Net soos ‘n ferm rots
Nie deur die wind verstoor word nie,
Net so is die wat wys is onverstoorbaar –
Hetsy deur lof, hetsy deur blaam.
Dhammapada vers 81
Kommentaar deur Bhikkhu Munindo:
Wie ons ookal is, en wat ons stand innie lewe mag wees, ons is almal blootgestel aan die magte van lof en blaam. Hoe kan ons in hierie wêreld lewe sonner om slagoffers van hierie magte te wees?
Die Boeddha het gesê dat wysheid die antwoord is. Ongeag ons uiterlike omstandighede, solank mens se wysheid ferm staan sal ons harte onverstoord bly. Wyse wesens leef in noue aanraking met die wêreld: hulle voel die werking van die kragte vannie wêreld. Nogtans verstoor dit nie hulle balans nie.
Ten einde wysheid te verwerf moet mens eers die pyn ervaar van om jou balans te verloor. Telke male word ons geleer dat mens van lyding bevry word deur aandagtig daaraan te wees. Om gekwets te voel deur kritiek beteken nie dat ons gefaal het nie; dit toon aan waar en wanner ons meer aandagtigheid aan die dag moet lê.



Joh, ek lees altyd hierdie stukkies van jou met groot belangstelling en wat my opval is dat ek elke keer dieselfde lesse in die Bybel ook kry. Wonder of die leerstellinge van Godsdienste (nie denominasies se dogma – dog maar – nie) werklik enigsins verskil. Ek dink dit word net ander benamings gegee, maar aan die einde van die dag leer hulle almal dieselfde lesse vir ons.
Anna, ek dink ons beperk die Wysheid deur dit te probeer besit en toe te eien vir onsself. Dis soos om die grootte see in ‘n emmer te probeer prop.
En dan skop iemand die emmer! Ha ha ha!
En word `n man se balans nie getoets nie! Daar is maar altyd die wat man se emmer wil omskop!
Anna, daar is al baie geskryf oor die ooreenkomste tussen Buddhisme en die Christendom. Een boek wat jy kan gaan lees is “Zen spirit, Christian spirit” deur Robert E Kennedy.
Onlangs is daar weer gewys op die baie ooreenkomste tussen veral Katolisisme en Buddhisme. Nie net stem hulle leerstellings baie ooreen nie, maar selfs die amptelike rangordes van kerkamptenere/priesters stem baie ooreen.
Maar dan ook weer, dit word beweer dat die Christus in sy 18 “verlore” jare in Buddhiste kloosters deurgebring het. Gaan lees Elisabeth Kubler-Ross se boek (The missing years of Christ) oor die onderwerp.
Daar is dalk uiteindelik net een les te leer, geklee in vele baadjies vir al die verskillende mense om aan te trek.
Dankie vir die boek aanbevelings. Ek raak al hoe meer geinteresseerd in Buddhisme. Louwie, kan jy of Joh dalk nog leesstof aanbeveel?
Louwie, ek dink die boek wat jy in gedagte het is eerder “The lost years of Christ” deur Elizabeth Clare Prophet.
Anne-Marie, dis ‘n groot vraag. Die probleem is dat daar soveel verskillende skole, sektes en benaderings is. Een vannie mees basiese inleidings tot Boedhisme is “What the Buddha Taught” deur Walpola Rahula. Ongelukkig is dit uit druk uit en jy sal ‘n tweedehandse een deur Amazon innie hanne moet probeer kry.
‘n Anner boek wat ek kan voorstel is “Tranquil Mind” deur Rob Nairn. Rob is ‘n Suid Afrikaner wat al baie jare met Boeddhisme omgaan. Hierie boek van hom is selfs in Afrikaans vertaal deur Karel Schoeman. Dit word uitgegee deur ‘n uitgewer in Kaapstad genaamd Kairon Press. Sy boeke is ook ongelukkig nie baie vrylik in boekwinkels beskikbaar nie. Kontak Kairon direk om uit te vind waar jy een innie hanne kan kry. http://www.kaironpress.com.
‘n Klassieke boek is Joseph Goldstein se “The Experience of Insight”. Dis beskikbaar by Kalahari. Alhoewel dit eintlik ‘n kursus in meditasie is, gee dit goeie agtergrond van Boeddhisme se basiese beginsels.
Hoop hierie help.
Die beste manier om meer inligting oor Boedhisme te bekom is natuurlik op die Internet. Google net “Introduction to Buddhism” en gaan mal.
“magte van lof en blaam” interessante om daarna te verwys. Eintlik is lof en blaam gekoppel aan die mens se inherente neiging om vir sy medemens aanvaar te wil wees. Laasgenoemde is die kern vereiste vir die kultuur meganisme. Dit is die dryfveer agter die ontwikkeling van kulture. Om dus ontslae van “die magte” van lof en laam te wil wees is onsinnig. Dit laat my wonder oor die “wysheid” van die Boeddha.
Flippiefanus, net soos Andrew wonner oor die “liefde” van jou god?
Dis ‘n kwessie van perspektief.
“Laasgenoemde is die kern vereiste vir die kultuur meganisme. Dit is die dryfveer agter die ontwikkeling van kulture”
Flippiefanus, stoere empiris wat jy is moet jy asseblief die bronne vir die bewys van die bogaande stelling aanhaal asseblief. Dan kan ek ook vra, soos jy op `n kol gevra het: glo jy die stelling omdat jy wil, of omdat jy weet dat dit waar is?
Indien die stelling wel waar is, dan is dit geen wonder die mensdom in die gemors is waarin dit hom tans bevind nie.
Self het ek nog nooit gehoor of gelees van lof en blaam as kultuur meganisme nie. Wat wel bekend is, is dat die psigopaat wel deeglik van die meganisme gebruik maak om mense mee te beheer. Self staan die kerk al lank beskuldig daarvan dat sy hierdie meganisme van lof en blaam gebruik om die gemeente mee te intimideer en selfs te viktimiseer. Jy gaan Hemel toe omdat jy kerk toe gaan en jou tiendes gee, of jy is in sonde ontvang en gebore en gaan hel toe as jy nie doen wat ons sê jy moet doen nie.
Vir die ego-gedrewe wêreldling is dit moeilik om hom/haar `n situasie voor te stel waar die doen van `n (goeie) daad sonder loon of (`n slegte daad) sonder straf selfs maar bedink kan word. Dit is dus onmoontlik om te glo dat `n (wyse) persoon onverstoorbaar sal doen wat gedoen moet word sonder om te wag vir die applous en eerbetoon, of hom/haar te steur aan kritiek of verguising, soos wat Joh se storie beduie.
Die eintlike fout wat hier gemaak word is wat Ken Wilber noem die klassieke pre/post fallacy, of soos hy dit ook noem “boomeritis”, die algemene term vir “post-convetional/worldcentric levels infected with pre-conventional/egocentric levels.”
“ … die mens se inherente neiging (behoefte?) om vir sy medemens aanvaar te wil wees.” dui psigologies op `n laer vlak van ontwikkeling (amber of rooi vlak van kognitiewe ontwikkeling volgens Wilber) as byvoorbeeld Loevinger en Cook-Greuter se “transpersonal” vlak (indigo, violet, ultraviolet vlakke volgens Wilber) waaruit Joh se aanhaling duidelik gemaak is.
Wilber sê dan ook: “… many of the great contemplative texts, sutras, and tantras were written in the cognitive line from at least the turquoise and often indigo or violet levels.” (Ken Wilber, Integral Spirituality, Integral Books, 2006)
Wat jy dus hier doen is, in Wilber se woorde: “… indigo texts (are) bieng translated downwards into green texts … ,“ dus die afwaartse interpretasie van “nondualality” in “groen” terme waar die eie kultuur dwang tot konformasie uitoefen deur die meganisme (magte) van lof en blaam omdat die kultuur groep se belange en behoeftes swaarder weeg as die individu se eie geestelike ontwikkeling. Vir groen is dit onsinnig om ontslae te probeer raak van die eie kultuur (en kerk) se tirannie, want dit is veilig daar.
Die Buddha was `n wyse man.
Louwie kortom ek glo dit want dit maak sin. Die alternatief maak nie sin nie. Ek weet nie van Wilber se kleure nie (klink asof die man op opium was), maar as ek so tussen die lyne lees dan lyk dit vir my dat jy eintlik met my saamstem.
Voorbeeld: Jy moes al gehoor het van “I’m OK you’re OK” (transactional analysis, nie dat ek baie daarvan af weet nie) Die hele storie agter die “I’m OK” is iets soos: ek weet ek is OK want ek kan dit sien uit hoe ander mense teenoor my optree. Die mens tree dus noodwendig so op dat hy vir sy medemens aanvaarbaar is. Gewoontes en gebruike word dus op hiedie manier deur die bevolking voortgeplant. Hierdie gewoontes en gebruik en allerande idees vorm dit waaruit kulture bestaan.
Terloops dis nog hier by jou wat ek ‘n lekker styery aan die gang kan sit.
Maar as “Hierdie gewoontes en gebruik en allerande idees vorm dit waaruit kulture bestaan.” die hele wêreld tot op die randjie van afgrond gebring het en tot op die been toe verrot het, moet daar `n helse fout iewers wees. Daarom is daar wyse mense wat die foute aan ons uitwys.
Maar dan ook weer; Ek herrinner my daar was `n wyse man wat uit `n hoër perspektief (moontlik Wilber se indigo, violet of wit vlak) die foute van die gewoontes, gebruike en idees van sy mense aan hulle uitgewys het, en vir sy moeite is hy aan `n kruis vas gespyker.
In Indië is die mense net meer tollerant en is die wyse Buddha met rus gelaat. In China het die wyse Lao Stu die handdoek ingegooi, op sy perd geklim en die woestyn in gery.
Ware wysheid is nooit gewild onder die gepeupel nie. Gee hulle `n rooi Z4 of `n godsdiens waar hulle nie hoef te dink nie en hulle klop mekaar op die rug en sê trots vir mekaar “I’m OK, You’r OK” terwyl hulle eintlik baie siek is.
FF, jy’s in goeie geselskap: self die Boeddha stem met jou saam. So, of jy is so wys soos hy, of hy is so onwys soos jy.
Of hy is so wys soos jy, of jy is so onwys soos hy.
Sorry; dekorum.
Gegrond op die beginsel van kondisionering, en spesifiek dié van oorsaak en gevolg, het hy die omvang van ons menslike bestaan omskryf in wat hy “afhanklike oorsprong” genoem het. Deel van hierdie omskrywing van hom was juis hoe ons vasgevang word in gewoontes, en veral denkpatrone.
Hy het egter die gevaar daarvan gesien om kultuur te verabsoluteer, in die sin dat die waardes van enige kultuur noodwendig relatief is, en noodwendig in konflik sal wees met die waardes van anner kulture. Dus is dit duidelik dat ons die waardes van ieder en elke kultuur met groot omsigtigheid moet benader. Ons kan dus nie goedsmoeds aanvaar dat net omdat ‘n sekere gewoonte deel van ‘n kultuur is, dit absolute waarde het nie. Aan die einde vannie dag is ‘n kultuur net dit: ‘n versameling van gewoontes wat die groep, en die lede vannie groep, se voortbestaan onnerskraag.
En hier kom Wilber (gerook al dan nie) in die prenkie in. Hy stem heeltemal saam met die Boeddha dat “kultuur” net een van vele verskillende stadiums is wat die mensdom in sy proses van ontwikkeling deur gaan. Dis nie die eindpunt (of o weë!) die kroon van ons ontwikkeling nie. Dit is innerwaarheid ‘n redelike lae vlak waarop ons ons bevind, gesien in die lig van ons potensiaal. Om dit in perspektief te stel gebruik Wilber die spektrum van lig as ‘n metaforiese skaal wat begin by infra-rooi en gaan tot by wit lig. Vandaar al die verwysings na al die kleure wat jou skynbaar biekie omver gooi. Ten einde meer sin te maak word die skaal in 12 konkrete segmente opgedeel volgens die normale reenboog kleure, alhoewel dit innerwaarheid ‘n aaneenlopende onverdeelde spektrum is. As hierie skaal toegepas word op sê Loevinger se self-identiteits stelsel, dan lê kultuur op die 4de vlak (amber); dws daar is nog 6 hoër vlakke wat ons kan bereik, indien ons in staat sou wees om die gewoontes wat ons kultuur onnerskraag te oorkom.
En een van darie gewoontes is “lof en blaam”. So, ja, as jy by “kultuur” wil vassteek as die hoogtepunt van ons menslike potensiaal, is jy nog nie eers halfpad na dit waartoe ons in staat is nie. En die tragiese feit is dat ongeveer 70% vannie mensdom nooit darie vlak van “reëls en rolle”, wat oppie ouderdom van ongeveer 11 – 15 jaar bereik word, ontgroei nie.
Jy kan dus sê:”Om dus ontslae van “die magte” van lof en laam te wil wees is onsinnig.”, slegs as jy ontken dat daar meer aan menswees is as “kultuur”. En DIT is onsinnig.
Die god van die christen boek is nogal fussy oor lof en prys en as hy dit nie kry nie prys hy homself. Ons moet alewig lees hoe brag hy oor sy almagtigheid, alwetendheid, alteenwoordigheid en wat-nog-alles-heid. En bo op dit het hy nog ‘n jaloerse streek in hom ook.
Waneer die wederkoms uiteindelik plaasvind en god met ‘n groot lawaai soos ‘n drag queen op ‘n verhoog in vlamme en rook deur die atmosfeer gevlieg kom om ons op te fok, moet ons dalk vir hom vra hoekom hy nie sielkundige behandeling ontvang vir sy lae selfbeeld nie. Ek dink dis die hoof rede vir sy onversaadigbare eetlus aan wreedheid. Dis so erg dat hy homself aan homself geoffer het vir iets wat hy geskep het.
Maak dit alles sin? O ja … sommer baie, honderde miljoene mense glo dit, dus moet dit waar wees.
Louwie, ja inderdaad is daar ‘n “helse fout” in die kulture van die mens. Dis die gebrokenheid. Soos jy tereg uitwys moes Jesus kom om die mens van hierdie gebrokenheid te verlos. In die proses het hy ‘n insentief daargestel wat as ruglyn dien om kultuur weg van die gebrokenheid af te stuur. Ten spyte van al die negatiewe dinge wat nog steeds in die wereld bestaan het ons onsself darem nognie vernietig nie. So hierdie insentief werk dus redelik goed.
Joh, ek stem redelik saam met wat jy aan die begin skryf, maar dat kultuur net een vlak is stem ek nie saam nie. Kultuur is ‘n omvattende term wat al die mens seaktiwiteite insluit: van politiek, fisika, boekskryf tot hoe mens kos maak, alles is deel van die mens se kultuur. Die sogenaamde hoer vlakke van bestaan kan dus ook maar netjies gesien word as deel van die mens se kultuur. Daar is dus niks meer aan menslike bestaan as kultuur nie.
Terloops ek dink Wilber verstaan die reenboog so bietjie verkeerd. Infra-rooi sit aan die een kant, maar dit is nie sigbaar nie. Verder vorder dit dan deur al die sigbare kleure tot by ultraviolet (wat ook nie sigbaar is nie) aan die ander kant van die reenboog. Wit is nie ‘n kleur in die reenboog nie. Wit is wat mens kry as jy al die keure saamvoeg.
Flippiefanus, daar is niks meer aan menslike bestaan as chemie nie; vat dit weg en abra-ka-dabra weg issie mens. Vat wysheid (nie kennis en inteligensie nie) weg en wat oorbly is Malema.
Die wysheid om nie deur lof en blaam versteur te word nie gaan die normale kultuur van Malemawees te bowe.
Net om jou nog meer te ontstel FF, Joh het dit verkeerd, Wilber gebruik nie die reënboog se kleure as verwysing nie, maar die kleure van die chakra sisteem, iets wat beslis nie in jou wêreld bestaan nie en Wilber se storie dus nog meer onsinnig vir jou sal maak.
Snaaks, my vrou kan al die chakras sien en selfs vir jou sê watter oop is en watter toe is, maar sy kan nie hulle kleur sien nie terwyl sy tog die kleure van die mense se auras duidelik kan sien.
Maar omdat dit nie in jou kultuur is nie, bestaan dit nie en behoort dit jou nie te pla nie
Oor gebrokenheid het ons al gepraat. Vir my is dit so onsinnig as wat Wilber se sisteem vir jou is.
Joh ekkan darem nie mt jou saamstem nie. Die mens is darem baie meer as net chemie.
“Die wysheid om nie deur lof en blaam versteur te word nie” klink nie vir my soos wysheid nie. Vat dit weg en dan vat jy kultuur weg. Mense sonder kultuur is soos diere.
Louwie, onwillekeurig wonder ek nou hoe hulle al hierdie kleure sien as dit nie deel is van die wereld nie. Meer nog hoekom gee hulle dit dan dieselfde name as die kleure wat ons wel in die wereld kan sien. Waar kom hulle aan al die dinge. Klink vir my na ‘n duimsuigery.
Ja swaer, wys my jou Hemel en jou God wat niemand nog gesien het nie, en en ek vra my vrou om jou te leer om auras te sien. Is regtig nie moeilik nie.
Uit haar duim gesuig! As sy jou in die hande kry met daai besemstok van haar donder sy jou in `n ander kleur aura in
O nou verstaan ek, Louwie! Al die kleure is wat mens sien as jou vrou mens bydam met die besemstok …so tussen die sterretjies deur.
Jammer Louwie, soos ek die saak verstaan kan mens net die Hemel eendag na jou aardse lewe sien as mens in God glo.
Of as jy die storie or die Hemel uit jou duim suig?
En as jy nie in God glo nie gaan jy Hel toe? En as jy nie in die Hel glo nie?
Ha ha, ja dalk help die besemstok ook. Maar ek kry dit ook reg as ek dood rustig in die kerk sit en na die dominee kyk daar op sy kansel. Sommige van hulle het `n pragtige pers-pienk aura soos die ou, baie meelewende dominee by die begrafnis nou eendag. Ander s’n is weer meer helder geel en groen, veral as hulle erg opgewonde raak in die preek.
Maar miskien moet ons eers die besemstok op jou probeer, dit klink na `n goeie begin
Nee Louwie, snaaks genoeg hang die bestaan van die hemel en die hel nie daarvan af of jy daarin glo nie.
Is so FF, meeste dinge waarvan ek weet werk so, ook auras en chakras en geeste wat hier rond dwaal. Jy hoef dirt nie te glo nie, jy hoef dit nie te kan sien, meet, weeg of te kan fotogrvee nie. Dit is daar en ontkenning gaan dit nie laat verdwyn nie.
Flippiefanus, volgens jou definisie van kultuur as “alle aktiwiteite wat die mens uitvoer”, dan kan die mens nooit ‘n dier word nie. Wat die mens ookal sou doen, sou sy kultuur wees. Catch 22.
Om nie deur lof of blaam versteur te word nie is ‘n baie spesifieke ding wat mens wel kan doen. Dus val dit wel binne jou definisie van kultuur.
Soos jy sê, die bestaan van wysheid hang nie daarvan af of jy daarin glo of nie.
Joh, goed laat ek dit beter probeer onderskei. Dit wat die mens doen is of kultuur of natuur (instink). Laasgenoemde neem oor wanneer die mens nie kultuur het nie.
Om sonder lof en blaam te probeer leef veroorsaak ‘n steselmatige vernietiging van kultuur sodat daar op die ou end net natuur oorbly.
Skryf `n dominee nou eendag so roerend mooi in Beeld. Lang storie oor wat sou gebeur as die Christus vandag op die wolke sou aankom soos belowe.
Spekuleer hy oor hoe die wederkoms sou verloop. Sy slotsom; op `n Vrydag voor die langnaweek sal hulle hom weer dood maak, want hulle sal hom steeds nie verstaan nie.
FF, as ek die wêreld so kyk, dan lyk dit my kultuur is besig om die mensdom stelselmatig te vernietig sodat nog net natuur (die dier) oorgebly het.
Dit wat jy voorstaan het bepaald skouspelagtig misluk daarin om van die wêreld `n beter plek te maaak (en moet nou nie weer vir my die stront van gebrokenheid vertel nie).
Miskien is dit tyd dat ons die Buddha en ander wyse manne se manier van doen `n kans gee.
Jy kan dit self op die proef stel deur een goeie ding op `n dag te doen sonder dat iemand daarvan weet en waarvoor jy geen beloning verwag nie. Dis nogal bevrydend.
Flippiefanus, welkom innie geldere van die filosowe. Ek sien nou hoekom jy destyds op Emil se blog so erg tevelde getrek het teen die filosowe en hulle werk as “twak” afgemaak het: Jy praat uit eie onnervinding.
Wat jy nou hier besig is om te doen is presies dit – twakpraat net omdat dit vir jou lekker is om te stry. En die eindoel van enige stryery is om die eie-ek gestand te hou, jou borskas uit te stoot en ten hemele te skreeu: ek is reg. Dis hoekom jy nooit filosofie sal verstaan nie, want die “liefde vir Wysheid” het juis die transendering van die eie-ek ten doel. Dié poging tot transendering is een van die belangrikste aktiwiteite wat ‘n mens onnerneem.
Om nie deur lof en blaam versteur te word nie is om mens se identifisering met die kleinlike ego prys te gee in die proses van ontwikkeling. So beweeg mens van die fase van egosentrisme na die volgende vlak van etnosentrisme, en van daar na wêreldsentrisme, en verder. Maar solank mens die ego aankleef met die mag van blinde geloof in mens se eie almagtigheid en absolute waarde, is daar geen hoop om wysheid te realiseer nie. Want die ego word gevoed en gestand gehou deur lof en blaam. So die ego sal tot die dood stry, en stry, en stry, en stry om sy toevoer van lof en blaam te behou.
Laat los.
Ag maar dit is lekker om te stry.
Louwie, kultuur is die meganisme waarmee die mens daartoe instaat is om te kan oorleef. Dit is ‘n tipe terugvoer beheerstelsel. Ek dink dat dinge in die wereld om die waarheid te se^ nie so erg is nie, en juis danksy kultuur. Dit is baie beter as byvoorbeeld 1000 jaar terug. Kultuur is die enigste hoop wat die mens het om die probleme met die omgewing te kan oorkom. Ek is nogal vol vertroue dat die mens danksy kultuur wel daarin sal slaag.
Nee wat, die klomp Chinese volg mos vir Boedha en kyk net hoe foeter hulle die omgewing op.
Joh, jy laat my lekker lag vir al die aannames wat jy maak. Die rede hoekom ek se^filosofie is twak het ek breedvoerig in verskeie inskrywings verduidelik. Die stryery gaan nie vir my oor die eie-ek nie. Dis bloot net lekker. Miskien het dit iets te doen met die feit dat redenasies mens se gedagtes stimuleer.
Miskien kan jy jouself lossny van jou ego deur jouself los te maak van lof en blaam, maar in die proses doen jy geweld aan die basies werking van die mens. In die proses sny jy jou ook nog los van jou medemens. As die doel hiervan is om jouself verder te ontwikkel dan is dit mos nou juis ‘n opheffing van die eie-ek. In die proses bedrieg mens mos nou jouself.
Ek moet erken dit was vir my `n bron van erge frustrasie dat Flippiefanus nie die eenvoudige konsep van `n lewe sonder lof en blaam kan verstaan nie.
Terwyl ek toe so op die toilet sit en dink, gaan daar vir my `n lig op.
Lof en blaam is inderdaad die fondament waarop die Christendom gebou is. As jy dit wegvat, stort die hele sisteem in duie.
Lof en blaam, maar veral blaam, is hoe die kerk sy lidmate beheer. Jy is in sonde ontvang en gebore en daarom rus die blaam op jou as mens vir alles wat met jou en die res van die wêreld verkeerd gaan. Siektes, ellendes, oorstromings, verkragting, moord, roof en doodslag, dit is alles jou skuld, jy dra die blaam want jy is die sondaar. Die Katolieke maak selfs baie geld uit die “in sonde ontvang en gebore” kultuur van die kerk met hulle afkoopboete sisteem.
Indien die individu nie geblameer kan word vir die ellendes van die wêreld nie, dan moet die soeklig skuif na die Almagtige, Alwetende, Alomteenwoordige God toe. Dan moet die vraag gevra word: Hy weet lank voor die tyd as iets soos die atoombom op Hiroshima gaan gebeur, as die tsunami iewers gaan toeslaan, dat die swart pes Europa gaan tref en miljoene mense gaan aaklig sterf, of dat Sannie verkrag en Piet wreed vermoor gaan word. Maar Hy doen niks om dit te voorkom nie. Waarom nie? Is Hy nie almagtig nie, of alwetend nie? Of is Hy aandadig, wil Hy dit so dat `n agt maande oue baba verkrag moet word? Dit kan mos nie, en daarom MOET die mens skuldig wees, moet hy die blaam dra.
Ook die dood van Christus aan die kruis kan en moet op die mens se sondige natuur geblameer word. Indien die mens nie skuldig was nie, dan was die kruisdood van die Christus ook vergeefs, eintlik heel onnodig indien nie onsinnig nie.
So is lof ook deel van die kultuur van die kerk. Oom Jan en ant Kate word geloof vir hulle mildelike bydrae tot die kerk se koffers. Die jaar sommer twee vetgemeste beeste vir die kerkbazaar gegee. (verlede jaar het ou Blink-Piet ook een bees gegee en oom Jan moes hierdie jaar beter doen as dit. Lof en applous vir oom Jan en kyk hoe swel sy bors van die trots. Volgende jaar gee hy sommer drie tollies!)
Ek glo dus FF verstaan die moontlikheid van `n onbaatsugtige manier van lewe, maar sy kerklike kultuur kan die soort van ding nie bekostig nie. Blaam en lof is te diep ingewortel in die Augustiniaanse Christenfilosofie. Daarsonder, glo hulle, sal die kerk (en dus die ganse mensdom) tot niet gaan, of dan ten minste in wilde diere verander
En FF, die Chinese is kommuniste waar selfs Buddhisme tot onlangs verbied was. Kyk eerder na Japan wat een van die suksesvolste en hoogste kulture in die wêreld het. Hulle is nog al die eeue trotse Buddhiste.
Louwie, jy skryf dit nou baie sinies en kry party van die dinge bietjie verkeerd om, maar jy is reg in die sin dat “lof en blaam” ‘n sleutel vorm van die Christelike geloof. Die doel van geloof is immers om die mens leiding te gee in hoe om te lewe. Daar is dus ‘n vorm van terugvoer nodig sodat mens weet wat reg en wat verkeerd is. Daar bestaan dus geen ander manier om te leer as deur hierdie terugvoer meganisme nie.
Dit is juis deur hierdie manier wat mens leer wat liefde is en hoe om in liefde met jou medemens saam te leef nie. Dit leer mens dus ook hoe om onbaatsugtig te leef.
Julle lei julleself om die bos as julle dink dat julle ooit sonder “lof en blaam” kan leef. Selfs die Boedhistiese monnike wat hulleself probeer afsonder van al die slegte dinge sodat hulle hulself so verder kan ontwikkel moet deur terugvoer agterkom of hulle enigsins vorder met hierdie selfgesentreerde “ontwikkeling”. Daarvoor is die spreekwoordelike “lof en blaam” die enigste beskikbare meganisme.
Lof en blaam is baie sterk in die Japanese kultuur, Boedha of ter not.
FILOSOFIE IS DEEL VAN DIE WIT AGENTE EN HULLE WIT NEIGINGS!
KAMERADE!
ONS MOET DIT NASIONALISEER!
EN DAN UITWIS!