF, dis net spesifiek Kodachrome wat nie meer vervaardig word nie. Maar dis die tekens vannie tye: die anner films sal weldra ook innie stof byt.
Louwie, ja, dit was heel toepaslik dat ‘n meester soos Steve McCurry die laaste eerbetoning doen.
Ook interessant dat ons heinneringe so vaslê op ons reis deur die lewe.
Ek dink ek sal op ‘n Saterdag na ‘n park of strand toe gaan en net mense en families afneem. Wat saameet, saamspeel, saamloop, saambaljaar in die branders ens.
…. en die heel laaste foto sal ek bêre vir liefie.
Die ergste is FF, dat ons self nou saam met ons speelgoed besig is om ornamenete te word, die kinders dink al lank so
Ons sal maar wag en kyk wat die ou meester toe alles afgeneem het. `n Filmspan was glo heel tyd saam om op film vas te lê wat hy op vir laas op film vasgelê het. Dit sal een of ander tyd op TV gewys word.
Wel ‘n ornament se enigste nut is om sy omgewing te versier. Dis hoekom ek weet dat ek nooit ‘n ornament sal kan wees nie.
Verder, as daar ‘n jong knaap by my kantoor in stap met ‘n vraag en ek kan hom help, dan weet ek, ek is nog nuttig. Hy sou waarskynlik nie in my kantoor met daardie vraag ingestap het as hy gedog het ek is bloot ‘n ornament nie.
Versiering is ook ‘n nut, nie waar nie?
Dit is juis die punt FF, oor `n honderd of wat jaar van hier af gaan die kinders vra wat de duiwel was `n Ricoh, oor minder as 20 jaar gaan die jonges by jou werk vra wie de wuiwel was FF en wat het hy nou eintlik geweet, of gedink hy weet?
Dis maar net die ego wat nie hou van die idee van uitwissing nie. Foto’s is ons manier van vasklou, maar selfs McCurry se werk sal in die vergetelheid verdwyn. En dit is goed so.
Ja Joh is seker, maar dis nie ‘n baie nuttige nut nie.
Louwie, foto’s is dan juis ‘n manier om die verlede vir ons op rekord te plaas. Die mens leef mos nie mer in pre-historiese tye nie. Ons plaas ons lewe op rekord vir die nageslag. Daarom onthou ons vir geslagte lank wat gebeur het.
Dit hang ook maar van die individu af FF. My vrou sê altyd as ons gaan vakansie hou kom sy met foto’s van mense terug terwyl ek en my dogter, net soos Joh, foto’s van klippe en bome en blomme en goeters afneem. Ek neem basies goed af omdat dit vir my mooi is, Elsa neem goed af om te onthou.
Die vraag is, het dit `n nut vir die nageslag `n duisend jaar vorentoe om te weet dat Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het met 3 klein seilskepies en wyn begin maak het? Dis `n aardigheid ja, maar dra dit iets prakties by tot sy bestaan? Het dit dus vir hom enige nuttige nut, soos jy dit stel, of is dit slegs `n ornamentele byvoegsel tot sy kennis?
As die estetiese die dag nie meer `n nut vir ons het nie, het ons ons siel iewers langs die pad verloor.
Louwie, ek het nie gedog jy sal iemand wees wat teen die bestaan van geskiedenis gekant is nie. My geskiedenis onderwyser op skool het altyd vir ons gese dat as jy nie weet waar jy vandaan kom nie sal jy ook nie weet waarheen jy oppad is nie. Ek het die geskiedenis wat ons daardie tyd geleer het nie baie interessant gevind nie, maar desedae vind ek mysef baie maal oplees oor allerande beskawings en goed van honderde jare terug. Die ou kulture fasineer my. Hoe sou ons enige iets daarvan kon weet as daar nie iets oor hulle bestaan vir ons bewaar is nie? Louwie, dit is deel van mensewees om oor sulke goed te wil weet.
[...] voorspelbaar genoeg) voel ek nie meer so oor geskiedenis nie. Dit tref my skielik toe ek so met Louwie redeneer. Desedae vind ek myself baie maal opwikipedia oplees oor ou beskawings en mense wat lank [...]
Nee FF, ek het niks teen die bestaan van geskiedenis nie, genade, dit bestaan, of ek daarvan hou of nie!
Dit is interessant ja. Anders as jou onderwyser het Johann Rossouw nou eendag gesê dat veral die huidige geslag Afrikaner het `n obsessie met sy verlede, juis omdat hy bang is vir die toekoms.
Iemand anders het gesê my toekoms lê nie in die verlede nie, maar ook nie in die toekoms nie. Dit is hierdie oomblik, nou, wat my toekoms bepaal.
Maar ons was al hier. Vir jou gaan dit oor kultuur en die behoud van kultuur, die eie groep en sy gebruike.
Iewers in die Bybel staan iets van ‘laat die dooies hulle eie dooies begrawe’ Met ander woorde, wat verby is is verby, maak jou los van die verlede. Jy besluit nou waarheen jy wil gaan, of bly by die dooies.
Ek kyk deesdae na blomme, dit is vir my mooi, maar ek pluk hulle nie meer af sodat ek dit in `n pot kan sit om te kyk hoe dit vrek nie. Ek los dit aan die plant sodat dit sy natuurlike gang kan gaan. Dis mooi waar dit is en dit is goed so.
Reg, Louwie, mens moenie in die verlede vasgevang wees nie. Daar moet balans wees. Nogtans is dit goed om bewus te wees an die verlede.